Lesersbrief: Reën dit in die Kaap ná It’s Time Kaapstad?

its-time-kaapstad-2018-03-01

Foto: Tygerberg 104FM/Sjwiggett.wordpress.com

SJ Wiggett skryf:

Soortgelyk aan verskeie nuwe boeke, films en selfs It’s Time Bloemfontein word baie kommentaar gelewer deur persone wat glad nie self gelees, gekyk of bygewoon het nie. Ek het geen rede om te glo dat It’s Time Kaapstad anders gaan wees nie.

Ek was Saterdag by Swartklip-sportsgronde in Mitchells Plain. Presies hoeveel mense daar was is ek nie seker nie, maar dit was baie. Wat ek wel weet is dat daar onder meer 400 toilette, 180 tweerigtingradio’s, 400 polisie- en metropolisielede en 6 000 toiletpapierrolle was.

Dit was werklik ʼn belewenis om al die voorbereidingswerk van die afgelope weke eerstehands te aanskou. Grond wat gelyk gemaak is, wandelpaaie wat afgebaken is, duidelik gemerkte parkeergebiede, aanwysingsborde, klankstelsels en grootskerms … en om te dink dat dit alles deur vrywilligers gedoen is.

Ons lewensverhale kry kleur, diepte en vorm as gevolg van oomblikke.

Die oomblik toe jou kleinkind gebore is, die oomblik toe jou vrou na die kansel aangestap gekom het, die oomblik toe jy met kanker gediagnoseer is, die oomblik toe jy vir die eerste keer langs ʼn oop graf gestaan het of die oomblik toe jy graad gevang het. Saterdag was ʼn dag vol oomblikke. Elke mens wat Saterdag by Swartklip-sportsgronde was, het ten minste een oomblik beleef wat vir altyd deel sal vorm van hulle lewensverhaal.

its-time-kaapstad-2018-03-02

Foto: Sjwiggett.wordpress.com

Kort nadat Robbie Wessels Die sluise van die hemel gesing het, het ons vir ʼn oomblik in die Kaapse Vlakte gesit en natgereën. Maar almal het bankvas bly sit of staan, terwyl ander in die reën gedans het. Dit was een van dáái oomblikke in my lewe.

Oom Angus het ʼn beroep gedoen op bendeleiers van Mitchells Plain en omliggende areas om voor na die verhoog te gaan, as teken dat hulle kies om weg te draai van hulle huidige leefwyse en dat hy vir hulle kan bid om hulle invloed positief in hulle gemeenskappe aan te wend. “Come to the front and change your revolver for a Bible”. Die twyfelende Thomas in my het gewonder of enige iemand vorentoe sal gaan? Daar het wel ʼn hele paar mense opgestaan. Oom Angus het van die verhoog af gestap tot onder en elkeen wat vorentoe gekom het, gaan groet.

Wat volgende gebeur het die trane by my wange laat afrol.

Oom Angus het na een van die jong mans gestap, met hom gepraat en toe vir hom sy hoed gegee. Reguit in sy oë gekyk vir hom gesê: “I love you, and want to give you this as a gift” en hom omhels. Dit het vyf keer gebeur – oom Angus het vir vyf van die bendeleiers iets persoonlik gegee: sy hoed, sy Bybel, sy baadjie, sy hemp en selfs sy stewels. Ek kan nie help om te wonder of enige van daardie vyf bendeleiers al ooit ʼn ouer man gehad het wat vir hulle sê: “I love you” en ʼn stywe druk gegee het nie.

its-time-kaapstad-2018-03-03

Foto: Sjwiggett.wordpress.com

Vir my gaan dit nie of iemand vir of teen It’s Time is nie. Ek dink wel dat daar nie enigiets negatief kan kom van duisende mense wat bereid is om Mitchells Plain toe te gaan, in die reën en in die son saam met ander te bid vir Suid-Afrika en sy mense nie. Dít is wat raakgesien moet word, en wat gevier kan word deur enige Suid-Afrikaner, afgesien of jy daar was of nie.

So, reën dit in die Kaap na It’s Time? Hier by ons in Bellville het dit nog nie gereën nie, maar om vroeër Saterdag, hand-aan-hand met duisende mede-Suid-Afrikaners van verskeie rasse en tale die Onse Vader te bid, het dit in my siel laat reën. Daar is weer nuwe hoop in my gemoed nadat ek van my mede-Suid-Afrikaners weer in aksie gesien het. Hoe hulle omgee, handevat, dans, saamstaan en steeds bly vertrou.

Kom ek en jy neem ons verantwoordelikheid op om te bou aan ʼn beter môre en laat gaan die slegte gewoonte om af te breek (splinters in ander se oë te soek).

Nkosi sikelel’ iAfrika

  • SJ Wiggett is Bloudruk Media se verkopebestuurder aan die kusgebied en woon saam met sy vrou, Maretia, in Bellville in die Wes-Kaap.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Genieve ·

So dankbaar dat die gees gewerk het en van die bendes wat navore gekom het met trane. Hulle het berou oor wat hulle aan andere doen en ek dink die gees van God sal hulle nie nou met rus laat nie nadat daar vir hulle gebid is nie. Al sou dit nie nou reen nie weet ek dat God is inbeheer en Hy sal reen stuur wanneer Hy wil.Nou moet ons net vetrou dat die bendes tot hulle sinne sal kom en besef dat dit wat hulle doen verkeerd is.God werk op verskillende maniere nie soos ons wil nie maar soos Hy wil.

rollie ·

Ek lees nie dat die bendelede trane gestort het nie, net die skrywer.

Doreen van Rooyen ·

Sonder om negatief te wees, die weerburo het reën voorspel vir die Kaap op hierdie betrokke dag, en glo my by my in Durbanville het nie ‘n druppel geval nie.

Sê maar net ·

Hi Doreen, die druppels moenie by jou val nie, dit moet by die damme val. Hoop druppels seëninge val by jou

Liezl ·

Ja, dis baie belangrik om die mooi en die positiewe in hierdie deurmekaar wêreld te sien en te bid. Kom ons probeer ook met ons kommentaar die mooi uit te beeld. Ek bid vir Maroela Media, ek bid vir elke leser, ek bid vir elke kommentaar. Kom ons moedig mekaar aan, kom ons bou voort in die naam van ons Vader. Hy wil die goeie sien, Hy wil sien dat ons gered word, Hy beplan die beste vir elkeen van Sy kinders. Dit het Saterdag by ons gereën, vanaf 6uur tot seker na 9uur, wat ‘n wonderlike voorreg en hoe geseënd het ons nie gevoel nie. Dankie Jesus!

Valerie ·

Die skrywer is die slagoffer van die massa histerie kompleks. Aai tog.

Boerboel ·

Hulle het geestelikke ervarings gehad, wie is jy om dit af te kraak?

Joe Hall ·

Dankie Valerie!
Jy kon dit kwalik beter, raker en korter gestel het.

Alta ·

In Milnerton het ooknie sedert Saterdag noemenswaardig gereen nie…Maar ek glo…Ons reen sal kom…Die damme gaan vol wees..julle sal sien! Ons dien ‘n magtige God!

dr. Sakkie van der Merwe ·

Iets wat my pla is dat Jesus in Matt. 6 vir ons se: Gaan na jou binnekamer en bid daar, nie op die hoeke van strate waar die mense jou sien nie, dan het jy jou loon weg. Meeste van Angus se voorspellings is nie bewaarheid nie maar elke keer meld hy dat God met hom gepraat het. Het God van plan verander na Bloemfontein en na Saterdag.? Het Angus verkeerd geluister? Ons moet baie versigtig omgaan met die Almagtige God – Ons kan Hom nie manipuleer deur getalle nie.

@Sakkie ·

Sakkie,

Deur na 1 vers in die bybel te verwys is baie gevaarlik. Jy moet die bybel in konteks lees. Daar is vele stukke waar hulle saam in huise en op ander plekke saam gebid het. So is dit nou die een of die ander. Dis albei!

En wat doen jy om mense bymemkaar te bring en te pleit vir vergifnis van sonde?

Kan jy nie die man se hart en intensie sien nie. ‘n Blinde man kan dit raaksien!

Besef ons nog wie God is? ·

So vyf/ses weke terug het God ‘n woord gegee deur iemand, dis nie ‘n bekende persoon of profeet nie, soos die dissipels gewone vissersmanne was so is die persoon. God het gese Hy gee die droogte as ‘n beeld soos in die tyd van Jeremia vir die mense, want ons het as Sy kinders begin KIES om nie in Sy genade te loop nie, ons KIES om nie onder die krag van die Heilige Gees te staan nie, ons KIES om Jesus se bloed nie meer in ons lewens effektief te maak nie en agv hierdie keuses van ons skep Hy die beeld van die droogte. Die rede vir hoekom dit in die Wes-Kaap gebeur is ook nie per toeval nie, dis waar ons land se fondasies neergele is, dis waar alles begin het. In die ou Testament is baie voorbeelde waar die mense in groot skares bymekaar gekom het en hul sondes ure lank aaneen bely het. Jul is reg, ons moet bid in ons binnekamers, maar daar is ook ‘n tyd wat ons saam as ‘n eenheid as God se kinders saam ons sondes moet bely en dis wat elkeen groot en deels Saterdag op hul eie in gebed voor God gedoen het. Angus se woorde was, voor ons nie obedient raak en ons lewens verander en in God se manier begin wandel nie gaan niks verander nie. Sien raak wat God hierdeur wil se en se dankie dat ons vandag so dit kan doen.

Willem ·

Die kritiek, of negatiwiteit dan, is agv oom Angus wat einde November verlede jaar tydens ‘n gebedsdag gesê het die damme in die Wes-Kaap sal teen einde Maart 2018 vol wees en die droogte gebreek. Hy moet hom eerder by sy sterkpunt hou en dit is om mense met sy preke en gebed te inspireer.

Besef ons nog wie God is? ·

Mense besef soos met alles en elke ander land tot op datum al as ‘n voorbeeld, die geestelike begin eerste voor die fisiese. Ons verwag altyd eerste dit andersom, Saterdag en dit waarvoor daar vergifnis gevra is en waarvoor daar verlede jaar op 24 November voor vergifnis gevra is in die Kaap by die parlement is alles vergifnis, dit gebeur eers in die geestelike voor ons dit fisies sien. Die droogte van ons wat as God se kinders soveel meer en beter weet deesdae ipv doen soos wat God wil en Hy in Sy woord se moet eers verander en met dit is dit die droogte wat Maart gebreek word. Die reen kom. Besef net ons woorde en aksies teen ander gelowiges wat God soek hoe ook al, besef wanneer ons deur ons woorde sondig en skuldig staan voor God. Hierdie is nie Angus en mense nie, dis nie Angus is die alles nie. Hy word net gebruik deur God om massas bymekaar te kry, dis elkeen van ons voor God, mag God ons gedagtes en woorde bewaar en die Heilige Gees ons aanhou waarsku vir waar ons moet ophou negatief praat oor hierdie tipe goed en eerder na God draai op ons kniee en dankie se dat Hy nog ons gebede verhoor en tyd gee vir dit en nog nie Sy gesig weggedraai het van ons nie!

Retha Prinsloo ·

Wat maak dit saak as dit net die skrywer was wat trane in die oë gekry het……of dat dit massa histerie was……of dat dit nie in Durbanville gereen het nie……ons elkeen eer God op ons manier…..bid en glo op ons manier……
God sien en hoor ons almal.

BEKOLAN ·

Wonderlik hoe Almagtig ons Vader werk.Hou op negatief wees.Op Sy Tyd sal Hy voorsien.Hy weet wat ons nodig het. Alle eer aan ons Vader.Soli Deo Gloria.Aan God al die eer!!!!!!!!!!!!!!!!!

Hendrik ·

Net ietsie prakties. Die Kaap het teveel mense en te min water. Ons moet ons kant bring en sorg dat daar meer water stoorplekke (damme/pyplydings ens) wees om volhoubaar te lewe. Jy kan nie in die middel van die Karoo ‘n dorp stig en verwag vir die Here om jou reen daar te gee net omdat jy bid nie. Die mense in die Kaap moet ook bid want dit is reg en die Here vra om hul daaglikse brood (en water) te gee.

Genieve ·

Bekolan..dankie ek stem saam et jou op sy tyd sal hy reen stuur.

Toeval ·

Dit was net toeval, hoeveel keer het hy nie al gebid en dan reen dit nie?

griet ·

dit was nie toeval nie, reën was voorspel ‘n week gelede al. Maar dit was net ‘n paar druppels wat geval het. Dis in elk geval nie waaroor dit gegaan het nie. Die reën sal kom op sy tyd.

Kleintjie ·

Steeds was dit ‘toeval’ dat die reen op daardie oomblik begin val het. Was voorspel deur die weerburo ja.

Heleen Grobler ·

Ek sit so en lees na die kommentaar. Het enigiemand mooi daaroor gedink? Ja daar is gebid vir reën in die Kaap en vir SA, wat ek glo God sal dit laat reën en SA genees. Maar watter reën het werklik oorvloedig gevloei op Mitchels Plein? Die Heilige Gees het die mense se harte laat oorloop, damme van geestelike vervulling is gevul in mense se harte en dit is vir God belangrik, dat sy verlore skape moet terug keer na Hom toe.

UserPC ·

“want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” Matt 5:45b

Waar is die basis dan dat Kaapstad “gestraf” word? En wat van Johannesburg? Is hulle meer regverdig as die Kaap?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.