Reaksie op ope brief aan NG Kerkleiers: Die ‘Small’ pad

Prof. Christo Lombaard, navorsingsprofessor in Christelike Spiritualiteit aan Unisa, reageer op Hoffie Hofmeyr, se ope brief aan NG Kerkleiers.

Lombaard skryf:

godsdiens-bybel-gebed-unsplash-pexels

Foto: Unsplash/Pexels.com

Liewe vriend Hoffie

“Vriend”, want ons ken mekaar darem al lánk. En jy was altyd vir my as junior teologiekollega by UP goed – die styl, waaroor jy graag praat, en wat ek by jou bly leer.

Ons lewensweë het uiteengeloop, soos dit maar gaan; ook teologies verskil ons. Op ’n manier. Op ’n ander manier, nié: dit gaan steeds vir beide van ons, sentraal, om die lewe voor God, die heil in Christus en die welwees van die kerk.

Dit is óók waarom dit gaan vir die teoloë na wie jy verwys, sonder om hul name te noem (want, styl…), vir wie ek net so lank ken.

Verskille was daar nog altyd. Met as rede: juis omdat dié sake belangrik is. Hierdie kollegas maak (soos dit hoort) erns met die Bybel: met hoe die Bybel is, en met hoe die Bybel tuiskom – onder teologiestudente, in die kerk en in die wêreld. Ek sukkel daarom daarmee, as hul integriteit as opregte, diep gelowiges in twyfel getrek word. Dít verdien hulle nie.

Kom ons hou vir die oomblik by die Bybelwetenskap. ’n Mens kan óf die Bybel napraat, soos dit is, óf jou eie verstaan (uit welke oord ook al) daarop afdruk, soos wat ons dink die Bybel behoort te wees. Laasgenoemde is die liberale weg. Ek kies eersgenoemde; die behoudende pad: die Woord laat sigself geld. En dan moet ’n mens maar dikwels in geloofserkentlikheid nederig die knie buig voor dié heilige Boek. Dit wil sê, om die Bybel slegs Bybel te laat wees, eerder as om my idees oor die Bybel eerste stel.

Wat maak ’n mens, byvoorbeeld, as die Mosesboeke self sê daar was meer as een skrywershand daarby betrokke? Byvoorbeeld, in Deuteronomium: 1.) God gee die Tien Gebooie; 2.) Moses voer die woord daaroor; 3.) in die slothoofstuk, word oor Moses se dood geskryf. Om net die heel eenvoudigste voorbeeld te noem.

Wat maak ’n mens, byvoorbeeld, as die Evangelies self sê daar is meer as een manier waarop Jesus God is? In Markus se openingshoofstuk, vanaf sy doop; in Johannes se openingsverse, reeds vanaf die begin.

Wat maak ’n mens daarmee? Jy glo dit. Want só is dit, in die eeue oue geloofsverskeidenheid, geïnspireer en gekanoniseer as Gods Woord.

Op ’n manier, loop Bybelwetenskapbevindinge hierin parallel aan die natuurwetenskap: eerder as om die onderskeie kompleksiteite van Skriftuur en natuur aan ’n vooropgestelde idee te onderwerp (die liberale weg), word sake aanvaar soos dit is (die konserwatiewe pad).

Dit bring ’n mens telkens by oomblikke van geloofsverwondering: A, dít is hoe God dit gedoen het!

Twee voorbeelde uit die jonger Bybelnavorsing: As ons agterkom hoedat die Psalmversameling se vyfdeling die vyf Mosesboeke struktureel natrek, of hoedat die vermeerderingswonder in die Johannesevangelie die nagmaalsinstelling nuut verwoord…  is dit darem nie hoendervleislekkerkry nie?

Só kom Bybelwetenskaplikes stappie-vir-stappie die Gods Woord se waarhede al hoe beter agter. Geloofskos vir elke dag, ontdek ín die Bybel self. Nagevors. Oftewel, nagevolg. Anders gestel, die styl van Bybelse geloofstoewyding is (met apologie aan Adam Small):

Kô lat ons Boeke vat…

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Die 5 de paragraaf:
“Kom ons hou vir die oomblik by die Bybelwetenskap. ’n Mens kan óf die Bybel napraat, soos dit is, óf jou eie verstaan (uit welke oord ook al) daarop afdruk, soos wat ons dink die Bybel behoort te wees. Laasgenoemde is die liberale weg. Ek kies eersgenoemde; die behoudende pad: die Woord laat sigself geld. En dan moet ’n mens maar dikwels in geloofserkentlikheid nederig die knie buig voor dié heilige Boek. Dit wil sê, om die Bybel slegs Bybel laat wees, eerder as om my idees oor die Bybel eerste stel.”

Snowball

So lui de vermaning in Openbaring 3:15 -16 aan die gemeente van Laodicéa :
“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is nie en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou omdat jy lou is en nie koud of warm nie sal Ek jou uit my mond spuug.”

Dieselfde geld tog vir vandag se gemeentes? God is mos dieselfde God, van altyd af? Hoekom voel dit dan deesdae, of ons gemaan word om eerder lou te word, sodat ons nie op mense se tone trap nie?

Wessel

Die kerk bestaan nou uit predikante wat nie Weergebore (Johannes 3:3, Ou Vertaling) is nie. So daarom is dit logies dat die Bybel nie meer sentraal staan, in die kerk nie. Teologiese opleiding word deur die Universiteite gedoen en is word dus ‘n studie rigting soos Ingenieurswese. Die gevolg is dat deesdae, ‘n ateis ‘n predikant kan word.

Drikus

C.S. Lewis beskryf nederigheid (jou styl) nie as, om minder oor onsself te dink nie, maar , om minder aan onsself te dink. Ek minder en U meer. Om in vrede met God en sy Woord te leef, laat Hy ons toe om Sy karakter te ontdek. God se karakter is altyd getrou. Hy laat ons Sy voortdurende goedheid ervaar. Hy wys ons Sy beloftes (Psalm 100: 5; 115: 11; Jesaja 26: 4). God leer ons om Sy oorweldigende liefde en genade te geniet (Romeine 8: 38–39). Deur die werking van die Heilige Gees, keer Hy ons gedagtes om toe… Lees meer »

Marthie

Die liberales in die kerk bring die wereld in die kerk in, in plaas daarvan om die kerk na die wereld te neem.