ʼn Ope brief aan Willie Esterhuizen
Ek moes die laaste twee jaar te veel huldeblyke op Facebook skryf. So baie gevestigde doringbome uit my Karoo-dorp het geval, baie as gevolg van Covid. Ek wens my geliefde Engels-onderwyseres kon die staaltjie lees wat ek op haar muur geskryf het, ek dink sy sou lekker lag. Maar, wat is die lewe as ʼn mens nie leer nie? My les hieruit is dat jy vir mense moet sê wat hulle vir jou beteken terwyl hulle nog spekvet en gesond is. Dit is dan hoekom ek vandag vir jou ʼn brief wil skryf, Willie. (My Karoo-maniere wil-wil oom Willie sê, want jy kon my pa gewees het, maar ek het so ʼn idee dat jy nie daarvan sal hou nie.)
Willie, ek is seker dat toe die eerste episode van Orkney snork nie in 1989 uitgesaai is, jy nie gedink het dit sou so ʼn wegholsukses wees nie of dat dit so ʼn hêrrie sou veroorsaak onder konserwatiewe Afrikaners nie. Vir my is die prentjie so helder soos daglig. ʼn Gesinnetjie van vier sit op hulle imbuia-sitkamerstel en staar na een van daai groot boepens-TV’s, daar is staanskinkborde met bakkies Simba-tjips en koffie vir die grootmense. Die kinders ruik soos wit Lux-seep en sit kruisbeen op die mat.
In ʼn konserwatiewe huis, sou hulle ook nie lank daar sit voor hulle kamer toe gestuur word nie, want die storie is darem net te platvloers, kômmin, nie-die-tipe-goed-wat-ons-kyk-nie. Ons praat nie eers van toe Neelsie later sy verskyning maak nie! Mense wou nie kyk nie, maar hulle wou ook nie wegkyk nie.
Ek kom nie uit ʼn grênd huis nie, so ek en my broer mag dit gekyk het. En hét ons dit gekyk! My ma het dit sommer vir ons opgeneem op ʼn VHS-band sodat ons dit weer en weer kon kyk. My hart bokspring nou nog as ek die “Orkney-liedjie” hoor, en soos een van Pavlov se honde gryp ek ʼn bakkie tjips en hol TV toe. Maar die heel lekkerste herinnering is as ons op Hartenbos vakansie hou en soos sardientjies op een van daai bamboesrusbanke sit en kyk (elkeen met ʼn mini-oliebol in die hand). Mynie Grové se mooi stem vul die rondawel.
Dan word ʼn mens groot. Daar was ʼn lang Orkney-droogte in my lewe. Willie het aanbeweeg en nuwe reekse gemaak en die ou VHS-speler is vervang met ʼn DVD-speler. Ek kon grepies onthou van hoe Maggie Hes se matriekafskeidrok langs die kombuistafel maak en Ouboet en Jollie hulle “Motorbike Cowboy”-treffer sing, maar die meeste van dit was net vae herinneringe.
Later het ek en my gesin oorsee getrek. Hier waar ek nou bly is daar nie chaos nie, almal het netjiese huise en ʼn elektriese kar – hulle hou die blink kant bo. Hier is nie ʼn Shoprite met doef-doef musiek op ʼn Saterdag nie en ʼn mens sien nooit ʼn agterplaas-mechanic nie. Hier is dinge anders, dis mooi, maar dis anders. En kom ons wees nou maar eerlik, ʼn doringboom skiet nie maklik wortel in ʼn betonoerwoud nie.
In een van my desperate huistoe-verlang dae, kry ek vir Orkney op YouTube. My huis, my land en my mense kuier saam in my sitkamer. Ek verstaan elke woord – ʼn mens hoor maar min Afrikaans dié kant van die ewenaar – en ek vang elke grappie, veral noudat ek ouer is. My Orkney-herontdekking het my laat besef dat grootmense ook soms ʼn fopspeen nodig het om ons aandag af te lei as ons hartseer, kwaad, gestres of verveeld is. Ek mag nie meer vloermoere gooi nie en ek kan nie meer op my ma se skoot gaan sit nie, maar ek kan vir Orkney aansit. Dan voel ek beter. Altyd.
Dankie, Willie. Ek wil dit nou vir jou sê, terwyl ons albei nog hier is. Dankie dat jy my mense so mooi vasgevang het. Dankie vir die lag en die huil, maar meestal die lag. Jou myndorp laat my baie dink aan my Karoo-dorp, en as ek moes raai, sou ek dink baie van daardie storielyne is aangepas uit kaskenades uit jou grootwordjare. Ek is so bly dat Orkney nog kliphard in my huis kan snork, al is dit ʼn volle drie dekades later.
Groete,
Carla
- Carla Kargaard is ʼn vryskutskrywer. Sy en haar gesin woon sedert 2015 in Noorweë.
Wat ‘n pragstuk wat heimwee sommer in my laat opwoel.
Ek stem. Orkney Snork Nie sal altyd ‘n wenner wees.
Baie mooi geskryf.
Ek kyk dit nog steeds!!
EK stem, duik so elke nou en dan op my Facebook op, het juis gisteravond so klompje greep gekyk, lekker gelag.
My ma het dit ook so of VHS ge’tape’, dit en Vetkoekpaleis. Ek het hulle geerf saam met die video masjien!
Jy mag maar, jy is geseën met n pen in die hand, woeker met jou talent!
sjoe – nou het ek nie woorde nie maar net trane… Baie dankie Willie – inderdaad.
Ek sit en kyk dit ook op YouTube hier in Engeland en verlang na die goeie ou dae. Dankie Willie en dankie Carla vir die mooi artikel.
Orkney is volksbesit! Voorwaar een van die bestes. Skoon, grappig en “real”. Ouboet is steeds een van die mees klassieke afrikaanse storie karakters by verre!!
Ek het die reeks op DVD. My favorite