Sleutelbord-krygers op sosiale media maak haar mal

facebook

Foto: Geralt/Pixabay.com

Deur SkarrelKind (O gits! Nie nog ʼn skuilnaam nie!)

Oor die afgelope maand of so was dit vir my opvallend hoe sosiale media werklik ons lewens beïnvloed.

En dan dink ek: hóé op dees aarde kom mense weg met die dinge wat hulle aanvang?

In my omgewing byvoorbeeld, het iemand ʼn moewiese tirade ontketen oor hulle hul hond die dag na sy besoek aan ʼn hondesalon moes laat uitsit.

O my genugtig!

Die hele dorp het die salon beswadder en gesweer hulle sou summier dagvaar.

Die hond se veeartsverslag, het egter aangedui die hond was baie siek en die veearts het reeds vroeër die jaar aanbeveel dat hy uitgesit word omdat hy gedurig in pyn was en dus ook baie aggressief.

Hy het probeer om die werknemers wat hom moes was en skeer te byt en daarom was daar ʼn stukkende plek aan sy neus.

Die salon was dus net skuldig aan swak kommunikasie en het nie onmidellik gereageer nie, maar dit maak hulle, na my mening, nié nalatig nie.

Nou vra ek met trane in my oë: hoe kan enige regdenkende mens reguit Facebook toe hardloop en nalaat om te sê die hond wasreeds lank siek?

Dagvaar die hond se eienaars sê ek.  Of is ek verkeerd?

Dis amper asof niemand meer self ʼn probleem kan oplos nie.  Reguit Facebook toe. “My man het my verneuk!” Tien “emoticons” later. “Ek is nou so boos!” Vier bloedrooi gesiggies agterna.

Ouens, klaar dit uit met jou eggenoot, vriendin, die supermark, die haarkapper. Dis na my mening nié nodig om mens se persoonlike lewe op sosiale media uit te blaker nie. Sommige goed is mos privaat (wel, vir sommige mense). En ander dinge kan veel beter opgelos word met ʼn persoonlike tweerigting gesprek.

Die ander ding is hoe mense spog op Facebook. As ek nog net een perfekte gebraaide steak of duur bottel rooiwyn sien, gaan ek huil. Ons dink almal ons braai die beste tjoppie, het ongekende smaak in wyn en ons kinders is nét die nommer met ʼn goue medalje in verspring.  Om dit heeldag en aldag te verkondig?  Ek weet da’m nie.

Nog ʼn verskynsel is “keyboard cowboys”. Lekker snoesig agter jou skerm, met ʼn drinkdingetjie, veilig agter ʼn skuilnaam en haal almal uit wat ʼn opinie het.

Respek, maniere of geduld is glad nie meer aan die order van die dag nie. Ons sien dit ook soms op die nuuskommentaar hier op Maroela.

ʼn Kind word byvoorbeeld doodgery op die N1 en mense vra wat soek ʼn kind op ʼn hoofpad.  Goed en wel, maar iemand se kind is DOOD.

Ek wonder of daardie mens net so ombeskof sou gewees het as die ander mens reg voor hom/haar gestaan het? Sommige seker ja, maar ander is net “helde” en deel net slae uit as hulle agter hul skerms sit.

Ek is terug by my vraag:  Waarom wend mense hulle tydig en ontydig en soms totaal onnodig tot sosiale media?

Na my mening het sosiale media voor- en nadele, maar as mens dit op ʼn skaal sou sit, wat sou swaarder weeg?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

JC ·

Baie, baie oulike artikel.
Dankie daarvoor, ek waardeer. Ek verstaan ook nie die” sosiale media” ding nie, dit laat elke ongekwalifiseerde persoon toe om sy meestal onwelkome (en ook meestal gekwalifiseerde) opinie te lug na aanleiding van een of ander belediging of kwets wat ontvang is en dan raak daardie persone die naarste goed denkbaar kwyt! In my opinie is dit ‘n “siek” spul.
Het nog nooit enigiets te doene gehad met hierdie FACEBOOK of twitter stories nie, dankie TOG!!
#FACEBOOK en/of TWITTER MUST FALL!hehe

SkarrelKind ·

Dan is dit nie net ek nie Mauritz! (SUG van verligting)

Ronell ·

En nou…? Geen kommentaar! Jy is reg party van ons duik die punt van die berig heeltemal mis.

Denise ·

Hoekom wil jy iets se wat jy doen of wat gebeur het dit klink vir my na vervelige mense wat T veel tyd het vir sulke snert ek stel nou regtig nie belang in die soort tjol nie !!!!! Gelukkig het ek nie so iets nie my tyd is te kosbaar!!!

Jordaan ·

Hoor-hoor! Ek raak sommer vies vir al die gekla – en die arme mense wat beswadder word, word geen kans gegun om hul kant te probeer stel nie. Mense het nie meer die moed om direk by die bron van hulle probleem te gaan kla nie. Die bure se hond blaf – kla op facebook, iemand sny jou af in die verkeer, kla op facebook en sit sommer ‘n foto van die oortreder ook by, ens, ens.

Henry ·

Wonder hoeveel siele hul ‘wyshede’ en ‘tragedies’ aan die wye wêreld sal bekendstel, indien daar nie ander siele is wat dit knaend lees nie.

SkarrelKiind ·

Ek dink part mense geniet ander mense se drama, die dat hulle bly lees, amper soos die “soapies”?

Christie ·

Ja en dan is daar weer diegene wat skryf oor wat ander mense skryf. Bottom feeders.

douw ·

Om iets op sosiale media te plaas, is maar dieselfde as om op `n straathoek te staan en uit te skreeu: “ek is nou so kwaad, my man het my verneuk…” ens ens

Denise ·

Douw dit is nes jy daar se en dit sal pateties wees hoekom wil jy he almal moet weet van jou persoonlike lewe!!!

SkarrelKind ·

Dankie vir die kommentaar julle almal. Dink julle sosiale media lewer postitiewe bydraes?

liefie ·

Ek is mal daaroor om almal se kommentaar aan die einde van ‘n berig te lees: soms wil ek my doodlag, ander kere skud ek maar net my kop. Die kommentaar hierbo is egter almal redelik vervelig.
Om te verduidelik waarom mense sommige goed op hul facebookblaaie skryf: Dit is ‘n uitlaatklep, nie almal kan meer by ‘n vriendin gaan tee drink en alles van die hart af kry nie. Ongelukkig word die facebookding effens verkeerd bestuur – daar behoort ‘n deel te wees wat heel privaat is en net vir jou eie ‘blogging’ (dagboek)-doeleindes gebruik te word.
anyway…

Knersus D ·

Dit gaan my verstand te bowe dat sleutel-bord ridders soveel tyd spandeer of Facebook, Twitter esm. Dan die alewige nikseggende fotos – soveel vaal mensies wat probeer die held en BBP te wees. Dan gebeur ‘n voorval soos die Hokkie-Tannie – enigste oplewing in die vaal mensies se andersins vaal lewe, en dis sensasie!

Ek het ‘n lewe – ek stel nie belang in wie besig is om wat te doen nie en nog allermins mense wat emosionele self-inflicted skete en pyne ervaar nie.

Goeie artikel Skarrelkind!

SkarrelKind ·

liefie, in ‘n mate verstaan ek wat jy met die uitlaatklep gedagte bedoel. En dis elke mens se saak hoe hy/sy Facebook gebruik, maar jitte, om al mens se vuilwasgoed (omdat mens dalk nie ‘n vriendin het nie) willlend en wetend in die openbaar te was, vlieg nie vir my nie. Dalk is ek outyds. Dan whatsapp mens en sê “my hart is seer, ek wil praat”. Ek ek is ‘n lid van LifeLine, mens bly anoniem en kan lekker en verniet praat vir die koste van ‘n plaaslike oproep. Met iemand wat luister en verstaan. Veel meer produktief ny my mening.

Kowa ·

Skarrelkind, die ergste vir my is dat die mense so erg reageer op seker goed en wens hulle kan die sondebok bykom en die vreeslikste goed aan die persoon doen. Besef hulle dat hulle die persoon veroordeel oor sy daad maar dan wil hulle iets erger aan die persoon doen. Wat maak dit hulle, beter mense? Ek dink nie so nie. Dit sê vir my dat hulleself nie ‘n veel beter karakter het as die persoon op wie hulle so wraak wil neem nie. Ek is ook tot satwordens toe moeg vir al die geweld, veral teenoor kinders, diere, ou mense, ENIGE lewende wese. Maar dit gee my nie die reg om die “skuldige” dood te wil martel nie.

SkarrelKind ·

In die kol opsomming van jou kant Knersus D.

Daai “quotes” wat 7 keer op ‘n slag op Facebook verskyn. Grrr! Maar dan blaai ek vinnig deur Facebook om te sien wat geliefdes op ander plekke doen, want ek mis hulle.

Dankie vir opbouende kommentaar.

Dillon ·

Voel ook so Knersus… My suster het swanger geraak teen alle verwagting in en sy wou dit geheim hou tot na die eerste trimester. Die groot-ouer pare is ingelig en gevra om dit stil te hou omrede daar werks-implikasies kon wees, indien haar kollegas dit voor die finansieele jaar-eind sou uitvind. Haar man se moeder kon dit nie vir haar self hou nie en toe vind die hele Facebook dit uit en onder andere is van haar kollegas facebook vriende. Toe haar (ons) pa haar Facebook protokol kritiseer met die advies dat sy tydelik haar Facebook sluit, was die vet in die vuur en om ‘n laaaaaang storie kort te hou, word die arme man nou alle familie aangeleenthede belet. **SUG**

Connie ·

Is amazing waarmee mense voor ‘n dag kom om gevrietboek. Ek dink dis mense wat nie ‘n lewe het nie. Dit deel hulle persoonlike lewe met almal.

SkarrelKind ·

Kowa, Connie. Ek stem saam. Met julle albei se mening. Mense oordeel gou maar gaan soos besetenes te kere op sosiale media. Mis die punt heeltemal. Ek dink hulle is nie altyd skerp nie, en doen dit sonder om te dink of te besef dat hulle dit doen. Wat juis vir my kommerwekkend is. Waarheen is ons as ‘n beskawing oppad?!

En “gevrietboek” is funny LOL. Soos “gevriet koep” hier in die Kaap.

Dankie vir julle insette.

anyway ·

Mense, kry tog net jul ‘private settings’ op ‘facebook’ reg, dan hoef die hele wereld nie jul privaat goed te lees nie. Asof ek weet, ek gebruik nie eens faceboek nie, so weet gelukkig nie watter nonsens die mense kwytraak nie.

SkarrelKind ·

anyway, ek weet ook nie mooi hoe die “Settings” werk nie, maar “setting”s of te nie, bel iemand of Whatsapp sommige goed eerder as om ‘n bom te los op sosiale media. Dit gaan oor meer as “settings”, eerder ‘n mentaliteit wat effe vreemd is, wel vir my. En Annnette, iemand anders het dit ook genoem, kat aan die oor beet maar oordeel en sien geen balk in eie oog nie. Vreemd.

Annette ·

Wat my die meeste grief is dié mense wat ander mense so gruwelik kan veroordeel! Hulle hoor n klok lui, en weet nie mooi waar die bel hang nie….maar hulle oordeel! In Spreuke staan daar vryvertaal :Al is jy dom en bly stil – kan jy nog as intelligent geklassifiseer word. Maar as jy jou mond oopmaak oor dinge waarvan jy nie behoorlik kennis dra nie, wéét almal jy is nie die skerpste potlood in die pakkie nie en sien jou aan vir ‘n dwaas. Ek haat dit as mense ander mense goedsmoeds en kru veroordeel – so asof hulle self hoogheilig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.