Ope brief aan ʼn verkragter

Argieffoto

WAARSKUWING: Die inhoud van die brief kan sensitiewe lesers of kinders ontstel.

Deur Susan Bredell 

My verkragter

Ek het wakker geword, of eerder bygekom, die eerste week in Oktober, êrens naby die gholfbaan in Bethlehemstraat. Ja, jy – mooie wit, jong man het jou wellus soos ʼn dier op my uitgebraak deur my teen my wil te ontbloot, te skend, te skaad, te verkrag.

Daar was twee van julle.

Wit, jonk, selfvoldaan. Ondenkbaar om te dink dat geen skaamte, skuld of vrees oor jul gedagtes en denke spoel terwyl julle my onteer nie! So hard is jul harte. Soos ʼn eelt moes jul harte stadig verhard het.

Dis darem so vreemd dat geweld so ʼn “liefdesdaad” voorafgaan.

Maar hoe anders?

Daar was geen keuse vir my nie en al hoe jy jou verwronge sin kon kry, was om my oor die kop te slaan. Bewusteloos ek, siek jy. Toe het jy jou saad in my inforseer.

Hoeveel dae is ek so deeglik bewus daarvan dat jy so seer is? Hoeveel kere besef ek dat jou oortreding baie groter is as dit wat aan my siel gedoen is? Hoe baie nagte wonder ek of en hoe jy slaap?

Ná ek uitgevind het ek is swanger, wou ek met alle mag en geweld jou lewe in my beëindig.

Die letsels van jou oortreding wou ek met krag en daad vermoor.

Genadiglik het ek nie.

“Two wrongs don’t make a right.”

Wat ek wel weet, is dat jy nie (kan) dink nie – want as jy sou of wou of kon dink, sal jy nie in staat wees tot so ʼn wrede daad nie… het jy al ooit, ooit, ooit gedink dat jy lewe verwek?

Het jy al gewonder of en hoeveel kinders daar in Rustenburg rondflenter met jou DNS?

Onskuldig, uitgelewer, ongevraagd, weerloos, alleen, wees… soos in vaderloos, en sommiges dood.

Jy neem geen, hoegenaamd geen verantwoordelikheid vir hierdie gemors nie. Jy stap (of het jy gehardloop?) net weg nadat jy my privaatheid en vroulikheid vertrap het.

Sy is hierdie week gebore.

Jy, verkragter, is ʼn pappa.

Sy is pragtig, volmaak en gesond. Verwek in haglike omstandighede, maar sorgvuldig geweef deur God in my moederskoot. Ek kyk na haar en wonder waarin jy goed is, van watter kos jy hou of wat die kleur van jou oë is? Hier is ʼn dogtertjie, die helfte van jou. Sy gaan dalk soos jy lag, of loop, of lyk.

ʼn Vegtertjie, nageslag van ʼn lafaard.

Jy mag met hierdie brief wel ervaar dat ek jou veroordeel, maar jy sal nie glo nie – ek veroordeel jou nie.

Geheel en al glad nie, nooit nie!

Jy is nie sleg nie. Maar o, so verkeerd.

Ek kan my net probeer indink wat aan jou gedoen is om jou in staat te stel om dit aan my te gedoen het.

Jou hart moet aan flarde wees. Flenters… dalk het jy geen hart oor nie, stukkend, verwerp, verskree, vertrap, verraai, verkrag, vol vrees.

Ek is ook jammer vir jou ouers… “ons” dogtertjie se ouma en oupa. Hulle smag dalk om ouma en oupa te word. Hulle sal nooit weet dat hulle wel reeds is nie.

Jou saad roep op die grond uit!

Ek is vir jou so, so, so jammer.

Vanoggend vroeg het hulle haar weggeneem.

Aangeneem.

Want ja, ek kan ook nie vir haar sorg nie, êrens sal ʼn ander “man” nou jou skoene volstaan.

Ek bid vir jou. Ek het jou reeds oor en oor en oor vergewe – anders het bitterheid my doodgemaak.

Ek het jou ook vrygespreek – haat vir jou wou my vernietig.

Soek asseblief hulp. Soek Jesus. Hy soek jou reeds. Jy het kapasiteit in jou om mense na God te laat

draai… sodra jý gedraai het.

Iemand het eenmaal gesê: “Niemand is te stukkend vir die Timmerman van Nasaret nie!”

Met ʼn baie seer lyf ná ʼn verskriklike pynlike geboorte lê ek saggies en huil vanaand.

Vir my, vir ʼn dogtertjie, maar die meeste vir jou.

ʼn Slagoffer.

  • Susan Bredell van Rustenburg het dié ope-brief geskryf gegrond op ware gebeure wat haar pad gekruis het. Bredell meen dié brief is nie geskryf om een voorval uit te lig nie, maar om die sluier weg te trek oor die intense pyn, gebrokenheid, verwronge wil en hartseer van verkragters sowel as  slagoffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Annakapat ·

Ek is so jammer dit het met jou gebeur – jou brief is hoendervleisseer. Ek bid en glo dat jy sal genees van die seer en dat jou dogtertjie ‘n goeie ouerhuis sal kry vol liefde. Sterkte vir jou pad vorentoe.

Nicky ·

Hi Susan

O genade mens, dit is erg genoeg om deur te gaan wat jy moes deurgaan, ek is so so jammer, en en ek kan nie myself indink waardeur jy moes gaan nie, en dan nog om te ontdek dat daar ‘n lewetjie onder jou hart groei a.g.v. die vreeslike daad. Om na die vreeslike gebeurtenis vir 9 maande elke oomblik van die dag herinner te word daaraan, moes ongelooflik traumaties gewees het, en dan om nog die klein mensie aan iemand anders te gee….. wat ek absoluut heeltemal verstaan. Jesus se genade is onbeskryflik groot die wyse waarop jy dit verwoord en verwerk het, en die jammerte wat jy vir hom voel, wys net jy het God gekies, en nie oorgegee aan Satan nie, want hy wou gehad het jy moet God verwerp. Ek is so jammer oor dit wat met jou gebeur het, en ek hoop en bid en Glo dat Jesus jou baie styf in sy genadige arms sal ontvou, dat die leemte onder jou hart gevul sal word met Sy onbeskryflike liefde. Shalom

Mariette ·

My hart huil saam met jou. Mamma wees is kosbaar. Spesiaal. As ‘n mamma, bid ek dat Abba Vader jou sal heelmaak om eendag die liefde en vreugde van vrou wees, van mamma wees, volheid te ervaar en te beleef. Mag jy so volmaak vry kom van hierdie seer en verlies dat jy die volheid mag ervaar van die vreugde wat God ook vir JOU beplan. Mag jou gees heel en jou siel rus. Mag jou pad vorentoe besaai wees met wonderwerke en vrede en vryheid en liefde.

MaRi ·

Hierdie brief raak my so aan. Wat ‘n aangrypende verhaal…

pamela Woest ·

Shoe, watter brief is die nie net nie? Die woorde is so mooi saamgstel. Maar terselfde tyd, is dit ‘n baie hartseer storie. Baie sterkte aan jou dame. God sal genesing bring. Vir jou dogtertjie, God het ‘n plan vir haar lewe, Hy maak nie “ongelukkies” nie. Elke kind word gevorm na sy “image”.

Marina ·

Ek het nie woorde nie. Ek kan my nie indink waardeur jy gaan nie maar ek hoop bid en glo dat jy volkome sal genees van jou seer en dat jou liewe dogtertjie baie baie liefde sal kry waar sy nou is.

Karen ·

Liewe, liefste Susan, jy het vir my en baie ander, alles via ABBA geleer van vergifnis!! My Suster in Jesus, my Mentor!!! Nooit enige veroordeling nie, NOOIT!!! Onthou jy….hoe het ‘n ander berader, moed opgegee met my? Jy het my deur gedra, getrek….gestoot! GEBID!!!! Jou “stoute” kind/vriendin! Vir my en ? Onvoorwaardelik liefgehad, soos jou en my PAPPA! Vandag is ek jou ewig dankbaar…My lewe, saam Abba is Genade Alleen! Mis die saam stap, saam huil, saam bid, bid, BID, Bely….Genade onverdiend! Vergifnis bring beslis Genesing! Vergifnis beteken nie: dit wat aan jou gedoen is dra jou goedkeuring weg nie………nee, jy laat die veroordeling aan Abba oor en Jy/Ek is vry! Vir Ewig! Ons ga vir Ewig saam ABBA in die hemel bly!!! Lief jou vir EWIG en Nog Meer!
BWAWBATA, Namibië!

Sandra Pieterse ·

Wil net daarop wys dat Susan die skrywer van die artikel is en nie die slagoffer. Wonderlik geskryf…aan beide partye…slagoffer asook verkragter. Mag hierdie brief harte raak.

MerriMoon ·

Ek sit hier met oë vol trane. Jy is ‘n sterk vrou, nie net omdat jy die man wat dit aan jou gedoen het vergewe het nie, maar ook omdat jy daardie kosbare dogtertjie ‘n kans op ‘n goeie lewe gegun het. Mag jy ewig in jou lewe vorentoe net seëninge van Bo kry. Mag jou lewe elke dag meer sonskyn as wolke hê. Jy verdien geluk!

Susan Bredell ·

Forgiveness is about empowering yourself rather than empowering your past.
T D Jakes

Rindi Goosen ·

Jy is een dapper mensie. Ek haal my hoef af vir jou. So baie dankie dat jy nie n aborsie gehad het nie. Nou maak jy n kinderlose paartjie se drome waar.
Mag Jesus jou seer heel en jou mildelik seën.

Jannie Visagie ·

Wat n aangrypende verhaal. Susan dankie dat jy die dogtertjie n kans op lewe gegee het. Ons dogter het so n seuntjie aangeneem en ons dank God vir daai bondeltjie liefde. Jy sal vir ewig geseënd wees.

Beatrix Hooman ·

Liefste Vriendin, my hart sny, verkrimp, verwronge saam met jou. Eintlik twee maal die wrede daad, die breek, vertrap, sny van jou mensweeswaarde, en dan weereens, ñ skepping uit God se hand wat jy moes afgee. Ek sallueer jou, koningskind van God, want dit is net deur Hom, met Hom en in Hom wat Sy genesing kan kom… Jy nou ñ soldaat vrou, met Jesus skoonheid omvou, ek wéét, ek was ook daar! Ek sallueer JOU!

Cathy ·

Ek is woordeloos, stomgeslaan. Geen mens kan deurmaak wat jy deurgemaak het en HEEL, POSITIEF daaruit stap nie, behalwe deur die genade van God, wat jy duidelik ervaar. Jou moed en sienings gryp my aan, pynig my Christenhart vir die seer en smart wat jy deurmaak. Ek wil op die virtuele hoofweg klim en jou ‘n warm druk kom gee.

Met hierdie brief van jou openbaar jy soveel van Jesus! ‘n Hewige getuie van die Evangelie van Christus, wat gekom het on te red, heel te maak, te genees. Iets waarvan jy waaragtig ‘n stewige begrip het. Dankie dat jy opstaan vir Sy koningkryk, ten spyte van wat dit jou persoonlik gekos het. Mag jy voortgaan met jou koningkrykswerk, en mag baie siele hul tot God wend met hierdie kragtige getuienis van jou. Baie seën vir jou. Ons bid vir volle genesing en vrede vir jou. Ek glo dat God daai pragtige klein mensìe ook as deel van Sy volmaakte plan gebruik.

Hettie Brittz ·

Susan, jou vertroueling wie se storie jy hier met soveel deernis vertel is ‘n heldin en draer van Jesus se hart. Sjoe, ek weet sy het allerhande seer maar ek weet ook sy is gesond.

Susan Bredell ·

Liewe liefste geliefde hettie
Kleine dotertjie amper op die hoek van Lindfieldweg…….grootoog saam gespeel gefiets hasie hop scotch.
Ek ook nou tans n baie naby vriendin van Nanti Namibie.
Die wêreld so klein
Ek het jou lankallief en bewonder jou op n stille afstand
Wees geseend soos jy is
Susan (Beukes) Bredell

Salomé Janse van Rensburg ·

Skitterend geskryf! Twee merkwaardige vroue en skryfsters. Susan en Hettie: Dankie vir jul goeie werk wat ons diepste wese aanraak … ons het julle nodig!!!

Susan Bredell ·

Liewe Salomè
Ek glo met my hele hart dat wonderlike Heilige Gees sal oortuig….
Wat sal lei tot redding…
Wat sal lei tot diepe verantwoordelikheid…
En dan afhanklikheid aan Jesus

Susan Bredell ·

Liewe ekke
En ek sê vir jou…
Jy is kosbaar
Jy is spesiaal
Jy is goed genoeg
Jy is geliefd
Bewaar jou hart bo alles want dit is die oorsprong van jou lewe.

makaster ·

Die seer en bitterheid en ongelooflike trauma wat mens ervaar deur jou lewe is somtyds so ongelooflik ondraaglik maar om een of ander rede kry mens meeste van die kere die krag van bo om nugter daaroor te dink en reageer om die beste van die situasie te maak. Die feit dat jy so lank kon top oor die saak, al die woede kon verwerk vir 9 mnde en nogsteeds die beste doen vir die kind ongeag jou gevoelens spreek boek dele van jou karakter en is ongekend in ons samelewing. Ten spyte van hoe erg die kind verwek is. Hoe erg dit mag klink is dit dalk presies wat n ander paarkie mag nodig gehad het en jy kon help. Dit is en bly n wonderwerk van God… Ek en ons respekteer hoe jy die seer hanteer. Liefde…

SB ·

My hart gaan uit vir die liewe mens!! Ek bid vir jou dat jy sal genees. Sterke vir jou!! As dinge vir jou te veel raak hoop en bid ek daar is iemand wat kan help. Maar solank jy vertrou in ons Liewe Vader sal hy jou die pad wys.

Alta Schutte ·

Ons sal nooit die wee van God verstaan nie…Iewers het ‘n kinderlose vrou gesmeek vir ‘n kindjie…En HY het jou gebruik om dit vir haar te gee…Dankie vir jou onbaatsugtige daad…’n Aborsie is sekerlik makliker as ‘n pynlike geboorte. Mag jy en ook hierdie dogtertjie geseend wees! Mag God hierdie man genadig wees…want hy gaan dit nodig he…eendag!

Ouma Betsie ·

32 jaar terug het dieselfde lot ook my getref. Na baie oorweging het ek die keuse gemaak om die kind wat Vader my gegee het Groot te maak. Bygese hy is my enigste kind. Een van die dae is hy 32 en ek is die trotse ma van n pragtige man met die mooiste hart. Ek glo dat hy op daai dag gebore moes word omdat Vader n plan het met sy lewe. Dankie Vader vir die voorreg om die ma te wees van n man waarop enige ma trots kan wees

Susan Bredell ·

Geliefde ouma Betsie
Dit is WONDERLIK
Ek eer jou…
Mag sy nageslag tot eer van God wees…n generasie wat Jesus leef

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.