Pappa is eerder ’n reus

juran-van-den-heever-pretoria

Juran van den Heever. Foto: Verskaf.

Deur Juran van den Heever van Pretoria

Ek worstel nou al vir ʼn hele ruk met dié teer onderwerp en het swaar gesluk aan die realiteit van die pyn, lyding en dood van kinders en die pyn waarmee die ouers moet saamleef waarvan ons die afgelope twee maande lees. Toe skryf Marisa die aangrypende brief “Om ’n kind te verloor”. Sy verduidelik hoe donker, diep en stil-leeg dit is en dat jy later net ’n dop is wat rondstrompel en stoei om deur nog ’n dag te kom. Gelukkig is daar ’n bietjie hoop wat flikker, en dit is die ander kinders, haar man, haar vriende en familie met hul oorvloed liefde.

Ek het besluit om daarop te reageer.

Ek is so bevoorreg en is deur die Vader geseën met drie wonderlike kinders – twee pragtige dogtertjies (van ses en een) en ʼn oulike seuntjie wat vier jaar oud is. Ek besef elke dag net al hoe meer hoe bevoorreg ek en my vrou is om hierdie unieke mensies in ons lewens te kan hê.

Ek skryf hierdie stuk vir die mense wat verstaan, die mense wat dit mis en ook vir die mense wat soms daaroor kla, want ook dit is normaal.

Gisteraand, ná nog ʼn bedrywige aand om almal geëet, gebad en aan die slaap te kry, besluit ek om met ’n glas rooiwyn sommer in die kinders se badwater, wat ná drie klein lyfies se was eintlik nog relatief skoon is, te klim. Terwyl my vrou nog die laaste kroep wegstoom en vir die jongste ’n bottel melk in die kot gee, klim ek met ’n glas wyn in die bad. Met die inklimslag moes ek eers die eendjies uit die bad gooi en die “stoeiman” uit die hoek van die bad verwyder om my glas wyn daar neer te sit, en voor ek my lê kon kry, moes ek eers die verdwaalde karretjie wat arrogant onder my rondswem uit die pad kry. Toe ek my lê gekry het, dink ek aan die rubriek, en besef ek dat ek eerder al hierdie dinge doen as wat ek dit nié kan doen nie en dat ek elke dag dankbaar is eerder as wat ek spyt is.

Ek trap eerder ’n duisend keer op ’n Lego-blokkie in die vroeë oggendure met die onderlangse skelwoordjie wat daarmee gepaardgaan as wat ek nié die triomfantlike gelag hoor wanneer die kasteel met sy prinses en skelms klaar gebou is nie.

Ek verkies dit eerder om 30 sagte speelgoed op te tel en weg te pak as wat ek nié die gegiggel hoor wanneer Juffrou met kamtige kinders in die klas skool-skool speel nie.

Ek is dankbaar vir die eendjies wat ek uit die bad moet haal eerder as wat ek net na ʼn druppende kraan as herinnering van kinderpret in die bad moet luister.

Ek kyk veel eerder na Lollos, Barney, kleuterskool-DVD’s en gaan na skoolkonserte toe as wat ek sonder die asempies wat in hul kamers lê en slaap na my eie aksiefliek lê en kyk.

Ek eet eerder laaste, uitgeput en honger my koue bordjie kos as wat ek geen klein bordjies kos moet opskep, kos in stukkies moet sny en moet dreig dat as jy nie jou kos eet nie jy nie sterk spiere gaan hê en mooi gaan grootword nie voordat ek alleen staan en vir myself kook.

Ek was eerder graffiti-mure met Handy Andy skoon as wat ek nooit weer ʼn kunswerk van my kind aanskou nie.

Ek staan eerder op vir kroephoese in die nag.

Ek wieg hulle eerder twee ure lank aan die slaap en verloor self slaap.

Ek doen myself eerder in as wat ek die laaste tjoklit eet.

Pappa is eerder die reus as wat hy moeg neerplof en jou ignoreer.

Marisa, en ander mammas en pappas wat al kinders aan die dood moes afstaan, ek salueer julle. Ek bid saam vir al julle emosies en treur saam oor jul hartseer.

Ek is seker dat ons wat ook kinders het en wat nie voorheen daaraan gedink het nie, nou ook diep bewus geword het van die vrees om dié mensies te verloor. En ons moet die tye saam met hulle koester.

Ek herinner myself daaraan om elke oomblik saam met hulle te geniet. Want ek kan nog!

Pappa is eerder ’n reus.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

M ·

Dankie vir dié perspektief! Mens vergeet so maklik om ons seëninge te tel.

Rika ·

Mens vergeet so maklik van die pappa se gevoelens in tye van hartseer en dood. Mens dink net altyd aan die mamma, dan lees mens so n brief en besef dat die pappa net so baie omgee, net so baie liefhet en net so baie pyn verduur soos die mamma. Maar hy moet sterk staan want hy is die reus, die super hero, hy is sy familie se alles.

Elize ·

Dis waar..koester die tye want dis spesiaal….jy kan dit nooit weer terugkry nie…my seun van 32 is onlangs oorlede in motorongeluk. Hoe graag sou ek nie die tyd wou terugdraai om net nog eenkeer n dag saam met hom te wou deurbring nie..ek koester elke liewe herinnering van sy kinderdae en al die oomblikke van grootword wat ek saam met hom gedeel het.

Rina Kotze ·

AMEN EN AMEN!

Daar is té min van jou soort!

Gelukkig het ek een van hulle as eggenoot gekry!

Geniet jou kinders, dis kosbaar, veral as hulle by jou op die bed aan die slaap raak en jy hulle so lê en dophou en dink oor hulle en wonder wat hulle eendag gaan word en doen.

charlene ·

Dis ongelooflik mooi, mens lag aan die een kant wat ek dink aan my eie logo’s waarop ek trap, die sand wat net nie uit die stort wil gaan nie en sommer alles en dit maak mens lag…. maar dan dink jy aan die rede agter die brief, en die seer wat `n ouer moet voel. Ek het my 1ste verloor toe ek nog swanger was so dit maak nog seer maar ek het nie daai goue “memories” nie, die ouers wat hulle kinders na `n paar maande, paar jaar moet terug gee, het dit, daar is meer om te mis, meer om oor te treur. Ons moet elke dag op ons kniee gaan en God dank vir elke liewe oomblik, en in dieselfde asem hom smeek om die ander mamma’s en pappa’s baie styf vas te hou.

Marisa ·

Ek luister hoe mense soms kla oor die min slaap en ek dink…. ek sal werklik enigiets doen om weer net een nag te moet deurnag saam met ons liefielyfie. Die huis is leër en stiller. Daar is nie eendjies (of karretjies) in die badwater nie, en daar is nie lego blokkies op die mat nie. Ons gaan nie Graad 1 kleertjies koop of vir ‘n rugby toer moet spaar nie. Maar ons sal enigiets doen om daardie geld op skoolklere te spandeer, of te moet planne beraam vir die rugby toer. Elke oomblik is kosbaar. Geniet hulle net. Dankie vir die brief Juran.

Bert ·

Hierdie brief is so tydig want dieselfde gedagtes gaan deur my kop na die onlangse afsterwe van klein Ruben van Menlopark. Dit het my en my vrou tot stilstand geruk. Daar kan waaragtig nie meer pyn wees nie. Het sommer dadelik my kinders styf gaan vashou.

afrikaans ·

Ons kan baie leer deur hierdie brief……my seun het te lekker by ons geslaap tot 12jaar oud hy word 14……ek slaap naweke by hom. Dan krap ek sy ruggie, bene en sy kop dan raak hy aan die slaap.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.