Lesersbrief: SAKP se wapen teen die ANC

christine-hattingh

Christine Hatting. Foto: Verskaf.

Christine Hattingh, honneurstudent in politieke wetenskap, van Potchefstroom skryf:

ANC, SAKP, Cosatu … Die een organisasie is meer in die nuus as die ander een, om elke moontlike rede waaraan ʼn mens kan dink. As dit nie oor Zwelinzima Vavi en Cosatu is nie, dan is dit pres. Jacob Zuma en die Gupta-familie.

In die afgelope paar jaar sien ʼn mens die een ná die ander nuusberig opduik oor die drie organisasies wat die drieledige regerende alliansie vorm. Ná die SAKP se konferensie is die groot vraag: Sal die SAKP hom aan die alliansie onttrek? Of, wat sal die SAKP doen om die alliansie te versterk?

Voor jy na hierdie vrae kyk, moet jy teruggaan op die tydspoor en jou net weer herinner wat die doel en rede van die drieledige regerende alliansie was die dag toe dit ʼn alliansie geword het.

Die ANC is die politieke party, die SAKP die Kommunistiese party en Cosatu die vakbond – en dit vorm die drieledige regerende alliansie wat in 1990 ontstaan het. Dit het gegaan oor die feit dat al drie partye die meerderheid van die land se groepe mense betrek en kon bereik. Hulle werk dan teen die apartheidsidee en beweeg na ʼn demokratiese vry land vir almal. Die drieledige party het hoofsaaklik bekend gestaan as ʼn revolusionêre alliansie wat daarna streef om SAAM TE WERK as alliansie en as nasie. Lede streef na demokrasie, ʼn nierassige Suid-Afrika, ekonomiese transformasie en voortdurende veranderinge tot voordeel van die land. Dit is hoe eenvoudig en opreg die drieledige party begin het tot waar dit vandag as een groot tuimelende alliansie staan.

Wat gaan dit die SAKP baat deur hom te onttrek aan die alliansie? Vir so lank is die SAKP al saam met die ANC. Sodra die SAKP onttrek, sal sy lede nie genoeg stamina hê om voort te bou op hul toekoms nie. Net so afhanklik soos die ANC van die SAKP is, so is die SAKP afhanklik van die ANC. Die ANC is die dominante Suid-Afrikaanse party en dus het hy meer mag. As die SAKP sy posisie en beheer wil behou, sal hy bloot net een ANC-faksie moet ondersteun, maar dit is die kans wat hy moet waag.

Indien pres. Zuma afgedank word, is die ander vraag: Wie sal president word? En dis waar die groot onsekerheid lê: Wie sal die leier wees as die SAKP die verkeerde besluit neem rakende watter ANC-faksie die land in die toekoms sal beheer? As die SAKP die verkeerde keuse maak, sal hy moontlik nie meer as een van die drieledige bene geken kan word nie (die moontlikheid is daar), so dit is een groot dobbelspel en almal sit in afwagting om te sien wie watter keuse gaan maak.

Die SAKP se doel met die wrywing en die verkiesing wat hy op sy eie wil instel, is nie om die alliansie inmekaar te laat tuimel nie maar om dit te versterk. Dit was die woorde van Solly Mapaila, die adjunk- uitvoerende generaal van die SAKP. Die SAKP moet die alliansie herevalueer en sy kanse nou waag omdat die ANC as party ontbloot word – en dit maak die ANC kwesbaar. Deur dit te gebruik kan die SAKP meer invloed kry in die alliansie. Dit is waarna hy streef en waarop hy die fokus plaas.

As jy kwesbaar is, is jy vatbaar en dit is wat die SAKP se wapen teen die ANC is. Hy moet dit net reg gebruik. Wat is die nut van ʼn wapen as jy hom verkeerd gebruik?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.