Puk SR-voorsitter skryf ʼn ope brief aan die media

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Geagte Leser

In die afgelope jaar is baie uitsprake, aantygings en beskuldigings gemaak teen die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus wat bygedra het tot wanpersepsies oor die ware gebeure in ons studentegemeenskap. Met alles wat al gesê is oor ons kampus, is dit nou nodig dat Suid-Afrika sal weet hoe ons as studente hieroor voel.

Hier is ʼn geveg aan die gang tussen opgewasse politici en studente. Die geveg handel oor ʼn handjievol tekortkominge, maar kyk gerieflik al ons baie positiewe bydraes mis.

• Die geveg beskou ons nie as ʼn vrywillig getransformeerde studentegemeenskap nie, maar eerder ʼn apartheidsenklawe wat nie bestaan nie.
• Die geveg neem nie ons diverse studentelewe in ag wat geleenthede bied vir elke student om tot afgeronde individu te groei nie, maar beskou dit eerder in die lig dat menseregte geskend word en ʼn atmosfeer van vrees op die kampus heers.
• Die geveg ag ons studente nie as verantwoordelike landsburgers wat ʼn bydrae aan die gemeenskap lewer deur ons aktiewe betrokkenheid by 80 liefdadigheidsprojekte of fondsinsamelingsinisiatiewe wat tot meer as R1.4 miljoen per jaar invorder nie, maar kies eerder om rassisme te sien.
• Die geveg sien nie ons poging om ons eie koshuis- en privaatstudente te help en finansieel by te staan wanneer NSFAS-beurse nie hul basiese behoeftes kan bevredig nie, maar sien net dat ons die Grondwet uitbuit.
• Die geveg dink nie aan ons ryk geskiedenis en die wonderlike akademiese bydrae tot die navorsingswêreld nie, maar sien net dat Afrikaans toegang belemmer en ons ʼn “AWB Volkstaat” is.
• Die geveg sien nie ons geïntegreerde koshuise, sportsoorte, kunsaktiwiteite, verenigings, leiersprogramme ens. waaraan ons studente in goeie gees deelneem en menslike ontwikkeling bevorder nie; nee, weereens beswadder die media ons en dra by dat oningeligte menings gevorm word.

Ons is diep teleurgesteld dat al die goeie dinge wat ons as studente op ons kampus vermag, geïgnoreer word. As student en as verteenwoordiger van studente van die Potchefstroomkampus is ons moeg:

• vir aantygings sonder bewyse;
• vir media wat ons onregverdig belaster;
• vir wanpersepsies wat gekommunikeer word as die waardheid;
• daarvoor om ʼn pion in politici se agendas te wees;
• om te veg vir iets wat Grondwetlik ons reg is;
• vir transformasie wat afgedwing word in plaas daarvan dat dit natuurlik gebeur;
• daarvoor om ons self te verdedig teen mense wat haat koester; en
• laastens doodmoeg daarvoor om onderdruk te word.

Wanneer gaan die ouer generasie ophou om hulle idees en rassehaat op die jeug af te dwing en te indoktrineer? Ons as jong, nuwe generasie glo dat daar ʼn plek is vir elke taal, ras en geslag en ons sal graag op grond van meriete geoordeel wil word in die toekoms. Ons streef na eenheid in diversiteit.

Hiermee my siening en diepste oortuiging dat ons as studente weet wat die waarheid is…

** Monica van Schalkwyk is die SR-voorsitter van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Ek kan net die studente ondersteun met hierdie nugtere skrywe. Dit is skandalig dat studente as pione gebruik word deur politici en Beeld natuurlik.

Zach Coetzee ·

Die spel waarin persepsie – al is dit vals – tot kragdadige optrede alles transformeer lank voor die waarheid van die uitgangspunte getoets is of kan (of wil!) word, is nie op waarheid maar op verdraaide uitkoms manipulasie gegrond. Hierdie benadering is nie onbekend aan ouer mense wat eerlik verslae gestaan het daarteenoor in die spel van die bevrydings- ‘magte’ en wat tot nuwe gelykwaardige ‘onreg’ as dit wat so verbete beveg moes word, aanleiding gee. Dit is nie die waarheid wat gesoek word nie maar die oplossing van die kultuurprobleem waarmee die huidige politiek hom vind – beleid van eentaligheid wat ten alle koste oorkom moet word. Dit sal nie die eerste keer dat ooreenkomste met tweede partye gemaak word wat dan later ‘opgelos’ te word deur die teenparty (kultureel in hierdie geval) uit spel te haal buite die ooreenkoms nie.
Soveel geïmpliseerde foutiewe uitgangspunte is duidelik uit die verspreiding van die leuen en hoef net een maal (selfs vals) deur onbetrokkenes of kwaadwilliges in die openbaar bevestig te word om gronde te gee in die ‘heersende persepsie’ sodat dit dadelik kragdadig reggestel kan word ter bevrediging van die eintlike doelwit van die leuen. Op ‘n meer siniese noot: Verbasend dat dit nie al vroeër gebeur het nie.
Ek sou dink dat veel kragdadiger en sigbaarder vertoon van misnoeë dalk die meer suksesvolle idioom vir die huidige tydvak mog wees.
Goed geformuleerde mening van SR voorsitster. Maak dit wyer bekend vir effek.

Niel Lombard ·

Met so Jong dame wat die studente lei,is EK trots om my dogter na Pukke toe te stuur.
Uit stekende kommentaar op die onkunde van Politici en die sogenaamde politieke ontleders.

Alwyn Beetge ·

Wonder hoekom verskyn hierdie brief nie in die ander media nie? Pas dit nie hul agendas nie? Wat is die minister se reaksie hierop?

Damon February ·

NWU is ‘n unieke universititeit wat studente, dwarsoor Suid-Afrika, en oor Suid-Afrikaanse grense aantrek. Daar heers ‘n studente atmosfeer, iets waarna mens verlang al is jy reeds jare nie meer daar nie. Een van my beste belewening op die kampus was altyd om die jongere studente dop te hou (so oor ‘n koppie koffie) vanuit die cafeteria. Ek stel voor dat mense wat aantygings maak van enige negatiewe aard my raad volg en so bietjie eendag die studente goed beloer. Die onderwerp van ras en klas is die hok geslaan en durf niemand dit ooit in twyfel trek nie. Mense soek nog sensasie by plekke waar daar gewerk word aan diversiteit, in hierdie geval, het hulle die verkeerde Universiteit uitgekies. Dit is jammer dat baie mense nog in ‘n reeds veranderende tyd geneig is om terug te kyk. Ons lewe vorentoe.

Margreet du Plessis ·

10/10 vir hierdie SR Voorsitter – ek stuur met graagte my kind NWU toe!!

Ek is al 51 , maar ook siek en sat vir die hele rasse – storie , die inmenging van bv minister Nzimande wat hom eerder moet toespits op BAIE skole waar soveel nog verkeerd is .

Los die universiteit waar alles nog goedgaan .

Die manier waarop Theuns Eloff hanteer is deur die ministers en pers is ook onaanvaarbaar .

Moenie lol met iets wat werk nie!!

NWU bo!

nicolette ·

Niemand kon dit beter stel nie Dankie dat daar nog iemand is wat die PUKKE verdedig.Ek is ook die ouer van n Puk student en trots daarop.Die studentelewe op die PukKampus is gesond.
Bou so voort op n fantastiese universiteit.
PUKKU BESLIS BO!!!!!!

Werda Snyman ·

Dit is hoekom my kind so ongelooflik gelukkig is op die PUK……sy word omring deur mense soos hierdie.
Dankie SR-voorsitser……niemand kon die gevoel van ons harte beter uitdruk nie!!!!

Werda Snyman ·

Dit is hoekom my kind so ongelooflik gelukkig is op die PUK……sy word omring deur mense soos hierdie.
Dankie SR-voorsitser……niemand kon die gevoel van ons harte beter uitdruk nie!!!!

Gerda Smith ·

Dankie Puk. Ek het by PUK studier en so ook my seun. Ignoreer die siek mense en bou so voort op dit wat julle doen.

Gerda Smith ·

Dankie Puk. Ek het by PUK studier en so ook my seun. Ignoreer die siek mense en bou so voort op dit wat julle doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.