Lesersbrief: Onthou, jy is ʼn gestuurde koningskind

spieel-weerkatsing

Foto: Vince Fleming/Unsplash.com

Lijlanie, ’n Afrikaner-expat wat al 10 jaar in Nieu-Seeland woon, skryf hierdie in antwoord oop René du Preez se rubriek ‘Elke droom het sy prys‘:

Dit is allesbehalwe in ons SA immigrante se bloed om op ʼn hopie te sit en onsself jammer te kry. Die immigrante wat ek ken, is soos oeroupagrootjie De Villion wat seker ook sy Franse familie gemis het daardie eerste Kersfees in die Kaap in 1675. ʼn Man wat vir sy geloof gevlug het, ’n Hollandse nooientjie betower het en saam die Suidpunt van Afrika gevul het met Viljoens wat eeue later weer wêreldwyd wortels verplant en vasbeslote ʼn verskil maak, waar hulle ook al gaan.

Die immigrante wat ek ken, is soos oupagrootjie Graphorn wat as sendeling, sterwend aan malaria in Angola, oorwin het en met nuwe hoop Kaapkolonie toe is. Wanneer Oupa gedurende Kerstyd sy mense in Holland gemis het, het hy die kosbare Kerstradisies aan sy eie kinders oorgedra. Dieselfde immigrant-oupagrootjie het self ʼn Afrikaanse skool vir sy kinders gestig – ʼn skool wat vandag nog trots hul erfenis gedenk.

Danksy my dapper antisoutpilare grootjies ken my familie vandag kosbare Kerstradisies. Daardie selfde diaspora-bloed vloei in my – en in meeste van my mede-SA-ekspats. Daarom is ons Kersfeesvieringe hier in Nieu-Zeeland, Arizona, of waar ook al ons onsself bevind, nie bloot herinneringe nie. Nee! Daarvoor is ons wortels te sterk. Die SA ekspats wat ek ken, maak die lekkerste malvapoeding, skaapboud en aartappelslaai. Ons raak kreatief en hang foto’s van ons familie in ons Kersfeesbome op. Net soos Ouma en Oupa my geleer het, deel ons opgewonde Kersgeskenke op Oukersaand uit, omdat dit Jesus se verjaardag is. Ons neem ook ons nuwe land se Kerstradisies aan en ontdek vroeg op Kersoggend klein bederfies van St. Nicolaus in ons Kerskouse. Ons woon selfs Afrikaanse Kersdienste by en leë plekke om ons Kersfeestafel word gevul met nuwe familie.

Wanneer ons te veel na Pa en Ma verlang, verkoop ons ʼn kar en koop ʼn goedkoper een om vliegkaartjies te koop. Ons kanselleer Sky en pak bokse by PAK‘nSAVE om vir die ekstra kos te betaal. Ons leer om in die kuberruimte te deel en lief te hê en bly beter op hoogte van almal se lewens as ooit tevore.

Wanneer ons dit mis om in Afrikaans saam met ander te braai, reël ons ʼn Nasionale Braaidag. Jeuk ons voete vir kaalvoetsokkie, voer ons vir Kurt in – of ons nou in Nieu-Zeeland of Atlanta bly. Raak ons nostalgies van Toeka tot Nou, vlieg ons vir Steve in. Voel die dames lus om lekker in Afrikaans te kuier, reël ons ʼn Damestee met melktert, koeksisters en Hertzoggies. Mis ons die slagter wat ons in Afrikaans bedien, open ons ʼn Safari-slaghuis. Verlang ons na Ouma-beskuit, Flings en Cream Soda, maak ons ʼn Suid-Afrikaanse winkel, soos The Lekker Shop, oop.

Wanneer ʼn skool nie Afrikaans as vak aanbied nie, voer ons Afrikaanse boeke in en leer self ons kinders Afrikaans lees en skryf. Ons teken in op Showmax en deel steeds in Arendsvlei en Getroud met Rugby se lief en leed. Speel die bokke op ons North Shore, verf ons Westfield groen en gons die winkelsentrums in Afrikaans!

As jy ʼn immigrant is wat meer met René se skets as met myne identifiseer, nooi ek jou uit om vir oulaas jou hart lekker uit te huil. Volg dan my pa se raad: Was jou gesig en maak jou skouers reguit. Kyk die spieël vierkantig in die oë en skuif jou kroon reg. Onthou, jy is ʼn gestuurde koningskind. Jou ryk erfenis was nie vir jou om van vet te word nie. Jou sterk familiebande en innige vriendekring nie om vir ewig vir jouself te koester nie. God het jou goed toegerus, jou beker volgemaak, sodat jy hier kan kom oorloop. Wanneer jou koppie leeg voel, hoef jy bloot te kniel om die kruik op te tel wat – hoewel dit halfleeg lyk, altyd halfvol bly! So, wanneer jy eensaam is, reik uit! Wanneer jy ʼn drukkie mis, gee een! Wanneer jy graag saam met ʼn vriendin wil koffie drink – nooi een!

Ek stem egter saam met René se laaste paragraaf. Selfs dié wat teruggaan, is steeds gestuur. God sal steeds sy plan met hul lewe laat seëvier. Meeste van my familie is steeds in Suid-Afrika en baie van hulle glo dis waar God hulle wil hê. Dit is goed so. Onthou net, ons is geroep om helder te skyn en in die woorde van Viktor Frankl: “What is to give light must endure burning.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

Laat jou lig helder skyn terwyl dit jou beskore is, in SA of in die buiteland. Ons kan enige keuse maak, wat ons keuse ookal is, daar is ons Skepper en daar trap ons, ons spore. Dat Afrikaners wat hulself in die buiteland gevestig het deesdae meer plesierig is as die Afrikaners in SA, dit is ook so!

Steve ·

My seun woon in Johannesburg en is baie gelukkig met sy vriende en werksomstandighede. My dogter woon in Australie waar sy die afgelope 10 jaar haar 3 kinders met die beste geleerdheid toegerus het.
Ek het dubbele burgerskap wat my reis en verblyf tussen die 2 lande vergemaklik en woon ongeveer 6 maande in elk van die 2 lande. Ek voel nes Lijlanie en wat my die meeste verbly is dat my kinders en kleinkinders toegewyde Christene is en Afrikaans praat en beleef soos sy dit beskryf.
Ek het geen voorkeur tussen die 2 lande behalwe dat Afrikaans die mooiste taal is , dat Afrikaanse kos die beste is en ons sporthelde van RSA die ondersteuning van my geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.