Lesersbrief: Ou Weermagmanne, waar is julle?

frik-lotz-sasolburg

Frik Lotz. Foto: Verskaf.

Frik Lotz van Sasolburg skryf:

Ek het onlangs die artikel op Maroela Media wat deur Tienie Fourie geskryf is, naamlik “Ek salueer hulle”, baie geniet. Dit het baie herinneringe teruggebring van daardie tyd.

Ek het my militêre diensplig van twee jaar gedurende 1984/’85 by 2 Spesiale Diensbataljon in Zeerust gedoen. My grensdiens het ek by 10 Pantser in Oshakati gedoen. Ek het met trots gedien in een van die beste en mees gedissiplineerde weermagte wat daar was.

Dit was harde en goeie opleiding wat ons ontvang het wat ons goed toegerus het vir die taak wat voorgelê het. Daar was goeie en slegte tye, maar ons is saamgesnoer in ʼn hegte eenheid en baie vriendskappe is gesmee. Ons het in die weermag ingegaan as seuns, maar daar uitgekom as manne en het dinge gesien en beleef wat mens nie in woorde altyd kan beskryf nie.

Baie manne het heel teruggekom huis toe, maar ander het hul lewens verloor in die bosoorlog. Ander is weer vermink of het geestelike letsels opgedoen wat vandag nog by hul spook. Watter dank het die manne ooit gekry vir al die opofferinge wat gemaak was destyds? Absoluut niks nie en almal word nou uitgekryt as beskermers van apartheid, wat natuurlik ʼn klomp snert is.

saw-muur-van-herinnering

Die SAW Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument se erfenisterrein. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die militêre stryd is onteenseglik deur die SAW gewen, maar polities het ons verloor omdat die politici van daai tyd ons in die steek gelaat het. Hoeveel van die destydse NP-politici het al dankie gesê vir die manne wat in die grensoorlog soveel moes opoffer vir hul land en wanneer gaan daai politici om verskoning vra dat hulle ons op die politieke speelveld in die steek gelaat het?

Die lede wat in die ou SAW gedien het, verdien erkenning vir die puik werk wat hulle verrig het om die land en sy mense destyds veilig te hou. Ek bring hulde aan al die manne van daai tyd en sal graag wil weet hoe hulle voel oor alles wat destyds gebeur het en wat hulle dink van die stand van sake tans in die land.

Dis tyd dat ons ou weermagmanne se stemme hard en duidelik gehoor word. Ou weermagmanne, waar is julle? Dankie aan al die manne van daai tyd. Ons sal nooit vergeet nie!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

70 Kommentare

leser ·

my dienstyd was bietjie vroer, middel 1982, spoke loop ook daagliks oor my pad
dankie vir die dankie

Dereck Le Roux ·

Politici en sekere voormalige weermagleiers het ons skaamteloos in die rug geskiet, vir my diensplig te 4SAI Bataljon in Middelburg en 10 jaar vir aktiewe Burgemag diens en jaar na jaar se finansiele terugslae na grensdiens word nou selfs die trotse Burgermag Eenhede vernoem na ons vyande en steeds is die oorlewende politici en weermagleiers se stemme stil as ons nie eers die erkenning kry as militere veterane nie en nie kwalifiseer vir enige veterane voordele nie omdat ons glo die apartheids regering onderskraag het tydens hulle bewind maar oor die algemeen is ek trots op my opleiding en diens en niemand kan daardie ervaring van my af wegneem nie, nie die voormalige rugskieters nie ook nie die hededaagse onderdrukkers nie.

Karolis ·

Ek wil dit graag duidelik stel dat dienspligtiges nie die apartheids regering onderskraag het uit vrye wil nie maar was verplig/gedwing.

Pieter Wilson ·

Daar is vele FB weermag groepe, met duisende lede, Ja die manne gesels nogsteeds oor die grensoorlog,die goeie en die minder goeie dinge’ Van Troep tot veteraan . my groep

Suster ·

Jip hulle verdien n groot dankie.
My Pa en Broer was deel van hulle.
My Broer was n recce en was heeltyd in gevaar.
Ek is trots op hulle almal.

Albert Badenhorst ·

My tyd was 81/82 en saluut die manne grensdiens verrig het, terwyl ons die binneland opgepas het

Ek Was Daar ·

Ek was ook daar. as dienspligtige en jong seun van 18 , 2 jaar se diens aan n land wat baklei het teen die euwels wat ons vandag mee te doen kry, Ek was ook n vryheidsvegter, maar ons word ontken . Maar ek het n hele paar dinge geleer, terwyl ek daar was, dissipline, respek, hard werk, man word , beste tyd van my lewe wat ek nooit wil oorhe nie, Ons het baklei vir wat ons geglo het reg was , want jy is gese om te doen. Infanterieskool en Berede het my in twee jaar baie van die lewe geleer , Ons vir jou Suid Afrika, Ek salueer al my oud makkers wat gedien het met TROTS

Lalie ·

My man was ook daar. Almal was nie gelukkig soos hy om lewendig daar uit te kom nie., maar die geestelike letsels is soms erger as die liggaamlikes. Ons, julle vrouens salueer julle.

Theoman ·

Ja Frik dit is so ons manne wat ons land met trots gedien het in n weermag van uitmuntenheid danksy die kwaliteit offesiere wat ons gehad het is ons deur sekere ouens net plain gedrop. maar ek gee nie om nie, ek bly n oud soldaat met nog steeds my uniform van 1970 in my kas met die oranje blanje blou vlag kenteken sigbaar en weet ek, al het ek makkers verloor op die grens ons was daar vir SUID AFRIKA.

Vinny ·

Die SANDF voel vere vir ons. Ek kort ten minste 3 medaljes wat Ek self voor moes aan soek down en waarvoor Ek nou oor die 30 jaar wag.

cc van pr ·

Daar is ‘n facebook blad oor die grensoorlog.Sluit gerus aan.Dit is baie interresant.

Vegter ·

Ek het troepe verloor,vriende verloor en ook myself.Ek is ‘n wrak.My gees en siel is dood.Ouens gaan blykbaar terug Angola toe vir closure,ek sien nie kans nie.My huwelik is ‘n gemors,my verhouding met mense ook.Is ek net te sag vir werk gewees? Is daar nog ouens wat steeds die letsels dra?

Lee ·

My broer was ook daar gewees. Baie letsels oorgehou van daai tyd af. Depressie, ens. Wens net ons Regering wou die manne help en bystaan na die jare op die grens. Ek haal my hoed af vir elke ou in SA wat daardeur was. Die manne van die land, en ook harseer dat sulke jong seuns op die ouderdom van 18 vir die land moes baklei. Hy het nooit reggekom nie en ‘n verskriklike wrog in hom gehad en bakleierig met tye. Van sy beste pelle is voor sy oe vermoor. Vandag rus hy sag. Nie een van ons weet regtig hoe dit vir julle was nie. Sterkte ek salueer julle!

Eugene ·

Lee ek dink en bid vir jou vasbyt en sterkte jy is nie n swakkeling as jy gesels met iemand nie maar n man ek self is nog in die mag

A ·

Ek was ‘n soldoedie in die weermag. Jaar diens gedoen in George. Sal ek dit oordoen? Enige tyd. Dit vorm jou tot ‘n mens wat in die samelewing kan funksioneer. Dit leer jou respek en dissipline. Ek het al talle kere gewens my eie seun kon diesnplig doen. Ek weet dit was moeilik en ek weet die oorlog waarin julle manne geveg het kan nie met woorde beskryf word nie. Maar weet net – julle sal julle beloning eendag kry. Baie dankie vir dit wat julle gedoen het. Ek glo dat ons weer uit die as kan opstaan met die manne wat nog daar is.

Seun van Transvaal ·

Dankie aan my Pa en al die manne wat gaan baklei het daai tyd. Selfs die wat nie daar wou wees nie maar moes. Julle het baklei dat ek en my kinders ‘n land kan hê en dat ek in vrede my God kan dien. Die polities-korrektes het egter my land weggegee nog voordat ek my kruisie kon trek. Maar ek weet manne soos my Pa het daai tyd almal gewaarsku dat ons land gaan wees net soos dit inderdaad vandag is.

Julle gevegtery blyk vandag tevergeefs te gewees het. Maar in ons harte bly julle helde wat dapper was onder ons Oranje Blanje Blou.

“Mag die erwe van ons vaadre vir ons kinders erwe bly. Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.”
Ons kyk uit vir die Here Jesus se koms wat die dinge sal kom uitsorteer.
“Met ons land en met ons nasie, sal dit wel wees God regeer.”

Agie ·

Amen Seun van Transvaal
Ook as soldoedie my deel in PD korps gedoen, met trots. Nooit spyt vir daai stukkie vasbyt gewees en vandag steeds dankbaar dat die vrou ook funksioneel dit kon meedoen.
Verseker sál die Leeuw van Juda hierdie huidige gemors tot niet kom maak en ons almal ewige hemelse vrede ervaar.
Kom Here Jesus, kom gou
Amen

Pieter ·

Ons is nog hier. Doen soos ons geleer is: “Hou jou bek en werk”
Daar is baie groepe op Bakkiesblad waar ons maar met mekaar gesels.

Johan ·

Spoorsny Hondehanteerder in 1977/78.

My spoorsny hond het my en van die spoorsny patrollies waarby ons betrokke was by twee geleenthede van gewisse dood in hinderlae en anti personeelmyne gered en gekeer dat ek een aand op patrollie in my slaapsak ingekruip het waar ‘n meneer van ‘n adder vir my gewag het.

Saluut aan alle oud SAW lede en veral die hondehanteerders!

Ditsem ·

Van iemand wat net te laat was om weermag toe te gaan( net toe kadette afgeskaf was)( Wou ook baie graag my deel doen vir ons land)Baie dankie aan elke liewe man wat sy lewe opgeoffer het vir ons! Vir die wat dink hulle het baklei vir niks,dit is nie waar nie- dankie ek het n goeie veilige kinderlewe gehad en kon in die straat speel. Vir die wat nog baie letsels en spoke het , dankie dat jy ons veilg gehou het,jy het alles opgeoffer vir my!(Ek hoop julle kry berusting want dit wat jy gedoen het het my veilg gehou)

Francois ·

Baie van ons op Facebook. Grensoorlog groepe. Gaan soek maar. Baie foto’s. Grappies. Ja … daar was tyd vir snaakse dinge ook. Maar heelwat makkers daar. En memories.

mini ·

aan al die ou manne…. sluit asb aan by die MOTHS…. hulle help al die mense en daar is soveel van die mense wat sukkel wat op die grens was…

Strandloper ·

Mmmm dalk moet ek ook by die mot manne gaan aanklop. Ek vloek gereeld hard duidelik oor die nare aan bewind maar ek glo daars salf aan te smeer nie.

Veritas ·

Mini, vertel ons bietjie wie deur die MOTHS gehelp word. Die MOTHS is ‘n klomp ou mans wat soos ‘n klomp ou vrouens aangaan.

SkietPiet ·

Was drie keer in die ’70s op die Grens, maar in “stil” gebiede: Rundu, Bagani, Katima Mulilo. My “Browns” is nou na die jare te klein om aan te trek, maar ek is hier !
Respek aan die manne wat soveel opgeoffer het.

kolla ·

Katima Mulilo was nie stil gedurende die 70’s nie en Rundu ook nie.

Deon ·

Dit was ‘n ander tyd. Vergewe, vergeet en beweeg aan. Niemand gaan trane oor ons stort nie. Die jonges van vandag lag en skud hul koppe as hulle hoor wat ons as 18 jariges moes trotseer. Dis hartseer, maar dis hoe dit is. Die wit soldate van Rhodesië dieselfde. Gaan vra ook vir die Vietnam vets in Amerika. Hulle is deur erger dinge as ons. Baie van hulle het eers uitgevind waar Nam is toe hulle daar land. Of jong Russiese soldate wat in die 1980s die Afghan regering teen die Taliban moes beskerm. Duitse soldate by Stalingrad is deur hel. Waarom? Ek weet nie, dalk slap politici wat veg vir eie belang en jonges waansinnig breinspoel, sonder om aan die langtermyngevolge te dink. Maar dit gebeur steeds. Al wat ons kan doen is om in stilte hulde te bring, uit die openbare oog en te bid dit dat ons nageslag dit gespaar bly. Oorlog is alles behalwe spog en selfverheerliking. Defnitief nie ‘n plek vir 18 jariges om “mans” te word nie.

Roelf ·

Deon, jy verdien ‘n saluut want jy het die situasie perfek opgesom. Wel gedaan!!

Susan ·

Drie seuns in die weermag gehad. Kinders het manne geword, maar met letse
Ls. Dit moes gedoen word, maar ouers het seker gebid soos nog nooit. Hulde aan al julle onerkende helde.

Amalia ·

Dit was nog die goeie ou jare waar ‘n weermag man nog ‘n swanger vrou gesallueer het. ek onthou die transkaroo vol weermag manne die stories wat hulle met my gedeel het en tanie Esme se mossie. ek het vir baie manne op die grens geskryf. en my oe uitgehuil as hulle my laat weet hulle meisie het hulle gelos. nooit sou ek kon dink dat ek eendag met ‘n soldaat gaan trou nie. Hy is die mees amazingste Man op aarde. Ek is so geseend om hom in my lewe kan hè :)

Willie ·

Ek het my diensplig gedoen, 1986-1987 by 8SAI Upington. Ons was opgelei vir onluste beheer, en het in die Kaap ons deel gaan doen. Cross Roads, KTC.. Later aan die Rand ge “deploy”..

Stef ·

Vegter, jy is nie te sag nie, jy is te hard met jouself. Gee skiet en aanvaar die verlede. Jy het dissipline gehoorsaam. Wees trots op jouself.
Lt. Tampax Tiffie.

Andre Coetzee ·

Was daar.Beste tyd van my lewe.Het wonderlike vriende gehad en ons het geveg vir ‘n veilige Suid Afrika.8 SAI ek sal die dae nooit vergeet nie.Saluut.

Valk ·

Ons is maar hier rond….ek dink maar elke dag aan my 12 makkers en 3 vlugbemanning wat op een slag hulle lewens vir ons gegee het, sodat ons ‘n môre kan hê. Ek was een van die gelukkiges wat nie daardie dag die vlug kon meemaak nie…. Saluut aan julle, en saluut aan al die ander wat nie so gelukkig was nie!! Ons is wat ons is en sal bly wat ons is…..

Kobus ·

was ook in die 70 op die grens baie goeie tyd saam met die manne
vandag is daar nie meer sulke manne nie net poeierkwassie ja

Piet ·

Vinny, jy het duidelik nie vir jou land geveg, maar vir jouself vir medaljes en balkies. Skaam jou man!

TN ·

Diensplig 69/70 en 12 jaar later uit die Burgermag as kaptein . Was ongelooflike tye wat mens gevorm en gebrei het en ek se dankie aan almal wat daardie tyd bo my was en ook aan almal wie ek die voorreg gehad het om te lei .

RG ·

Ja ne, onthou dit goed. het my diensplig gedoen 1986/87. Ops Moduler.

TT ·

Inligting….ons hou nog maar steeds die tekens van die tye dop….

Theo ·

Stem saam met jou, het self in 75 en 76 diens gedoen. Die russe en kubane het anc en swapo misbruik vir hulle eie doelwit. Hulle kon dit nie insien nie. Vandag is dit die chinese.

Wally ·

Was ‘n geskutbediener al die jare. Sal die dinge nooit vergeet nie- wil my vrou graag gaan wys waar ek so baie tyd van die huis af deurgebring het maar die tyd begin min raak. Soos SkietPiet sê, die browns kom nie meer vas nie maar ek kry dit nie oor my hart om dit weg te gooi nie!

Hoe gaan die sêding nou weer…”Old gunners never die. They just drop short.”

Bril ·

1 SDB, Katima 1980 en kampe. Sit oorsee. Tuis sakkevol van my SAW vriende, almal met grade, loop bedags werkloos rond, geen geld om op die web rond te baljaar nie, wag vir die einde. Verlore generasie. Paar mense het nog geluk gehad en kon pensioen opbou.

Christo ·

84/85 Medic Hoedspruit Lugmagbasis. Soveel geleer so jonk, n wonderlike platform gele om die lewe vandaar met deernis en respek vir die lewe en my medemens aan te pak. ! Beste wense vergesel alle oudsoldate.

Dankie Troepies ·

Dankie Frik. Nou rol my maskara weer teen my wange af en my man wil weet wat’s fout. My broer het ook sy plig vir sy land gedoen. Hoofseun op skool, soveel talent en ‘n blink toekoms voor hom. Hy het lewend teruggekeer, maar tog sy lewe geoffer weens post trauma en die vernietigende effek wat dit daarna op sy lewe gehad het. Die nagmerries… Dit het mens se bloed laat stol.
Dit maak my ook boos dat hulle vandag deur soveel geminag word, en weggesteek moet word asof hulle die land se probleme veroorsaak het, terwyl sogenaamde Doktor Professors een swak besluit na die ander geneem het. Ek sal ook graag wil weet wanneer vra hulle om verskoning en se minstens dankie.

Waarom nie ‘n fonds stig vir ons troepies nie?

Dj ·

Stem saam Andre,beste 2 jaar van my lewe ,was 18 maande in SWA, 1981 en 82 maar ek moet byvoeg die kampe daarna was nie so goed nie as jy dan vrou en kinders by huis gehad het

JohanR ·

In die ou Rhodesie in 1978/1979 was dit tien dae uit die bos, en ses weke in die bos. Dit was nadat die manne begin landuit is na die tyd van ses weke in, en ses weke uit. Daar was hier by die einde net nie meer manne krag nie….die oorlog het sy tol geneem. Maar heng dit was lekker dae in die mag. Ek was in die Mediese Korps, en het alles gesien en gedoen. Ek het darem daar uit gekom sonder dat dit my liggaam of siel geraak het. My broer wat in Bloemfontein opgelei is was nie soe gelukkig nie. Na die tyd kon ek sien hy was nie meer die selfde persoon wat in gegaan het nie. Maar aan all die MANNE wat in Rhodesie, en aan die grens in SWA gedien het….julle was net die beste!

Swartwolf ·

My diensplig Aug 87 – July 89. Rundu Feb ’88 – July ’88. Angola Operasie Hooper weste kant om Menongue toe saam met 32 Bravo Co en Unita. Beste en slegste tye van my lewe. Sal dit weer doen vir ‘n ander SA. Verlang terug na daai dae. Beste weermag, beste manne. Nie russe, kubane, chinese en FAPLA’s kon ons keer nie., maar die politici wel.

Sann ·

Ons skoolmeisies het een jaar elkeen ‘n pakkie opgemaak en vir ‘n troepie ‘n brief geskryf. Ek dink nou daaraan hoe min ons besef het waardeur julle gegaan het… Maar dalk het dit tog gehelp vir die vasbyt. Ons grootste dankie sal dalk niks kan teruggee nie, maar praat asb vandag met ons sodat ons kan probeer om te help dra en verstaan.

Simon Bezuidenhout ·

Saam het ons gestaan saam die mooie lied gesing saam in formasie die lugruim ingevlieg om ons land te beskerm. Nou waar is ons mooie land vlag blankes wat nou moet vir oorlewing veg elke dag versleg dit al hoe meer kom word wakker en begin saam weer opstaan wat ons daagliks verloor ons trots en christendom ons selfrespek en as trotse blanke Suid Afrikaners Eenheid Maak Mag

Leonard van der Dussen ·

Was in D-Genie in Pretoria HK in 2de dienspligjaar 1989. Laaste groep wat vol 2 jaar dienspligtig was. Was die jaar wat die politici finaal die SAW se werk in Suidwes verniel het – die gemoed in Leër HK was iets tussen verleë, kwaad en moedeloos. Betrokke by bou van permanente basisse in Krugerwildtuin wat hopelik die Mosambiekse indringerprobleem help aanspreek het. Kan nie aanspraak maak op grensdiens en aktiewe oorlog nie, maar deel die sentiment dat militêre oorwinning deur politieke besluite in oorgawe omskep is. Goeie maar harde herinneringe aan 1ste dienspligjaar in Bossiespruit en Vegkop (Kroonstad). Vasbyt en inisiatief geleer wat tot vandag toe in daaglikse werk deurslaan.

Astrix ·

Als goed en wel van al die “grensvegters” maar wat het dit ons gebaat net mooi niks. DIT waavoor ons teen geveg het DIT regeer ons nou! Ons het wel gou manne geword maar teen koste van meenige wat nooit ooit weer “states” toe kon gaan nie. Die wat wel kon terugkeer dra letsels ek self is lekker laf na n “min dae cracker” (landmyn) voorval. Almal se gehoor is ook tot niet, in n kotak is daar nie oor pluisies nie. Ek groet my makkers en stort n traan vir die wat die duurste tol betaal het.

Therese ·

Tien uit tien vir Frik Lotz wat hierdie interessante kommentare ontlok het!
Weet nie of iemand die “Suiderkruis-Fonds” onthou ten bate van troepe op die grens nie, maar ek was ‘n koshuisbrak toe my kamermaat se ma twee héérlike appelterte vir die skool se verkoping gestuur het. Nodeloos om te sê het net een van die terte dit gemaak tot by die verkoping! Ai, weer eens jammer daaroor, en natuurlik só trots op ons dapper troepe.

Dawie ·

Lees nou hierdie artikel met LM Radio aan in die agtergrond. Word gevul met emosies wat net onderdruk was. Dit was goeie tye en slegte tye, maar ons neem die beste daaruit en beweeg aan. Net ‘n groot leemte is agtergelaat deur die manne wat dit nie gemaak het nie. Dra die volgende lied aan hul op: “Where have all the flowers gone?” deur Peter, Paul en Mary. Google gerus, die lied kom dadelik op.

Johan ·

Frik, ek stem saam met jou – die politici het ons mislei en ons het twee jaar plus van ons lewens daarvoor gemors. Tog was daar ook iets positiefs wat ons daaruit geleer het, naamlik om manne te word met integriteit en dissipline en dit is wat ons leiers vandag ongelukkig nie het nie. 1978 1MGHK, Rundu

Francois du Toit ·

Ja 87en 88 was ek ook daar met trots, en toe word ons uitverkoop. Maar dit het van ons MANNE gemaak.

Tienie ·

Ja manne watter wonderlike ervaring was dit nie . Ek was in Rundu in 1969 en ons was omtrent 200 troepe daar gewees . Toe stuur hulle 8 van ons na Grootfontein om brandstof aan te ry van Grootfontein na Rundu . Ons het daar op die stasie in 3 tente gebly en later getrek na die Grootfontein lughawe waar ons destyds die voobereiding gedoen het vir daardie basis wat daar gebou is . Lekker ou dae ‼️

kolla ·

Is dit julle wat die toiletstelsel in Grootfontein se basis ontwerp het? LOL

blouapie ·

Lees al hierdie briewe met heimwee. Wonder wat se die MANNE van ons huidige weermag? Skande vir SA!

Kobus ·

Vir die manne wat sukkel met geestelike en of fisiese nalatingskap, ek stel voor julle bestudeer die Johannes Evangelie, net 21 hoofstukke. Lees dit soos ‘n storieboek, neem my 2 dae dan is ek deur. Let op elke Woord van Jesus wat daarin opgeteken is. Hier by die 3/4 keer dat jy dit deurlees sal jy ‘n “ander” Jesus begin sien (leer ken) as wat ons op skool en in meeste kerke geleer is. Neem Sy Hand en laat Hy jou Leer, dan sal jy sien Hy was nog altyd daar vir jou, het jou in jou benoudheid beskerm, het ook jou teisterende drome beperk dat jy nie totaal rigting verloor het nie. Steeds het Hy ‘n doel vir jou. Dit is jou keuse, soek Hom in volle Waarheid (sonder ons ge-indoktroneerde persepsies oor jare heen.) As ons geestelik en fisies swak is, is juis wanneer Hy kragtig deur ons kan werk sodat ons Hom al die eer kan gee.
Waardering en seëning aan almal wat gedien het.

BS ·

Nostalgie – die bittersoet verlange na plekke, persone en situasies in die verlede. Plekke soos Omuthiya basis, 61 Meg Bn , Buffalo basis aan die wal van die Kavango. Hartseer dat daar niks van oorgebly het nie. Ek wou so graag my seun gaan wys. Persone soos instrukteurs tydens basies en JL’s, die troepe, onder offisiere en offisiere (broers) met wie se paaie gekruis is in die twee jaar en situasies, van komies tot hart-in-die keel-klop. Maar ons leef in ‘n ander tyd. Dit bly maar net bittersoet herinneringe.

Dorothy Fritz ·

My man was dienspligtig gedurende 72 / 73 en het staandemag aangesluit in 1978, hy het al die jare in die SANDF gedien, en is op die ouderdom van 60 (2017) op pensioen gegaan. Die sleg is net dat almal sal jou altyd onthou en bel en bla bla bla, maar 6 maande later antwoord hulle nie eens jou boodskappe nie, dis so “sad”, en dan nog die feit dat hy wag vir sy medaljes wat hom toekom, hy al twee jaar op pensioen en nog steeds geen medalje nie.
Ek saluut al die “ou manne” van die “mag”, van hulle het gelewe en van hulle het gesterwe, en vir wat??????? Die skade is vir ewig daar. Ek saluut jou my man AO Fritz, jy was altyd ‘n trotse en netjiese uniform draer.

Marthinus Willemse ·

Oor diensplig het ek gemengde gevoelens. As sieklike, wat op 16 `n ope-hartoperasie ondergaan het, het ek aangedring om diensplig te doen – vir die avontuur, en om myself te toets. Toe kom die skok: By 2 Veldgenieregiment in Bethlehem is ons G3’s en G4’s gevloek, beledig, verneder. Ons is vertel ons is nie soldate nie, en na ons basies is ons nie eens `n uitpasseringsparade gegun nie. Tog het ek aanhou kampe doen tot 1994.

My pa se broer, Paul Willemse, het seker die enigste militêre begrafnis in Clarens gehad. Die ironie is dat hy deur sy eie offisiere se toedoen dood is. Sy naam verskyn nie op die Muur van Herinnering nie. Ek het `n artikel vir Volksblad daaroor geskryf:
https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/een-slukkie-water-kon-my-seun-gered-het-20170304
Ten spyte van Paul se gruwelike dood, het sy broer, Koos, by Brug 14 geveg.

(Dawie Botha, wat saam met my basies gedoen het, en `n paar maande later gesterf het, se naam is ook nie op die muur nie.)

hercu ·

ek het my lewe afgelê en amper opgeoffer vir SA in 1977 – 1978 as diensplig lid en die sap van 1980 – 1990 – dankbaar dat ek leef, en ja het letsels opgedoen in gees, siel en liggaam, maar ek probeer om soos Paulus dit stel en te vergeet van die verlede:

“Vriende, ek dink nie dat ek dit al klaar alles gekry het nie, maar een ding is vir my belangrik: Ek vergeet al die dinge wat verby is, en ek dink net aan die dinge wat nog sal gebeur. Ek is soos iemand wat resies hardloop om ‘n prys te wen. Die prys is om in die hemel te kom, want God het my gekies en ek behoort aan Christus Jesus. Ons almal wat vas glo, moet so dink. As een van julle nie so dink nie, dan sal God vir julle help om reg te dink” – Filippense 3:13‭-‬15 ABA

*saluut*

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.