Daar word wyd op die internet, op sosiale media en in tradisionele media gedebatteer oor die bom wat gebars het nadat die dagblad Beeld ʼn storie en foto’s publiseer het van Puk-eerstejaarstudente wat ʼn tradisionele kampusgroet uitvoer. Volgens beriggewing deur dié dagblad herinner die groet aan Hitler se Nazi-groet en is die tradisie ʼn skending van menseregte. Talle ander ontgroeningspraktyke wat deel uitmaak van die Puk se tradisies en wat die afgelope paar jaar in die nuus was, is in die daaropvolgende beriggewing, en op sosiale media, weer aan die groot klok gehang.
Intussen het Solidariteit ʼn dispuut verklaar teen Beeld en sy redakteur, Adriaan Basson, as gevolg van die manier waarop hulle oor dié groet verslag gedoen het, asook oor die gevolge wat die beriggewing vir Afrikaans as voertaal op die Puk kan inhou. Beeld-lesers is gevra om hul steun aan die ProPuk-veldtog te gee deur die dispuut te onderteken en deur op te hou om Beeld te lees tot die dispuut opgeklaar is.
Die publiek se mening oor die aangeleentheid is uiteenlopend. Sommige reken Beeld het die volste reg gehad om dié onreg in sy beriggewing bloot te lê, en dat ontgroeningspraktyke op die Puk finaal die nekslag toegedien moet word. Ander meen Beeld het sy lesers van hom vervreem deur negatief te berig oor ʼn aangeleentheid wat, volgens hulle, onskuldig bedoel is en geen verbintenis met ʼn Nazi-kultuur het nie. Baie ander mense is moeg vir die debakel en is nie meer lus om enigiets hieroor te lees nie.
Wat is jou mening hieroor? Voeg jou stem by almal wat reeds saamgesels, en skryf vir ons ʼn brief. Jy kan dit hieronder doen, of jy kan dit stuur aan [email protected]. Ons wil graag hoor wat jy dink!