Slaan die depressie-trio só hok

depressie

Foto: Mentalhealth.com

Annelize Jansen van Rensburg ken depressie self baie goed. Sy skryf hierdie brief ter herdenking van  Wêrelddag vir die voorkoming van selfmoord, wat op 10de September plaasvind:

Menige vrou word verpes deur drie brakke, by name die depressie-trio.

Eerstens is daar die Steekhaarbrak. Wanneer jy die dag effe verwelk en kleurloos voel, jou hare steeks en ordeloos rebelleer en jou naels splinter, kan jy maar weet hy skuil om die naaste hoekie.

Tweedens is daar die PMS-poedel. Hierdie juffrou is ’n guerrilla-vegter, haar aanvalle is kort, kragtig en klokslag. Beserings is gewaarborg. Sy bedaar soms effens as jy vir haar kondensmelk, boksievla en fudge aanbied.

Laastens is daar die Swart Hond. Hierdie kwajong kan jy dikwels voel en sien aankom. Hy lê en beloer jou voor jou tuinhekkie en glip skelm in. Eers knibbel hy aan jou hakke – jy voel effens huilerig. Dan begin hy jou hier en daar pootjie – jy raak bakleierig met die supermark se kassiere. Dan, oornag, spring hy jou om en staan met sy pote op jou bors, grommend – jy is vas, jy het verloor. Alles is donker en jy is moeg.

Soms daag hierdie trio gelyktydig by jou adres op. Op sulke dae is daar chaos in die sterre. Jy verloor sein.

Om suksesvol oorlog te voer moet jy jou vyand ken en jy moet gewapen wees. As jy hierdie trio doer in die straat op pad na jou toe sien aankom, moet jy ’n plan hê. Leer jouself ken en neem aksie as jy depressief begin raak.  Jy moet jou eie gemoedsfluisteraar word, soos daai ou van die TV-program The Dog Whisperer.

    • Gee uiting aan jou emosies deur byvoorbeeld te huil.
    • Distansieer jouself van die situasie, dink logies daaroor en soek ’n praktiese oplossing.
    • Skryf op jou spieël: “This too shall pass.”
    • Onthou almal het probleme en iets wat krap, al lyk dit nie so nie.
    • Soek vriende en geliefdes op. Praat met iemand, huil saam, lag saam, maak saam planne.
    • Raak betrokke by welsynsaksies in jou gemeenskap.
    • Gee tyd – soms maak tyd dinge beter.
    • Luister na musiek, baie mense vind dit helend.
    • Doen oefeninge, want dit stel goedvoel-hormone vry en laat jou beter voel omdat jy iets goeds vir jouself doen.
    • Eet gebalanseerd. Tekorte aan sekere voedingstowwe speel ’n rol in chemiese prosesse in jou liggaam wat jou gemoed kan beïnvloed.
    • Slaap vernuwe die liggaam en gemoed. Kry genoeg daarvan.

Soms raak die donker egter té donker en dan moet jy professionele hulp en medikasie kry. Doen dit. Wees goed vir jouself sodat jy vir ander goed kan wees. Depressie is ’n siekte, kry hulp. Mense wat lyk asof hulle alles onder beheer het, is dikwels ook op medikasie.

Die 10de September is Wêrelddag vir die voorkoming van selfmoord. Volgens Marthé Viljoen van die Suid-Afrikaanse Federasie van Geestesgesondheid is daar ongeveer 8 000 selfmoordgevalle per jaar in ons land. Kom ons probeer die pyn van selfmoord verhoed. Werk sagkens met jou eie gemoed en verleen hulp aan dié wat dit nodig het.

Klop hier aan vir hulp:

  • Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep – 0800 567 567
  • Lifeline – 0861 322 322
  • Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid – www.safmn.org.za
  • Kry ook hulp by jou dokter en kerk.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Gesondheid, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Polaris ·

Dankie Annelize, waardevolle artikel. Wil net noem dat die SA depressie en angsgroep net wil help indien jy medies het. Lifeline het voorgestel ek gaan sien ʼn dokter. Pille werk ongelukkig nie vir my nie. Ek het lankal opgegee met die kerk, hulle is ook maar net mense. Ek het die SAFMN nog nie probeer nie, sal hul in gedagte hou.

Annelize Jansen Van Rensburg ·

Liewe Polaris.

Jammer oor daardie tikfoutjie – haastige vingers! Het jy toe reggekom? Kan hulle jou help? Ek verstaan jou gevoel oor die kerke. Ek wil jou tog vra om weer ‘n kerk te skakel en te vra vir die nommers van maatskaplike werksters in jou omgewing. ‘n Maatskaplike werker kan vir jou sê of daar ander ondersteuningsdienste in julle dorp is. Klop ook aan by Famsa.

Daar is deesdae soveel nuwe medikasie met min of geen newe-effekte, wil jy nie maar weer probeer nie? Dis tog waaroor die lewe gaan, om aan te hou probeer. Dalk kan die maatskaplike werkster jou help om dit by ‘n staatshospitaal te kry.

Indien daar nie ‘n ondersteuningsgroep vir depressielyers in jou dorp is nie, wil ek voorstel dat jy sommer self een begin. Plaas ‘n advertensie in die plaaslike koerant se snuffelgids. Dis gewoonlik nie te duur nie. Daar is dalk ander wat dieselfde behoefte as jy het en wat vir jou ook van hulp kan wees. Dit gaan jou besig hou en ‘n doel gee om na toe te werk. Ons almal wil graag een of ander doel in die lewe hê. Later kan julle dalk selfs ‘n sielkundige nooi om by julle ‘n praatjie te kom hou. Jou nuwe maters het dalk planne en oplossings vir jou in jou stryd met die medikasie of om iemand te kry wat jou kan help sonder om te veel geld te vra.

Ek weet nie of jy werk nie, maar dis dalk ‘n goeie idee om by organisasies betrokke te raak wat byvoorbeeld hulp aan behoeftiges verskaf. Al lewer jy net kospakkies af, of sorteer klere uit. Om goed te doen aan ander laat mens ook beter voel. Ek het op ‘n stadium by ‘n skool vir gestremdes gehelp. Ek is nie ‘n onderwyseres nie, ek het sommer maar net die juffrou gehelp en hier en daar ‘n kind se gebreklike handjie gehelp om ‘n letter te vorm… Elke keer wat ek daar uitgestap het, was ek ‘n nuwe mens.

Dan moet mens ook maar soms vrede maak met jou omstandighede en die beste daarvan probeer maak. Soos daai sêding lui: “Blom waar jy geplant is.” Ek weet egter dat dit nie so maklik is vir mense wat aan ware depressie lui nie. Depressie is ‘n siekte. Hulle moet professionele hulp kry.

Dis ook waar wat John sê. ‘n Gebalanseerde dieet met die regte aanvullings is baie belangrik.

Polaris, om saam te vat, hou aan in jou soektog na hulp, kontak ‘n maatskaplike werkster, oorweeg ‘n beradingsgroepie en dink weer oor medikasie. Iewers moet daar iets wees wat vir jou werk en iemand wat jou kan help.

Baie sterkte. Laat gerus weer van jou hoor.
Annelize

John ·

Spreek gerus ‘n intenis. Outoimmuunsiektes gedy met kenmerke soos oa bloedarmoede, vit12-tekort, graan-allergie, rumatiek, diabetes en depressie. Dis nou mode om eerste na antidepressante te gryp wat die probleem eerder vererger ipv om die basiese oorsaak aan te spreek. Die oorsaak van die probleem le dalk eerder in jou maag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.