Lesersbrief: Steve Hofmeyr, AIG en Virseker wys die krag van kultuur en kapitaal

afrikaans-is-groot-2018-pretoria-steve-hofmeyr

Steve Hofmeyr sing ‘Die Land’ saam met Jay du Plessis, Ruhan du Toit, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld by Afrikaans is Groot 2018 in Pretoria. Foto: Afrikaans is Groot/Instagram.

André Potgieter skryf:

Ek dink die beriggewing oor Steve Hofmeyr is dikwels net ‘n poging deur die liberale media om hom af te kraak en die effek wat hy op Afrikaners het, negatief te affekteer.

Ek wil dit graag met iemand soos dr. Dirk Herman opneem, want ek was onlangs by Hofmeyr se Country is Groot-konsert in die Time Square in Menlyn. Die teater was volgepak en daar was nie plek vir ’n muis nie, teenoor die Goema-toekenningsaand die vorige wat maar swak bygewoon was.

Ek sal ook eers graag wil weet hoekom Virseker, die Solidariteitsgroep se versekeringsvennoot, so stil-stil aan Afrikaans is Groot onttrek het?

Volgens my kan die ander Afrikaanse sangers bly wees om deel van Hofmeyr se vertonings te wees en glo ek nie vir een oomblik dat hul inkomste daardeur beïnvloed kan word nie. Tensy hulle dalk voel dat Hofmeyr die aandag op homself vestig en só hulle deelname verwater.

Bevestig asseblief vir my wat die regte storie agter Virseker se sogenaamde onttrekking is.

Dr. Dirk Hermann antwoord: Ek antwoord graag op ’n lesersnavraag oor Solidariteit, Virseker en Afrikaans is Groot. Voordat ek dié spesifieke vraag beantwoord, wil ek eers ’n kort agtergrond oor Virseker en Solidariteit gee.

Indien kapitaal en kultuur mekaar vind, kan dit ’n kragtige effek hê. Ná die Eerste Wêreldoorlog en die gepaardgaande rebellie was Afrikaners ekonomies in ’n krisis. Eise en boetes het die rebelle op hul knieë gedwing.

Dié krisis het geboorte gegee aan die Helpmekaarbeweging. Eers klein verenigings in die Vrystaat en daarna entoesiasme met groot veldtogte deur, onder meer, Die Burger.

Die aanvanklike Helpmekaarbeweging het later oorgegaan in ’n gees van help mekaar en ’n kragtige vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Die uitkoms was nuwe instellings soos Avbob, Sanlam, Santam en Volkskas (vandag Absa). Aangepas, om by vandag te pas, volg die Solidariteit Beweging dieselfde historiese wenresep. Een so ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal het geboorte aan Virseker gegee.

Virseker is in ’n kommersiële maatskappy met wins as doel. Die kommissieverdeling wat normaalweg na ’n makelaar sou gaan, vloei nou deur na die gemeenskap. Die afgelope jaar het die Virseker Trust sowat R20 miljoen aan Afrikaanse opleiding bestee. Die groot begunstigdes is Akademia, wat ’n nuwe universiteit bou, die Skoleondersteuningsentrum, wat ’n nuwe skoolstelsel ontwikkel en die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum.

Dié sukses is danksy duisende Virseker-polishouers wat met die betaal van hul polisse help om ’n toekoms te bou.

Virseker het onlangs betrokke geraak by die Virseker Rugbybeker. Hierdie reeks is ’n reusesukses en Virseker het op groot skaal daarby betrokke geraak.

Ongeveer ’n jaar gelede is daar al besluit om groot kultuurborgskappe, soos Afrikaans Is Groot en In Afrikaans te verskuif na skole- en onderwysborgskappe. Alhoewel Virseker steeds betrokke is by kleiner kultuurborgskappe, is die Virseker Trust se fokus op onderwys in Afrikaans.

Virseker se fokus het dus verander en dit kan en moet nie aan die omstredenheid oor Afrikaans is Groot en Steve Hofmeyr verbind word nie.

Virseker se hart klop Afrikaans.

Virseker doen wonderlike werk in die Afrikaanse gemeenskap en het besluit die grootste belegging wat gemaak kan word, is in ons jongmense. Dit is iets waarmee ons by Solidariteit met Virseker eens is.

Ons moet soveel moontlik in jongmense belê; spesifiek kinders. Virseker is ’n mooi storie oor die krag wat kultuur en kapitaal tot die samelewing kan byvoeg wanneer hulle mekaar ontmoet. Met Virseker help ons, polis vir polis, om aan die toekoms te bou.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Suzette Geringer ·

Dr Hermann, ek glo dat julle goeie werk doen, maar oor die Steve aangeleentheid – ek is nie oortuig nie…..

Nie oortuig ·

Ek stem Suzette, ek is glad nie oortuig en ook nie beindruk.
Hoekom staan Solidariteit nie ook op vir STEVE? Net ‘n vraag as dit gaan oor Afrikaans!!
Die hele storie vat kos van Steve se huisgesin se tafel af.
Dit is nie asof Steve sit en niks doen en geld uit die lug val.
So die wat so onttrek is kleingeestig en hits die hele gedoentes aan.
Hoekom word die wat so wit mense afkraak op alle nuuskanale geadverteer.
Maar iemand wat regtig omgee vir ons TAAL AFRIKAANS, word oral afgekeer?

Theo ·

Ek is nie oortuig, van die antwoord nie die tydsberekening is nie reg nie, Steve bly beste sanger in SA en in toekoms sal ons onttrek van alle instansies wat hom booikot. Hulle booikot my kultuur, taal en keuse van spraak ook. So totsiens aan MTN, Sun International, Woolworths en julle maatjies. Immers kan ons keuses maak waar enazn wie ons ons geld spandeer wat beslis hulle uitsluit. Virseker en Toyota julle volgende, baai baai

Deon ·

Solidariteit het te veel vingers in te veel pasteie. Êrens gaan lekker gedeeltes op die grond val. Teen 2030 sal dit bykans onmoontlik om die portefeulje te bestuur. Visies en missies gaan erg verstrengel raak.

Das ·

Dr Herman, help Virseker ook vir Christelik Volkseie Skole en waar moet mens aansoek doen vir hulp?

Piet ·

Goeie skerp vrae en effe ontwykende antwoorde. Maar Vireers voordeel van twyfel.
Dink Steve doen meer vir Solidariteit as anders om maar geoordeel aan hulle bonfides en prestasies – voordeel van twyfe – “for now”.

AR ·

Al wat soos n paal bo water staan. EK sal VERSEKER nie weer n sent na Verseker of Solidariteit toe laat gaan nie .

Theo ·

stem saam, ek groet almal wat negatief teen Afrikaans en afrikaanse kultuur reageer.

Gansie ·

As daar nie ‘n probleem is met Steve se siening nie, hoekom het Virseker nie gewag dat hierdie jaar se AIG afgehandel word nie. Hul kan volgende jaar dan nie deel wees van AIG nie. VIRSEKER probeer iemand ons nonsens vertel.

NIE MEER SO SEKER VAN VIRSEKER ·

Ek is VIRSEKER BESIG OM MY VIRSEKER TE KANSELEER

Dolf ·

Solidariteit sal oor die volgende paar jaar bars om al hul belangegroepe gelukkig te hou. Die eksterne omgewing verander gedurig en nuwe uitdagings kom na vore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.