Orania – dis hoe ons rol!

Welcome-To-Orania

Argieffoto.

Deur Annelize Jansen van Rensburg

As nie eers die EFF kon fout vind tydens ʼn onlangse besoek nie, moet jy begin oplet, anders gaan jy dalk eersdaags wonder hoekom jy niks weet van hierdie opkomende, moderne gemeenskap nie. Indien jy nog wonder waar Orania is, gaan kyk. Gedink daar word op swart mense geskiet as hulle dit daar sou waag? gaap. Skandes? Jammer, hulle is te besig daarvoor. Kyk weer: ʼn stad word gebore.

Waar, wat, wie en hoekom?

Orania is “ʼn beweging in die rigting van vryheid”, voer Carel Boshoff, president van Orania, jou mee in sy beskrywing van hierdie kultuurgemeenskap, wat blom langs die Oranjerivier, ongeveer 40 km van Hopetown en 165 km van Kimberley, in die Bo-Karoo.

Soos baie groot geeste het Orania nederig begin. Dié aanvanklike konstruksiedorp, vir personeel van die Oranjerivierbesproeiingskema, het ná afhandeling van die projek ʼn spookdorp geword. Drie visionêre manne van die destydse Vryheidstigting (later die Orania Beweging), by name Carel Boshoff, Chris Jooste en Dirk Viljoen, was op soek na grondgebied om vir die Afrikaners ʼn ruimte te skep om hul reg tot selfbeskikking uit te leef en ook om ʼn veilige hawe vir hul taal en kultuur te skep.

Hulle het Orania in 1991 aangekoop en die droom het begin gestalte kry. Volgens Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Dorpsraad van Orania en skrywer van die boek Orania – van dorp tot stad, is dit ʼn vereiste dat minderhede wat hulself polities en kultureel wil handhaaf, ʼn grondgebied moet hê waar hulle ʼn meerderheid vorm. Orania was hierdie gebied. Die Orania-gedagte rus op die pilare van eie grond, eie arbeid en eie instellings.

Die ekonomie

Die drie grootste inkomstebronne in Orania is landbou, konstruksie en toerisme.

Pekanneute is een van Orania se oudste en grootste landbou-aktiwiteite. Ongeveer 150 hektaar grond word beplant, wat ʼn oes van ongeveer 320 ton neute lewer. Die meeste hiervan word uitgevoer, onder meer na China, vertel Annatjie Joubert, ʼn pekanneut-kleinboer. Sy en haar man verskaf ook dienste aan ander boere, soos byvoorbeeld die spuit van blaarvoeding en om pekanneutboorde skoon te maak.

Verdere landboubedrywighede behels skaapboerdery, asook die plant van lusern, graan, vrugte en groente. “In Orania doen ʼn mens wat jou hand vind om te doen. Hier het ons ʼn werkkultuur,” sê ʼn passievolle Christo Conradie, ʼn inwoner en hoof van beplanning en ontwikkeling by die Dorpsraad.

Orania het sy eie bouspanne waar selfs meisies so jonk soos 21 jaar moue oprol en bakstene lê. Weens die flukse groei van inwoners, moet die Oraniërs bontstaan om in die vraag na behuising te voorsien. Die dorpsraad is altyd aan die woeker om voorsiening te maak vir uitbreiding deur die nodige infrastruktuur daar te stel en om, volgens Conradie, “die dorp georden te laat groei”.

Talle nuwe erwe word binnekort beskikbaar gestel, waarop huise en besighede gebou gaan word. Die Oraniërs is so trots op hul vooruitgang dat dit al tradisie is om, wanneer ʼn nuwe gebou dakhoogte bereik, hul vlag op daardie gebou se dak te plaas.

Orania is ʼn gewilde afdraaiplek vir toeriste en daar is ʼn verskeidenheid van gastehuise, woonwapark, spa en hotel waar besoekers kan uitspan. Jou besoek aan Orania is eers afgerond as jy op die wal van die magtige Oranjerivier staan en dit stil raak aan jou siel.

Ander dienste en ondernemings

Die Oraniërs het oor die laaste 25 jaar ʼn nuwe ekonomie sonder staatsfondse opgebou. Daar is verskeie ondernemings, soos koffiewinkels, ʼn bierbrouery, hardewarewinkel, juwelier, boekwinkel en ʼn fliek.

Die twee nuwe winkelsentrums herinner jou aan die stel van Pretville, asof dit deur ʼn kunstenaarshand gestileer is net vir die mooi, eerder as om regtig gebruik te word. Hierdie mini-sentrums is gesellig, intiem, netjies en die personeel is vriendelik. Besoek gerus www.lief-orania.co.za en kliek op ‘doen besigheid’ vir ʼn volledige lys van dienste en besighede in Orania.

Mediese dienste

Sou jy siek raak in Orania, staan hulle gereed met ʼn kliniek wat primêre mediese dienste lewer en chroniese medikasie verskaf. Die naaste hospitaal is in Hopetown, slegs ongeveer 40 km daarvandaan. Orania nooi graag kundiges in die mediese veld, wat dalk teen ʼn rustiger pas wil werk, om hulle te kontak om opsies te bespreek.

Onderwys en opleiding

In Orania het die kinders die voorreg om in ʼn veilige omgewing soms sorgeloos saans toktokkie te speel. Sommige onderwysers speel blybaar net so lekker saam, volgens ʼn anonieme graad 10-bron! Hulle is egter onlangs voor stok gekry hieroor en moes jammersê-briefies by hulle slagoffers se deure gaan aflewer.

Tussendeur die kattekwaad, verfbal speel, swem en ander kultuur-aksies, gaan hulle darem skool toe ook. Orania het twee skole, die Volkskool Orania en Orania CVO-skool. Beide bied onderrig op laer- en hoërskoolvlak, ʼn verskeidenheid vakkeuses, sportsoorte, kultuuraktiwiteite en ʼn erkende matrieksertifikaat.

By hierdie skole is daar nie geleentheid vir ʼn kind om in die massa weg te raak nie. Almal ken mekaar se name en elkeen is ʼn individu in eie reg.

Van studeer alleen kan ʼn kind egter ook nie leef nie. Vakansietye word danslesse in verskillende danssoorte aangebied en dan is dit ‘balke toe’!

Hoewel beide skole voorsiening maak vir kleuters, is daar ook Huppelkind, ʼn aparte dagsorgsentrum.

Wat naskoolse opleiding betref, is ʼn nuwe tegniese sentrum opgerig, wat tans messelaars oplei. Die plan is om mettertyd opleiding in verskillende ambagte aan te bied om in die plaaslike konstruksiebedryf se vraag na vaardige vakmanne te voorsien.

Verskeie akademiese instellings begin voelers uitsteek na Orania en die woord ‘universiteit’ word ook al in die gange gehoor. Orania se geskiedenis wys dat hulle werk maak van drome en onderwys en opleiding is hoog op hul agenda.

Werk en ekonomiese geleenthede in Orania

ʼn Groeiende ekonomie het uitdagings en geleenthede wat voortdurend wissel na gelang van vraag en aanbod. Daar is tans ʼn vraag na opgeleide en vaardige persone in alle sektore van die boubedryf, wat aansluit by die positiewe probleem van ʼn tekort aan behuising. In die kleinhandel is daar geleenthede vir klere- en skoenwinkels, pandjieswinkels en verskaffers van algemene huishoudelike verbruiksartikels.

Verblyfreg

Daar woon tans ongeveer 1300 mense in Orania. Persone wat hulle graag hier wil vestig, moet aansoek doen en woon ʼn oriënteringsprogram by om seker te maak hulle verstaan die Orania-ideaal en vereenselwig hulle daarmee. Selfs al is jy nie ʼn inwoner nie, kan jy by die Orania Beweging aansluit om nuusbriewe te ontvang, wat jou op hoogte sal hou van nuus en gebeure in Orania. Besoek die Orania Beweging by www.orania.co.za of skakel 053-2070062.

Politiek en konflik

“Ek moet sê, deesdae word ons in vrede gelaat omdat Orania al lankal ʼn gegewe is,” vertel Sebastiaan Bhiel, navorser en toergids by die Orania Beweging. Volgens hom was daar wel ʼn tyd toe instansies en individue probeer het om fout te vind met Orania en konflik te veroorsaak. “Dit kon alles afgeweer word, omdat dinge in plek was en korrek gedoen is. Ons volg ʼn beleid van goeie diplomasie wat gewoonlik konflik ontlont”.

Wedersydse erkenning is volgens Carel Boshoff belangrik as jy selfstandig wil wees. “As jy mense met respek hanteer, kan jy ook op hul respek aanspraak maak.”

Orania en die tradisionele gemeenskap van Mnyameni in die Oos-Kaap het in 2012 ʼn memorandum van verstandhouding onderteken oor samewerking om wedersydse selfstandige ontwikkeling te bevorder.

Die EFF se besoek aan Orania – storm in ʼn teekoppie

Danny Jonas, EFF-kandidaat op Hopetown, asook burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit en ʼn EFF-afvaardiging het Orania kort voor die verkiesing besoek.

Na afloop van ʼn vriendskaplike gesprek tussen Jonas en Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, het Jonas gesê, “My partylede was wantrouig oor Orania. Ek moes hulle al voorheen gerusstel dat ons goed saamwerk. Ek wou hulle graag bring sodat hulle self kan sien wat hier aangaan. Dit is onwaar dat hier hekke en wagte is wat buitestaanders weghou. Ons is baie vriendelik ontvang. Ek dink nie Orania is ʼn Boerestaat nie. Suid-Afrika het in ieder geval nie plek vir Boerestate nie.”

Toekomsdrome vir ʼn stad

“Ons finansies klop,” spog Frans de Klerk hoflik, “ons het nie ʼn keuse nie, dit móét klop, want die dorp behoort aan ons.” Hy het onlangs aangekondig R180 miljoen gaan oor die volgende vyf jaar in ʼn ekonomiese ontwikkelingsplan belê word om Orania in ʼn stad te ontwikkel. Die doel van die stad is om groter seggenskap in hul eie sake te verkry. “Ons voorouers het dit gedoen, ons gaan dit weer doen,” sê John Strydom, ʼn inwoner en lid van die paneel wat verblyfreg-aansoeke hanteer.

Kom kuier!

Die Oraniërs spog graag met hul dorp en die Orania Beweging bied gratis toere aan, waartydens jy die dorp kan verken en by belangrike bakens, soos die Verwoerd-gedenkmuseum en monumente-koppie aandoen, terwyl die toergids interessante feite met jou deel en vrae beantwoord.

Kom skakel vir ʼn oomblik oor na ʼn laer rat, smul aan ʼn pekanneuttertjie of koeksister en sien hoe dit lyk wanneer mense hul droom bewaarheid.

Kontak die Beweging by www.orania.co.za om ʼn toer te bespreek of vir enige ander inligting. Sluit ook sommer aan by hulle facebook-blad.

Chris Chameleon en Steve Hofmeyr is albei liefhebbers van Afrikaans en is passievol oor ons land en sy mense. Annelize Jansen van Rensburg het hulle uitgevra oor Orania:

“Orania is 25 jaar oud. Ondanks skeptiese doemprofete het sy geen skandes gemaak in haar jeug nie, hard gewerk en stadig maar seker gegroei tot ʼn sterk, jong volwassene met blink toekomsplanne. Ons kan haar nie meer ignoreer nie.Watter boodskap, gelukwensing of raad het jy vir hierdie jong volwassene?”

Chris Chameleon:

“Daar is ʼn legio kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika, waarvan vele ʼn florerende bestaan maak uit gesonde toerismebelangstelling in hul handel en wandel. Tog blyk daar negatiewe sentimente te wees rondom die ontstaan van Orania – ʼn verbysterend onkonsekwente oordeel.

“Orania is ook ʼn gemeenskap wat tradisionele Afrikanertradisies suksesvol integreer met moderne ontwikkelings. In teenstelling met die ander kultuurgemeenskappe, kry hulle nie ʼn enkele sent staatsondersteuning nie en hul belastingbydraes word onder andere gekanaliseer na onderhoud van die hoofmanne van die ander gemeenskappe.

“Tydens my vier besoeke aan Orania het ek ʼn goed funksionerende, gebalanseerde gemeenskap waargeneem, wat met groter sukses as die meeste van die res van Suid-Afrika die vestiging van ʼn veilige, eerlike en hardwerkende samelewing teweeggebring het.

“Ek sukkel om die gereelde verwysings na ‘apartheidseiland’ (wat gemaak word deur diegene wat tyd koop om hul menings te opper deur swart mense minimumlone te betaal om hul kombuise skoon te hou, agter hul skoon te vee en hul tuine te onderhou) te laat rym met die werklikheid van Orania, waar mense (wit) in tuine werk, dakke regmaak en skottelgoed was.

“Orania is dus ʼn weeskind wat misken en weggesmyt is, wat op haar eie inisiatief ʼn bestaan moes maak en sover ek tans kan sien, deksels goed daarin slaag. In die opsig is sy in die goeie geselskap van ander weeskinders wat ook ten midde van hul moeilike volwassewording, ʼn groot sukses van hul lewens maak of gemaak het, mense soos Moses, Aristoteles, Abraham Lincoln, Hans Christian Anderson, Tolkien, John Lennon, Louis Armstrong, Ingrid Bergman, Babe Ruth, Steve Jobs en nog vele meer. Ek sien uit na die volwasse lewe van hierdie deugsame jongmens.”

Steve Hofmeyr

“Daar’s groot redes hoekom die gety vir Orania draai.

  1. Hulle is hoflik. Hulle deel hul idees openlik, ontvang staatshoofde (van Malema tot Mandela) wat terugkeer, geïnspireer om ook vir hul mense se onafhanklikheid te veg.
  2. Tegnies is Orania op private grond en mag hulle doen wat hulle wil, maar hulle kies om versoenend saam te werk met buur-munisipaliteite en aangrensende dorpies.
  3. Die wêreldreg van selfbeskikking is globaal in die kollig. Bewyse daarvan is Brexit, Trump en die geweldige opgang van behoudende partye in Europa. Orania is skielik progressief!
  4. Hoewel nasionalisme, volksgerigtheid en geloof nie altyd ʼn goeie reputasie het nie, moet genoem word Orania spog met ʼn 100% slaagsyfer, 0% moordsyfer en ʼn 0% verkragtingsyfer – in 20 jaar! Dit maak Orania ʼn rare verskynsel en in Suid Afrikaanse terme selfs ʼn wonderwerk.
  5. Gewone mense moet nooit vergeet eksterne selfbeskikking is ʼn wêreldreg nie. Maar dit alles is nie die belangrikste nie…
  6. Die mooiste rivier loop regdeur ʼn dorpie met mense wat nie wil ontvang sonder arbeid nie, nie wil lewe sonder harde werk en inklim nie en nie aalmoese soek op politieke skinkborde nie en nie wegskram van hul taal, hul God en erfenis nie.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Zuri ·

Ek was so 2 jaar gelede vir 2 nagte in Orania ek kan alles beaam wat die artikel sê. Dit het my sommer trots gemaak om ‘n Afrikaner te wees. Sit ‘n 1000 Afrikaners op ‘n stuk veld en………. al kan ons dwarstrekkerig wees maak ons ‘n sukses van alles wat ons aanpak.

Nel ·

Bravo Orania! Ek hoop die ‘grondgrypers’ los julle in rus en vrede.

Theuns ·

Ons is trots op julle Orania. Ek gaan ook nie se Orania is beter as niks nie maar “Orania is beter as 100% van die ander woongebiede in Suid Afrika”! As jy na Orania kyk dan weet jy ook sommer wat die oplossings vir die huidige Suid Afrika moet wees !Vasbyt en bou voort!

Koos van der Lith ·

Baie Geluk. Hierdie suksesverhaal maak ons trots.
Hou aan met u reuse werk. Daar word geskep,gebou en ontwikkel. Gladnie afgebrand nie!

Bruno Stef ·

Met n onlangse toer na die weskus het ek met die terugtog by Orania n draai gemaak om my vrou die plek te gaan wys.Ons is baie vriendelik ontvang met n lekker brekfis en ek persoonlik was heeltemal verras met die vooruitgang omdat ek jare gelede ook al n slag daar besoek afgele het.Ek het net een beswaar dit sal groot kostes meebring om soontoe te verhuis veral vir n pensionaris maar die nuwe aanbouings is baie mooi en seker maar kompeterend met behuising oor die algemeen vandag.

Louis ·

Daar is n arm gedeelte ook maar hom sal hulle jou nie wys nie.

JC ·

Ja ou Louis, dis mos maar die gang van die lewe ne, sommige welaf, ander nie. Almal kan immers beslis nie ryk wees nie.

Paul ·

Toe ek daar was, is ek op ‘n “amptelike” toer deur die dorp geneem en ons is ook die “arm” gedeelte gewys. Dis nie asof dit geheim gehou word of iets nie.

Corney ·

Louis, So hoe lyk die arm gedeelte? Vuil? Bestrooi met Rommel? Sinkhuisies met pampoene op die dak? Sien ‘n mens elektriese kabels na die naaste kragpaal soos hulle Krag steel by stadsraad? Is daar ‘n samekoms by naaste kraan en ‘n klomp armes wat met waterhouers op kruiwaens kom water haal want hulle het nie lopende water in hulle huise nie? Is daar ‘long drops’ omdat hulle nie riolering in die arm gedeelte van die dorp het nie?

Of is die arm gedeelte bloot kleiner, minder fensie huise as in die Bo-dorp, maar nog steeds skoon, netjies en funksioneel, van uit ‘n stadsraad oog punt gesien?

Elize ·

Louis jy praat darem nou die grootste nonsense, ek bly in Orania en in die sogenaamde arm gedeelte bly die hoof van die dorpsraad, asook baie van die mees gegoede besigheids mense in Orania. Daar word nie teen jou gediskrimineer omdat jy ‘n algemene werker is nie.

Sebastiaan ·

Dit is nie waar nie. Alle besigtigingstoere doen ook Kleingeluk aan, waar ons kan spog met netjiese huurbehuising van die Helpsaamfonds, twee kerke, ‘n klein winkelsentrum, ‘n outargiese woonbuurt (met eie krag, water en riolering) en ‘n nuwe eiendomsontwikkeling.

Thuunda ·

Bou voort Orania!

Julle het veel meer ondersteuning as wat julle dalk mag besef, en daardie ondersteuning groei by die dag.

Julle is die lig in die donker tonnel wat baie van ons mense in vasgekeer is.

Louis, daar is arm gedeeltes waar jy ookal gaan. Wat is jou punt? Die verskil is op Orania kan jy jouself UIT armoede uitwerk, as jy natuurlik wil.

Negatiewe mense is soos muskiete wat om jou kop draai op ‘n warm somersaand in Pretoria!

Louis ·

Dis my punt.As almal ewe hard werk hoekom nie die rykdom verdeel nie.Hoekom nie almal verhef nie.Nou gaan net die rykes voorentoe en die armes bly agter.Dit is maar weer n kwessie van die ryke wat die arme misbruik.Nee, dit is nie negatieweteit nie dis realiteit.

gatiep ·

Geluk julle meskien eendag sal julle genoeg werk he vir ons ander ook wat vasgevang is.

vytjie ·

Miskien is dit nie gepas om dit te se nie, maar eks `n kleurling en ek weet indien ek eendag daar besoek sal afle, sal ek beslis GOEIE ontvangs kry. Hoe dan anders want GOD is aan die stuur van daardie plek!!!

liza ·

Pragtig Vytjie dat jy so eerlik is om te se dat jy ‘n kleuring is, en glo my hulle sal jou ‘n baie beter ontvangs gee as ander kultuur groepe….. Bravo Vytjie..

Niel ·

Vytjie, ek self was nog nooit daar nie, maar soos ek al gelees het van Orania maak dit nie saak of jy ‘n blanke, kleurling of wat ookal is nie. Die idee is gebou op die begunsels van Afrikanerdom, hul kultuur, geloof en morele waardes. As ek en jy ons daarmee kan vereenselwig is ek 100% seker sal ons met ope arms ontvang word selfs al wil jy daar gaan bly.

Valie ·

Ons moet in ag neem dat hierdie land in werklikheid deur omtrent 12 – 14 minderhede bevolk word. Orania se resep en sy sukses kan ook as inspirasie dien vir enige groep, van Portugees tot Venda om dieselfde tegnieke en deursettingsvermoeë toe te pas om self hul kultuur te beskerm en selfbeskikking te verkry.

Christo Conradie ·

Elke keer as ek n “Louis”-tipe kommentaar lees glimlag ek maar so in die mou, want in die ontstaanjare was die “Louis”-kommentare van persone wat hulleself net nie kon keer om die negatiefste aspekte, feit of fiksie, uit te krap en daaroor gal te braak nie, oorheersend. Nou is n “Louis” n randeier, word nie ernstig opgeneem nie, amper soos met Max. Deesdae is die kommentare van positief tot bruisende geesdrif en onderskraging, en ook respek. Wat armoede betref: ja, ons ontvang daagliks mense wat stukkend en platgeslaan is. Hulle situasie het nie in Orania ontstaan nie, maar in Louis se wereld. In Orania aangekom, gee ek persoonlik die belofte tydens die inburgeringsproses dat IEDEREEN wat bereid is om hard te werk en n stabiele, verantwoordelike lewe nastreef, in staat sal stel om sy/haar eie huis te besit. Ons doen daardie belofte daagliks, deur die Genade ,fisies gestand, al is dit nie blink en weelderig nie. Kan julle dit in jou omgewing ewenaar, Louis?

Piet Snot ·

Christo, jy laat my besef dis goed dat daar ‘n arm deel is. Dit beteken daar word plek gemaak vir enigeen: as jy arm is, is jy steeds welkom.
Afwesigheid van ‘n arm deel sou beteken daar’s net vir jou plek as jy ‘n paar honderdduisend kan neersit vir ‘n blyplek.

Hoppie Lewis ·

Ek en my vrou het met Mev Anna Boshof saamgespan om die befondsing van die 75ste herdenking van die Groot Trek suksesvol te maak. Goeie herinneringe en my beste wense vir Orania!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.