Ope brief aan minister van toerisme oor reisregulasies

reis-met-kinders-02

Foto: Bmiregional.com

Geagte min. Hanekom

Ek wil graag my stem voeg by duisende Suid-Afrikaners wat al gely het onder die absurde “Child Trafficking Victims Protection Act”. My gesin het die afgelope Sondag ’n nagmerrie-ondervinding op die Heathrow-lughawe deurgemaak.

Ons woon tans in Engeland en besoek elke twee jaar Suid-Afrika (sou graag meer dikwels wou, maar dit vat twee jaar om te spaar vir die vliegkaartjies). My vrou en drie kinders moes eerste vertrek sodat hulle drie weke lank by die oumas en oupas kon kuier, waarna ek by hulle sou aansluit vir ’n verdere drie weke. Ons was bewus van die nuwe wet en het seker gemaak ons het “unabridged birth certificates” (volledige, onverkorte geboortesertifikate) vir elke kind, plus die voorgeskrewe “affidavit” (beëdigde verklaring) van myself vir elke kind, gesertifiseer deur ons dominee hier in Engeland.

Ek het my vrou en kinders Sondagmiddag by die busstasie in Cambridge afgelaai waarna hulle Heathrow toe is met die bus. Groot was my skok toe ek ’n paar uur later ’n oproep kry van my vrou, verskriklik ontsteld en huilend, want hulle is toestemming geweier om hul bagasie in te weeg, en mag nie vlieg nie. Die rede: die beëdigde verklarings het nie ’n stempel daarop gehad nie, net die dominee se naam en sertifisering.

Ek het met die toesighouer oor die foon gepraat en gesmeek, maar niks het gehelp nie. Die enigste raad was dat ek in my kar moes spring en die twee uur lange rit na Heathrow toe moes afjaag voordat die toegangshek vir die vlug sou sluit. Dan moes ek ook die dominee probeer opspoor en oortuig om onmiddellik saam met my te kom.

Gelukkig was sy bereid om haar gesin net so te los op ’n Sondagaand en ons is daar weg. Dit was ’n geweldige opoffering vir haar, want sy het ’n sewejarige verstandelik gestremde seuntjie wat baie ontsteld raak as sy ma nie daar is om hom in die bed te sit nie.

Dit was ’n verskriklike rit, want ons het nie geweet of ons betyds sou wees nie. My arme vrou en kinders is deur hel. Die dominee se seuntjie was ontroosbaar sonder sy ma.

Kan u nie asseblief iets doen om hierdie gekkigheid stop te sit nie? Die toesighouer by Heathrow het verduidelik dat daar reeds gesinne uit Suid-Afrika gesit is as hul dokumente nie reg was nie, en dat die lugredery dan met £10 000 beboet word, daarom is hulle nou so streng. Dit is tog drakonies om onskuldige reisigers soos misdadigers te behandel!

Is dit nie logies dat so ’n wet nie toepasbaar is nie, en is dit nie waarom geen ander land ter wêreld so ’n wet het nie? Kan ons nie ten minste ’n kompromis aangaan en verklaar dat wanneer die kind ’n wettige paspoort en oorspronklike geboortesertifikaat het, dit goed genoeg is nie? Dit is mos baie moeiliker om daardie twee dokumente te vervals as ’n beëdigde verklaring. Die beëdigde verklaring kan van die internet afgelaai word, enigeen kan dit invul, teken en ’n stempel laat maak om daarop te plaas. Dit maak net nie sin nie – as ek oneerlik wou wees, kon ek maklik ’n stempel laat maak het en die beëdigde verklarings self gesertifiseer het.

Ek hoop die lyding wat ek en my gesin, sowel as die dominee en haar gesin, op daardie Sondagaand moes deurmaak, kan ten minste help om ander so ’n aaklige ondervinding te spaar.

Baie dankie vir u aandag,
Gideon Verwoerd

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Reis, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit is n bietjie verwarrend want as Gideon nie die Verwoerd is wat n ANC kader geword het nie is sy skrywe geregverdig.Die ander Verwoerd wat n kader is kon sommer regstreeks met Kameraad Hanekom in verbinding gekom het per telefoon en ek glo dat sy probleem dadelik opgelos sou gewees het

Marietjie Verwoerd ·

Ek kan jou verseker dat Gideon NIE ‘n ANC kader is of ooit was nie.

Bruno Stef ·

Marietjie baie dankie vir die bevestiging van wat ek die heel tyd vermoed het met so n groot Afrikaner naam kan dit ook nie anders wees nie .Net jammer van die ander naamgenoot.

ME ·

Ek verstaan hoekom die wet ingebring is vir Suid-Afrikaners. Ek verstaan ook die uitdagings van buitelanders. Maar te veel gevalle het al plaasgevind waar ons kindertjies met “wettige” dokumente uitgesmokkel word na die buiteland. Ek dink die reels moet duideliker gekommunikeer word, ja, beslis, maar mens kan nooit te veel moeite he om jou kinders veilig te hou nie. My vraag is eerder…..wat doen enkel ma’s wat geen kontak het met pa’s nie, of moontlike ma’s wat verkies om alleen ouers te word met inplantings? Mag hulle nooit die land verlaat nie?

Flip ·

Ek dink hierdie wetgewing is geheel en al onmenslik!
Om maar net een voorbeeld the noem: ‘n oupa of ‘n ouma wat hier in Suid Afrika woonagtig is, kom te sterwe met jong minderjarige kleinkinders iewers in die buiteland. Gaan dit beteken daardie kinders sal nie die begrafnis kan bywoon van hy/sy grootouer nie? Hoe op aarde gaan hulle die kinders se dokumente betyds gereed kry?

Marietjie Verwoerd ·

Na die naelbyt en spanningsvolle ervaring op Heathrow, land ek en die kinders in Johannesburg. Oortuig daarvan dat ek eintlik ‘n onskuldige krimineel is, benader ek die Immigrasie offisier. Hy groet my deur ‘n gesprek met sy kollega in die hokkie langs hom in hul moedertaal te praat. ‘n Rukkie later hoor ek net “flight, flight”. Ek aanvaar toe die meneer wil weet met watter vlug ek geland het en gee vir hom die inligting. Na ‘n hele paar interessante gesigsuitdrukkings ( ons het Britse paspoorte en SA geboortesertifikate), vra die meneer vir my waar is die affidavit. Ek oorhandig aan hom die stapel papiere: daar is ‘n affidavit vir elke kind en elke dokument het die vereiste afskrifte van paspoorte ens. Al wat die meneer gedoen het, was om die eerste bladsy van die eerste affidavit net effens op te lig. Nou wonder ek maar net, waarvoor was al die drama?

Anton de Beer ·

Ja, teorties klink alles so eties en edel. “teveel van ons kinertjies is met “wettige” dokumente uitgesmokkel.” Tot die tyre die teer slaan en die mooi wette toegepas moet word. Dan is dit eenvoudig. Die wetsgehoorsame burgers se lewens word drasties ontwrig en die wat die wet ignoreer betaal net ‘n omkoopsom en hy doen nogsteeds dieselfde met “wettige” dokumente. Waarom dink mense dat jy enigsinds mense wat wette ignoreer met wette kan beheer? Die antwoord is nie in nog wette te maak nie. Die prioriteit moet wees om etiese wetstoepassers te kry sodat die wette wat wel daar is, meer effektief is. As dit nie gedoen kan word nie sal niks help nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.