Ons tyd is veels te kort

kallie-du-plessis

Kallie du Plessis. Foto: Verskaf.

Kallie du Plessis van Vanderbijlpark skryf:

“Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” (Rom 6:23)

Male sonder tal het hierdie vers al in my gedagtes opgekom as ek wonder oor die sin van ons lewe op hierdie aarde. Ons kan sekerlik nie vir ewig lewe hier op aarde nie, maar om te moet groet, is bitter swaar.

My eie pa se stryd om hier te laat los en oor te gaan na die ewige lewe het ʼn onuitwisbare indruk op my gelaat. Die stoflike liggaam wat ʼn mens in die steek laat, maar die brein wat weet wat wag en die angs en onsekerheid wat daarmee saamgaan.

Jy wat daar staan, met ʼn hart wat wil oopbars van smart en honderdduisend keer bid dat hy gespaar bly en die suster in die gang se woorde wat tot hierdie dag jou wêreld in stukke laat spat: “Julle moet kom help, hierdie man is besig om te sterf!” Oor en oor flits sy laaste woorde deur my gedagtes: “Kallie, ek het ʼn predikant nodig, dringend.” En terwyl die suster se woorde deur die gang eggo, wonder ek stom van pyn: “Hoor hy haar?”

Hier in die wintermaande, wanneer ek toenemend meer en meer my aardse stoflikheid besef, leef ek so na aan die aarde, sien ek die prag van die natuur meer intens raak, besef al hoe meer met ʼn sekerheid, hierdie verblyf is maar net tydelik. Soos PG du Plessis onlangs in ʼn onderhoud gesê het: “Ek gaan vrek en net my gene gaan voortleef”, maar sy nalatenskap is veel groter as dit, sy boeke sal vir tyd en ewigheid daar wees om ons te herinner aan watter groot man hy was.

Maar ek en jy, wat gaan ons nalaat, waaraan sal ons onthou word? Ons gene sal sekerlik ook voortleef deur ons nageslagte, maar soos die grassade daarbuite nou voor die wind buig en more is hulle weg, so gaan dit ook met die mens.

Hoekom dan oor hierdie dinge dink en peins? Want ons gaan hierdie weg net een keer langs, ons moet elke dag voluit leef, die wintersonnetjie en die blou lug waardeer en koester, ons kleinkinders vasdruk en saam bal skop en met oorgawe lief hê.

Te kort, te kort is hierdie voorreg van lewe, want as jy sterk is, haal jy dalk sewentig en baie sterk tagtig, maar dit is maar ʼn asemteug, net ʼn wyle wat ons hier vertoef. Daarom moet ons hoop en glo, anderkant ons aardse verblyf, is daar ʼn lewe. Dit is immers God se boodskap aan ons.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

John ·

… die woorde van ‘n baie depressiewe man… Afrikaners is vasgevang in ‘n wag-op-ons-einde- want-wat-maak-tog-sin-sindroom. Die mens se lewe op aarde is reeds duisende jare oud en dieselfde vrae ook. Geloof in Christus laat ons ophou om die aarde te probeer dra, na buite te beweeg, te ontspan en die son te geniet wat, glo dit as jy wil-kan, ook vir ons Afrikaners skyn. Alle probleme in die wereld word deesdae via die tv/internet deur onsself op ons eie skouers gelaai. Ons Afrikaners sal moet sak-sarel met hierdie futiliteit-sindroom want die vyand hou van ons gebreekte terneergedrukte gees… Oumense se vrees om te laat gaan en selfs na’ die dood wil regeer oor kinders en eiendom veroorsaak erge lyding… en ongelukkig juis die plan.

Lizl ·

Mens moet die lewe aangryp en soveel moontlik daarvan maak. Ek glo ook, as my klein kinders eendag vir my vra, Ouma, wat het jy gedoen om `n verskil te kan maak? Dan wil ek hulle kan antwoord en nie net my kop laat sak nie.

Anoniem ·

Net soos die dood op ons almal wag, wag dit ook op die Guptas, Zuma en kie. En hulle sal nie met AL hul gesteelde geld hul weg daaruit kan bribe nie – ek sidder vir hulle part as ek dink wat vir hulle wag anderkant die graf.

Peet J ·

Volgens Genesis 6:3 sê God die Almagtige : Sy Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, dus die gees in ons keer terug na God wanneer ons tot sterwe kom. Genesis 3:19 want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Vers 22 as die mens nou maar nie sy hand uitsteek en van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie, vers 24 het God die Almagtige die mens weggedrywe en gérubs daar geplaas om toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
My vraag is, op grond waarvan wil die mens vir ewig lewe om wat te kan doen ? Ons as mense is nie by magte om Christus se beloftes aan die mensdom, bo die Werke van die Almagtige God te stel nie .

Anoniem Durban ·

Ken hierdie gevoelens, as jy eers oud is besef jy dat die lewe besig is om verby jou te gaan. Dit is maar ‘n hartseer storie want so baie kere kan jou brein nie aanvaar hoe jou liggaam afgetakel word nie. Die gedagtes wat uitgespreek word in Kallie se brief raak diep snare !!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.