Só raak oorlog in Oekraïne ook plaaslike verkiesing in Nederland

Nederlandse vlag. (Foto: analogicus/Pixabay)

Solet Scheeres van Nederland skryf:

Oor ’n bietjie meer as ’n week is dit munisipale verkiesings in Nederland, of soos dit hier bekend staan, “gemeenteraadsverkiezing”, en in die onlangse geskiedenis was dit nog nooit só onduidelik om te weet waarvoor en vir wie ’n mens moet stem nie.

Die verkose landspartye het te midde van die laaste koronavirusgolf, ná byna ’n jaar lange gesukkel, uiteindelik daarin geslaag om ’n koalisie te vorm. Op 10 Januarie 2022 het ons nuwe regering aan die werk gespring. Uiteindelik kon hulle blink planne smee om die land uit die ellende van die virus se nalatenskap te red.

Grootse begrotings vir onder meer skole, sakeondernemings en hospitale is beloof en die verskillende partye se munisipale verteenwoordigers is voorberei om met die beloftes deel te neem aan die munisipale verkiesings. En toe gebeur die oorlog en skielik is almal se planne deurmekaar.

Dat daar die een of ander tyd weer ’n botsing tussen Rusland en die Weste oor Oekraïne sou plaasvind, was vir niemand ’n verrassing nie. Ná die vorige konfrontasie in 2014 was daar baie Nederlandse kenners wat hieroor gewaarsku het, maar dat dit juis nou, aan die stertkant van ’n pandemie, sou gebeur en dan op só ’n brutale manier, was vir almal ’n groot skok.

Nederland is van oudsher nie ’n groot militêre mag nie. Die afgelope 20 jaar het hulle veral saam met troepe van die Verenigde Nasies (VN) uit ander lande ver van die huis af gaan veg – of beskerming gebied (hoe ’n mens dit dan ook wil noem). Nou is die bedreiging baie nader aan die huis en begin almal wonder hoe dit met ons wapens en gevegsgereedheid gesteld is.

Veral sedert Duitsland ook aangekondig het dat hulle hul weer gaan bewapen. Skielik is die skole, sakeondernemings en hospitale se lot nie meer so erg nie. Ons minister-president, Mark Rutte, het ook reeds gewaarsku dat die prys vir vryheid en vrede waarskynlik baie duurder gaan wees as wat ons dink, maar dat ons dit met graagte sal betaal.

Solet Scheeres. (Foto: Verskaf)

Ons hou ons harte vas om te sien hoe kleinhandelaars en oorbelaste hospitale en skole staande gaan bly sonder verdere finansiële hulp. En in ’n mens se agterkop onthou jy dat alle mans jonger as 60 jaar en alle meisies wat sedert 2020 mondig geword het, opgeroep kan word vir diensplig. Die Rijksoverheid verseker die burgers egter dat hulle nog glad nie van plan is om dit te doen nie.

Die grootste vrees gaan natuurlik oor gas. Nederland is nie honderd persent afhanklik van Russiese gas nie, maar afhanklik genoeg om te weet dat die gaspryse deur die dak gaan skiet met alle gevolge van diens. Hier by ons op die plein het die meeste huise intussen ses tot 12 sonpanele op die dak en heelwat mense ry met elektriese motors, maar die verbouing van byna al ons groente en tuinplante, die verhitting in openbare geboue en soveel ander sektore is nog steeds afhanklik van gas.

Nadat die grootste deel van die gaswinning in Groningen gestaak is weens aardbewings, wonder ’n mens wat in die toekoms gaan gebeur. Ons het intussen ’n kwotasie gekry vir ’n hittepomp om ’n einde aan ons gasgebruik te probeer maak.

In tye van nood is Nederlanders se harte en beursies wyd oop. Nederlanders beskou hulleself as uiters bevoorreg en gee glad nie om om geld en goedere te skenk nie. Daar is ook baie mense wat hulle huise oopstel vir vlugtelinge. Ons plein-app zoem nou al dae lank van mense wat grootmaatprodukte inkoop en dit dan by ’n sentrale insamelingspunt op ons dorp inlewer. Die inkope wissel van weggooidoeke tot tandeborsels. Op die televisie word daar met ’n Nederlander by ’n vlugtelingekamp in Pole gepraat. Sy vra dat ’n mens eerder geld moet skenk, want dit raak al hoe moeiliker om goedere by die mense te kry.

Ons skenk geld via “giro555”. Die geld wat so ingesamel word, word onder 11 samewerkende hulporganisasies, wat die Rooikruis en Kerk-in-actie insluit, verdeel. Vandag het Nederland al sowat €60 miljoen só ingesamel.

Oral in die land by kerke word daar spesiale gebedsdienste gehou, teatermakers bied deurnag konserte aan en in die klaskamers praat onderwysers met kinders oor moontlike scenario’s. En tog is die land en ons onmiddellike omgewing kalm en dit wat die Nederlanders “nuchter” noem. Hier heers nog glad nie paniek nie. Intussen is daar ’n ligte styging in ons positiewe koronavirustoetse.

Gelukkig bly die hospitaalopnames klein. En so lees ek in my plaaslike “krant”, Russiese wodka het wonderbaarlik van die meeste winkelrakke verdwyn.

  • Solet Scheeres woon al 18 jaar in die suide van Nederland, in die dorp Drunen. Sy is ʼn Engels‑onderwyseres by die plaaslike hoërskool, d’Oultremont College, en die res van haar tyd gebruik sy om Afrikaanse kinderboeke te skryf.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Nederland is ‘n wonderlike land!! Ek kan dit met oorgawe beaam want ek bly self hier.

Andrew ·

Die prys van vryheid word deur die weste in monitêre waarde gemeet, en daarom is die plekke in elkgeval gedoem as iemand dit sou inval want iemand anders moet kom help. Hulle oplossing is om weer die welsyn staat se geld te vat en in weermag en wapens te druk (“so much for ending wars”).
Europa se oplossing na die probleem, die koste van vryheid gaan jou sak raak. Trump wou gehad het Europa moet meer bydrae vir NATO, so nou ja toe, was hy nie allerhande goed genoem toe hy dit voorstel nie?

Maar nou ja, welkom nog n paar miljoen migrante van daai wonderlike mense van die midde ooste in Europa in, hou aan om onskuldige mense te dwing om entings te vat, daar gaan nog ndie prys van geen vryheid betaal word. Wonder net by wie gaan die weste al die geld leen om vir almal te paai en nog n nuwe weermag te bou.

Treurwilger ·

Altyd lekker om sulke vars nuus uit ander lande te lees.
Dankie, Solet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.