Lesersbrief: SA’ner in Frankryk sê ‘Só voel Covid-19’

Hügo Krüger skryf uit Frankryk: 

Foto: Pixabay

Drie weke gelede sou ek en my verloofde ons dokumente by die hof indien sodat ons onder die Franse wet as amptelik getroud kon registreer. Ek is wel bewus dat die huwelikseed daarop neerkom dat selfs die wêreld wat vergaan, nie genoeg is om ’n egpaar te laat skei nie, maar ek het ek nooit verwag dat die toets só vinnig en só letterlik sou kom nie. Die dag het vinnig gekom toe president Emmanuel Macron ’n oorlog teen die nuwe koronavirus verklaar het. Die hele Parys het tot stilstand gekom.

Ons afspraak by die hof is gekanselleer en ons twee het toe maar besluit om “in sonde” saam te bly. Ek hoop die dominee my sal my vergewe, want die media het mos vir almal vertel dat die wederkoms nou op hande is. En ja, ek is bewus van wat in Mattheus 24:36 staan: “MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”

Die volgende dag om 12:00 moes ons almal die kantoor ontruim. Daar was net genoeg tyd om my rekenaar saam te neem. Namiddag moes ons almal in ons woonstelle wees en, indien moontlik, van die huis af werk. Mense wat ek voorheen as koelkop gesien het, het die koronavirus begin vrees.

Die eerste paar dae het nie te sleg verloop nie en, soos meeste Suid-Afrikaners tans, het ek ook maar begin om ’n bietjie knorrig en bang te word, want wat as ek Covid-19 sou kry? Ek het toe my eie “navorsing” op die internet begin doen en “probeer” om myself te diagnoseer. Elke klein verkouetjie en hoesie is mos nou die koronavirus.

Ek het wolf, wolf geroep.

Die een aand kook my verloofde vir ons ’n lekker skaapboud. Ek wou regtig nie haar kos beledig nie, maar ek kon eerlikwaar niks proe nie. Ek het probeer om dit baie diplomaties te stel. Eers was sy vies vir my. Later het sy ook bewus geword dat sy haar reuk en smaak verloor het, en toe vergewe sy vir my.

Die wolf het geantwoord, dit moet Covid-19 wees!

Die volgende dag het ons ’n afspraak by ’n Franse monsieur-dokter gaan maak en Covid-19 is vinnig by ons gediagnoseer – soos baie Franse het ons dit seker op die treine of by die supermark gekry.

Die dokter was eerlik met ons. Daar is geen amptelike behandeling nie en volgens hom sou ons ná sewe dae óf herstel óf in die hospitaal beland. Hy stel toe maar net ’n pakkie Panado-pille voor indien ons koors te hoog raak, maar is nie eens seker of dit gaan werk nie.

My verloofde en ek besluit toe saam om geen medikasie te neem nie. Ons gaan deurdruk sodat ons lywe weerstand kan opbou – op die Afrika-is-nie-vir-sissies-nie-manier. Dit is mos hoe my oupagrootjie die Groot Griep oorleef het.

Ons simptome verloop toe soos volg. Die dag ná ons doktersafspraak het ons albei ’n tamaai kopseer en ons koors begin klim.

Op die derde dag het ons koors verder gestyg, maar die kopseer was verby. Toe, op die vierde dag, begin ek my eetlus te verloor. My verloofde het intussen verbasend herstel, want haar koors was besig om te daal. Op dag vyf het ek erg begin sweet en het asemhalingsprobleme begin kry. Ek kon ook glad nie slaap nie.

Op dag ses het ek besluit om my masker en handskoene aan te trek en te gaan stap vir vars lug – dit is immers moeilik om by die huis te bly. Daar raak ek toe duiselig van die hoë koors en dit begin voel asof ek wil omkap. My verloofde trap my toe uit en sê ek is tipies man en hoekom bly ek nie soos sy in die bed nie?

Op dag sewe lê ek in die bed en begin vreeslik te hoes. My koors is hoog en my longe brand. Ek val toe aan die slaap – vir omtrent 14 uur lank.

Op die agste dag begin my koors te daal en my lyf te herstel, maar ek hoes nog aanmekaar. Net daar begin ek toe maar om na haar te luister en waag dit nie uit die bed nie.

Op dag nege is my hoes weg en die brandgevoel in my longe verdwyn stelselmatig. Op dag 10 is my koors weg en my lyf begin weer krag te kry.

Ons het albei Covid-19 oorleef!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Baie dankie vir jou brief, Hügo. Ek glo dat hierdie virus slegs erger is as ander jare se wintersiektes omdat hy so vinnig en maklik versprei en omdat hy sy eie internasionale bemarkingspan (die media) het, wat ons almal op hol het. Ek glo persoonlik dat die armoede en sosiaal-maatskaplike probleme wat ons agterna gaan tref, meer mense gaan dood maak. Meer mense gaan van honger sterf. En ons gaan nie gerat wees daarvoor nie.

Daar was vanoggend ‘n taxi ongeluk waarin 15 mense dood is. Dit is amper 50% van ons Covid19 sterftes tot dusver. Ons word op hol gejaag met ‘n virus.

Ek sê nie ons moet nie versigtig wees en voorsorg tref nie, maar die hele land tot stilstand dwing?

Ek hoop ook mense het die waarskuwingsklokkies gehoor lui oor hoe ons besig is/was om wêreldwyd die natuur te vernietig. Mag hierdie virus ons meer sensitief maak vir ons omgewing en ons medemense se nood.

Therese ·

Stem heelhartig saam. Die ellende wat vir die wêreld voorlê, gaan onmeetbaar wees.
Ongelooflik hoe min of meer 130 000 Covid-19-sterftes tot dusver die hele mensdom se bestaan tot stilstand geruk het, terwyl honderdduisende ‘gewone’ sterftes daagliks sonder ophef gebeur. Sal dit nooit verstaan nie.

Therese ·

Wat ‘n interessante, insiggewende brief uit die verre Parys.
Mag julle spoedig aansterk en die volgende skaapboud behoorlik waardeer.

Maria ·

Baie goeie stuk, baie dankie vir die insette en inligting, ons waardeer dit opreg

TheSnake ·

Ek moet dit sê, as ons meer sulke gevalle studies soos die paartjie in Frankryk kan kry, dink ek sal dit baie mense moed gee (of ontmoedig!). Dit gee mens ‘n baie beter idee van wat om te verwag as bloot net te weet wat is die simptome. Baie dankie Hugo Kruger!! En ek stem saam met Alida, Suid Afrika gaan een van die dae die land wees met die meeste gesonde en nugtere werklose mense in die wereld, a.g.v. die drank en sigarette verbod.

Gerhard ·

Ja sien ons Afrikaaners is nie sussies nie…. Wil net sê soms moet ons maar na vroulief luister… hahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.