Lesersbrief: Ouerskap sonder handboek

marlize-van-wyk-en-gesin

Marlizé (regs voor) saam met haar man Attie en haar seun Adriaan. Foto: Verskaf.

Marlizé van Wyk skryf:

Ons liefste Adriaan, op 9 Desember 2009, die dag toe jy gebore is, was jy (natuurlik!) die allermooiste seuntjie in die hele wye wêreld. Die verpleegpersoneel het kort-kort iemand gebring om na jou te kom kyk.

Op daardie dag het jy, ons klein Adriaan, ons trots, ons lewe as getroude paartjie onbeskryfbaar ryker gemaak.

Jy was so ’n maklike, dierbare seuntjie om groot te maak – ek kon sommer nog tien kinders kry! Jy het reeds op 9 maande geloop, pappa se klein yster! En voor ons ons oë kon uitvee, is my sagtehartseuntjie kleuterskool en laerskool toe en het in ’n japtrap verander in ’n seuntjie vol energie vir sy rugby en sy maats.

Maar ons sien jy wil nog speel en ons kom agter huiswerk voel vir jou soos straf.

Tog is ons saam met jou deur graad 1 – met pragtige punte, ten spyte van jou juffrou se oorweging om jou terug te hou omdat jy eintlik ’n hele jaar agter jou maatjies is en so laat in die jaar verjaar. Maar ons het in jou geglo en jy, klein ystertjie, is deur na graad 2.

Graad 2 se pas is egter ’n bietjie vinniger, maar jy werk jy hard. Jou juffrou is trots op jou, maar merk dat jy nie so mooi kan sien op die bord nie. Ai, my kind, hoe moes ons nou weet jy kon nie mooi sien nie. Is daar dan nie ʼn handleiding vir so iets nie? Gelukkig kon oogtoetse en ’n brilletjie als ’n bietjie beter maak.

Elke ouer wil tog net die beste vir hul kind te wil hê. Hoe dan anders? Maar ouerskap kom sonder handleiding (behalwe natuurlik die Bybel).

Graad 3 het begin met ’n bang – speltoetse en lopende skrif en uitgebreide wiskunde het ekstra harde werk vereis. Tog is jy ʼn uithouer en aanhouer. Jou wiskunde en rugby maak jou gelukkig en jy blom, maar hier en daar merk jou juffrou dinge op wat haar bekommer.

Intussen beleef ons ’n rowwe jaar – jou oupa raak baie siek en sterf in April. Ons sien dit tref jou swaar, maar jy praat nie regtig daaroor nie. Ons neem aan jy en jou sussie is oukei…

Ons skrik toe jou juffrou ons inroep vir ’n vergadering en sê: “Ons moet Adriaan help.”

My moed sak in my skoene en my moederhart hardloop met my weg – waar is daardie handleiding? Wat staan my nou te doen?

Jou juffrou maak voorstelle en ons probeer alles – van arbeids- en spelterapie tot die sien van sielkundiges en ʼn dokter wat spesialiseer in aandagafleibaarheidsindroom (AAS).

Ek sit met ’n kind op medikasie, ’n kind wat snags met praat-en-huil-drome wakker word. Sy konsentrasie verswak. Wáár kan ek dit tog naslaan in ʼn handleiding?

My hart, my kind!

Ná vele probeerslae met allerhande dinge om jou te help, besef en aanvaar ons ná 4 jaar jy is nog steeds te jonk vir jou ouderdomsgroep. Saam met jou juffrou het ek en pappa met swaar harte besluit om jou graad 3 te laat herhaal. Dit was nie ʼn maklike besluit nie, my liefste seun. Ons het maar net gehoop en gebid maatjies sal jou nie spot nie.

My kind, ons was destyds dalk oorhaastig, onkundig, of selfs selfsugtig om jou so vroeg in die skool te sit. Hoe moes ons geweet het? Ons het vas geglo wat ons gedoen het, was daardie tyd goed vir jou.

Adriaan, my seun, ons het jou toe ʼn kans gegun om jou graad 3-jaar te herhaal en te wees in die jaargroep waar jy eintlik hoort. En juis daarom, glo ons, was jou Desember-rapport verlede jaar puik en kon jy met ’n pragtige gemiddeld slaag.

Pappa en Mamma is so trots op jou en ons glo jy gaan groot hoogtes in jou lewe bereik.

Wat lê nog voor vir ons? Ek weet self nie. Daar is mos nie ʼn handleiding nie. Maar met God aan ons sy, is niks onmoontlik nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Marelize, ek is geensins gekwalifiseerd sovêr dit kindersielkunde aangaan nie maar, in my opinie, benader julle die situasie heeltemal korrek. My elfjarige dogtertjie het haar Mamma verloor toe sy maar vyf jaar oud was.
Ek was vreesbevange oor hoe ek die tyding aan haar moes oordra maar God het my oor daai hekkie gehelp. Sy het aanvanklik baie gerou maar mettertyd het dit beter begin gaan. Wat ek agtergekom het, is dat sy oor haar Mamma praat in die verlede tyd en raak selde hartseer. Sy onthou ook net die humoristiese kant van saam met Mamma wees. Dit maak my lewe baie makliker.
Daar is een ding wat ek verseker weet en dit is dat God hierdie kinders aan Sy bors vashou en die gemis versag. Hy sal julle hierdeur dra. Sterkte met grootman en gee hom soveel liefde as wat julle kan.

IK ·

Weereens ‘n bewys van omgee-ouers wat nie vasstaar teenoor ‘my kind is foutloos’ maar daardeur met LIEFDE en opoffering die kind bystaan asook deur hul optrede die samewerking van daardie kind het. Tye het beslis verander en ek glo daardie tyd van ‘kinders word net gesien maar nie gehoor’ is outyds. Nogtans bly (soos julle doen) bybelse fondasie asook dissipline die hoeksteen. Moenie weggooi ‘n onderwyser van formaat wat op julle pad gekom het. Vergun my die volgende: Daar word gesê, en ek het dit ook ondervind, dat soos die tyd aanstap begin man en vrou al meer en meer na mekaar lyk; julle twee het dit sommer vroeg reg gekry, veels geluk! En Adriaan kan mens sommer sien wie se kind . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.