SA se eie ‘dak-Koreane’ moet dalk handjie bysit in VSA

Deur Andries Opperman

Mark en Patricia McCloskey. (Foto: Laurie Skrivan/St. Louis Post-Dispatch via AP File)

Behalwe vir beelde van Covid-19-pasiënte, is die mees ikoniese beeld van die eerste helfte van 2020 dié van Mark en Patricia McCloskey. Dié twee prokureurs van St. Louis, Missouri het wapens opgeneem teen Black Lives Matter-protesteerders wat na bewering ’n hek afgebreek het en deur die paartjie se privaat landgoed gemarsjeer het op pad na die burgemeester se huis.

President Donald Trump het ook die video getwiet. Maar agter hierdie beeld sit daar veel meer beelde. Ons sien beelde oor die hele VSA van BLM- en Antifa-protesoptogte en gepaardgaande plundering. Ons het beelde gesien van Seattle wat oorgeneem is deur protesteerders en plunderaars. Geboue word afgebrand. Standbeelde word omgeruk.

Hierdie gier het byna so vinnig soos Covid-19 deur die wêreld getrek. Instellings val oor hul voete om protesteerders een voor te wees en die standbeelde tog maar self af te haal. Ook hier in Suid-Afrika het ons onlangs gesien hoe loop die standbeeld van president MT Steyn deur.

Die beelde van winkeleienaars wat aangeval word, winkels wat geplunder word, besighede wat met hout toegemaak word om die klippe van die glas weg te hou, sal nog lank met 2020 wees.

Opmerklik van die video van Mark en Patricia McCloskey en al die ander BLM- en Antifa-beelde is dat die polisie dikwels afwesig is. Die polisie se onvermoë en die gebrek aan politiese wilskrag om die inwoners by te staan wat teen hierdie skares te staan kom, is ʼn verleentheid.

In 1992 was daar soortgelyke onluste in Los Angeles. Net soos die huidige oplewing van die BLM-onluste, was die 1992-onluste ook aangevuur deur die polisie wat oënskynlik te gewelddadig opgetree het teen swart mense. Beide hierdie protesoptogte het plundering, brandstigting en algehele geweld en wetteloosheid tot gevolg gehad.

Die afgelope paar weke het die grappies gou voorgedoen. “Waar is die dak-Koreane as hulle nodig is?”. Dit is natuurlik ʼn verwysing na die Koreaanse minderheidsgemeenskap in Los Angeles wat erg deurgeloop het tydens die 1992-oproer. Ongeveer 2 300 Koreaanse winkels is geplunder of afgebrand. Daar word beraam dat 45% van alle verliese tydens die oproer deur die Koreaanse Amerikaners gely is.

Oorsprong van foto onbekend.

Een van die Koreane vertel dat daar op hulle geskiet is en dat die Los Angeles-polisie onttrek het. Wanneer hulle die polisie geskakel het, het die polisie nie opgedaag nie. Die gevolg was dat die Koreane self die wapen opgeneem het en hulself op die dakke van hul winkels geposisioneer het. Vandaar die uitdrukking: “Rooftop Koreans”. Die foto’s van die Koreane op hul dakke gryp vandag nog die verbeelding aan.

Mark en Patricia het ook wapens opgeneem. Daar was ander Amerikaners wat ook wapens opgeneem het om hul winkels, dorpe en stede te probeer verdedig teen plundering. Vir baie Amerikaners is dit deel van hul identiteit om ’n wapen te kan opneem. Hul maklike toegang tot wapens en die organisering in ’n burgermag word deur die Amerikaanse Grondwet beskerm. Menige politici het al ’n bloutjie geloop as hulle probeer karring het aan hierdie stukkie Amerikanisme.

Maar die ikoniese beelde van weerstand van 2020 van Mark en Patricia en dié van 1992 van die Rooftop Koreans verskil drasties van mekaar. Daar is een element teenwoordig by die Koreane wat nie gesien word in 2020 nie. Een woord. Gemeenskaplikheid.

As jy ’n Google-soektog na Rooftop Korean doen, kom jy dadelik onder die indruk van ’n gemeenskap wat saamgestaan het. Mense van dieselfde kultuur wat mekaar ondersteun. Hulle kom georganiseerd voor, want hulle ken mekaar en werk al lank saam om te oorleef. Die gevolg van hierdie terugslag was dat daar ’n oplewing was van Koreaans-Amerikaanse sosiale en politiese bemagtiging. Verskeie instellings wat ten doel het om die Koreaans-Amerikaanse kultuur en oorlewing te bevorder, het ontstaan uit hierdie gebeure.

Ek twyfel of Mark en Patricia dieselfde gemeenskapsondersteuning het. Ek twyfel of hulle eens besef dat hulle dit nodig het. Alhoewel hul grondwet voorsiening maak vir ’n burgermag, sien ons bitter min tekens van ’n burgermag wanneer die burgers dit nodig het. Ek twyfel of die ikoniese beeld van Mark en Patricia kultuurverenigings en buurtwagte tot gevolg sal hê.

Die Afrikaners, deur middel van die baanbrekerswerk wat AfriForum doen, het al by die State gaan aanklop vir hulp. Dit is visionêr en baie nodig. Ons het almal gesien hoe skarrel die Suid-Afrikaanse politici en snak na hul asem daaroor.

Die Afrikaner het al baie ver gevorder in die leerskool van onderdrukking. Dit vang ons nie onkant as daar op ons getrap word omdat BLM van ons ’n strooipop wil maak nie. Dit is nie vir ons vreemd dat die polisie enige iets van twee uur tot twee dae neem om ons van hulp te wees nie.

Daar is min burgerregte organisasies in die wêreld wat so georganiseerd is soos AfriForum. Daar is min instellings wat die ervaring het wat AfriForum in gemeenskapsmobilisering het. Die Marks en Patricias blyk dat hulle hulp nodig het om ’n gemeenskap te vorm.

Stuur AfriForum – Suid-Afrika se dak-Koreane – om Amerika te gaan help!

  • Andries Opperman is ’n dosent in Chinees by Learning Chinese in South Africa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heinrich ·

Weet nie heeltemal oor die een nie. Wat ons eerder nodig het is om soos in Amerika onsself te mag beskerm. Wanneer iemand is waar hy nie is nie, dan het jy die reg om hom te skiet. Hier word ons wapens ontneem en moet jy jouself verdedig in die hof wanneer jy jou gesin en besittings teen indringers beskerm. Wat die “beskermers” dus doen is om ons te ontwapen, en nie hulle mandaat om ons te beskerm kan of wil nakom nie. Ons het ook nodig om enige ongewenste oortreder onmiddelik te mag skiet, sonder vrae vra, want hy hoort nie daar nie.

James ·

Puik analogie! Ek vermoed die rede vir die eensame stand wat Mark en Patricia moes neem, is die feit dat Amerikaners nou eers aan die vooraand van hul eie revolusie is. Hulle probeer nog internaliseer wat aan’t gebeur is -ons verstaan dit al lankal.

Tereg merk jy op – in hierdie verband is ons hulle VER vooruit. Hulle sal weldrae inhaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.