Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:
Môre, môre, almal! En so het die winter ons uiteindelik bekruip en skielik skrikgemaak.
Ek was einde April agt jaar op die plaas en elke winter kla ek oor my huis wat so koud is (die huise in die Boesmanland word mos vir die somer gebou) en dan sal Siebie vir my sê, “Vrou, die winter is net twee maande lank, hou op kla.”
Dit het my laat dink hoe ons soms winters in ons hart en siel beleef ten spyte van ‘n warm snoesige kombers, en verder het my gedagtes gegaan na al die boere wat al vir jare “winters” beleef. Dit voel soms of die droogte al ‘n deurgetrapte onderwerp is, maar tog voel so baie dit aan hul lywe en in hul harte. Ons ook. Maar… Die wêreld is ‘n dankbare wêreld, dis asof die Here geweet het toe Hy hardeveld gemaak het… “Hier sal Ek groot genade moet toon.”
‘n Duim reën nou en dit verander in ‘n lushof van blomme, soveel so dat die slaggoed vir ‘n week op kraal moet staan anders proe hulle die ene potpourri!
Dan dink ek ook, hoe werk my kop dan nou, ek dink aan droogte en swaarkry en blomme en genade in dieselfde gedagtegang, en dan besef ek ons lewens is nooit, ooit sonder genade nie, en as ons etenstafels kreun onder die kos, en ons het ‘n warm kooi, en ons huis se dak is nie net ‘n paar bokse nie en ons kan opstaan in die oggend en nog ‘n dag welkom heet, het ons eintlik niks om oor te kla nie.
Dus, my liewe vriende, as daar vandag winter in jou hart is, gryp ‘n hand vol potpourri en snuif daaraan, en sien in jou gedagtes ‘n skaap wat potpourri poep en lag saam met my die “winter” verby!
Dankie. Ek het vanoggend hierdie boodskap nodig gehad hier in Texas.
Het hierdie brief sommer baie geniet! Dink toe sommer aan die swaarkry boere van die Suide van Namibië.