Skaapribbetjies en samesyn

Charné Kruger. Foto: Verskaf.

Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:

My potlood was nou vir lank stomp, ek vermoed ek het ook droogtegriep gehad. Ek het eenvoudig net nie die lus of krag gehad om my liggaam of energie vir meer as oorlewing te gebruik nie.

Tog, 5 Desember 2019, sal vir ewig ‘n brandmerk in my geheue laat.

Die weer steek al van gister af op, mooi op, soos ons dit in jare nie gesien het nie. Wanneer ek verby ‘n venster loop, sien ek die swart weer in die noorde, maar ek kyk nie te lank nie, want ek is bang dit verdwyn.

Ek en my man is rusteloos, ons praat net die nodigste met mekaar, want as ons moet sê wat ons dink en voel, mag daar dalk net ‘n damwal van jare se hoop en wanhoop, bid en baklei, drome en teleurstellings breek. Ek weet hy kyk ook die weer in die noorde, en ek weet ook hierdie man is op sy laaste.

My foon bly besig, maar ek ignoreer dit opsetlik. Ek sien die boodskappe wat deurkom met een woord in gemeen, “reën”. Ek kan nie nóg ’n boodskap stuur wat sê, ‘Nog nie, maar dit lyk belowend”. Ek kan nie na nóg een hartseer emoji kyk nie!

Ek is vandag fisiek naar. Ek is kwaad, ek is teleurgesteld en die meeste van als is ek bang. Ek is bang om op te kyk na die hemelruim en sterre te sien, want dan donner die realiteit jou weer tussen die oë. Die weer het oorgetrek!

Ek kry video’s en foto’s van hoe dit in Upington gereën het. Ek waag dit om laataand op Facebook te gaan en ek raak nóg banger toe ek sien hoe dit op sosiale media gons.

Want vir die eerste keer is ek opstandig jaloers. Ek is kwaad! Ek weet nie vir wie ek kwaad is nie, maar ek is só kwaad dat die trane sommer onwillekeurig loop. As die trane wat ek in die laaste paar jaar al gestort het, tog net ‘n paar bossies kon laat groei…

Ek ruik die reën, ek voel die koel windjie wat waai ná die aarde heerlik afgekoel het, maar dit voel of my sintuie in opstand gekom het.

Hoekom het dit nie by ons ook gereën nie?

Ek gaan kruip eerder in ons warm kamer weg, met die gordyne wat dig toegetrek is. Ek wil nie meer oor die droogte praat nie, ek wil nie meer elke weer-webtuiste fynkam om net enige beduidenis van reën te sien nie. En ek wil nie meer foto’s van voerskenkings en bokse sien nie.

‘n Boer is ‘n trotse wese, in hierdie geweste is ons bestaan grond, gras en hoop! Nie selfies, foto’s en aalmoese nie.

(Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ons ís dankbaar uit ons harte.)

Ek word ook nie lank toegelaat om my opstandige warboel te koester nie, want my twee kleuters kom storm in ons kamer in en ek moet daar en dan hul fort, wat hulle met my hele huis se kussings gebou het, gaan kyk.

En ek raak toe maar bietjie skaam hier in my binneste, want eintlik het ons soveel om voor dankbaar te wees. Gesondheid, liefde en genade.

Met dié wat ons in die feesseisoen is, besef ek nog ‘n kardinale waarheid. Ons hét mekaar nodig – nou praat ek nie van aalmoese nie, ek praat van samesyn.

So wanneer jy weer wonder hoe dit met ons of enige ander boere gaan, kom kuier! Dit wat ons het, sal ons met egte Boesmanlandse gasvryheid met jou deel. Al is dit net skaapribbetjies en brakwaterkoffie.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frm

Baie dankie vir jou skrywe. Het nou lekker hartseer geword en onderneem om nog meer vir julle (droogte boere) te bid.

Madelein

dis hoendervleis hartseeer!! Ek bid dat julle bitter gou reen kry.