Ordes vir die gewone mense

toekenning

‘n Toekenning vir die gewone mense. Foto: HarryLustig/Pixabay.com

Deur Annelize Jansen van Rensburg

Ek het die president vergewe. Miskien was daar seinprobleme toe hulle my probeer bel het. Dalk het my uitnodigingskaartjie in Siberië beland. Ek verstaan. Hulle hoef egter nie wakker te lê van selfverwyt nie, want ek het reeds ʼn onthou-nou (reminder) op my slimfoon gestel vir 2017 wanneer die volgende nasionale ordes uitgedeel word. Hierdie ordes is die land se hoogste eerbewyse wat deur die president toegeken word aan persone wat betekenisvolle bydrae gelewer het op die terreine van vryheid, voorspoed en demokrasie.

En wraggies, meneer die president, ek probeer. Party dae verdien ʼn mens eervolle vermelding net omdat jy uit die bed opstaan as jy eerder met ʼn laventellappie op jou voorkop in stilte wil bly lê. Sulke dae is dit prysenswaardig as jy onthou om in één rit brood, melk én jou bloedjies by die skool te kry.

Gewone mense hoort soms op verhoë, maar hulle verbleik op die agtergrond. Geen handeklapgeleenthede vir hulle nie.

Mense soos enkelma’s wat lang ure moet werk omdat hulle alleen vir hul kinders moet sorg, is onsigbaar.

Geduldige onderwysers wat daagliks probeer om basiese vaardighede aan verstandelik gestremde kinders te leer in die soms vergeefse hoop dat daardie kind iets daarmee sal kan doen, verdien spesiale toekennings. En waar is die eer aan onderwysers by arm skole wat ʼn ewigbrandende vlam van hoop en menswaardigheid in en kind se hart aansteek?

Dek ook asseblief deftige tafels met die koningin se eetgerei vir:

    • moeë, oorwerkte en onderbetaalde welsyn- en gemeenskapswerkers wat ʼn verbete stryd teen allerhande sosiale gruwels voer, met te min hande, tyd en geld om in al die nood te voorsien;
    • die goedhartiges wat altyd iets uit die karige voorraad in hul eie kruik vind om vir die weduwees en die wese uit te deel;
    • ʼn ma wat ʼn kind in die dood se arms moes oorgee – en haar geloof wankel nie; inteendeel, dit raak sterker;
    • die vrou wat mishandel word, maar tog glimlaggend voorgee dat alles piekfyn is – ter wille van haar kinders;
    • Mense wat, ten spyte van hul eie ellende, ander só kan bemoedig dat jy nederig dankbaar is vir jou eie pakkie probleme;
    • mense wat flatervrye pannekoeke kan bak (ʼn blink kroon hier, asseblief);
    • eerbare mense wat hard werk, maar die begroting kan net nooit al die gate toestop nie en tog bly hulle hoop op die utopiese “volgende-maand-sal-dit-beter-gaan” – en dan tref nóg ʼn ramp hulle;
    • mense wat noodgedwonge hul drome moes liasseer onder “saak gesluit” en die beste maak van omstandighede;
    • mense wat kalm bly in die verkeer wanneer ander die pad gebruik om die grense van padreëls en jou ordentlikheid te beproef;
    • ouers wat vir ʼn kind net die beste gegee het, met kanse en geleenthede waarvan sommiges net droom, en dan raak daardie kind  die pad byster;
    • vroue wat op middeljarige leeftyd 20 kilogram verloor terwyl hulle so tussendeur man en kinders gelukkig, versorg, gevoed, geliefd en tevrede hou – én wat in dié proses die meeste van haar varkies bymekaar hou;
    • enigeen wat deur afstandsonderrig ʼn kwalifikasie probeer behaal;
    • elkeen met sy of haar rantsoen van raaisels en rillers. Jy is nie alleen nie. En ja, jy verdien ʼn medalje. Kyk ʼn bietjie langer in jou vriend, kollega, vyand en naaste se oë en jy sien dalk ʼn weerkaatsing van jou eie seer. Partykeer moet ʼn mens net vir iemand sê: “Ek sien waardeur jy gaan. Jy is oukei.”

Die president moet my dus volgende jaar ʼn halfuur vroeër verwag sodat ek die ekstra ordes kan kry wat hulle my skuld vir vanjaar. Al is dit dan tog net ʼn ou badsepie of ʼn sjokoladeruiker vir volharding.

Ek stuur vir jou ook een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Petrus Oppiwater ·

Ja sien, geen kommentaar, want die wat dit verdien, is heeltemal te besig om selfs te lees of te besef wat hul eintlik toekom!

M A ·

Groot ekskuus, maar wat is die punt van hierdie storie? Dis net n doellose “rambling”. Alles is waar, maar dis nou maar die lewe. Niemand kry n toekenning daarvoor nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.