Tindler Swindler en Sex in Afrikaans: Is dit nou die liefde?

Nadia Oberholzer van Pretoria skryf:

Nadia Oberholzer

Twee naweke. Dit is hoe lank dit my gevat het om ernstige plankekoors te kry rakende die eindelose soeke na romanse. Die eerste naweek was my kuiertjie saam met Netflix se The Tinder Swindler. Naweek twee was my kuiertjie by Rian van Heerden se Sex in Afrikaans op Showmax.

Die tweede naweek het my byna genoop om Valiums en Valoids soos Smarties te drink aangesien die walgingsvlakke van wat mense aan hulself en met ander doen my meer seesiek gemaak het as die laaste keer toe ons op ʼn rowwe Suid-Afrikaanse see na marlyne gaan soek het.

Dalk was Elvis Presley reg in sy voorspelling dat om verlief te raak vir dwase is. Ek is nie van nature ʼn bang persoon nie, inteendeel, ek glo as ek meer vrees gehad het en minder bravade ek moontlik al baie minder kere in die verlede om verskoning vir wangedrag sou moes vra. Glo my, wat met outoriteit kan sê ek pak die meeste van my lewe vreesloos aan, dat ek na hierdie twee programme sidder en beef.

Wat as jy ʼn waagstuk op romanse plaas, pens en pootjies op ʼn aanlyn ontmoetings-app inspring en jy ontmoet die boertjie-weergawe van Simon Leviev? ʼn Patologiese, professionele vlerksleper wat sy inkomste en sy betaalstaat met onskuldige dames se hulp bestuur. Waar het ek die memo gemis dat dit nie meer die “damsel in distress” is nie, maar nou die prins is wat verwag dat die prinses hom moet kom red? Is ek naïef om te glo dit werk net nie so nie? Ek wil nie drake kalmeer nie, ek wil hê drake moet vir my oorwin word.

Moet ons die ontmoetingswêreld nou ewe skielik soos die All Blacks betree wat eers ʼn oorlogsdans en kreet doen voordat ons lipstiffie aansit?

Ek weet ons leef in ʼn generasie waar feminisme gemotiveer word, maar iewers moet ons generasie tog ʼn grenslyn in plek stel om net te sê: “Genoeg is genoeg.” So, nadat ek die program oor Leviev gekyk het – patologiese, psigopatiese kleptomaan van harte en kredietkaarte – het ek tot die volgende openbaring gekom. Ek sien dit amper as ʼn hanteringsmeganisme. Dalk lê die geheim, die kuns om nie ʼn slagoffer van sulke skemas te word nie, in die krag van ʼn goeie ondersteuningsgroep – om besluite en uitruiltransaksies met vriende te klankbord? Want ons almal weet ons is blind wanneer ons verlief is.

Die Sex in Afrikaans-reeks het my ook gedwing om die harde realiteit in die gesig te staar. Is ons almal so desperaat, soekend na die intieme konneksie, dat ons bereid is om normale standaarde en etiket op te offer, soos ʼn “all-in” met ʼn pokerspel net vir ʼn vlugtige konneksie? Sonder om te oordeel, net uit blote nuuskierigheid, wonder ek hoe die deelnemers voel wanneer hulle nabetragting hou? Hoe voel jy die volgende oggend nadat jy so passievol na die konneksie gesoek het? Voel jy vervuld? Of voel jy misbruik soos ʼn lappop op ʼn ashoop? Was die prys te hoog, of voel jy om jou nuutste seksuele avontuur ten toon te stel soos mense wat geraamde foto’s het van hoe hulle Kilimanjaro uitgeklim het en die vlag geplant het?

Wat my laat sidder en beef – wat as ek die eerste hindernishekkie oorkom het deur nie ʼn Simon Leviev-tipe te ontmoet nie, maar net om in ʼn verhouding te belê tot op ʼn dag waar daar verwronge dinge van my vereis word?

Wanneer sal vlinders in die maag weer genoeg wees? Is dit te laat om te skree: By hierdie stasie wil ek afklim! Soos toe ek vier jaar oud was en net in ʼn stadium besluit het ek wil nie meer saamspeel nie.

Is die opbou tot ʼn ware konneksie ʼn prys wat te hoog is in ons vinnige leefstyl? Ek is soekend na ‘n ware opregte konneksie eerder as realiteitsprogramme waar rose uitgedeel word. Die oomblik wanneer jy die vreemdeling in die koffiewinkel raaksien en iets in sy menswees jou prikkel. Daardie oomblik van opkyk en jy sien ʼn sprankel in sy oë wanneer hy jou raaksien.

Jy hoop, bid en smeek saggies in jou hart: Staan op, staan op, kom praat met my. Ek is op soek na daardie romanse, maar dalk is ek net in die verkeerde generasie gebore. Of kan ek my weg in hierdie generasie vind, wegbeweeg van die heks se lekkergoedhuisie en my pad met die broodkrummeltjies wat my na ware romanse lei terugvind? Ek wonder of ek die enigste enkellopende dame is wat so voel? Ek wonder ook sommer hoe die teenoorgestelde geslag hieroor voel?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter9 ·

Ek hoor jou, jy is nie die ‘probleem’ nie. Swak program wat weereens wys hoe die mens sonder respek en waardes lyk. ‘Not in my name’ is stil oor hoe vrouens hulself goedkoop maak; mans wat hieraan deelneem is ‘n verleentheid, swak karakter en moet deur manne met inbors as sodanig beskou word – Geen assosiasie met so’ n man nie.

RS ·

Ek se nie die progamme is reg of briljant nie, maar jy het n vrye keuse om te kyk of nie te kyk nie.

Gerhard ·

Stem saam. As jy na alles kyk gaan jy goed sien wat jou skok en ontsteld. Het die voorskoue van die afrikaanse reeks gesien en besluit ek gaan nie my siel skade aandoen deur dit te kyk nie.

soosekditsien ·

Ek voel soos jy. Van kleintyd af. En niks en niemand sal my beskouing van die liefde kan verander nie. Waardes is nie noodwendig preuts nie. Inteendeel, vir my gaan dit oor selfrespek. Eers dán kan jy van jouself gee en liefhê en seks ten volle geniet.

Linda ·

Ek het die Tinder Swindler gekyk, maar nie die afrikaanse program nie. Maar oor die algemeen is daar ‘n vervlakking in alle /meeste nuwe programme en realitieits reekse. In UK is ‘n program waar hulle net die mense se ontblote onderlyf in n glaskas wys en die deelnemer piek haar/sy keuse van hoe aanloklik die geslagsdeel vir hom/haar lyk. Walglik verby. Maar die vlak ondersteuners is vir my erger. Want as sulke programme nie kykersgetalle trek nie, sal dit tog sneuwel? Dieselfde met hoe daar deesdae gay en lesbiese verhoudings in ons keel afgedruk word. In elke reeks van Station 19 tot Greys Anatomy, Law & Order bespring hulle mekaar met elke skermskoot. Tot kinders wat kamstig op 6 or 7 jarige ouderdom al vir hul ouers sê hulle is trans of bi. Dis so belaglik. Op daai ouderdom weet jy nie eens of jy meer van Fanta of Coke hou nie. Maar ja gelukkig het mens nog die keuse van die aan/af knoppie druk .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.