Só kry filmstudente se Afrikaanse rolprent vlerke

Foto: Verskaf.

ʼn Groep finalejaarstudente in film en televisie van die CityVarsity-kampus in Kaapstad, het die inisiatief geneem om as deel van hulle finalejaarprojek ʼn 25-minute Afrikaanse kortfilm te vervaardig. Anlia Nefdt die meesterbrein agter die konsep van die film vertel meer oor die maak van die verwesenliking van dié droom:

Die week van die 26ste Augustus was ʼn opwindende week vir ons as die Maanlig Media-span. Ons het uiteindelik begin skiet aan die studenterolprent Terugkeer van ʼn soldaat. Ná meer as ses maande se beplanning, e-posse en ontmoetings het die produksie wat ons so graag wou maak, begin lewe kry op kamera.

Dit was uitdagend om lewe te gee aan die verwerking van Dolf van Niekerk se klassieke verhaal. Deur uitstekende spanwerk, passie, hardkoppige energie en ʼn biedjie hulp van buite, het hierdie rolprent sy eie energie gekry.

“Ek is glad nie bekend met die wêreld van studenterolprente nie,” sê Pascual Wakefield toe hy die eerste dag aanmeld om die hoofkarakter, Carolus, te vertolk. Die span het hom wel vinnig gemaklik gemaak op die stel, ʼn volgesig-grimering aangeplak en hom stokstyf laat staan in die koue Matjiesfontein (hy speel mos ʼn spook). Rika Sennet het ook sommer vinnig ingeval by die span en was altyd reg vir aksie, al was die studente nie altyd nie.

Dit was ʼn lang, koue week en partykeer het dinge verkeerd geloop. Matjiesfontein is seker een van die dorpe in die Klein Karoo met die vreemdste klanke: Treine wat rem, die gebrom van motorfietsenjins en ʼn laataandpartytjie in die dorp maak dinge maar moeilik as mens ʼn geloofwaardige 1948 op kamera wil vasvang. Lea Vivier en Sam Marais was so professioneel om deur die onbeplande byklanke te speel en dit te ignoreer, maar die arme klankspan was maar redelik omgekrap.

Matjiesfontein is mos ook bekend vir sy spoke… Die produksiespan sal altyd die laataande op Matjiesfontein onthou aangesien almal bang was om deur die dorp terug te loop na hul kamers toe. So nou en dan was daar ʼn suspisieuse kraak of voetstap en dan word almal stil om te luister. Dinge het wel so biedjie rof geraak wanneer daar ʼn “regte spook” rondgedwaal het… Daar was verskeie oomblikke toe die produksiespan so bietjie geskrik het vir Carolus as hy net uit die bloute uit opdaag of kamer toe stap.

Daar was ook natuurlik oomblikke op die stel wat net gewerk het, soos die Bloutrein wat net aangekom het op die regte tyd sodat ons ʼn lieflike skoot kon kry van hoe die trein verby die stasie jaag. Of die spesiale oomblik toe klein Monique De Villiers, wat Charlot vertolk, haar spookpappa weer sien gesond word. Daardie oomblikke waar alles net werk, is die oomblikke wat dit vir die rolprentmakers die moeite werd maak.

Maanlig Media het hard gewerk om hierdie wonderlike storie lewe te gee, maar dit was nie net die storie wat lewe gekry het nie. Te danke aan al die professionele hulp van akteurs, mentors en donateurs, soos die Virseker Trust, kon ons elke liewe student wat deel was van die produksie, beïnvloed om ʼn beter rolprentmaker te wees.

Enige student wat rolprente maak, sal weet dat Pascual reg was toe hy verwys het na studenterolprente as ʼn heel ander wêreld. Dinge is nie so anders as op ʼn professionele stel nie – ons werk dalk biedjie stadiger, maak meer grappies en druk dalk so bietjie meer grense – maar die groot verskil tussen ʼn studentestel en ʼn professionele stel is die familiekultuur.

Daar is ʼn geborgenheid op ʼn studentestel, want almal ken mekaar en maak al vir ʼn wyle rolprente saam. Daar is ʼn samehorigheid op so ʼn stel, want almal het dieselfde passie en doel. Dit is veilig om te sê dat die herinneringe van ʼn studenterolprent altyd by ʼn mens bly. Maanlig Media was ongelooflik bevoorreg om hierdie wonderlike produksie te kon vervaardig. Ons begroting was astronomies en ons verwagtinge groot, maar deur harde werk en moedhou het ons dinge geskep wat nooit vernietig sal kan word nie: ʼn stukkie studentekuns, herinneringe en ʼn familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.