Só vreet die wolwe jou op

wolf

Foto: Pinterest.com

Anoniem van Centurion skryf:

In 1838 sterf die Voortrekkerleier Piet Uys en sy seun Dirkie tydens die Slag van Italeni in ʼn hinderlaag nadat hul deur ʼn Zoeloe-regiment omsingel en gewond is. Volgens oorlewering het die dapper tienerseun sy pa ridderlik te hulp gesnel nadat hy van sy perd afgeval het; hy wond drie impi’s noodlottig wat die aanval tydelik stuit, maar sterf kort daarna ʼn heldedood.

Vandag wil ek egter die aanslag op ʼn ander Dirkie Uys, naamlik Afrikaanse moedertaalonderrig, betreur. Om dit te doen wil ek die fokus kortliks na ʼn laerskool hiér in die hartjie van Engelse Norwood in Johannesburg, Orchards Primary School, verskuif.

Meng jou met die semels

Die Norwoodse Afrikaanse Medium Skool is in 1928 in die lewe geroep toe ʼn handjievol Afrikaanse leerlinge van die nabygeleë buurskool, Norwood Primary School, oorgeloop het. In 1993, 65 jaar later, is die skool herdoop tot Laerskool Dirkie Uys en so het die skool geheet tot in 2000. Sedertdien staan die skool bekend as Orchards Primary School.

In in ʼn berig wat op 23 Oktober 1997 in Beeld onder die titel “Taalharmonie hier al singende geleer, Afrikaans wen by dié skool” verskyn het, vertel die oud-skoolhoof Christo Lodder jubelend hoe hulle die skool van ʼn uitsluitlik Afrikaanse skool na ʼn parallelmedium (Afrikaans en Engelse) skool verander het, en hoe “hy op dié manier ʼn nuwe geslag kinders grootmaak wat respek het vir sy taal”. Ek verstik vir die tweede keer aan my kosher koeksister. Hoes!

Kul jou hier, kul jou daar

Anders as wat die berig se titel lui, het Afrikaans toe die onderspit gedelf. ʼn Skamele drie jaar nadat Lodder ekstaties vertel oor hoe ouers al ha-la-la-lende “Viva Dirkie Uys Viva!” juig tydens ʼn ouervergadering, bly die einste skoolnaam in die slag (van #AfrikaansMustFall). Die tere ironie is egter dat dié skool vandag wéér in enkelmedium verkeer: in Engels.

Lodder sê verder dat “hy wel gewonder het of mense nie gaan dink dat hy ʼn “boereverraaier” is toe hy die deure van die skool as’ t ware oopgegooi het vir leerlinge wat hul onderrig in Engels verkies nie”.

Vandag hoef mnr. Lodder en sy personeel egter nie meer hieroor te wonder nie. Die antwoord is ʼn oorverdowende-tektoniese-plaat-verskuiwende-oerknal-dreunende “ja!”, in die oortreffende trap. Die skool se mistasting dat die leerlinge en hul ouers Afrikaans respekteer het was blote oëverblindery en die skool se toewyding en kwansuise pogings “om dit te laat werk” het skouspelagtig misluk, danksy hul stomme kinderlike naïwiteit.

Op navraag of die verengelsing nie te make gehad het met Afrikaanse ouers wat nie wou gehad het dat hul kinders saam met anderskleuriges moes skoolgaan nie, antwoord die huidige hoof, mnr. Van Vuuren: “Glad nie.” Dis mos gerieflikheidshalwe die eerste halm waarna hulpeloos gegryp word as hierdie debat te sprake kom.

My kind, waarom is jou tande dan so skerp?

Ek is self ʼn produk van die dubbelmediumonderrigstelsel en is ʼn voorstaander daarvan, mits dit nie as Trojaanse perd voorgehou word om Afrikaans as onderrigtaal te vermink nie. Net soos met Laerskool Dirkie Uys van ouds moet ons daarteen waak om nie in ʼn hinderlaag van leë beloftes en halfgebakte waarhede verstrengel te raak en mislei te word nie; veral nie met die taalstryd se strop wat in 2016 al hoe stywer om ons nekke getrek gaan word nie.

Jaar ná jaar word daar toegewings rondom ons instellings se taalbeleid gemaak (neem Stellenbosch Universiteit maar as holruggeryde voorbeeld), net vir die pro-Engelse Trojane om terug te gaan op hul woord en nuwe vereistes te stel – en ons gee goedsmoeds toe, hoe vredeliewend. So takel hulle geleidelik ons gestelle af totdat ons nie meer ʼn voet het om op te staan nie – baklei ons op die agter- en nie die voorvoet nie.

Terugskouend is ons almal wysgere van die hoogste orde. Laat ons dan nie nalaat om uit die verlede se foute te leer en met meer insig en wysheid vorentoe op te tree nie.

Ter afsluiting laat ek die al Dirkies daar buite met die eens bekende woorde van Matrone van 7de Laan-faam (toe dit nog ʼn Afrikaanse sepie genoem kon word): “Dis ons reg, dis ons reg, dis ons reg waarvoor ons veg!”

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

StopTheMadness ·

Goeie stuk Izak. Die belangrikste ding heir is dat ons as ouers van jong kinders moet betrokke raak by die organisering en verkiesing van skool beheerliggame. Dit is die enigste manier hoe ons invloed sal kan uitoefen op besluitneming wat verband hou met ons moedertaal. Die politieke druk gaan in 2016 net vermeerder en ons ouers moet verseker dat hulle onderskeie beheerliggame se taal en Godsdiens standpunte duidelik is, en dat die beheerliggame bereid is om standpunt in te neem daarvoor.

Loeis ·

Dis ‘n baie goeie argument. Voeg daarby dat mens dikvellig moet wees: jy moet bereid wees om polities verkeerd te wees. Toe die Universiteit van Stellenbosch aangekondig het dat Afrikaans nie afgegradeer gaan word nie, het Open Stellenbosch dadelik geskreeu dat dit “anti-transformation” is. Die beste antwoord wat mens hulle kan gee is: “We don’t care!”

Ons taal is ons reg, en dis ons PLIG om daarvoor te veg.

StopTheMadness ·

Ons het niemand se toestemming nodig om ons self te wees nie.

Sarel Strydom ·

Ons kan ure redeneer oor die aanslag op Afrikaans maar volgens my is dit nie net ‘n politieke aanslag wat ons ondervind nie maar ook ‘n kulturele aanslag deur dat engels besig is om weer die land in te neem. Engelsprekendes neem orals oor en ontneem ons Afrikaans sprekendes van ons werksgeleenthede ens. Engelse immigrante kry voorkeur bo gebore afrikaans sprekende Suid-Afrikaner. Die redenasie dat Afrikaans die taal van die verdrukker was dra nie water nie. Daar word geklas oor tyd van Koloniale moonthede. Engels was die Taal van die Koloniale Moondheid en is ‘n taal nie eie aan Afrika nie. Maar die engelse is nog nie klaar met ons nie want hulle kon nie verdra wat die Afrikaner van homself gemaak het en ten spyte van hulle aanslae nog al die tyd oorleef nie.

Pieter.v ·

Dit is so dat daar n aanslag teen Afrikaans is maar die voorstanders van verengelsen weet blykbaar nie of vergeet gerieflikheidshalwe dat engels die taal van die grootste onderdrukker en mense regte skender ooit in die wereld was

Jaco ·

Waarom is NET Afrikaans die taal van die voormalige onderdrukker? En waarom wil hierdie “slagoffers” van díé Afrikaanse onderdrukking so graag alles ééntalig Engels maak? Sover ek weet het Engels op die Britse Eilande ontstaan en is dit oorspronklik deur wit mense gepraat; mense wat net so wit is soos die voormalige Afrikaanse “onderdrukkers” . Dwarsoor die ou British Empire was Engels die taal van die onderdrukker. As daar nie onderdrukking was nie, waarom was daar dan oraloor díé Empire liberation movements, dikwels nogal gewelddadig en waarom bestaan díé dan nie meer vandag nie?

Trots Afrikaans ·

Ek bly in Namibia en was hierdie Desember terug in die Kaap om bietjie by my ma te kuier. Ek was geskok. Daar is amper geen meer Afrikaanse borde of besigheidsname nie. Ons verkoop ons eie taal. Kaapstad is nou Cape Town. Muizenberg, Kalkbaai, Houtbaai, Wynberg, en vele ander name word nou met Engelse uitsprake geuiter, selfs deur Afrikaners….

Alles en almal is nou Plumbers en Electricians en Machanics en services en cooldrinks en roads en shops en hel man, ek het later gewonder of iemand nog suiwer Afrikaans kan praat soos toe ek nog op skool was….

Frans ·

Engels word verniet die taalmoordenaar van tale genoem nie.Kyk maar na Nederlands die taal is deurspek van engelse woorde en uitdrukkings.In Scotland is daar drie amptelike tale
met engels op die voorgrond en is hul regeringsvorm wat bekend is as ‘n ‘constitutional monarchy’ met ‘n ‘first minister’ en nie ‘n ‘Prime Minister’ nie.

VanwaarGehasi ·

Graag verneem ek waar mens van die kosher koeksisters kan kry waaraan die skrywer aan’t verstikke en hoes geraak het sodat ek ook maar dan kan hoes en proes aan ‘n goeie ou soetigheidjie in plaas van ween, steun en kreun oor die bittere aanslag op onse mooie taal….

Dirk Bosman ·

Dirkie Uys skool is nie in 1993 so vernoem nie maar reeds in die vroee 1930

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.