Suid-Afrika benodig patriotte, nie apologete of afbrekers nie

Ernst-van-Zyl-van-AfriForum-het-ook-s

Ernst van Zyl is vir die meeste mense meer bekend as die bekende Twitter-gebruiker Conscious Caracal (@ConCaracal). Foto: Forumnuus.co.za

Ernst van Zyl skryf:

In 1904 het Mark Twain die volgende aantekening in sy notaboek gemaak: “In the beginning of a change the patriot is a scarce man, and brave, and hated and scorned. When his cause succeeds, the timid join him, for then it costs nothing to be a patriot.

In gesprekke rondom braaivleisvure oor provinsiale en kulturele grense heen word die volgende gewilde voorskrif vir die magdom sosiale en ekonomiese kwale van moderne Suid-Afrika gereeld herhaal. Ons land het ’n geweldige behoefte en ’n groot tekort aan goeie leiers wat eerlik en beginselvas kan leiding gee in hierdie moeilike en onseker tye. Mens moet altyd in gedagte hou dat leiers verskillende verskyningsvorme het, afhangende van die vereistes wat deur die konteks van daardie tyd bepaal word. Baie mense klou steeds vas aan die wanopvatting dat leiers eenvoudig verskyn, soos en wanneer benodig wanneer die tyd reg is, soortgelyk aan die bekende tema van ridders op wit perde in mites en legendes. In die regte wêreld leer die geskiedenis ons egter dat elke groot leier ook maar as ‘n doodgewone mens van vlees en bloed in die wêreld gekom het.

Die grootste oorsaak van die hedendaagse skaarsheid aan sulke invloedryke leiersfigure is waarskynlik die hiper-geïndividualiseerde wêreldbeskouing wat baie van ons landgenote deesdae aangeneem het. Talle Suid-Afrikaners sluit hulself vrywillig uit van die samelewing, gemeenskappe en politieke stelsel rondom hulle, en hulle trek dan weer laer agter hoë mure in toenemend geïsoleerde en ontkoppelde borrels van selfvoorsienende veiligheidskomplekse. Suid-Afrika hunker egter in ons nood na leidinggewende individue wat bereid is om te werk en te veg vir ’n saak wat veel groter as hulself en eiebelang is.

Waar is diegene wat bereid is om persoonlike voordeel en behoeftes op te offer om te doen wat reg is vir hul land, hul gemeenskap en hul kinders se toekoms? Ons land benodig meer mense wat bereid is om die bespotting, etikettering, smeerstukke en leuens wat deur hul teenstanders opgedis word, te verdra deur, ten spyte daarvan, op te staan vir die waarheid, eerlikheid, burgerlike pligte en geregtigheid. Suid-Afrika ervaar dus ’n wurgende tekort aan dapper landsburgers wat bereid is om langtermynvolhoubaarheid bo korttermyn- persoonlike bevrediging en -voordeel te stel. ’n Goeie leier sal altyd die belange van sy land voor die belange van sy politieke party stel. ’n Gepaste antieke Griekse spreekwoord lui: “’n Samelewing word groot wanneer sy ou mense bome plant in die skaduwee waarvan hulle nooit self sal sit nie.”

Hierdie onbaatsugtige benadering tot die lewe word roerend geïllustreer in die gewilde Suid-Afrikaanse volksverhaal van Racheltjie de Beer. Terwyl hulle in die veld op soek was na ’n verlore kalf, het ’n ysige storm Racheltjie en haar boetie oorval, wat hulle laat verdwaal het. Namate die erns van die situasie by haar begin insink het, het die jong meisie besluit om ’n groot miershoop uit te hol, waarbinne haar boetie kon pas. Toe die koue vir haar boetie ondraaglik geword het, het Racheltjie in ’n laaste desperate poging van heldhaftigheid al haar eie klere opgeoffer om haar boetie mee te bedek. Ten einde moontlik haar boetie se lewe te red, het sy toe die miershoopopening met haar tingerige klein lyfie, wat aan al die elemente blootgestel is, bedek. Toe die son die volgende oggend opkom en die storm bedaar het, het Racheltjie se pa op die klein bevrore liggaampie van sy dogtertjie afgekom. Onder haar stokstywe lyfie vind hy sy huilende seuntjie wat bevoorreg was om nog te lewe. In plaas daarvan dat albei kinders van die koue verkluim het, het Racheltjie die moed, insig en volwassenheid van gees besit om haar eie lewe gewillig op te offer ten einde die lewe van haar boetie te red.

Dit is binne die vermoë van elke persoon om ’n mens van gesonde karakter met beginselvaste integriteit te wees. Die duur prys wat mens moet betaal om daardie bewonderenswaardige doel te bereik, is egter die rede waarom hierdie potensiaal selde verwesentlik word. Die skrikwekkende koste vir diegene wat dit waag om so te lewe, manifesteer in die onverbiddelike en dikwels bitter persoonlike aanvalle op hulle deur invloedryke figure en instansies sowel as ruggraatlose mense.

Alhoewel baie smag na die erkenning en roem wat ’n dapper leier of held verdien, is baie min bereid om die enorme uitdagings en risiko’s wat daarmee gepaard gaan, soos om in die openbaar vir jou beginsels en vir ’n saak groter as jouself te veg, aan te durf. Die meeste mense wat vir hulself kan dink, bevind dat om teen die grein te dink en die ideë van die heersende Zeitgeist te kritiseer, ’n té gevaarlike pad is om te bewandel. Dit is besaai met die bestaande gesagsorde se waghonde, beeldpoetsers en stormtroepe wat oorgehaal en gereed is om die hande wat hulle voed, tot elke prys te verdedig.

Baie mense is jaloers op die roem en lofprysing wat ware patriotte uiteindelik ontvang, maar in plaas van om in die voetspore van hierdie beginselvaste dapper heldefigure te volg, verkies hulle om eerder terug te staan. Sommige raak so afgunstig dat hulle patriotte verkleineer en selfs so ver gaan soos om hul prestasies en hul karakters aan te val. Hulle kies die maklike uitweg om vanaf die kantlyn te kritiseer en af te breek, eerder as om hul moue op te rol en betrokke te raak by die bouproses.

In die moderne kompeterende lewe word dikwels aangevoer dat goeie leiers ’n beleid mag volg waar ’n goeie doel enige middele regverdig. Daar word doodluiters aanvaar dat sekere euwels eenvoudig geduld moet word om die goeie eindresultaat te bereik wat hulle onder die masker van patriotisme as in die beste belang van die mense beskou.

Aldous Huxley ontbloot hierdie drogredenasie as hy aantoon, “The ends cannot justify the means, for the simple and obvious reason that the means employed determine the nature of the ends produced.”

Die ware patriot moet dubbel en dwars seker maak dat die nou pad wat hom lei na billike uiteindes, geplavei is met regverdige, goed beredeneerde en regmatige middele. Onregte in die hede kan nooit die ongeregtighede van die verlede herstel nie, omdat dit ’n ewige waarheid is dat die hede ’n nare en konstante gewoonte het om altyd in die verlede te verander. So word ’n nuwe geslag benadeeldes geskep.

Hoekom grawe jy ’n nuwe slaggat om ’n ou een mee op te vul?

Laat ons dus nie onsself verloor in idealisme of ons verantwoordelikhede uitkontrakteer deur te wag vir diegene wat slimmer, sterker of beter praat as ons om op te tree en ons probleme vir ons op te los nie. Almal wat al ooit gaan kamp het, het die situasie al beleef waar ’n belangrike iets soos tentpenne vergeet is. Dit lei gewoonlik tot ’n vingerwysende, “Ek het gedink jy gaan dit bring”-bekgeveg.

Kom ons hou eerder op om mekaar of samesweringsmagte van binne of buite te blameer. Kom ons rol eerder ons moue op en maak ons hande vuil deur iets konstruktiefs te doen om die probleme wat ons in die gesig staar, op te los. Ons moet nie net ’n juigkommando wees wat die beginsels van diegene van ons wat die arena betree, loof en prys nie. Elkeen van ons moet hul voorbeeld nadoen deur alles te doen wat ons kan om ons gemeenskappe en ons pragtige land in ’n beter toestand agter te laat as waarin ons dit gevind het. Deur die eeue heen bly ’n fundamentele waarheid duidelik, ’n volk hoef nie getalryk te wees om werklik groot te wees nie.

Grootheid word gemeet aan die vermoë en die dapperheid om groot te dink én te doen.

  • Ernst van Zyl werk vir AfriForum as strategie- en kommunikasiebeampte, is ’n medeaanbieder op die Podlitiek-podsending en is die gasheer van die Stream of Consciousness-onderhoudprogram op YouTube. Ernst van Zyl is oorspronklik van die Wes-Kaapse platteland, maar woon nou in Pretoria. Hy maak gewoonlik plasings op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal (“Bewuste Rooikat”).

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
marco polo

Lang storie en dan se jy ons moet iets konstruktiefs doen. Wat stel jy voor, Ernst? Baie van ons hunker na n volkstaat, maar diegene wat ons gedink het voor loop, het ons versaak. Dan kom die eeue oue Afrikaner probleem (of dalk oplossing). As jy nie tevrede is met die leierskap nie, slaan jy maar jou eie rigting in en doen jou eie ding.

Pieter du plessis

SA moet opgedeel word in onafhanklike state soos in Europa waar elke volk homself regeer met sy eie verkose leiers ekonomie,polisie en wetgewing .

John

Mense, dit is nie 1984 nie ook nie 1994 nie. Toe Afrikaners in die posisie was om ‘n gebied te beding het dieselfde tipe mense soos Agri SA heftig baklei om eerder De Klerk se planne ten uitvoer te bring… en nou doen hulle dit weer. Met wie gaan bogenoemde eie-gebieders onderhandel? En hoekom sal so ‘n smeekbede cum eis toegestaan word. En watter mense sal saam wil gaan koek op ‘n leè nèrens sonder enigiets… of dalk ‘n pienk spaarvarkie. Wil die 3 skepies weer aanland en haai hier is ‘n paar vergete skeepslinge en kom ons vra nog… Lees meer »

John

…. en nou, waar is die res van die kommentare? Uiteindelik gaan hier net ♡♡♡♡♡ toegelaat word. So much vir vryheid van spraak. Hierdie idealistiese dromer se fantoom moet tog net nie ‘n puncture kry nie… Binnekort gaan die ANC alle oppossie-bekke snoer… julle s’n eerste. Die outeur vra juis dat mense in die ope kom en nie individualisties afgesonderd in kassies wegkruip nie en sodra mense hul menings lig… woeps word die kassies deur eie geledere toegespyker. Rassisme teenoor die eie is die volgende stap, soos destyds in Rusland onder kommunisme. Verraai jou naaste en wen… omarm ander kulture… Lees meer »

Farmer Brown

Dom vraag, maar verduidelik asseblief vir wie moet ons Patrioties wees????
Ek neem aan nie vir die ANC regering nie , maar vir die AFRIKANER.
Wat vra jy nou eintlik moet ons doen?
Hier is nie ‘n toekoms vir ons kinders nie , moet hulle asseblief nie veroordeel as hulle nie hier wil bly nie.