Lesersbrief: Patrolleer of emigreer?

buurtwag-patrolleer

Foto: Verskaf.

Andries Opperman is ’n dosent in Chinees en woon in die Moot, Pretoria:

Ses jaar gelede keer ek en my vroutjie terug van China[1]. Sy was swanger en ons wou graag die geboorte in ʼn bekende, veilige omgewing hê. Ons wou ook graag ons nuweling in ons eie land grootmaak.

Die sesde aand ná ons terugkeer word daar egter in ons huis in Villieria, Pretoria, ingebreek terwyl ons in die kerk was.

Op ʼn ander keer slaap ons oor in ʼn gastehuis in Heidelberg. Ons was die enigste gaste en het besluit om uit te gaan vir die aand. Dit reën swaar toe ons terugkeer. Ons hardloop met ons kinders deur die donker reën na ons eenheid. Skaars was die kinders in die bed, of ons hoor ʼn voertuig wegry. Daardie aand is ons bussie gesteel. Ons het met ons kinders verby die diewe gehardloop en dit nie eers besef nie.

Vriende van ons word in hul eie huis aangehou. Ons lees van die moord op die veearts om die hoek van ons. ’n Vriend van ons familie word deur sy tuinwerker doodgesteek.

Die misdaad in Suid-Afrika vra geen verbeelding nie, en die grusaamheid daarvan oortref enige gedrog wat jy self kan optower.

Maar vir eers is ons hier. Vir eers is dit ook ons land. Ons stad. Ons woonbuurt. Maar hoe kan ons net op ons klein stukke erf werk en ʼn gesin grootmaak? Hoe kan ons dit afskort van die onheil wat daar buite woel?

Dalk met ʼn elektriese, ondeursigtige heining met lemmetjiesdraad bo-op en ʼn hek wat versterk is. Beslis diefwering en waarskynlik ook ʼn groot hond. Maar hoe raak ek rustig as die kragdrade voor ons huis steeds van die paal gestroop word?.

Ek bid: Gee vir ons ons daaglikse brood. Maar ek verwag nie dat my kinders se magies vanself volword nie. Nee, ek vra dat Hy my seën met hande wat kan werk. Met geleenthede. Met gesondheid.

Ek bid ook: “Verlos my van die bose” en ek sluit in my gebed die bose in die strate van Villieria en Waverley ook in.

Elke berig van ʼn plaasaanval (of selfs oor beurtkrag) laat jou hart klem. Ek google: “South African immigration requirements for New Zealand”. En jy hoef maar net vyf minute by enige braaivleisvuurtjie te kuier om te besef jy is nie die enigste een met hierdie beklemming nie …

Nee, ons het nog nie weer ons tassie gepak nie. En soos die tyd verloop, word die roeping al duideliker om, vir solank ons wel hier in Suid-Afrika woon, dit nie halfhartig te doen nie. Ek besef dat, net soos die Here my gebruik om my gesin van brood te voorsien wanneer ek Hom daarvoor vra, so word daar ook van my verwag om te help met die bose in die straat voor my huis.

Daar bestaan nog nie ʼn buurtwag in ons woonbuurt nie. Daarom het ek ʼn jare lange vriend in ons straat gevra of hy kans sien om een nag saam met my patrollie te stap. Hy het. Ons het 02:00 opgestaan en die eerste tree gegee die donkerte in. Twee mans en ʼn groot hond.

Ons patrolleer nou drie tot vier keer per week en het al meer as 100 km gestap in die strate wat voorheen die bron van my angs en bekommernis was. Dikwels is daar ander mans wat ook die nag trotseer. En ons het gesien wat die nag inhou: Skelms, toordokters, dwelms, drank. Tot nog toe het die Here ons bewaar.

AfriForum-buurtwag-waverley

Grafika: Verskaf.

Ons het een doelwit voor oë: Wees sigbaar! Laat daar eerder rondom die straatvuurtjies gegons word oor die flitse wat in Waverley en Villieria in die nag rondgeswaai word.

Ons bid vir brood, en ons werk. Ons bid vir veiligheid, en ons patrolleer. Die bekommernis lig bietjie vir bietjie. Ja, ons patrolliewerk hou gevaar in. Maar hierdie gevaar word met elke patrollie minder, nie meer nie.

Ons het tot dusver groot dankbaarheid en ondersteuning ervaar. Ons is egter nie die enigstes wat nie meer passief wil sit en wag vir die ergste nie. Ons is ook nie die eerstes wat betrokke raak by hul plaaslike gemeenskap en buurtwag nie. Ons sal ook nie die laastes wees nie.

  • As jy in hierdie deel van Pretoria woon en bekommerd is oor jou veiligheid, kan jy gerus die stigtingsvergadering van die AfriForum Oostelike Moot Buurtwag bywoon op Donderdag 4 April om 19:00 in die Gereformeerde kerk, Totiusdal, Starkeylaan 1249, Waverley.

Voetnota:

[1] Daar het ek met my iPad dag in en dag uit in die openbaar geloop. My kamera was gereeld om my nek. Soms het ek teen middernag deur Shanghai en ander grootstede geloop. Sonder om bang te wees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Capital Parker ·

Sluit aan by die Moot GPF. Word deel van ‘n baie groot netwerk wat reeds stadswyd en landwyd opereer. Wanneer julle kleiner buurtwagte en sekuriteits groepies stig begin mense op mekaar se tone trap. Die groot geheim is om as gemeenskap betrokke te raak. Capital Park GPF (onderafdeling van Moot GPF) is volstoom besig om ons buurt op te hef. Patrollies, afstaan op ongelukstonele, gestremdes hulp, oumense veiligheid, radio verbindings ens. ens. Ons misdaad voorvalle het dramaties gedaal in die laaste paar jaar.

Andries ·

Verwys jy na die GPF radio kanaal wat deur Kilnerpark Sekuriteit beheer word?

Capital Parker ·

Môre Andries,
Kilnerpark se radiokanaal is een van verskeie wat deur die GPF beheer word. Capital Park het sy eie frekwensies en herhaler en so het elkeen van die “streke” hul eie. Ons been van die GPF teken elke dag in by Wonderboompoort Polisie sodat hulle weet wie is patrolleerders en wie hoort nie op tonele nie. Ons het huidiglik ‘n paar honderd radio eienaars wat aktief dinge rapporteer en deelneem aan bystands versoeke. Vreemde gesigte en motors in die buurt word baie vinnig gerapporteer en die patrolleerders is gewoonlik binne ‘n minuut of twee op die toneel om te verifieer. Ons slaap baie rustig in die aande. Dis hoekom ek voorstel, raak betrokke by ‘n reeds gevestigde groep. In die ander GPF streke behoort dit dieselfde te wees.

Andries ·

More Capital Parker,

Ja ek is reeds deel en aktief op daardie kanaal van die GPF. Daar word nie in die etlike maande wat ek daar deel is patrollies gereel nie. Ons is egter elke patrollie in verbinding met die beheerkamer en werk nou saam met hulle en waardeer die ondersteuning wat hulle bied opreg.

Ons werk graag saam en skakel graag in by enige groep wat ons kan help. Die Afriforum tak is bloot nog ‘n laag en ons hoop is om te help sinkroniseer tussen alml. Verder bied Afriforum noemenswaardige ondersteuning itv regsadvies, opleiding ens.

Ja beslis - Emigreer ·

As jy kan – emigreer. Die meeste het in elk geval al ge-emigreer en woon in luukse en veilige omstandighede in wonderlike lande waar daar geen misdaad en moord en doodslag is nie. Ek hoor elke dag van hulle hoe sorgeloos hulle lewe nou is sonder enige probleme.

Die paar van ons wat nie kan emigreer nie en moet agterbly moet maar seker die realiteite in die gesig staar en elke dag hoop ons sien die volgende dag die son opkom na ‘n stik donker nag.

Pieter ·

Lol, in ‘n maand het hul al in 2 huise in my straat waar ek woon ingebreek hier in Engeland. Hul het ook al in my garage ingebreek. Hul het 4 keer in n maand by my skoonsus ingebreek in Londen , Engeland. Lol

willem Botha ·

Ek stem dat dit n walglike hool is maar ek weier om weg te hardloop ons sit met vrot polisie en vrot DA raadslede in ons area,die raadslede sal hulself uitwerk en die polisie,wel hulle is wat hulle is .Die mense van die moot of die meerderheid is goeie mense en saam kan ons n verskil maak ,ons sit met kundige ,intelegente mense die vraag is hoe om hulle bymekaar te kry want dan dan kan ons groot dinge doen en vermag.

Hannah ·

Emigreer ek voel ook soos jy…as ons kon…..sou ons net die deur toe getrek het…
en ons ??saam gevat het…..

John ·

…. nee dankie, nie Nieu Zealand of Australia of lovely Canada en binnekort ook beautiful Brittain en free Paris en… en met hul vreemde regerings se vreemde liewe inwoners en die baaaie muskiete en 9 lange maande se koue en hitte en music vanaf lovely new buildings with its lovely people nie. Dit word orals saans nag en sommige nagte is donkerder en langer as ander op sommige lovely plekke.

Deon ·

Indien jy vir jou lewe moet vlug is daar nie veel opsies nie. Jy moet vlug of sterf. In die 1970s het Idi Amin duisende Indiërs 48 uur kans gegee om Uganda te verlaat. Die wat geweier het, het eenvoudig “verdwyn. ” Die gevaartekens begin reeds hier flikker.

Bram ·

@John, ek bly al vir 9 jaar in Paris, en sal nooit ooit dit verruil nie. My kinders is trots Fraans, en kan rustig en VEILIG buite speel, fiets ry skool toe, saam maats stap en jol. Kan joune dit in SA doen? en as jy begin met “in ons estate” dans jy reeds verkeerd.

Gys ·

Bram

Ek het nie kinders nie. Ek bly in SA.

Hier kan ek soggens voor werk vliegveld toe ry en eers gaan vlieg voor ek werk toe gaan. Of ek kan op my motorfiets spring en vir ‘n paar dae deur die Karoo vlaktes op verlate grondpaaie ry (en langs die pad slaap, jip, ek het dit al gedoen, sommer net so).
Wat doen mens in ‘n stad soos Londen, Parys, Melbourne, ens? Sit naweek na naweek na naweek by die huis omdat dit te duur is om speelgoed te kan bekostig? Of omdat die weer eenvoudig so goor is dat jy in elk geval niks buite kan doen nie, al het jy ook baie geld?

Ek sal graag wil hoor hoe mense in ander wêreldstede hul vrye tyd spandeer.

Pieter ·

Ek bly al van begin 2000 oorsee. Die ding wat ek die meeste mis is my familie en vriende. Ek bly Engeland en ja die weer is goor.

Saluut ·

Andries ek haal my hoed vir julle af en salueer julle wat bereid is om dit te doen. Ek is een van baie ander wat maar agter my hoe heining en alarms skuil wanneer jy die gevaar in die donker trotseer. En ja, ek glo baie wil, maar kan nie weghardloop nie.

Bram ·

@Gys, ons ry motorfiets, fiets, draf, gaan so elke nou en dan na ons naweek/vakansie huis toe, ons klim op n trein of vliegtuig en gaan ski in Switzerland, of gaan Spanje toe, soveel keuses. Ons sit bitter min “naweek na naweek” in die huis. Eks nie seker of dit net onkunde is wat praat as jy se mense doen dit omdat als te “duur” is nie. Ons geniet ons gate uit, sonder met die worry oor crime soos in SA.

Andries ·

Dankie vir jou boodskap Saluut!

Die tyd raak min vir nie iets doen nie. Ekself sou nie iemand kritiseer wat wil ‘n lewe elders probeer uitkap nie. Elkeen sal dit vir homself moet uitwerk. Maar die wat wel hier bly, sal nie meer lank net agter tralies en komplekse kan skuil nie. Die probleme met ons veiligheid in SA staan nie stil nie. Ons sal nie kan bekostig om stil te staan nie.

Hennie ·

Sê bietje vir my in watter land is daar geen misdaad, moord en doodslag nie?? Ek sou ook graag soontoe wou gaan. Ek is bevrees die land se naam is Utopia want daar bestaan nie so iets op hierdie aarde nie.
Elke land het probleme van sy eie en die gras is vir seker nie altyd groener aan die ander kant van die draad nie. Op hierdie stadium werk ek in Europa maar ek beskou Suid-afrika as my tuiste en gaan weer soontoe as my werk hier klaar is.

Deon ·

Andries, wit en swart Suid Afrikaners word deur misdaad geraak, maar die tyd het dalk aangebreek dat wit Suid Afrikaners vlugtelingstatus geniet. Dit sal die emigrasieproses en inskakeling oorsee vergemaklik. ‘n Australiese minister wou diè status aan wit boere aanbied, maar is gekasty deur Sisulu. Mede-Afrikaners in Australië het selfs daarteen beswaar aangeteken. Maar met EFF menere wat aanvalsgewere in die openbaar afvuur sal die debat weer opvlam. Om 4 miljoen mense in veskeie lande te hervestig is seker nie onmoontlik nie.

Sê net ·

Ons moet met die Zimbabwiërs gaan praat. Hulle weet hoe om 4 miljoen mense oor ‘n grens te kry en in ‘n ander land te hervestig.

Sekerheid ·

Wat baie keer buite berekening gelaat word is mense wat kan emigreer, maar nie wil nie. Dis maklik vir diegene wat beweer hul kan nie emigreer nie dat as jy kan jy moet gaan, maar ek is nie so seker nie. Ek kan emigreer, maar het besluit om te bly. Hoekom? Ek het gaan dink oor wat my gelukkig maak, nie ongelukkig nie. En di wat my gelukkig maak kan ek nie saamvat nie. Die mense in my lewe… My familie en vriende! Ek sal net my eie gesin kan vat. En toe besef ek: Ek het ‘n werk, bly in groot huis met groot tuin, my kinders speel wel veilig buite en is so gelukkig met al hul ouma’s, oupa’s, neefs en niggies om hul. Die land se nonsens frustreer my en ek is bekommerd oor my kinders se toekoms, maar in NZ of Aus is die kanse goed dat my nageslag nie die Here gaan ken nie (navorsing bewys dit), so wat help dit ons 4tjies is veilig, maar my nageslag nie gered nie. SA hou ons naby aan die Here! Maar die twyfel kom kuier wel so af en toe…

Dieter ·

Ek is ook een van daai wat kan emigreer, maar nie wil nie.
Ek kon eintlik maar net vir ‘n oorplasing na een van ons oorsese kantore gevra het.
Ek was al in Australië en Kanada vir werk en in Europa en Amerika vir vakansie.
Amerika lyk nie te sleg nie, veral die platteland lyk nogal lekker.
En daar kan ek myself natuurlik bankkrot koop aan vuurwapens, wat ook ‘n voordeel is.
Maar die ander lande? O wee!!!
As ek in hulle moet gaan bly, sal ek van ellende krepeer en ‘n stadige dood sterf.
Dan maar eerder hier in Cowboystan aan die suidpunt van Afrika bly met al sy probleme.

En so van die os op die jas.
Kan jy werklik iemand glo wat sê dat hulle so lekker bly in ‘n ander land en dat alles net te fantasties is?
Sal iemand regtig erken hy het ‘n fout gemaak deur te emigreer?
Net so, kan jy iemand glo wat sê dat SA so ‘n lekker land is?
Mense wat besluit om uit vrye wil hier te bly sal ook mos nie sommer erken dit was ‘n fout om nie te emigreer nie.
Om te erken jy het ‘n fout gemaak, is nie menslike natuur nie.

So moet dus ook nie sommer my glo as ek sê SA is ‘n lekker plek nie.
Vat dus my woorde (en die woorde van jou vriende en familie wat emigreer het) met ‘n knippie sout.

Dis wanneer, nie óf. ·

Ja, almal lewe veilig totdat hulle oor jou agter erf se muur spring terwyl jy braai en jou kinders voor jou dood skiet. Of wanneer hulle jou vrou by die rooi lig dood skiet en haar motor vat. Of wanneer hulle jou man langs die pad dood skiet terwyl hy ‘n pap band ruil. Of wanneer hulle jou ouers in hul oprit dood skiet. Of wanneer hulle jou seun op pad skool toe met ‘n mes dood steek vir sy fiets. En, en, en, en, ….. Al hierdie voorbeelde het al soveel kere gebeur, selfs met kennisse van ons. Daarom emigreer ons.

Sekerheid ·

Dieter, ek stem saam met jou kommentaar. Amerika is ook die enigste welvarende land wat meestal Christelik is. Ek was nog net in Europa en het vreemd genoeg uiters tuis gevoel. NZ en Aus trek my nie aan nie en Kanada nog minder. Ek sien net nie kans om my leefstyl hier prys te gee vir ‘n klein woonstel êrens in Europa met sy slegte weer nie. Ek veroordeel glad nie mense wat emigreer nie en is altyd so bietjie jaloers oor hul ‘guts’. Indien my omstandighede anders was het ek ook miskien die pad gevat, maar vir nou geniet ek maar nog my braaivleis, familie en vriende. Alle lande het hul ‘misdaad’. In sekere lande is misdaad dalk die weer, in ander miskien dwelms of in ander ateïsme. Ek het besluit om op te hou klae en voluit te lewe – hier. Dalk eendag klim ons 4 wel op ‘n vliegtuig – tyd sal leer. Een ding weet ek verseker – negatiewe mense wat heeltyd klae sal nêrens gelukkig wees nie.

Deon ·

Dit is eintlik te laat om nou te wil emigreer, tensy jy R15 miljoen sterk is of ‘n baie goeie pos los slaan, of baie jonk is en met niks kan begin. Baie van my familie, vriende en voormalige kollegas wat die stap na 2000 geneem leef maar baie beskeie in plekke soos Sydney, Perth, Melbourne en Vancouver. Die huise is heelwat kleiner as waaraan hulle gewoond was. Die meeste wil terugkom, maar besef dit gaan moeilik wees om weer van vooraf te begin. Die wat voor 1990 gegly het kyk nie terug nie.

Kobus ·

Hennie…..lees die mommentaar net bokant joune…..en dan dink jy weer oor jou stelling?

Wielspore ·

‘n Boer wat elke dag kyk of die reen aankom, vergeet om te plant en as die reen kom is dit te laat om te plant. ‘n Persoon wat heeldag na die slegte dinge in SA kyk, vergeet om te lewe en as dit beter gaan is jou tyd om om te lewe.
Wees deel van die oplossing en leef vir elke dag, kyk na jou mense, jou geliefdes, die lewe bied jou baie.

Pieter ·

Baie mooi gestel. Ek bly al vanaf begin 2000 in Engeland. Ek wens egter ek het meer tyd in SA spandeer saam met my Pa. Ongelukkig is hy toe in 2016 oorlede op ‘n ouderdom van 79 aan hartkwale. Ek mis my vader.

Rene ·

Andries, ek waardeer jou sentiment. Ek lees hierdie uit Nieu-Seeland en ek jubel oor mense soos jy. Ek bid daar is mos duisende wat opstaan en veg vir hulle buurte. Intussen het ek drie seuns wat binnekort moet werk soek. Ek het hierheen gekom vir hulle. Ja ons mis ons mense, maar ons sien hulle binnekort en hier is so baie Saffas dat ons tuis is en braai en kerk toe gaan en gemeenskap ken. Ons het nie ligtelik gekom nie en ek glo almal wat bly dink ook mooi oor hul besluit. Hierís mense wat enige dag sal teruggaan en hier is mense wat nooit weer wil gaan ni. Vir my, my grootste wens is dat my mense veilig sal wees en tweedens wil ek almal wat ek lief het uit kry. Nie noodwendig hiernatoe nie, dis hul keuse. Maar ons gesin is baie gelukkig hier. Ons is elke naweek op avonture en kan gaan stap saam n fiets ry en strand toe gaan sonder vrees. Ons slaap vir die eerste keer in jare. My advies: net soos elkeen sy eie beroep kies,kies elkeen sy lewenspad. Ons is geroep om hier te wees. Ons weet dit meer en meer. Ni n dag spyt nie

Andries ·

Beste Rene,

Dankie vir jou boodskap. Die artikel het allermins nie ten doel om ‘n waarde uitspraak oor emigrasie te lewer nie. Ekself het in die verlede oorsee gewoon.

Ek stel bloot dat die wat vir eers hier bly, vir watter rede ook al, sal noodgedwonge moet betrokke raak by hulle plaaslike buurtwagte. My gemoed het baie gelig toe ek besef maar ek hoef nie net te sit en wag vir die ergste nie, ek kan iets daarom doen. Vir sommige is die “doen” emigreer. Vir ander is die “doen” patrolleer. Maar daar is nie baie alternatiewe buiten hierdie twee nie.

Ek is baie dankbaar om te verneem dit gaan goed met julle daar en volg julle uitstappies met groot belangstelling. Dit is ‘n besonderse mooi land wat ek ook al die voorreg gehad het om te toer. Mooi dag!

Mokendal ·

So gebeur dit in 2008- ons emigreer, amper. Met amper bedoel ek – op ons afskeid partytie kom ons tot die slotsom dat ons nooit weer ‘sulke’ vriende of naby familie sal hê oorsee nie, as wat saam met ons om daai vuur staan en kuier nie. Daar het ek besluit: as ek 5 jaar van my lewe sou oorhê, waar sal ek dit wil spandeer: saam ons geliefdes of erens in ‘n vreemde land. Dis nou n dekade+ later en glad nie makliker of veiliger in SA nie, maar as ek R1 sou kry vir al die gelukkige oomblikke saam geliefdes wat om daai vuur gestaan het, dan kon ek iemand borg om te emigreer. Swaarkry gaan ons swaarkry en onveilig gaan dit wees. Maar daar is nie ‘n dag wat verbygaan sonder dat ek dankbaar is vir die tyd wat ek gegun is saam met almal wat ek liefhet nie en ons seeninge bly nogsteeds instroom. Dis ‘n besluit wat elkeen vir homself moet uitklaar – bly of gly. Maar een ding is seker: as jy wandel in die Here se weë sal jy gelukkig wees of dit nou in die Kaap of Kairo of Kanada etc is. Die lewe is kort! Leef dit!

Therese ·

Mokendal

‘n Inspirerende stukkie kommentaar, hoewel waarskynlik gefabriseer om voor-die-hand-liggende redes.

Hendrik ·

Ek bly lekker. Geseend om veilig te bly in eie gemeenskap net 20 km oos van Hans Strydom. Goeie water en eie krag. Keuse moet gemaak word….

Is almal dan weg? ·

As ek so hier lees klink dit of die meeste Suid-Afikaners nou nie meer in hierdie land woon nie want die kommentaar is meesal van Engelse, Nederlande, Franse burgers en burgers van ander lande wat Afrikaans praat. Mag almal wat in ander veilige en welvarende lande bly baie gelukkig wees.

Ons was die afgelope Maart met vakansie in die Kaap. Het ook die Klein Karoo Nasional Kunstefees besoek. Daar was nogals baie mense daar wat Afrikaans praat. En hulle is meesal baie trendy en gesofistikeerd. In die Kaap is daar ook nog baie mense wat Afrikaans praat. In die Karoo het ons ook heelwat faboulous mense ontmoet wat Afrikaans praat. En daar is heelwat uitmuntende plekke van baie hoë standaarde en kwaliteit. As ons die Krugerwildtuin besoek is daar ook ‘n kosmopolitiese atmosfeer en heelwat Afrikaanssprekenes.

Nou wonder ek is daar dan nog mense in SA oor wat permanent hier bly behalwe die paar van ons, myself ingesluit? Of is hierdie mense wat Afrikaans praat in die Kaap, Karoo en Krugerwildtuin nou almal wêreldburgers wat net op besoek hier is ?

Dus is almal dan weg? En kom hulle net op vinnige besoek en is dan weer landuit?

Fanie ·

As iemand n vuurwapen teen my kop druk en sê jy SAL emigreer en enige land sal jou vat, sal ek maar Namibië toe gaan. Dis sooooo n lekker plek daai.

Cherokee ·

Ek hoop wanneer jy en jou vriend patrollie stap in die nagte, laat julle nie jul gesinne alleen nie.

Jerry ·

Daar is te veel witkruise reeds geplant in SA en nog is dit einde niet! Daar is geen, maar geen regverdiging vir enige persoon met n jong gesin om in SA te bly en hulle bloot te stel aan sulke boosheid wat jou soos n dief in die nag bekruip, behalwe as jy nie kan emigreer nie! Sou n wonderwerk gebeur en die wraak en diskriminasie teen witmense stop, dan kan die wat wil, weer terugkeer! Dit is regtig baie mooi en baie rein van mense om patriotiese uitsprake te maak, veral wanneer die skrif al die afgelope 10 jaar teen die muur is, maar sulke uitsprake wat met die hart gemaak word is nie baie verstandig nie. Verkoop julle grond, julle eiendom, julle besittings en versprei julself na die uithoeke van die wereld. Diegene wat dit nie doen nie sal, fluit, fluit my storie is uit omrede MM beslis nie die gevolge sal plaas nie. Die van julle wat weet, sal weet waar die boodskap vandaan kom en dat dit nie ek is wat dit uit my duim uitsuig nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.