Ope brief aan dr. BE Nzimande   

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Deur Esaias Engelbertus Steyn

Dr. Nzimande,

Ek spreek u graag aan oor die onlangse oproer oor Afrikaans as taal van onderrig in hoëronderwys-instansies regoor ons “Reënboognasie”. Hoewel hierdie brief een stem opper, eggo die stemme van derduisende Afrikaanse studente regoor die land hom agterna. “Reënboognasie”. Hierdie stelling, dr. Nzimande, stem beslis nie saam met die milieu wat sy metafoor impliseer nie. ʼn Reënboog kan dan nie sy kleure kies nie, tensy my beeld van hierdie natuurverskynsel so gebroke is soos ons – die blinde jeug.

Waarom dan, dr. Nzimande, word daar toegelaat dat ʼn reeds bedreigde element van Suid-Afrikaanse kultuur, verder bedreig word. Is Afrikaans dan nie ʼn amptelike taal van ons “Reënboognasie”nie? Ek vra om verskoning, dit moet my fout wees. Ons “Reënboognasie” beskik duidelik oor die mag om self te beredeneer oor watter kleure hy in homself wil insluit.

Is Afrikaans dan die swart skaap van Suid-Afrika? Verdien ons moedertaal dit om die slagoffer te wees van ʼn jeug, geteister deur propaganda en leuens? U hou die finale stukkie van die legkaart in u hande. Of u dit teen of vir Afrikaans sal plaas is ʼn besluit wat sal aantoon of ons grondwet werklik bestaan, en of dit net ʼn formaliteit is.

Ek haal graag die volgende aan uit die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996):

  1. Education

(2) Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable. In order to ensure the effective access to, and implementation of, this right, the state must consider all reasonable educational alternatives, including single-medium institutions, taking into account –

  1. a) equity;
  2. b) practicability; and
  3. c) the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices.

Dr. Nzimande, hierdie gedeelte van die grondwet wys duidelik dat die aksie geneem deur aktiviste van Anti-Afrikaans teenstrydig is met my, en talle ander studente, se grondwetlike regte. Eerstens, is dit ons as studente se grondwetlike reg om onderwys in ons taal van keuse, Afrikaans, te ontvang. Hierdie bepaling stel ook duidelik dat die verpligting om aan ons Afrikaanse onderwys te lewer op die regering val, en nie op ons as studente nie. Waarom moet ons dan klastyd opoffer om massavergaderings by te woon, wonder ons?

Tweedens, dr. Nzimande, sal u moontlik aan ons kan weergee hoe Anti-Afrikaans-aktiviste bevorder word deur die afskaffing van Afrikaans, anders as die behoefte om op grond van taal te diskrimineer? U sal nie kan nie. Ons verloor ons taal, en dit bevorder die behoeftes van individue wat hulself nie eers met Afrikaans kan identifiseer nie. Na my mening is dit teenstrydig met punt a) wat handel oor gelykheid, maar dit is net my mening. Wat is ek meer as ʼn student met ʼn trots en liefde vir my taal? Die feit dat Afrikaans vir jare as onderwysmedium bestaan, lewer bewys dat dit vir vele meer jare in die toekoms sal kan voortbestaan. Praktiese uitvoerbaarheid, of punt b), het ek dus ook sopas uit u verskoningsarsenaal gehaal.

Ten slotte, dr. Nzimande, die verskoning wat ʼn donker wolk oor ons land se verlede, asook toekoms saai: apartheid. Doen die wiskunde, dr. Nzimande. Die studente wat vandag protes lewer oor Afrikaans se rol in hierdie era, was óf nog nie gebore nie óf te jonk om moontlik die skuld op die skouers van my moedertaal te kan plaas. Afrikaanse klasse in hierdie onderskeie instellings word reeds bedreig, met geen regverdigende rede waarom hulle verder bedreig hoef te word nie. Ongelukkig, dr. Nzimande, dra u laaste verskoning ook nie meer sy gewig nie.

Ek vertrou dat u die regte besluit sal neem wanneer daar met die toekoms van Afrikaanse studente gedobbel word. Hou in gedagte: u uitspraak gaan aan al die kleure van die reënboog aandui of ons werklik deur ʼn grondwet beskerm word. Indien dit nie die geval is nie, wens ek u en u regering alle sterkte toe.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

alida ·

Baie goeie artikel maar die pateet sal nie verstaan wat daar staan nie al word dit vir hom vertaal in sy eie taal.

Sarie ·

Hy is ‘n kommunis en verstaan nie rede nie. Die feit dat hy so swyg is ‘n teken dat hy dit goedkeur. Wat nou hier gebeur is die Azaniese Herfs. Die Seunse Weenkoor sal nog so sit en wroeg en Afrikaners en regses slegsê dan brand die land.

Frederik ·

Die land brand reeds, Sarie. Ek het ‘n ruk gelede genoem dat dit gaan gebeur, en waarom, maar Maroela het verkies om nie my skrywe te plaas nie.
Die titel ‘Dr” pas nie mooi by die ou nie. Ek dink die egtheid daarvan kan bevraagteken word.

Penellope Jones ·

Verstaan hy Afrikaans en sou hy dit verstaan, sou hy dit lees – juis a.g.v. die feit dat dit in Afrikaans geskryf is?

Gemsbok ·

Daardie grondwetartikel doen slegs lippediens aan die reg op moedertaalonderrig en bied in praktyk geen sodanige beskermingsdienste nie.

Die ontbindende voorwaardes in die treks lui dat gelykheid, praktiese uitvoerbaarheid en vergoeding vir die gevolge van die raswette van die verlede in praktyk swaarder weeg as moedertaalonderrig.

Dit is weereens ‘n geval waar die ANC se onderhandelaars dié van die NP ore aangesit het en ons nou met een van die swakste grondwette vir minderheidsvolke in die wêreld sit.

Die paar kommintators hierbo wat dink dat dr. Blade nie verstaan nie: hy sit ook vir julle ore aan en lag al die pad bank toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.