Ope brief aan Solidariteit se Flip Buys: As jý nie wil jammer sê nie, dan sal ék

Flip Buys het intussen ook op die onderstaande op brief reageer: Flip Buys antwoord ope brief oor ‘jammer sê’

Surita du Toit skryf: 

Ek lees onlangs ʼn plasing op Maroela Media, getiteld “Tien redes hoekom Afrikaners moeg is om verskoning te vra” deur Flip Buys [voorsitter van die Solidariteit Beweging]. Dit het nie reg gesit met my nie. Tóg het dit ook nie dadelik enige spesifieke emosies by my ontlok nie. Dit is eers nadat ek dit bietjie kans gegee het om deur my bewussyn te filter, dat ek besef het hóé nié rég dit eintlik met my sit nie.

Meneer Buys, ek sal graag wil weet of jy daai aand nadat jy jou plasing geskryf het in jou netjiese kar terug gery het huis toe. Of jy by die huis aangekom het en die ketel aangesit het vir ’n koppie tee of koffie – decaf want dis laat – dalk bietjie televisie gekyk het voordat jy ’n warm stort gevat het en in jou bed geklim het. Of jy eers die alarm bewapen het om al jou aardse goed te beskerm terwyl jy slaap.

Ek wil namens jou jammer sê. Ek wil om verskoning vra by die dame wat in my huis werk. Haar naam is Francinah. Sy bly in ’n sinkhuis, ’n shack, in die middel van ’n township. Sy het nie lopende water of elektrisiteit nie. Sy het geen verweer tussen haar paar ou goedjies en die misdaadstatistiek van ons land nie.

Mens kan redeneer dat dit die ANC se skuld is dat sy in hierdie omstandighede leef, mens hoor dit baie: Kyk hoe korrup is hulle! Kyk hoe sluk hulle ons belastinggeld! Kyk hoe vergryp hulle hulself aan mag en rykdom!

Ek wil namens jou, meneer Buys, om verskoning vra dat my eie mense naïef genoeg is om te dink dat die regering, enige regering, die gevolge van apartheid kan regstel in een generasie, of hulle korrup is of nie.

Ek is jammer, Francinah. Ek is jammer dat jy jonk was in ’n tyd toe dit niemand se prioriteit was om te sorg dat jy ordentlike onderrig ontvang nie. Ek is jammer dat jy ’n pasboek moes kry en gaan werk soek tussen die wit mense wat jou arbeid kon bekostig. Ek is jammer dat jy in daai vreeslike koue winter waarvan jy my vertel het, jou pap babatjie na ’n sinkhuisie moes terugneem. Ek is jammer dat my agt maande oue seuntjie ’n duisend dinge het wat jou kind nooit gehad het nie. Ek is jammer.

Ek is jammer dat die stelsel nie net vir my bevoordeel het nie, maar ook die mense rondom my, wat beteken selfs die tweedehandse goed wat ek present gekry het by mense toe ek swanger geraak het, is meer as wat jy ooit gehad het. Ek is jammer jy moes jou kind grootmaak met net die skamele gesondheidsorg wat die staat bereid was om te bied. Ek is jammer jy moes jou kind in die substandaard plaaslike skooltjie sit. Ek is jammer jy werk op die ouderdom van vyf-en-sestig nog steeds in iemand se huis. Ek is jammer dat die einde van apartheid té láát gekom het vir jou om ’n beter toekoms vir jouself en jou gesin te kan uitkerf.

Ek is jammer die stelsel het mý bevoordeel, en nie óók vir jou nie.

Ek is jammer dat daar mense daar buite is wat dink vyf-en-twintig jaar is genoeg om amper vyftig jaar se geïnstitusionaliseerde onregverdigheid reg te stel.

Seker tien jaar terug, toe ek meer naïef was as nou, het ek ’n argument gehad met ’n jong swart man van my eie ouderdom. Hy het naderhand uit moedeloosheid vir my gevra of ek regtig dink ek is op geen manier bevoordeel deur die stelsel nie. Ek het gesê, ja. Ek wil vir hom óók om verskoning vra. Ek is jammer dat dit my só lank geneem het om myself los te maak van die indoktrinasie van my volk. Ek is jammer dat daar nóú nog mense daar buite rondloop wat dink as jy sekere woorde vermy en partykeer op jou tong byt wanneer jy eintlik iets lelik wil sê, beteken dit jy is nie ’n rassis nie. Mense wat dink hulle verstaan die ware impak van die verlede. Wat dink hul jare bied hulle om die een of ander rede beter insig oor sake as jonger mense wat met ander lewensfilosofie grootgeword het.

Ek wil om verskoning vra vir die wit vrou wat voor my in die ry gestaan het by die winkel die dag ná Mandela se dood, en haar tong geklik het vir die kassiere wat spontaan “Asimbonanga” begin sing het. Ek is jammer dat daar nóú nog mense is wat soos hierdie tannie, omdraai en vir my kyk en haar kop skud en by my kla oor die “geraas”, want jy weet mos, alle wit mense voel mos dieselfde oor sulke goed. In haar wêreld kan sy nie haarself indink dat daar ’n wit vrou agter haar kan staan wat die gesang geniet nie.

Ek is jammer dat julle hiermee moet saamleef.

Ek wil ook om verskoning vra by die jong swart man wat saam met my gewerk het. Wat my een dag gedurende etenstyd vertel het hóé kwaad dit hom maak as wit mense met hom praat asof hy dom is, net omdat hy Afrikaans, húl taal, wat vir hom sy derde taal is, met ’n aksent praat. Ek is jammer. Ek is jammer wit, middeljarige Afrikaner-seniors sal jou oor die hoof sien vir ingewikkelde take omdat hulle nie kan onderskei tussen ’n versperring wat deur taal veroorsaak word, en ’n versperring wat deur aanleg of intellek veroorsaak word nie.

Ek is jammer.

Ek kan nog lank aanhou jammer sê. Daar is só baie dinge waarvoor ek wil jammer sê. En ek sál nog lank jammer sê. Ek sal jammer sê en ek sal my kind leer om jammer te sê, nie net met sy mond nie, maar ook met sy dade. Ek sal hom leer om te onderskei tussen waarheid en indoktrinasie. Om sy oë te gebruik sodat hy die swaarkry, asook die diepere oorsaak van die swaarkry van ander mense sal sien, selfs al beleef hy dit nie self nie en al was hy nie sélf verantwoordelik daarvoor nie. Om te besef hoe baie dinge hy het om voor dankbaar te wees, dinge waarvoor hy niks gedoen het om te verdien nie, maar wat sy erfenis is as gevolg van die kleur van sy vel. Die erfenis van apartheid.

Ek is jammer, julle.

Ek probeer my bes om dinge beter te maak waar ek kan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

109 Kommentare

OppieProvince ·

Ai Plaaskind, ek is saam met jou, veiliger so……

Louw ·

Plaaskind en OppiProvice , ek stem met julle…dis heel veiliger so…

Tiaan ·

Ek stem saam met Flip Buys en ek ondersteun Vryheid van spraak.

Daan ·

Bouwer Bosch die tweede, sien ek.
Sulke emosionele argumente gaan ons nêrens bring nie.

Jacobus ·

Vat die woorde so uit my mond. Vitue signaling op sy beste.
As die skrywer nie die verwoesting van ANC kan sien nie, dan weet ek nie. Weereens stereotipering op sy beste.
Ou Jan as jy weer by die Kaap aandoen, hou liewer verby!

Leeu ·

Ek is jammer, as jy voel ons moet jammer sê oor iets waaroor ek geen beheer het nie. Ek is jammer as jy annders as ek daaroor voel dat my kind vir die sondes van ons voorgeslagte gestraf moet word. Ek is ook soos jy, jammer dat sekere mense geen voordeel uit ‘n stelsel getrek het waarvoor ek nie veranntwoordelik was nie. Saam met jou, is ek jammer, maar ek gaan nie toelaat dat ek, of my kind daardeur gestraf word nie. Ek sal my deel doen, en my kind leer om sy deel te doen om diegene wat benadeel was eerder te “empower” – maar ek gaan verseker nie gestraf word nie. Ek is jammer as jy voel jy moet jammer wees!

Koos ·

Ja die probleem is maar net dat of jy nou jammer sê of nie, die anc, eff en baie van die buiteland het nie veel vergifnis vir ons Afrikaners oor ons voorvaders se dade nie. As Francinah se kaders nie skole afgebrand het destyds nie, kon sy miskien ook met ‘n motor na haar veilige huis toe gery het na haar kantoorwerk dag. So of jy nou wil blameer of askies sê tot jy blou is, dit gaan nie ‘n kners saak maak aan die huidige toestande nie. Ons voel ons het genoeg om verskoning gevra, ons gaan nie ons koppe bly stamp en ons kniee bly stukkend kruip voor teen ‘n nasie wat ons nooit gaan vergewe nie.

Deon ·

Ja nee ek se ook maar niks en sak net my kop. Wag maar vir die volgende skool wat af gebrand word en kyk of dit aparthied se skuld is of iets wat weer belowe was “julle sal dit verniet kry.”

Niel ·

ek is jammer Surita dat jy wel ‘n huishulp kan bekostig, dat jou kind duisende speelgoed het. Ek as kind uit die 1980’s het nie duisende speelgoed gehad nie, my speelplek was die veld buite die huis in die stof. Ek is jammer dat jou kind dalk nie die voorreg ken om in die strate te speel tot dit amper donker is. Ek is jammer dat ek Afrikaans lief het, en trots is op my afrikaanse wortels. Ek is jammer dat jy jammer moet sê vir jouself. Ek is jammer dat ek in ‘n huurwoonstel moet bly, moet afbetaal aan ‘n karretjie, nooit ‘n DSTV gehad het. Ek is jammer dat die land na 26jaar van demokrasie nie meer gegroei het en waar die regering werklik omgee vir die mense nie. Ek is jammer dat die land homself in die skande moet steek en miljarde rande se geleenthede gehad het om ‘n land te wees wat wys dat hulle weet hoe om te regeer. Ek is jammer dat jy jammer is. Sterkte.

Pieter ·

In 25 jaar word hierdie land duidelik afgetakel en afgebreek, ‘n kommunistiese pad na nêrens. Die Rand is die swakste nog. Ek is jammer dat die Gelofte land in so ‘n toestand is, maar dit is nie primêr die ANC se skuld nie, maar die volksgenote wat agter ander gode aanloop. So jammer gekerm gaan ons niks verder bring nie, eerder om meer getrap te word. Indien jy voel jy is onregverdig bevoordeel, ruil plekke of verkoop jou goed en bly onder die stamkaptein se gesag. Dit is kulture, geloof en waardes wat bots. Yster en klei meng nie, ek is jammer maar dit is ‘n natuurwet.

Frik ·

Dit is nou n fantatstiese geleentheid vir Francinha om met haar onmiddelike familie by jou in te trek .

Johan Venter ·

Surita, Flip Buys kan vir homself praat, maar soos ek dit het, het hy gesê ons is moeg van om verskoning vra, dit nou al vir 26 jaar wat ons verskoning vra. Hy het nie gesê dat ons nie jammer is en nié verskoning vra nie. Ons het in die tyd al ‘n magdom goed na die tafel toe gebring om vir die onreg te probeer vergoed.

Maar verseker het die ANC regering nie kant gebring nie, ook nie met die afbreek van die land nie, nie dmv hul kaders, korrupsie en hul ideologie nie.

Dan Surita, as jy werklik wil verstaan wat massief tot die mense se omstandighede bygedra het, kan jy gerus ook hierdie boek lees, die Afrikaner en die wit mense was nie alleen aandadig nie:
https://irr.org.za/reports/books/copy_of_peoples-war-new-light-on-the-struggle-for-south-africa

Snowball ·

Wat hierdie skrywe doen, is die skuld vir armoede, ellende, oorbevolking, plaasaanvalle, korrupsie en misdaad waarmee alle Suid Afrikaners moet sukkel en saamleef, kollekief die skuld van wit mense te maak agv van ‘n reeds afgeskafte stelsel nl apartheid.
Alles het sy tyd – ‘n tyd om bymekaar te maak en ‘n tyd on weg te gee. Die Afrikaner se tyd vir verskoning vra het gekom en gegaan. Verskoning is gevra, herhaaldelik, by verskeie geleenthede, op verskeie maniere. Emosionele ontboesemings en hartverskeurende stories is by die WVK beleef.
Niemand kan ‘n verlede of ‘n volk se geskiedenis verander nie; in elke nasie sit donker kolle wat hulle met skaamte kan oorweldig. Dit word die katalisators wat positiewe verandering moet bring. Dit was almal in SA se strewe met die einde van apartheid. Helaas, sal ons nooit die positiewe beleef nie, want die rou senuwee van apartheid word gedurig aan gekrap om skuldgevoelens en misplaaste jammerte lewendig te hou. Dis nou genoeg.

Janine ·

Dis natuurlik om skuld op blankes te plaas. Dan hoef SWARTES nie hul EIE leiers, deur hulle GEKIES, te blameer vir hul ellendes!

Oujongvrou ·

Die jammerte is , dat witmense wat niks te doen gehad het met die apartheid stelsel nou aaneen jammer se. Vir wat, toe se ons Surita. Omdat hulle en ons wit is. Daarom moet ons jammer wees. En dis n boel snert. God het ons wit gemaak. So ek hoop oor nog 5 jr gaan die patetiese regering begin jammer se, aanhoudend en aaneen, oor hulle ons almal in die steek gelaat het.

Marius ·

Suritha –
1) Hoe lank gaan jy nog jammer sê?
2)Hoeveel keer gaan jy nog jammer sê?
3)Beteken vergifnis nie dat mens kan ophou jammer sê nie?
4)Hoekom moet jeug wat na 1994 gebore is jammer sê?
5)Moet Engelse vandag nog jammer sê oor konsentrasiekampe ?
6)Wie gaan vir jou kinders jammer sê oor staatskaping?
7)Wie sê vir ons jammer oor die misdaadgolf wat oor ons land spoel?
8)Hoeveel van jou wit bevoorregting en wêreldse goed het jy al prysgegee uit jou jammerte?
9)Hoekom het jy nog nie vir jou Fracinah ‘n ordentlike huis gekoop nie?
10)Wie gaan jou vir kinders jammer sê as hul nie keuring kry vir graadkursus al was hul goed genoeg?
11)Wie sê jammer vir al die grusame plaasmoorde wat plaasvind?
Suritha dit is nie gewone mense soos ek en jy wat vir ewig om verskoning moet vra vir politici se wandade nie. As jy jou klein seuntjie met ‘n skuldgevoel en skaamte as wit bevoorregte wil grootmaak is dit jou keuse. Sterkte daarmee. Ek weier.

Rose ·

Moet my nie verkeerd verstaan nie maar onder omstandighede het hulle goed aangewas in Suid-Afrika ten spyte van die apartheids regering. Menseregte
in die res van Afrika word steeds vertrap. Niks het verander van destyds tot nou toe nie, en dit onder hulle eie leiers. Kyk hoe wreed was Idi Amin, sy army het mense letterlik geslag. Ek wonder baie hoe sou SA gewees het indien die kolonialiste ens nie hier kom nes skrop het nie. Ten minste sou daar nie iemand gewees het om vir alles te blameer nie.

RyanSA ·

♪ Gee haar ‘n skottel, ‘n skottel vir haar ♪ ‘n skottel om voete mee te was.. Ek is gebore aan die einde van apartheid. My skool het ander rasse toegelaat. Ek was nie deel van apartheid nie! Dog word ek nou se dae gestraf daarvoor, my vrou kan nie werk kry nie, ons is op ons eie. Daar word op my neergekyk deur mense wat grénd karre ry, bespottings gemaak. Maar ek gee nie om nie.
Hoekom maar hoekom stem die meerderheid mense steeds aanhoudend vir die regerende party as hulle agtergelos word, vra ek jou met trane in my oë. Ek kan nie jammer voel nie, ek weier. Daar is heelwat mense wat wil help, maar hulle word nooit die kans gegun nie.

DERICK ·

Ek dink Surita en Franchina moet vir jou jammer se omdat daar teen julle gediskrimineer word.

Coenraad ·

Ek sê ook net jammer, jammer Francinah dat daar so baie mense sonder werk is en op straat sit. Jammer dat iemand wat swakker is in ‘n beroep die pos moet kry a.g.v. vel kleur. Ek is jammer dat sodra hulle die pos gekry het, hulle onder ‘n boom kan lê en slaap terwyl ander mense onder die boom moet slaap nie uit hulle eie wil nie. Ek is jammer dat die sogenaamde ordentlike onderrig nou tot die swakste ter wêreld is. Ek is jammer dat alles af gebrand moet word Francinah en dat plaasaanvalle maar reg is. Ek is jammer dat Eskom nie meer kan krag lewer nie. Ek is jammer dat ons die damme te groot gebou het. Ek kan ook nog lank aanhou jammer sê. Ek sal my twee dogtertjies ook leer om jammer te sê in die lewe, maar definitief nie vir wat nie hulle of my skuld is nie. Francinah ek is regtig jammer.

Marthie ·

Apartheid kan nie al die skuld dra vir armoede nie. Kyk net na die res van Afrika.

Johan Venter ·

En Surita, ek moet eintlik by my vorige kommentaar hier bo byvoeg, genadiglik het die NP regering die land eers in 1994 aan die ANC oorgegee, dink nou net watter erge katestrofe dit sou gewees het as dit ‘n klomp jaar vroeër was, dan was ALMAL nou in tamatiestraat.

Ou Baardbek ·

Dit is baie duidelik dat sommiges wat WEL die beweerde voordele ten koste van ander geniet het, steeds nie gebruik gemaak het van die geleentheid om beter en verder te studder nie, of tyd kon vind om die FEITELIKE van vorige jare in GEHEEL te bestudeer nie. Dit sou sekerlik beter perspektief tot gevolg gehad het?
Bestuur gerus die geskrewe geskiedenis, wat nie vandag geskryf is nie, maar reeds lank tevore, en toets gerus die bewyse van die gestelde feite, voordat oningeligte bewerings en skuldgevoelens die oorhand kry.

Dr Pieter ·

Me Du Toit,
Sal jy vir my ook jammer sê dat ek in 1970’s vir vier jaar lank in die nag gewerk het sodat ek bedags universiteit toe kon gaan om uit my omstandighede op te staan? Sal jy vir my jammer sê dat ek boonop met die voete geloop het van ‘n arm deel van Pretoria om by die universiteit in Sunnyside te kom? Sal jy vir my jammer sê dat ek vir vier jaar met ‘n maksimum van 2 ure slaap per nag oor die weg gekom omdat ek nie soos jy deur die “stelsel” (lees Apartheid) bevoordeel is nie? Ek moes baie hard werk, ten spyte van my “bevoordeling.” Nadat ek kwalifiseer het, het ek 16 ure per dag gewerk, 6 dae per week. Dan snags studeer.
Apartheid was nie reg nie. Dit het egter vir “napraters” ‘n stok geword om die generasie wat dit ongedaan gemaak het mee te slaan.
Ek voel vir jou jammer dat jy so jammer voel oor alles wat jy het. Wat het jy daarmee gedoen?
Ek, en talle ander soos ek, was vir baie jare betrokke in gemeenskapsprojekte om benadeeldes te help, selfs na my aftrede.

Jacobus ·

Dr Pieter, ‘n redelike opsomming van my eie bestaan. My grootouers het dit as uiters negatief beskou om die vernietiging van ABO te blameer. As ek moet dankie sê in die vorm van ‘n ‘jammer sê’ is vir my moeder moes werk het tot in haar sewentigs om my op universieit te hou én help om ons huishulp se seun ‘n onderwys kwalifikasie te laat kry.
Me Du Toit ons het in ‘n ander heelal onsself groot gewerk.
Jammer.

Wielspore ·

Op 17 jarige ouderdom, Jan 1981 meld ek aan vir 2 jaar diensplig, my beroep as vakleering elektrisien word opsy geskuif, na my diensplig doen ek vir 12 jaar kampe tot omtrent 1996. Na vakleerlingskap kry en nie permanente aanstelling omdat vooraf benadeelde persone eerste voorkeur het. Ek kry werk en word beperk in my vordering omdat vooraf benadeelde persone voorkeur kry. Tot vandag toe is dit nog steeds aan die orde van die dag, staan terug, jou velkleur is nie reg. Ek het nie toegelaat dat dit allles my onderkry, ons kinders het geleer om te werk vir wat hulle verdien, tussen my en my vrou het ons ook hard gewerk om te kry wat ons vandag het. Ons het niemand benadeel, almal met die nodige respek behandel. Na my mening is dit keuses wat jou toekoms bepaal, swak besluite lewer swak resultate, beter besluite lewer goeie resulate. Ons bedien die gemeenskap persoonlik, dit kos my geld uit my eie sak, ek kry geen vergoeding daarvoor, dit is ons bydrae tot die gemeenskap wat dit nodig het.

Louis ·

Ope antwoord aan Surita du Toit. Niemand sê ons is nie jammer vir Francinah se ongelukkige omstandighede nie. Maar dit is ook so dat gedurende daardie tydperk derduisende swartes was wat wel n opvoeding en opleiding gekry het. Die derduisende 60 + jaar oue suksesvolle swart besigheids mense getuig tog daarvan. In terme van jammer sê. Ek het dit namens my ouers en my voorouers gedoen in die 90s. Wanneer het mens nou genoeg “sorry ” gesê .Maar na 26 jaar dink ek regtig dat ons nasietjie kan voortgaan.Ek hoor nie enige onverskonings vir my kinders wat moet immigreer sodat my kleinkinders in veiliger omstandighede kan groot word nie. Ek hoor geen verskonings vir die plus minus 57 moorde per dag nie. Ek hoor geen onverskoning vir die massiewe wrede plaas moorde nie. Ek het nog nooit `n onverskoning gehoor vir Johannesburg stasie, of Amanzimtoti se Wimpy, Of Poyntens gebou in Pretoria nie. Ek blameer ook niemand meer daarvoor nie

jaks ·

Flip my geld is op jou. Ek kan nie wag vir jou antwoord nie.

Tino ·

Jou skuld gevoel jou medisyne.

My pa was werkloos in die vroee negentigs, gaan studeer op skuld om vir sy kinders ‘n opvoeding te gee ten alle koste. Dit is sy enigste belleging. Alles wat ek bereik het het daaruit gespruit. Alles wat ek vermag het ek gedoen ongeag die onderdrukking van Swart Ekonomiese besteling.

Ek se nie dis reg dat die meerderheid van die land onopgevoed is en swaarder kry nie maar ek het nie ‘n skuld gevoel nie soos jy nie. Die mense wat moet jammer se is die wat tans aanbewind is wat sorg dat die meerderheid swaarder kry vir hul eie gewin.

Jou brief is dus goed maar dit moet in die regte rigting gepos word. Die wat nou iets daaraan kan doen maar nie wil nie

VanAfrika ·

Ek gaan iets sê
Surita, sê jammer aan al daar die jong plaasboer en ou gryskopplaasboere en hul vrouens wat wreed gemartel was om kos op jou tafel te sit. Sê jammer aan hul kindertjies wat wreed aangeval en vermoor is. Sê jammer aan daardie vrouens wat verkrag word en vir dood agtergelaat word terwyl hulle manne in n plas bloed lê, dood. Want weet jy wat, ek het vriende vir wie dit raak, ek het familie vir wie dit raak, wreed en lelik.
Jou Fransina het vir die ANC gevote, hulle het vir haar n RDPhuis belowe, sy moet dit met hulle opneem oor hoekom vir haar gelieg is, moenie ons daarvoor blameer nie. Jou vriend wat nie met n aksent praat nie, dis sy voordeel as hy in n witskool was en hom die regte aksent geleer het. Ons praat goediglik met n aksent en bedoel niks daarby nie.
Fransina het al langer as 25 jaar lank die land en het nog geen vordering gemaak om haarself te bevoordeel nie. Moenie ons daarvoor blameer terwyl alles om ons afgebrand/vermoorword

Hennie ·

Gee al jou besittings vir Francinah en ruil plekke met haar. DAN sal ek glo jy is jammer. Hierdie skeinheilige EK IS JAMMER sonder om daadwerklik op te offer beteken vir my NIKS

Frans ·

Ek stel voor dat Surita du Toit eers die ‘Carnegie Commission of Investigation on the Poor White Question in South Africa’ bestudeer en dan die planne wat beraam is om mense uit armoede op te hef goed nagaan.Apartheid het nie in 1948 begin nie.Hier is net ‘n paar
Masters and Servants Acts of 1856
Mines and Works Act No 12 of 1911
Black Land Act No 27 of 19 June 1913
The Native Affairs Act of 1920
The Durban Land Alienation Ordinance, No 14 of 1922
The Natal Provincial Council passes three ordinances of 1922:
1. The Rural Dealers’ Licensing Ordinance – limited the right of appeal.
2. The Townships Franchise Ordinance – Indians lose municipal franchise.
3. The Durban Land Alienation Ordinance – gives the Durban Town Council the right to restrict ownership and occupation of land of any race group.
The Class Areas Bill of 1923
The Natives (Urban Areas) Act No 21 of 1923
Boroughs Ordinance No 189 of 1924
The Industrial Conciliation Act No 11 of 1924 .

Josef du Toit ·

As mens so graag jammer-se^, moet daar ook “jammer-doen” van kom, eerder as om te kla oor iemand anders wat dan nou kwansuis ook eintlik moes jammer-se^. Waarom nie eerder self daadwerklik meer vir Francinah doen nie, eerder as om haar te oorspoel met krokodiltrane.

Johan Venter ·

Genoeg is genoeg. Die kruks van die storie is die omverskoningvra-storie pas die ANC soos ‘n handskoen, dit jubel, want vir solank ons met vaste bates in die hand om verskoning vra, vir so lank verlig dit die ANC regering se plig om na alle burgers van die land om te sien, daarom sal hulle in der ewigheid ook nooit van SEB of regstellende aksie afsien nie, hulle was in 1994 met die broek op die knieë gevang, want nou sien mens hulle verstaan nie die ekonomie nie, daarom gee hulle apartheid die skuld vir hul vergrype, en kyk heel bo-oor hul sosialistiese kommunistiese ideologie.

Maar hulle sal die inwoners van hul grond/vaste eiendom, pensioene en gesondheidsorg stroop, DIS waarin hulle goed is.

En die kaders is korrup.

Andrew ·

Ek dink die beste vir jou om te doen is om Fransina en haar kinders in te neem. As jy gelukkig genoeg is om in die posiesie te wees om n fransina te hê, behoort jy in die posiesie te wees om met haar te kan deel in jou huis. Verder stel ek ook voor dat jy jou kind se studie geld met fransesca se kind deel dat almal kan deel in die rykdom wat jou familie oor die jare onregverdig bekom het.

Naas ·

Surita, wanneer gaan die ANC begin jammer sê vir al hulle vergrype sedert 1964? Apartheid het in 1994 gestop maar die ANC se wandade gaan daagliks voort? Hulle jammerbrief sal tien keer langer wees as joune.

Michael ·

Wie gaan vir my kinders verskoning vra oor die land waarin hulle bly en gebore is diskriminasie toepas dmv wetgewing gebaseer op velkleur.?

Sterling ·

Surita, as jy herhaaldelik jammer sê, verloor dit die ware betekenis daarvan. Asof jy die eerste keer dit nie opreg bedoel het nie.

“Ek wil namens jou, meneer Buys, om verskoning vra dat my eie mense naïef genoeg is om te dink dat die regering, enige regering, die gevolge van apartheid kan regstel in een generasie, of hulle korrup is of nie.”

Wat is jou maatstaf van regstel? ESKOM skuld af betaal met Pensioen gelde? (wat ‘n ANC krisis is, want voor hulle oorgeneem het was ESKOM winsgewend…)

Soos uiteengesit deur die Hoof van Solidariteit se Navorsings Instituut om ESKOM se skuld te betaal; “As ons ons staatsbesteding inperk en spandeer wat ons inkry, net die tekort vanjaar (2020) die 6.3% te kort, is genoeg om AL die skuld van ESKOM af te betaal.”

…maar jy sê 1 generasie kan nie die ‘gevolge’ regstel nie. Jy is reg, hulle kan BAIE meer as net dit regstel…1 generasie kan die land vir almal ‘n beter plek maak, hulle moet net ophou jammer sê en daadwerklik iets doen

Charl ·

Om jammer te se names generasies van Afrikaners is nogals n groot ding.

Ek is meer jammer dat elke persoon wat emosioneel word oor die lewe dit op n spesifieke groep brobeer plaas as skuld.

Mens kan empatie he, maar dit beteken nie jy hoef die skuld vir ander mense se besluite op jouself te neem nie.

Ek vra God vir vergifnis, maar ag myself nie so groot dat ek sommer names ander mense begin jammer se nie.

Philip ·

Surita moet ASB nie veralgemeen nie Ek het grootgeword in die 40/50 met ouers wat moes sukkel elke dag vir hulle voortbestaan onthou net die Afrikaner het ook sy dom honger dae gehad maar het homself aan sy eie BOOTSTRINGS opgetrek Wees dankbaar dat jou geslag die vernedering gespaar gewees het want ek het my kinders deur Universiteit soos jy ook deur jou ouers gehelp is.

Shaun ·

Francinah ek is jammer dat die mense wat beste in staat is om jou vandag te help, mense uit jou eie kultuur, glad nie daarin belangstel nie.

Ek is nie jammer dat my voorouers vir honderede jare hard gewerk het om die samelewing en hulle eie omstandighede so te verbeter dat hulle nie in sink huise hoef te leef nie. Ek kan ook nie jammer sê namens Francinah se voorouers wat daarin misluk het nie.

Ek is jammer dat die land se ontwikkelende ekonomie (1920 – 1980s) nie op die selfde standaard kon voorsiening maak vir die ontwikkeling van ‘n groeiende ongeskoolde bevolkingsgroep nie. Die sanksies het ook nie daarvoor gehelp nie.

Ek is jammer dat die meeste van die mense wat vandag in sink huise bly in kommunisties en sosialistiese stelsels glo wat hulle lewensstandaard nie sal verbeter nie. Ek is jammer dat die skole van vandag hulle nie anders sal leer nie.

Laastens is ek jammer dat die rasisties stelsels van vandag my onderdruk en sodoende my stuit in my vermoë om jou te help.

Kokerboom ·

Mnr Flip Buys, nadat ek die skrywe van Surita deurgeworstel het besef ek weereens die diepe realisme van u artikel. Die toekoms, positiewe denke, handevat,harde werk, wedersydse respek, die dringende lus en passie vir opbou is die enigste uitweg vir ons mooi land gegewe die speelveld is gelyk!!!

pestilensie ·

ag my liewe meisie , ek is ook jammer vir al die arm mense in die wereld , maar asb gaan leer jou geskiedenis , nie die ANC sin nie , en begin weer trots voel

heinrich ·

Hier is ‘n voorstel aan die dame:
1. Gee jou huis vir Francina (met die twee voertuie).
2. Gaan woon in Francina se makoeka.
3. Leef jou uit in jou nuwe slagoffer mentaliteit.
Laastens, ek is ook jammer oor die verlede en ek verder ook jammer oor hierdie reënboog ramp waarin ons ons nou bevind.
Maar ek het REEDS JAMMER GESÊ, EK WEIER VOLSTREK OM DIT WEER TE DOEN !

Jax ·

Dankie vir jou skrywe. Daar is, soos met all ander berigte, dinge waarmee ek saam stem en Ander waarvan ek verskil. Die feit bly staan; jy doen wat jy kan om SA n Beter plek te maak.
Wat in die verlede gebeur het, kan ons niks aan doen nie. Dit is wat ons nou doen, wat saak maak.
Ons kan elkeen maar n oomblik stil raak en dink hoe elkeen van ons n verskil kan maak. Hoe groot of hoe klein ookal.
Gooi maar klippe as julle wil (dis die een ding wat alle Suid-Afrikaners die heel beste kan doen teen oor mekaar)

Gerhardus ·

Ek is só moeg vir hierdie spul liberaliste wat heeltyd met hierdie “white guilt” rondloop.

Ek was 13 jaar oud toe ek moes begin werk om vir my ma en susters te sorg. Ek wil graag sien waar ek bevoordeel was.

Ek was 17 toe ek op die grens baklei het om julle spul lafhartige liberaliste veilig te hou. Waar was ek bevoordeel?

Toe ons uitklaar, het dié wat saam met ons ‘n vakleerlingskap begin het, lank voor ons klaargemaak omdat hulle nie weermag toe hoef te gegaan het nie. Wie is nou eintlik bevoordeel?

Hulle het geleenthede gehad vir ‘n goeie skool kwalifikasie. Hulle het gehalte onderrig ontvang.

Nét omdat jy voel dat hulle benadeel was, juis deur julle liberaliste, moet jy nie dink dat jy namens alle blanke Suid Afrikaners praat nie.

Ons het saam met hulle grootgeword en saam met hulle gespeel toe dit nog taboe was in die Ou Suid Afrika. Ons het saam met hille uit dieselfde pot pap geëet.

So… jy hoef regtig nie namens ons verskoning te vra nie.

Woeter ·

Dankie vir hierdie brief. Ek het elke liewe woorde gelees en stem 100% saam daar mee en nog meer. Daar is ‘n woord in Suid-Afrika – Ubuntu – ‘n woord wat Mandela se grootste geskenk vang: sy erkenning dat ons almal saamgebind is op maniere wat onsigbaar is; dat daar ‘n eenheid met die mensdom is; dat ons onsself bereik deur onsself met ander te deel en omgee vir diegene rondom ons. Dankie dat u Ubuntu ook uit spel in die brief. Ek is saam met jou jammer wat ons Suid-Afrikaners aan ons mede Suid-Afrikaners gedoen het mag dit nooit ooit weer gebeure nie.

Moet se ek kry nogal lekker dat die meerderheid van die komentaar nie te veel te se het nie, eyse maar net jy skryf feite.

Louis ·

Woeter, ek hoop van harte dat die hele Suid-Afrika ‘n verskoning en erkenning van die ANC regering gaan kry dat hulle swart en wit se kanse op versoening en vooruitgang in gedrang gebring het deur wanorde en gierigheid. Die witman stel nou die voorbeeld en steeds is daar geen teken van berou van die staat se kant af nie. Wat nou.

Michael ·

Ek dink die beste vir u sal wees dat u dit wat u het sal deel met Franchina en haar voete sal was ,ek verstaan Adriaan Vlok het berusting gekry nadat hy dieselfde vir Chicane gedoen het.

Annakapat ·

As jy so verskriklik jammer is, laat Francinah by jou intrek dan voel jy dalk minder skuldig!
My ouers kon my ook nie laat studeer nie maar ons moes maar ‘n manier vind om te oorleef. My man is op aftrede ouderdom maar hy kan ongelukkig nie agteroor gaan sit nie. Hy moet steeds werk vir ons brood op die tafel.
So, moet dus asb nie namens my goed sê nie.
As jy jammer is jy leef te lekker deel dan jou skatte met die minderbevoorregtes!

Karien ·

Ek wil ook graag vir Francinah om verskoning vra.

Dis skrikwekkend dat jou werkgewer nie besef dat ’n halfmiljoen mense vermoor is sedert die ANC aan bewind gekom het nie. Ai Francinah, en die meeste van die slagoffers is jou eie mense!

Ek is jammer dat sy nie sien hoe jou gemeenskap se kleingoed nou honger ly, ontvoer word, gemartel word en lewendig opgesny word vir moetie nie.

Onthou jy die dae toe daar klinieke in al die uithoeke van die land was? Toe mediese sorg vir die swart bevolking gratis was, en dit het van die mees ingewikkelde operasies in skoon hospitale ingesluit?

Ek is jammer dat die meeste van jou mense deesdae werkloos is terwyl die ANC miljoene rande vermors en die ekonomie vernietig.

Ek is veral jammer dat alles waarvoor julle so hard geveg het, steeds net ‘n droom is.

Arnold ·

Jammer sê? Nog nooit. My redenasie is…ek het nie apartheid begin nie en was in die stelsel gebore. Wat die huidige bedeling doen aan ons taal en kultuur maak my geensins jammer nie. Reversed apartheid is wat nou besig is om te gebeur. Apartheid was verkeerd maar wat nou gebeur is netso verkeerd. Two wrongs doesn’t make a right.

Arrah ·

Die skandes van jou besluitneming bly joune. Ek kan empatie hê, maar geen simpatie met die besluite wat jy of jou voorsate geneem het wat nou ń negatiewe uitwerking op jou het nie. Jou lewens lesse is joune om te leer net soos wat my lesse myne is. Indien dit jou besluit is om jou huidige omstandighede as nalatenskap aan jou nageslag oor te dra, my innige empatie. My ewige dankbaarheid aan my voorsate wie besluit het om elke oggend in geloof op te staan en met dankbaarheid te werk vir ń beter toekoms vir hul eie nageslag. Dank aan my grootjie dat ek nie steeds in ń konsentrasie kamp hoef wakker te word nie. Ek, my kinders en hul nageslag sal nie jammer sê nie. Ons sal wel bid om verantwoordelik met dit wat ons toevertrou is om te gaan en te deel waar nodig soos wat ons kan, met deernis en respek vir mede mens, maar ons sal nie jammer sê vir die talente wat ons toevertrou is nie.

Gawie ·

Surita, Jammer sê werk so: As jy iets verkeerd gedoen het, sê jy jammer, en klaar. Om oor en oor jammer te sê beteken jy was die vorige kere nie opreg gewes nie. Behalwe as jy dieselfde ding weer gedoen het, dan kan jy weer jammer sê.
Ek glo ons het almal jammer gesê, en nou is dit verby en ons gaan aan met ons lewe.
Die belangrike ding van jammer sê is dat die ander persoon jou nou moet vergewe, maar dit is heeltemal in sy hande. Sou hy jou nie vergewe nie, hoef jy nie weer jammer te sê tot hy jou vergewe nie, die bal is nou in sy hande. Jy het jou deel gedoen.
My vraag is: het die ander kant ons al ooit vergewe, of verlustig hulle hulself in die wittes wat net oor en oor jammer sê?

Anoniem ·

My magtig mens jy se so baie jammer dat ek jou begin glo. Ek se jou wat gaan kry nou n wasskottel dan val jy voor Francinah neer en dan was jy haar voete. Dan vee jy haar voete droog met jou hare en bespuit haar met jou duurste parfuum. Trots en eg afrikaner is jy.

Anoniem ·

Om vir jou kind te leer dat hy moet aanhoudend jammer se skep jy by jou kind ‘n slagoffermentaliteit en dit is verkeerd. Daar IS jammer gese, einde van die storie.

Pieter ·

My jammerte het lankal opgedroog soos wat die staatsgeld opgedroog het. Gee dan maar n kamer in jou huis vir jou huiswerker as dit jou bietjie beter sal laat voel. Gaan lees bietjie wat Duitsland na die 2de wereldoorlog vermag het nadat hulle verwoes was, teenoor ANC wat n werkende land ontvang het.

Ek kan ·

Surita du Toit, sê jy maar gerus jammer as jy voel jy het onverdiend ontvang uit die verlede. Ons het grootgeword op ‘n plaas. Nee, dit was nie ons plaas nie. Daar was ook ‘n swart gesin wat op die plaas gewoon het. Hulle het nie krag of lopende water in hul huisie gehad nie. Ons ook nie. Net soos hulle moes ons elke aand emmers water gaan skep. Die kinders het nie speelgoed gehad nie. Ons ook nie. Hulle moes ver skool toe stap. Ons ook. 5km Ver op die groot pad. Ons was arm – daar was nooit ‘n Fransinah wat vir ons werk nie – ons het alles self gedoen. Ek kon nie na skool studeer nie, het gaan werk en na-uurs studeer. Dit het broekskeur gegaan, ek moes hier en daar ‘n jaar oorslaan om eers weer fondse bymekaar te maak. Ons het hard gespaar vir ons eerste huisie. Ek was ‘n jong volwassene toe apartheid verdwyn, dus, ek was ook nie iewers bevoorreg gedurende my werksloopbaan omdat ek wit is nie. Die bietjie wat ek het, het ek voor gewerk! Self!

Antoinette ·

Daar is n foto van Flip Buys, hoekom plaas die persoon wat die jammer brief geskryf het nie sy/.haar foto nie.

Frieda ·

Dis goed om jammer,jammer,jammer te sê, maar ek is bevrees dit val nou op dowe ore en jy word nie vergewe nie!!

Strandloper ·

Als goed en wel….bedoelende die komentare. Is almal te bang om die werklike rede vir die instelling van apartheid aan te raak? Was die instelling nie om dit te verhoed wat nou gebeur nie?

Jopie ·

Sê liewer jammer aan die hoogste gesag dat ons nie die banvloek uitgeoefen het, soos ons moes nie. “To ghastly to contemplate” soos John Vorster dit genoem het, as ek reg kan onthou

MakersMark ·

Die NP het jammer gese, die NG Kerk het 10 keer jammer gese, oud polisiehoofde het jammer gese en was voete van hul politieke teenstanders. Dis net jammer, en nie een van die verlede of huidige ANC ministers of presidente sal jammer se, nie eers aan hul eie landgenote of stemkuddes nie, vir die absolute gemors wat hul gemaak het van ‘n land met soveel potentiaal en werkende prosesse en infrastruktuur wat op ‘n skinkbord aan hul oorhandig is deur die ruggraatlose NP. Jammer vir staatskaping, jammer vir falende staatsinstansies, jammer vir riool wat in strate en die riviersisteem afloop, jammer vir plaasmoorde, jammer vir werkloosheid van 30%, jammer vir die misdaad, jammer vir die stygende geweld teen vrouens en kinders, jammer vir die gesonsheidsisteem wat ten gronde gaan, jammer vir die parlement wat ‘n sirkus is. Nou ja, so kan dit aangaan. Ek se vir niks jammer nie. SA, eens trotse land is vermink. Surita, ken jy die storie van roomys en mis meng ?

Anoniem ·

Dis goed so…. maar nerens lees ek van jammer oor al die onskuldige plaasmoorde en plaasaanvalle nie.
Van bejaardes wat in Veiligheidsentrums vermoor word…. Ek se ook maar net.

Alexz ·

Talk is cheap but money buys the whiskey…..
Verkoop alles wat jy het, gaan woon saam met hulle en help hulle met u opbrengs.

werner ·

ek gaan dit sommer reguit se hoekom moet ek jammer se vir iets wat my gesin en myself niks meer tedoen gehad gehad nie,ek was n jongman in die “apartheids jare”maar nooit het my pa of my gesin n swartman of vrou sleg behandel nie,ek se nie jammer omdat jou huisvrou in sink shack bly nie,my pa en ma het hard gewerk en werk nog steeds hard vir dit wat hulle bymekaar gemaak het,as jy dan jammer is trek jy in die shack in saam jou gesin en laat Fransina in jou huis bly ,stel jy dan n voorbeeld,ek se nie jammer nie.ek kry mense jammer wat sukkel en sukkel self,help eerder waar jy kan,en weer se ek Surita stel jy dan die voorbeeld en trek in die shack in en laat Fransina dan in jou huis bly.

Andre ·

Dit klink of jy regtig jammer is. Maar om verskoning te maak is nutteloos as jy nie ook bereid is om jou wederegtelike winste terug te gee nie. Dit sluit natuurlik in jou huis met meubels, motor, jare se salaris en voordele wat hulle nie hehad het nie. Die universiteit van die noorde en ander wat al sedert die 1960’s uitsluitelik vir hulle gebou was, kan dalk help met die berekeninge.

Gail ·

Ek buig en sê ook jammer. As ek op Maandae en Dinsdag my asdrom uit sit, sien ek, verskillende soorte mense wat inderhaas, kom loer in my drom, vir hulle brood en botter. Vanoggend was vir my erg. Die Here praat diep in my siel. Ek stap binne om te kyk wat in my kas is, watse blikkieskos daar is, wat maklik kan oopmaak, ek kry ‘n paar en sien ‘n blik kondensmelk, en ‘n stemmetjie kom op by my, wanneer laas het die asdrom man soetigheid geëet? Ek gee hom alles, en hy sê dankie Aunt dankie Uncle. Ek stap weg, ek kan niks sê nie, dis asof iets my mond toe hou. Toe stroom die trane. Ek is *white privilege* In die verlede het ek kwaad geraak vir daai woorde. Dit is ‘n stempel wat vir ons gegee is. Hoeveel van ons is nederig genoeg om te besef dat dit die waarheid is. As ons almal na ons tiendes net 1persent van wat ons het gee vir die armes. Hoeveel meer sal ons kaste oorloop, om meer armes te kan help. Arm mense, het nie kleur nie. Ook nie ryk mense nie. Jesus het jou hande en voete nodig

Johan Venter ·

Ons moet vir hulle dankie sê omdat hulle help om die omgewing skoon te hou, van hulle dra sakke, ander het sommer n trollie waarin hulle dan die blikkies tin en van ander metale sit om te gaan verkoop. Dit het al ‘n hele bedryf geraak.

Plaaskind ·

Ons werk hard vir ons geld – grou nie in ander mense se blikke vir “maklik verdiende brood en botter” nie. Hou op om julself so te verkleineer oor ander mense wat maklike uitwegte kies en kies om te kripeer van elende. Wraggies ook. Help waar jul kan, maar jy skuld niemand niks.

Elize ·

Gail. Ek het al van hierdie” arme drommels” gesien as hulle by hulle huise kom. Ry beter motor as ek en die klere is beslis nie by Pep gekoop nie. Hulle dra daardie vodde as hulle in die asblikke grou om simpatie te kry by mense soos jy. Verstaan my goed ek sê nie almal van hulle doen dit nie maar o so waar daar is sluwe mense buite wat op jou sagte hartjie teer. Maak seker van jou feite voor jy die jammer kaart wil speel hoor. Gaan koop nog kondensmelk want die asblikke word elke week skoongemaak.

Frans ·

Wat vir my die jammeste van alles is dat mense soos Surita du Toit glad nie die geskiedenis ken waarteen afsonderlike ontwikkeling later apartheid genoem onstaan het ken nie en dan die verdraaing van die geskiedenis-‘n leuen word naderhand ‘n waarheid as jy dit lank genoeg verkondig, as die waarheid aanvaar.
Difaqane Mfecane Wars 1818 1835. While … what is certain is that it had the consequence of dispersing people to the various Southern African countries.2,5 miljoen hawelose mense swerf rond in Suidelike Afrika op soek na bly plek.

Anoniem ·

Anoniem, ek stem saam met jou kommentaar wie gaan jammer se aan daardie drie mammas wie se kinders gruwelik vermoor is omdat hulle moordenaars op parool vrygelaat is.

Vriendelike Frikkie ·

Surita – Hou op jammer sê en doen iets. Wat?
MATTEUS 19:21
Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

Jan ·

Jy behoort introspeksie te doen oor jou optrede in die hedendaagse tyd waarin ons leef. Om ‘n 65 jarige vrou in jou huis te laat werk laat veels te wense na. Stof sy Vrydae af en was die vensters op Maandae? Doen navraag by alle Opleiding Kollege’s en vind uit watter kursus sy kan volg om haar lewe makliker te maak instede daarvan om jou vloere te was? Jy is ‘n jongvrou wat steeds ‘n slaaf in haar huis het!!!!!

Andrew ·

Dit is so. Die libs skree ons moet deel. Maar dit moet ander mense se goed wees nie hulle sin nie.
Libs = demokratiese sosialiste

Boris ·

Jammer, kan net gesê word tot op ’n punt en dan moet aksie volg wat daardie erkentenis staaf. Baie van ons as wit mense het lankal oorgegaan tot aksie en die “jammer sê” agtergelaat – dit is verby. In baie gevalle word die “aksie” wat ons “jammer” wys egter terug gegooi in ons gesig. Om nou weer te begin met “jammer sê” is leeg en doelloos. Die punt van verantwoordelikheid aanvaar en aanstap het nou begin vir die wat verontreg voel deur die verlede – daar het mos tereg reeds ’n hele generasie se tyd verloop en die meeste mense van vandag was nie deel van die stelsels van die verlede nie.

Johan ·

Wat ‘n rein gedagte, Surita. Maar jy het vergeet om ook namens die ANC verskoning te maak. Mense besef nie dat die onreg van die afgelope 26 jaar teenoor “our people” reeds die apartheidsonregte oorskrei nie. Ek noem dit maar net, so terloops, jy weet?

Instede van verskoning te maak, versoek ek deesdae maar net : “Kuluma na ubabaZuma, my Bra.”

Michiel ·

Surita wys my ‘n Afrikaland wat eerlik, menslik is en regsstaat vrye regbank?

Erik ·

Beste Surita

Ek het ook al so in die verlede gevoel. Ek het wel die afgelope tyd mooi gedink en alhoewel ek jammer voel vir alle mense wat swaarkry, en alhoewel ek oortuig is daarvan dat apartheid verkeerd was en dat die apartheidswette die swart bevolking groot skade gedoen het, kan ek nie meer die skuld dra vir iets waarvoor ek nie verantwoordelik was nie.

My opsomming: Apartheid het verseker sekere bevolkingsgroepe benadeel, maar het dit my regtig bevoordeel? As ek in Amerika, Europa of Australie sou grootword, sou ek slegter af gewees het as hier? Ek twyfel sterk – inteendeel, ons sou skatryk gewees het as ons presies dieselfde beroepe (in my en my vrou se geval) daar sou beoefen het eerder as hier. Ek is nie waar ek is omdat ek bevoordeel was nie. Ander bevolkingsgroepe was wel benadeel, en daarvoor sê ek saam met jou jammer. Ek kan in hul oë die seer en swaarkry sien en dit breek my ook.

Christiaan Johannes ·

Surita, die ANC se beleid was vir jare “Liberation before Education”. Dit het vir ‘n dom generasie gesorg. Dit is ‘n doelbewuste kommunistiese truuk om mense ongeletterd te hou sodat hierdie einste mense vir hulle keer op keer sal stem al is dit vir ‘n toebroodjie of T-hemp. Dit is waarom die ANC so lank aan bewind is. Die meer geletterde swartmense stem nie sommer vir die ANC of EFF nie.
Die swartmense krepeer van ellende omdat hul eie mense vir wie hulle so stem, hulle ontneem het van ‘n beter lewe. Selfs die middelklas blankes is besig om te verval in armoede. Daar is heelwat blankes wat na 1994 hul werk verloor het en in plakkerskampe opgeëindig het. Ek het nog nie die ANC gehoor jammer sê aan hulle of hul eie mense nie.
Dank die Vader jy praat vir jouself en nie namens my nie. Sterkte met Fransinah wat jou aardse besittings met jou gaan deel.

Hendrik ·

Ek is ook regtig jammer na 26 jaar dat die onderdruktes nog glad nie agtergekom het dat hulle vir ‘n beter party kan stem nie en soos Zim dieselde fout oor en oor maak…

Hoe nou? ·

Maar waarom Surita, is daar soveel ellende en armoede in ander Afrika lande waar Apartheid nooit ingestel is nie, waarom is daar weereens ellende en armoede in Zimbabwe waar kolonialiste landuit gejaag is? Dis goed jy berei jou kinders voor om jammer te sê, want teen die tyd dat hulle groot is sal daar heelwat meer as 18 miljoen op staatshulp wees wat ‘n verskoning en ‘gee nog’ verwag. En teen die tyd dat hulle kinders groot is, nog meer. Want sien, dit is die enigste konstante veranderlike in Afrika, meer en meer.

Johannes ·

Ek neem aan dat julle nou ten minste die helfde van jul besittings aan minder bevooregte swartes gaan oor dra.

Smiley ·

Surina, as ek so die kommentaar hieronder lees behoort jy nou ‘n idee te kry wat die res van ons dink van jou klaaglied.

Elize ·

Surita ek kry jou regtig uit my hart uit jammer daarom sê ek sommer jammer dat jy in ‘n waas lewe. Ek het in die 50/60 groot geword en moes deel van my eerste skooljare by welsynmense bly aangesien my pa nie vir ons kon sorg nie. Het ek iemand blameer daarvoor – NEE – dit het my net ‘n sterker mens gemaak. Gee jou huis vir die arme huishulp en gaan bly jy in die sink huisie as dit jou so pla. Gee al jou kind se speelgoed ook vir haar kleintjie. Meneer Buys ek wil jammer sê dat u so aangevat word deur een individu wat hakkel en slegs die woord jammer kan uiter.

Alida ·

Surita kan jy dalk so gaaf wees om vir Francinah jammer te sê dat die huidige regering veroorsaak het dat die staatshospitale in so ‘n gemors is, want ek is seker sy moet ook maar die staatshospitale gebruik of is sy nou deel van jou medies.. Sê ook vir haar jammer dat die huidige regering ESKOM, SAL, Denel en die meeste munisipaliteite in korrupsie gedompel het. Sê vir haar jammer dat daar nou nie genoeg skole is vir die arme kinders nie want die huidige regering het in die 25 jaar nie genoeg beplanning gedoen nie. Sê vir haar jammer dat die boere deesdae so vermoor word, wat ek nie kan onthou dat dit voor 1994 gebeur het nie. Sê in die selfde tyd vir haar jammer dat al die boere so aanhou vermoor word ons eersdaags nie meer voedsel op die rakke gaan hê nie. Sê ook vir haar jammer dat die regering van vandag veroorsaak het dat SA telkens amper as rommelstatus verklaar is. Ek het in my lewe genoeg jammer gesê, ek is klaar daarmee. Na 25 jaar is ek klaar daarmee.

Kattebol ·

Surita, net ‘n paar woorde vir jou: “practice what you preach”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.