Skooldag van ’n onderwyser midde-in die pandemie

Marjorie Bruinette (Foto: Verskaf)

Deur Marjorie Bruinette

Ons kry so baie kritiek van mense en ouers, so hier is my stukkie van wat ons nou anders doen as tevore. Dis nou sonder die tyd saam met jou eie gesin…

In die oggende staan ek douvoordag op sodat ek in die koue kan staan en terreindiens doen om jou kind veilig te hou.

Ek sanitiseer die kinders se hande en neem hul temperature.

Ek groet gesiggies wat weggesteek is agter ‘n masker en serp en baadjie met hoodies, want dis koud. Ek sê: “Trek uit jou handskoene, want ons mag nie met handskoene rondloop nie, want die virus kom makliker af van kaal hande.”

Tussen die maskers soek jy diep in die ogies om seker te maak hy/sy is oukei. Noudat die mond weggesteek is, kom jy agter dat nie almal se oë lag nie. Of is die masker die rede daarvoor? Dis moeilik om nou klein dingetjies raak te sien…

Die klok lui en dis tyd om klas toe te gaan. Voordat hulle kan ingaan, moet almal eers ontsmet word.

“Juffrou, dis koud!” Maar dis die reëls en jou hart krimp inmekaar omdat jy so streng moet wees.

Nou stap ons in. Teenwoordigheid word op die register aangeteken en terwyl statistieke opgetrek word sodat die departement kan weet wie almal deur Covid geraak is, probeer jy nog uitvind hoe dit met almal gaan. Jy luister met ‘n halwe oor, want die administrasie wat afgehandel moet word, is ’n lys so lank soos jou arm.

Jy probeer nog uitvind of almal oukei is en probeer ‘n trooswoord gee vir ‘n dogtertjie wat haar pappa nie lank terug verloor het nie en wie se verjaardag vandag sou gewees het. Dan lui die klok. Almal stap uit na die volgende klas en my hart voel swaar, want ek mag nie ‘n drukkie gee vir die kind wie se hondjie vanoggend by die hek uitgehardloop het en doodgetrap is deur ‘n onverskillige motorbestuurder wat nie betyds gestop het nie.

My hart voel omgekrap, want ek voel daar is ‘n kind by wie ek nie vanoggend uitgekom het nie wat met hartseer rondloop.

Die volgende klas wag buite. Voor die pandemie was daar altyd ’n opgewonde gebabbel tussen hulle, maar nou staan die kinders en wag met hande voor hul uitgestrek om die volgende gespuit van die ontsmettingsmiddel te ontvang.

“Wag voor julle instap!” roep ek, terwyl ek eers elke tafel afspuit met ’n All Purpose Cleaner sodat ons mekaar nie kan aansteek nie.

So ja, dis nou gedoen. Dis die beste wat ek kan doen om jou veilig te hou en ek bid dat dit genoeg sal wees.

Almal het gaan sit en terwyl ek vra dat hulle hul maskers asseblief oor hul neuse moet trek, ontsmet ek weer my eie hande.

“Herhaal asseblief wat jy gesê het, want ek kon nie mooi hoor nie?” sê ek aan ’n leerder. Hy ruk sy masker. “Ek kry nie asem as die masker oor my neus is nie, Juffrou!”

“Sit asseblief maar jou masker op. Kom ons kry ons boeke uit.”

So herhaal ons dit vir vier periodes met verskillende kinders en verskillende grade maar dieselfde reëls.

Die klok kondig ’n vinnige breek aan. Almal sug van verligting en storm uit die klas. Die juffrouens ook, sodat almal vir ’n slag sonder ‘n masker kan asemhaal. Maar die reëls geld steeds. Sosiale afstand moet nou streng gehandhaaf word.

Weer lui die klok en nou is dit pouse. Wanneer hulle speel, mag almal nie aan die bal vat nie… En, en, en…

Die klok lui en dis ‘n rinse en repeat, nog ‘n keer.

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Unsplash)

Aan die einde van die dag lui die klok vir huis-toe-gaan-tyd. Kinders skarrel uit die klasse uit, want nou kan ons huis toe gaan.

Nadat ek darem vandag ‘n admin-periode gehad het waarin net genoeg tyd was vir gou badkamer toe gaan, ‘n koppie koffie en ‘n trippie na die gesamentlike drukker waarheen al die onderwysers hul drukwerk stuur. Soms wag jy daar ook vir ‘n beurt, want net een persoon op ‘n slag mag daar ingaan. Maar ten minste kry jy gou ‘n kansie om met ‘n kollega te gesels en te hoor hoe dit met haar gaan.

Hierna gryp ek my merkwerk, beplanning en voorbereiding en druk alles in my mandjie met my skootrekenaar, want ek moet vinnig maak om by die huis te kom – my aanlyn Teams Meeting begin oor 15 minute en my rekenaar wil nie meer sonder elektrisiteit werk nie.

Ek storm by my huis in, skakel die rekenaar aan en sukkel om by die Teams Meeting in te skakel terwyl ek per WhatsApp aan ’n paar leerders verduidelik wat lydende en bedrywende vorm is, want tussen periode 5 en 14:30 het amnesia by hulle ingetree.

Oukei, ek is ingeskakel en begin luister na my vergadering… en dan besluit Eskom dis nou die tyd vir beurtkrag, sonder enige waarskuwing.

Uiteindelik klim ek in die bed nadat ek vir almal op my bidlysie teen die yskas gebid het. Mense wat Covid het, vir al die kinders by die skool, my eie kind, my man en my familie. Dan raak my kop die kussing en ek is in droomland…

Maar nie vir lank nie. Tweeuur die oggend skrik ek wakker en dink hoe ek kinders kan help met beter leesbegrip en wonder wat ek anders moet doen. Om 05:00 gaan my wekker af en dis rinse and repeat, all over again.

Ek is net ‘n onderwyser.

  • Marjorie Bruinette is ‘n onderwyseres van Brakpan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Jy weet, ons ouers sit nie heeldag en tone tel nie. Ons is ook lekker besig. En ons stres ook oor goed. Plaas klim almal maar net van hulle perdjies af.

Heinrich ·

Ek voel vir jou Marjorie, die emosionele dreinering van onderwys in hierdie tyd is geweldig. Sterk staan, julle maak tog ‘n verskil in die lewens van dié wat kies om ag te slaan daar op.

Snowball ·

My innige simpatie en al my respek vir ál die onderwysers wat in die mees spanningsvolle en frustrerendste tye nog steeds liefde, normaliteit en gehalte onderrig probeer gee. Julle verdien dat die samelewing julle op die skouers dra; ongelukkig is daar altyd dié wat net sien dat skole gesluit is en onderwysers by die huis lê, soos party al verkondig het.
Vir al die leerkragte wat hulle beste gee soos jy Marjorie, sê ons dankie dat jy elke dag ‘Rinse and Repeat’ want party dae is die omgee van ‘n gewone onderwyser al liefde wat sommige kinders ervaar.

Sokrates ·

Dankie Marjorie, vir n eerlike blik op die volkome vervreemdende en onnatuurlike wêreld wat ons skole geword het. Iets voel drasties verkeerd…. terwyl n swetterjoel uiterlike klomp reëltjies (sinvol of sinneloos) nougeset gevolg móét word, vind daar algaande en terseldertyd die groter en sluipende tragedie plaas….. psigiese en sosiale ontwikkeling stol, spontane menswees vergaan…. angs en depressie en sinloosheid neem toe…… ogies raak dof…..maar ons rinse and repeat dat dit bars, want so verwag die onbuigsame en burokratiese outoritêre reëlboek van ons. Intussen is die winkels vol grootmense wat aan alles vat, taxis is volgepak, sekere politici reël onbevange reuse betogings met duisende mense…….Wat is ons eintlik besig om aan ons kinders te doen? Aan ons goeie en mooi skole wat eens hawens van vrolikheid en gees was? Is ons ooit op die regte pad of is ons almal maar outomatons en pionne in n groter spel wat niemand werklik goed verstaan nie……

Swanies ·

Marjorie, jy beskryf elke oomblik soos die meeste van ons onderwysers dit beleef! Dieselfde tragedies van kinders wat ‘n pappa of mamma agv Covid-19 verloor het. Die behoefte om die kind net te druk, troos en bietjie beter te laat voel. Boonop is daar by van ons skole geen voedingskema nie – nou maak ons planne om by die behoeftige kinders uit te kom wat ons elke dag uit ons kosblikke kossies gee! Wat gaan hulle vir twee koue weke eet? Jy bekommer jou ook oor die ‘gaps’ wat net groter word. Sal ‘n WhatsApp les die swak kind regtig beter kan laat verstaan?
Daar is toegewyde, liefdevolle onnies wat geroep is om ‘n verskil te probeer maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.