Ontdek weer die bedekte seën van beurtkrag

luciemarie-swanepoel-van-kaapstad

Luciemarie Swanepoel. Foto: Verskaf.

Luciemarie Swanepoel van Kaapstad skryf:

Dis donker en stil om my want dis ons beurt vir beurtkrag. Ek staan op en begin die huis reg kry vir die nag.

Ek wil die deure toemaak, maar besef die deur is nog ingehaak. Ek stap uit om die deur los te haak, toe die sterre my oog vang. Ek los die deur, stap verder uit en buig my kop so ver moontlik agtertoe om die sterre beter te kan sien. Daar lê Orion. Met die krag wat af is, sien ek vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer die Suiderkruis. Die sterre flikker helderder en een verskiet … wens….

Behalwe vir die gezoem van motors op die snelweg is daar ʼn amper heilige stilte en kalmte op die dorp. Geen TV’s wat blêr of harde musiek nie. Geen fone wat lui of boodskappe wat inkom nie. Vir die eerste keer waardeer ek beurtkrag.

Ons moet eintlik vir Eskom dankie sê, want met beurtkrag gee hulle ons ʼn goue geleentheid om weer as mense te konnekteer. Hulle dwing ons as’t ware om vir ʼn uur of wat tot stilstand te kom, om sonder moderne tegnologie klaar te kom. Om weer na lekker gesels en opregte belangstellings terug te keer.

Dis dié geleenthede wat ouers die kans gee om weer met hulle kinders te sit en te gesels of vir paartjies om sake van die hart te bespreek, sonder enige onderbrekings. Vandag op kantoor, tydens die kragonderbreking, stap ek badkamer toe. Daar was selfs ʼn magiese stilte in dié omgewing. Geen treine wat tjoek-tjoek en met fluite verby jaag nie. Geen gezoem van lugverkoelings of masjiene by Spar nie. Net … stilte.

Ek is dankbaar dat my ouers baie met ons gaan kamp het as kinders. Olielampe, kerse en woonwaliggies was algemeen op vakansies. Nou kry ek weer ʼn stukkie van daardie nostalgie terug met my 3D-sel batterylamp en twee olielampe.

My ketel op die gasstoof begin saggies fluit en ek staan nader om vir my ʼn koppie tee te maak. Die krag kom aan, daarmee saam al die gezoem van elektroniese apparate wat in die huis weer aangaan: die yskas, waaiers, huisalarms. En die heilige stilte word verbreek. Tyd van oordenking is verby en dis tyd om weer na die werklikheid van ons moderne lewe terug te keer.

Ek hou dit TV af, skakel nie dadelik my ligte aan nie. Dis asof deur die take te vertraag ek nog vir so ʼn paar minute langer in my stille wêreld kan wegkruip. Weg van die gejaag van die lewe. Nee wat, ek sê: “Dankie Eskom vir beurtkrag” want nou het ek ʼn goue uur of wat om my batterye te laai ná ʼn dolle dag op kantoor en in wilde verkeer.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Japie ·

Stem saam. Ek moet bysê…
My ondervinding is dat, vanaf hierdie “long life”, “LED”ens. die mark oorgeneem het, my spannings vlakke deur die dak geskiet het. Wanneer ek Incandescent of gaslampe gebruik, of kerse, dan voel ek rustiger en konsentreer baie beter. Die nuwe ligte, volgens my, voeter met mens se oë en brein. Vertrou hulle niks.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.