Lesersbrief: Stilbly is ook ʼn antwoord, totdat…

julius-malema

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Anoniem van Centurion skryf:

In reaksie op Julius Malema se onlangse uitlating dat die tyd nog nie aangebreek het om wit mense uit te moor nie, het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, die volgende te sê gehad: “Malema misgis hom indien hy die selfbeheersing wat minderhede nou weens sy uitlokkende uitsprake toon, as ʼn swakheid beskou.”

Malema se woorde was skaars koud of sy media-span het oudergewoonte vure doodgeslaan deur te sê dat wit mense oorsensitief is, dat ons sy woorde misinterpreteer en dat ons bang is om van ons wit bevoorregting afstand te doen. Die plaaslike weergawe van die Huffington Post het ook nie teleur gestel nie en gepraat oor hoe, toe hulle met hom gesels het, Malema meer versoenend oorgekom het en dat hy homself nie ʼn verenigde Suid-Afrika sonder wit mense kan indink nie.

Woorde wek, maar voorbeelde trek meneer Malema!

Die laaste jaar of twee het ʼn opbloei in die doelbewuste beskadiging van Boere-monumente gesien – enigiets van ontsiering tot afbrandery en -brekery word deesdae as modieus beskou. Dit gaan natuurlik hand aan hand met die groeiende retoriek van swart nasionalisme en uitsprake soos Malema s’n wat sy ondersteuners knaend aanhits. Geweld kan nooit goedgepraat word nie, en dalk is dit oorbodig om te noem dat niemand beter daaraan toe sou wees nie.

Daar ís verskillende maniere om jou misnoeë te kenne te gee – sommige mense verkies haatspraak en geweld, soos jy, Malema, en ander weer meer vreedsame maniere. Persoonlik hou ek van skryf en dig, meer spesifiek om dit te blog. Waarom, mag jy vra. Want die oomblik as ek hierdie inskrywing plaas, sal dit die kuberruim in gestuur word en vir altyd, soos ʼn brief in ʼn bottel op die oop blou see, ronddobber. Daar sal dit altyd te lese wees en mense sal dit lees en weet dat jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.

Nog nie een keer het jy verskoning gevra vir jou “kill the boer, kill the farmer”- uitsprake nie, nog nie een keer het jy die sinnelose verwoesting van Afrikaner-monumente veroordeel nie en nog nie een keer het jy ʼn konstruktiewe gesprek met ons probeer aanknoop nie.

Jy hou daarvan om rond te loop en te smous met die “black child” se seer, maar weet jy wat in die konsentrasiekampe gebeur het? Weet jy van die verkragtings en die glas wat in die boere se kos geplaas is? Weet jy dat meer as 26 000 mense, meestal weerlose vroue en kinders, in daardie kampe dood is – grootliks as gevolg van hongerte en pes? Weet jy van Roberts en Kitchener se verskroeide aarde- beleid en wat dit alles behels het? En weet jy dat die Boere ná afloop van die oorlog dekades lank as tweedeklas burgers gesien is met hul “ox wagon venacular”?

As jy miskien oor ʼn bietjie meer insig beskik het sou jy besef het wat ʼn petrolbom op die Krugerstandeeld vir ons oor jou kastige soeke na versoening sê; wat ʼn EFF-lid se aanhitsing op sosiale media van haar partylede se verminking van Afrikaner-monumente in Uitenhage en Port Elizabeth, in Burgersdorp, in Bloemfontein, in Kaapstad, in Ficksburg, in Krugersdorp en Pretoria vir ons oor jou sogenaamde soeke na vryheid en nasiebou sê.

Moet asseblief nie my selfbeheersing, wat ek weens jou uitlokkende uitsprake en jou ondersteuners se vandalisme toon, as ʼn swakheid beskou nie, want stilbly is ook ʼn antwoord, maar net totdat dit nie meer is nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elsabe ·

Mnr Mentz mag ons hierdie skrywe aan DIE BURGER en al die ander media stuur? Of is dit uitsluitslik vir MAROELA MEDIA bedoel? Kan iemand my uit my onkunde help oor hoe om dit by hom te kry?

John ·

‘n Goeie voorbeeld van ‘post truth’. Mens wonder wat die Egiptenare en Arabiere sou se van Malema se teorie dat Afrika aan die swartmense behoort en dat hulle ook sal moet skoert, of… Ha, ha! As mens nie weet wat jy nie weet nie en nie kan verstaan wat jy nie kan verstaan nie, dan doen jy so en reken soos volg, nl. dat as 3+3 ses is, kan 4+2 of 2×3 nie ook 6 wees nie wat nog van 7-1… en…en. Verbasing en skok volg altyd op verkeerde aannames. Die waarheid het nooit simpatie met diegene wat dit minag nie, selfs nie al is jy ‘n swartmens in Afrika of elders nie.

Swanna ·

Ek stem absoluut saam met hierdie berig. Malema moet oppas.

callie ·

Dankie. Dit is mooi gestel. Die opregte Afrikaner is n trotse nasie. Trots Malema is iets wat jy nie besit nie. Die vernietiging van alles wat na aan die witman is, is die direkte gevolg van jou en ander swart leiers se opswepery en aanhitsing. ASB MM plaas wat ek nou skryf. Die Afrikaner is nie bang vir jou nie. Gaan vra vir die duisende daar buite wat saam met my trots ons diensplig gedoen het. Wat met trots as oorwinnaars uit die gevegsones uitgestap het. Ons weet wat oorlog is, jy nie. Dit is waarom die witman nog probeer om met gesprek te probeer want oorlog sal fataal vir die land wees. Net soos die skrywer dit stel, stilbly is n antwoord net totdat dit nie meer is nie.

Jordaan ·

Ja, die vernietiging en moorde spruit uit die opswepery, en dit weer myns insiens uit ‘n diep minderwaardigheidskompleks en jaloesie op wat bereik is.

Christo ·

Die dag wat jy ons wil aanvat, is die dag wat jy gaan besef watse groot fout jy gemaak het.

Ben Prinsloo ·

Dankie vir skrywers soos jy Izak. Malema jy is besig om goedheid met swakheid te verwar, jy en jou bondgenote. Die witman se geduld is besig om op te raak. Moenie kom huil as jou tjank afgetrap word nie, die witman maak nie staat op getalle nie en skrik ook nie vir getalle nie. Jou en jou gepeupel se tyd raak min.

Therese van Schalkwyk ·

Pragtig verwoord deur die skrywer.

Sou baie graag anoniem se mening wou hoor oor die feit dat soveel Suid-Afrikaners plaas- en stadsmoorde en ander gewelddadige swart op wit aksies beskou as ‘n noodwendige uitvloeisel van die nuwe Suid-Afrika. ‘n Mens hoor en lees dikwels: “Alle Suid-Afrikaners ly onder misdaad en daar mag nie onderskeid gemaak word nie”. So asof die “Ja-stem” destyds die jagseisoen op wittes oop verklaar het. Dit kan mos nie reg wees nie, en mag nooit so aanvaar word nie.

As een groep met ruggraat en selfrespek hierdie onaanvaarbare gedrag teenoor hulself ten sterkste veroordeel, inspireer dit dalk die ander om dieselfde te doen. Maar hoe gemaak met Afrikaners wat net aanpas by die res?

Niccy ·

Christo, Ben jul neem die woorde so reg uit my mond uit! Die boere kan amper nie meer teruggehou word nie

Drikus ·

Anoniem roer ‘n teer punt aan. Vir te lank word Malema se uitlatings afgemaak as blote politieke uitsprake, wat maar met ‘n knippie sout geneem moet word. Die onderliggende haatspraak neig egter om sy ondersteuners op te sweep, en dit nie noodwendig VIR ‘n saak nie, maar TEEN ‘n sekere groep Suid-Afrikaners. Dit is niks anders as drukkoker politiekery, wat kan lei tot ‘n onbeheerbare uitbarsting aan beide kante nie. Anoniem slaan die spyker op sy kop. Ons kan nie bloot net stilbly nie. Daarom ondersteun ek sy wekroep. Mag dit wyd gehoor en met die regte respons ondersteun word, ook deur Kerk S.A. en politici. Ons soek hier ‘n stem wat opgaan om ‘n ware saambestaan vir alle Suid-Afrikaners ‘n werklikheid te maak. Ons is hier. Ons maak ‘n verskil. Ons gaan nie weg nie.

Benito Odendal ·

Julius sal NOOIT verander nie en NIEMAND moet hom OOIT glo nie …Sy hele self skree skelm , verdag , agterbaks en slu….Julius se selfopgelegte minderwaardigheids kompleks is en sal altyd die dryfveer agter sy uitsprake wees want sy haat vir homself verteer alle vorme van ” common sense ” logika ,beskaafdheid, respek en gesonde oordeel…..sy obsessie om beter te wees ( die belaglike kits graad by Unisa)en om vernedering(Blanke mans jul sal jul plek moet ken) ten alle koste na te streef ten einde beter oor homself te voel…..eet hom op !!!!

Martie ·

Dankie vir jou brief.
Kan ons as landgenote nie saamstaan en ‘n land bou om op trots te wees. ‘n Voorbeeld vir die wêreld om te wys dit kan gedoen word.

Chris du Toit ·

Beter as dit kon ek my eie mening self nie verwoord het nie. Ek wil egter net iets byvoeg, naamlik die hele bohaai oor sogenaamde haatspraak in die media en publieke platforms. Elke keer as ‘n blanke enige kommentaar lewer oor publieke wangedrag en korrupsie deur anderskleuriges, word dit onmiddelik gekoppel aan rassisme. Sodra ‘n anderskleurige – soos Malema – dieselfde tipe uitsprake maak – selfs opruiende uitsprake – teenoor ‘n minderheids bevolkingsgroep naamlik blankes, word dit toegesmeer en verdraai. Dit word – soos die geval nou is – afgemaak as die siniese uitkyk van ‘n paar blankes wat bang is hul verloor hul eiendomsreg in die land. En hoe verkeerd is hulle nie! Ons het ‘n geboortereg in hierdie land wat ek met my lewe sal verdedig!

Valie ·

Neem kennis van wat die seuntjie te sê het, hy bedoel dit. Die Afrikaner het ‘n gemeenskaplike opponent nodig en Malema verteenwoordig dit met groot sigbaarheid en hoorbaarheid voor die hele wêreld.

KvS ·

Die Afrikaner kon nog nooit onbepaald verdruk word nie. Malema moenie huil wanneer hy kry wat hy soek nie. Elke moord. Elke verkragting. Elke aanhitsing. Dit alles bou op, Julius!

Merkur ·

Dankie vir die baie mooi lesersbrief. Ook die kommentare laat ´n mens hoop skep.
Miskien moet ons eenvoudig die Afrikaners wat net aanpas by die res en nie meer anders oortuig kan word nie, agterlaat en vergeet. Terwyl ons vorentoe beweeg, wat ek dink reeds gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.