Sterk staan

gebed-in-die-kombuis

Foto: Verskaf.

Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:

Ons wat hier net duskant die hel bly, ag die winter as ‘n groot verligting ná die bloedige hitte van die somer.

Maar kyk, ons het dalk net twee maande winter, Julie en Augustus, maar wanneer dit koud raak in die Boesmanland, raak dit behoorlik koud.

Die koue vou jou behoorlik toe en soms kom lê so klein bietjie van daai koue in jou siel.

Nou, laas week, het ek ‘n bietjie koue in die siel gehad, ek het voortgegaan met my gewone take en my tuisbedryf, maar kort-kort het daardie koue my sommer laat bewe.

In die Boesmanland is jou naaste bure omtrent ‘n halwe dag se rit ver (sak, Sarel…), maar ja, dit is nie net in die voertuig spring en gou inwals vir ‘n koppie boeretroos nie. Dus kon ek nie gou-gou na ‘n vriendin ry en my sorge deel nie. Nodeloos om te sê toe ek teen Vrydag die pad aangedurf om my aflewerings te doen, was my gemoed al diep in die minusse.

Ek het myself natuurlik baie jammer gekry, maar ná ek jare terug ‘n rondreisende smous was, was die 350 km wat ek moes aflê vir die dag ook manna vir my siel. Dit is wanneer ek hardopgesprekke met my Skepper voer en ons soms vassit oor ‘n saak of twee, maar wanneer Hy ook vir my moed en krag gee.

My Kakamas- en Keimoes-stoppe is maar altyd vinnig, want ek moet nog Upington haal voor die winkels sluit. Tyd vir klets en koffie is min! Dit is altyd net ‘n hoe-gaan-dit.

Maar Vrydag was anders, my laaste aflewering in Upington was by ‘n vriendin wat ek net soms in die verbygaan sien. Sy het my ingenooi vir koffie, maar ek kon nie, want ek het nog ‘n magdom draaie gehad om te ry.

Maar… Toe haak ons vas buite by die bakkie, so asof ons móés gesels!

Haar man werk weg, en kom net een keer per maand huis toe, en so begin ons notas uitruil van hoe ons as vroue maar net moet sterk staan, ten spyte van ons omstandighede.

En die aanloop van die gesprek was die opregte vraag: “Hoe gaan dit met jóú?”

Later loop ek die ma van ‘n vriend raak, ek het die tannie blou jare laas gesien. Ons groet en loop eers verby mekaar in die winkel, maar die tannie draai om, en begin gesels asof ons mekaar gister gesien het. Ons vra mekaar uit oor kinders, haar kleinkinders, hoe dit met die oom gaan wat sieklik is. En asof dit so hoort, vra ek die tannie, “Tannie, hoe gaan dit met jóú?”

Sy kry ‘n glimlag en sê: “Die oom se dokters het gesê, ek moet net sterk staan, so dit is wat ek doen!”

En daar tussen die compression socks en bunion-salf verdwyn die koue uit my siel.

Ek het dalk nie iemand gehad wat vir my kon vra: “Hoe gaan dit met jóú?” nie. Maar ek kón iemand anders vra hoe gaan dit met hulle.

Op pad terug ná ‘n lang dag, het ek weer tyd om my gesprek met my Skepper voort te sit. Ek vra eerstens om verskoning oor ek myself vroeër so jammer gekry het, en ons begin praat oor die sterk vroue in die Bybel. Hulle kry dalk nie die erkenning wat hulle toekom nie, maar van hulle het baie prominente rolle gespeel.

Maria Magdalena, Johanna en Maria die ma van Jakobus by die opstanding. Rispa wat by haar seuns se lyke gewaak het vir ‘n hele oestyd. Abigail, die vredemaker. Martha en Maria…

Deur die eeue heen is dit oor en oor bewys: vroue het ‘n innerlike krag wat deel is van hul wese. Mans dra makliker hul hart op hul mou, waar die skoner geslag maar eerder ‘n brawe gesig opsit en sterk staan.

Toe ek op die grondpad afdraai, is my siel aansienlik warmer as die oggend, en ek en oom Steve Hofmeyer sing kliphard saam, Daar’s ‘n vrou wat weet wat aangaan. Agter elke man. Al staan sy daar en die trane loop, saggies oor haar wang. Almal maak tog foute. Saam maak ons ‘n span. Solank as daar ‘n vrou staan. Agter elke man.

Vrou, jy staan dalk sterk vir jou man of jou kinders of jou ouers of iemand na aan jou se part. Maar vra tog die vrouens wat jou pad kruis, opreg, “Hoe gaan dit met jóú?”

Ek het tuisgekom met ‘n vuurwarm siel, maar toe ek die kombuisdeur oopmaak, berispe die gedig teen my kombuismuur my.

charne-kruger

Charné Kruger. Foto: Verskaf.

Gebed in die kombuis

Meester, o, Meester

van my potte en my panne –

Luister as ek saggies fluister:

Ek is g’n heilige nie,

want ek het g’n tyd nie

om mooi dinge te dink en te doen

en te sê en in die skemer te droom nie;

Van bontstaan en raakvat

is ek nat van die sweet,

want my potte en my panne

moet gereed wees as die eters wil eet.

Nee, ek het nie tyd nie,

want ek moet skottelgoed was

en ek vrees

my potte moet skoon, en my

panne geskuur wees.

 

Maar Meester, wyl die potdeksels tril

en die panne sis, wil ek pleit

dat U my omvorm om heilig te wees.

U kan as U wil my mos seën

met Martha se hande

en Maria se wil,

om U selfs hier met my hart en

met my hande te dien.

U sal begryp as ek met ʼn vadoek

en kastrol in die hand, sê:

Daar’s nie tyd nie

om my oë te sluit nie,

of as ek op my knieë

met ʼn skroplap in die hande

by U pleit om krag vir vandag

en vir môre,

want op die duur is dit U en nie ek nie

wat vir my potte en panne,

doeltreffend kan sôre. – W.A. Hickey

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Essa ·

Inspirasie so reg op sy tyd – dankie Charnè. Altyd lekker om van jou leefwyse daar doer in Boemanland te lees; klink soms amper soos ‘n storieboek.

Stephan de S ·

Pragtige artikel…..soos die voriges ook. Net een ding Charnè : jy hoef nie verskoning te vra vir jou swakhede nie. Hy het vrede gemaak daarmee aan die kruis en is vandag juis die Trooster en Bemoediger en Krag deur Sy Gees. Ontvang×1000 is die nuwe testament boodskap. Dink aan julle in die verskriklike droogte.

Mariana ·

So mooi gesê Charnè.
Van Kleins af wil mens net die groot mens lewe betree, … tot jy daar kom, dan wil jy eerder weer op ma en pa se skoot klim en n Klein bondeltjie wees. Vandag se lewe is gejaag na sukses, rykdom en aansien … niks kan jy eendag saamvat nie. Mammas werk 24/7 om almal gelukkig te maak, en moet meeste van Die tyd Met koue boeretroos gelukkig wees.
Nou vra ek jou!!! Hoe gaan dit met jou???

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.