Skenk stamselle vir kankerlyertjies, pleit ma

Foto: Facebook/ Jordan's Brave Journey

Jordan Pelser. Foto: Facebook/ Jordan’s Brave Journey

deur Yolandi Maré

Ons sê so dikwels “tyd vlieg”. So kan twee en ʼn half jaar in ʼn oogwink verbysnel. Die werklikheid is egter: As jy pas ses jaar oud geword het, is twee en ʼn half jaar feitlik ʼn halwe leeftyd! Om tydens daardie tydperk deurlopend siek te wees of sleg te voel, maak dit ʼn baie lang tyd.

Dít is die kort lewe van Jordan Pelser tot dusver in ʼn neutedop.

Jordan is op 11 Maart 2014 met Burkitt-leukemie gediagnoseer. Sy en ons hele familie se lewens het daardie dag onherroeplik verander. Hy was agt maande lank ʼn pasiënt van Unitas se pediatriese onkologie-afdeling waar hy hoërisiko-chemoterapie ontvang het.

Burkitt-leukemie is ʼn baie skaars maar geweldig aggressiewe kanker. Dit staan in leketaal as bloed-en-beenmurgkanker bekend. Kort ná Jordan gediagnoseer is, het sy onkoloog ons meegedeel dat sy beste kans op herstel ʼn stamseloorplanting is (ook bekend as beenmurgoorplanting). Die beste skenker vir hierdie stamselle is ʼn bloedverwant en meer spesifiek ʼn broer of suster.

Jordan se kleinboet Chris, toe twee en ʼn half jaar oud, se stamselle is getoets, maar hy was ongelukkig nie ʼn geskikte skenker nie. In daardie stadium was Jordan se liggaampie so afgetakel deur die chemo dat die onkoloog gesê het dat hy nie verder gaan soek vir ʼn skenker nie, want die risiko dat Jordan nie die stamseloorplanting van ʼn niebloedverwante persoon sal oorleef nie, is te groot – al is dit ʼn geskikte skenker.

Ná agt maande lange hoërisiko-chemoterapie, het Jordan twee jaar instandhoudende chemoterapie ontvang wat daagliks chemopille en een aaklige inspuiting per maand behels het. Op Sondae het hy twee soorte chemopille gedrink. Vrydag 16 September 2016 het hy sy laaste chemopil gedrink. Die volgende dag het hy die klok in die pediatriese onkologiesaal van Unitas gelui – ʼn gebruik om ʼn groot prestasie ten opsigte van kinderkanker aan die wêreld te verkondig.

So begin ʼn nuwe hoofstuk in sy lewe – die pad na herstel. Terwyl hierdie chemopille die kankerselle vernietig het, het dit ongelukkig ook die goeie selle beskadig.

Jordan is tans in remissie, maar weens die aard van sy kanker sal hy vir die res van sy lewe in remissie wees. Daar is ook ʼn kans dat sy kanker kan terugkeer. In so ʼn geval het hy geen ander keuse as om ʼn stamseloorplanting te kry nie. Aangesien ons reeds weet dat kleinboet Chris nie ʼn geskikte skenker is nie, moet ons op die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) vir ʼn skenker soek. Indien daar nie ʼn geskikte skenker is nie, moet daar internasionaal na een gesoek word. Dit is egter baie duur en word nie deur sy mediese fonds gedek nie.

Foto: Facebook/ Jordan's Brave Journey

Foto: Facebook/ Jordan’s Brave Journey

The Sunflower Fund beywer hom om mense oor die waarde van en noodtekort aan stamselle in te lig en sodoende skenkers te werf wat op die SABMR geregistreer kan word. Die toetskoste van skenkers se stamselle beloop R2 000 per persoon. Nie almal kan dit bekostig nie en daarom maak The Sunflower Fund staat op ander mense en instansies om te help met geldinsameling vir hierdie doel.

The Sunlower Fund se visie is: “No one should die because there is no match.”

Alle mense en instansies word aangemoedig om betrokke te raak en te help met finansiering, op watter manier ook al, om hierdie visie ʼn werklikheid te maak en kankerpasiënte ʼn kans op lewe te gee.

Lees vorige berigte oor Jordan op Maroela Media.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Goeie goed, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Isobel Vosloo ·

Dit is vir my so hartseer om te lees van mense met kanker veral sulke klein kinders. Ek was ook daar in 2007, gelukkig het my medies alles gedek, vandag wil die mediese fondse bitter min by dra vir kanker. Maar laat ‘n persoon met HIV gediagnoseer word dan is alles gratis en verniet 99,9% het die sieke oor hulleself gebring. Wat kan ons doen sodat kanker pasiente ook regte geniet……….

lorinda ·

Hoe gaan mens te werk om as skenker te reggistreer? Waar kan geskenk word? Kan julle asb meer inligting gee oor die Hele proses?

moi ·

Ons bid vir jou liewe Jordan. Liewe Jesus kan jou gesond maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.