Tot 18 werk die ‘cookie-cutter’ van die lewe nog

regmerkie-in-n-boksie

Vra ek die regte mens? Is JY deel van die 99,99 persent? Ma, Pa – wat sê julle? Was ons die moeite werd – is die idee van kinders nie beter as die kind self nie? Was die verruiling van ʼn lewe vir ʼn lening dit werd? Eerlik? Foto: Editions.lib.umn.edu

Hierdie brief is geskryf deur ʼn student wat by volwassenes wil weet: “As jy vandag kon teruggaan en dit alles anders doen, sou jy?” Antwoord haar gerus in die kommentaar-funksie onderaan die brief as jy iets het om met haar te deel.

’n Mens neem jou vakke op skool om ʼn wye aantal deure oop te hou. Wetenskap net ingeval; ekonomie omdat jy regtig daarin belangstel; geskiedenis, want daar’s tog ʼn bietjie kunstemens in jou, en Latyn, want hoekom nie. Jy kom in vir die hokkiespan en sluit aan by die skoolkoerant. Jy presteer goed. Jou ouers kan trots wees op jou.

Jy kom in vir universiteit, swot iets, kuier ʼn paar aande te laat, drink ʼn paar doppe te veel, verbrand jou vingers met die verkeerde mense, vorm lewensbande met die regtes, raak verlief, kom daaroor, bevraagteken jou kursus, vind uit oor ʼn ander een, besef jy’s wel in die regte een…

En voor jy weet, vang jy volgende jaar graad.

Eerste boksie van die “mooi vir jou, grootmens”: tick.

Stop, wag. Is dit regtig wat ek wil hê? Is dit wat my ouers wou hê? Is dit sowaar hoe 99,99 persent van die mensdom hulle die toekoms verbeel het? Moenie my misverstaan nie, ʼn BAIE regte deel van my smag na net mooi dít. Ek het geen benul waar hierdie ambisie (of eerder ambisielose hunkering) ontstaan het nie, maar tog, daar is hy.

Ek verbeel my ek en my man… (Belangrik: tick: getroud – geluk, mens, jy het nog ʼn boksie down. Sit die troufoto op die koffietafel, en teen ʼn oorkantse muur in dieselfde vertrek hang daai geraamde graad van ʼn paar jaar terug. Jy is nou goed op dreef op die check-lysie van “ek-is-’n-suksesvolle-mens”.)

In elk geval, ek verbeel my ek en my man… Ons is in ʼn groot huis in een van Johannesburg se voorstede – ons eie huis. Iewers tussen nou en my jong self het hierdie stuk eiendom ʼn beter belegging geword as die wêreld wat ek so graag wou sien. Die paaiement op die lening en die ekstra ure by die werk om dit af te betaal versmoor my, maar ek het die “mooi huis”-boksie op die lys afgemerk. Ek vaar goed. Ek is suksesvol. Dis oopplan, die huis is warm en ons is daai paartjie wat ek altyd so begeer het. Die een by wie almal tuis voel, waar ons vriende en hul 2,4 kinders elke naweek die rugby kom kyk en waar die mense tuis genoeg voel om vir my in my eie huis te vra of ek wil koffie hê. Ons mans is by die braaivuur en ons maak die slaai in die kombuis klaar. Een spog met haar kind se prestasies en die volgende probeer dit top. So graag soos wat ons wil, kan ons nie met ons eie prestasies spog nie, want sedert ons deur die “tick”-monster verorber is, is daar nie eintlik veel nie.

Ek presteer deur my kind. Die oudste, nou in graad 7. ʼn Uitstekende redenaar, ek ken haar ATKV-toespraak uit my kop. Maar kan nie onthou wanneer laas ek iets gelees het wat ek werklik geniet het nie. Die jongste is reeds op ʼn waglys vir een van Johannesburg se topkleuterskole. Dinsdae en Donderdae kom ʼn tutor in die middag om hom solank te leer lees en skryf. Die kind kan nie agterraak nie – wat ʼn verleentheid vir my.

Jy kan self die res van die prentjie van my “suksesvolle” lewe inkleur. Jy bevind jou heel waarskynlik in dieselfde soort lewe, of daar is minstens ʼn honderd huise om jou met sulke gesinne. Jy kan net sowel my buurvrou wees.

Hoe het ons onsself oorreed dat hierdie lewe die beeld van ʼn suksesvolle een is?

As jy vandag kon teruggaan en dit alles anders doen, sou jy? Ek is nie hierdie persoon nie. Nog nie. Ek is nie klaar met studeer nie en ek is nie seker dit is wel die regte kursus vir my nie. Ek sit waar jy ook al was – neem ek hierdie internskap, of gaan toer ek ʼn ruk? Trou ek met die outjie, leer ek myself eers beter ken? En my passie vir mense? My drome? Is dit oor tien jaar bereik, of is my grootste prestasie my kind se redenaarsprestasie by die kerk se plaaslike spraakkompetisie?

Vra ek die regte mens? Is JY deel van die 99,99 persent? Ma, Pa – wat sê julle? Was ons die moeite werd – is die idee van kinders nie beter as die kind self nie?

Was die verruiling van ʼn lewe vir ʼn lening dit werd? Eerlik?

Is jy ooit spyt jy het dit nie anders gedoen nie? Boksies van die lewe afgetick, ja, maar kan ’n mens dit regtig nog ʼn “lewe” noem?

A de Jonge

Maroela Media het (namens A de Jonge) by verskeie mense gaan antwoorde soek en hier is Annabelle Lombard (38) ma van twee, se antwoord.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nici ·

Ek is ook besig met die tick boksies – het die regte graad gekry (BComm, jy kan nie verkeerd gaan nie), het die regte ou getrou (hy’s dan so wonderlik), het die mooi huisie gekoop (want wie wil nou in ‘n klein meenthuisie bly), en die eerste afstammeling is oppad. Nou hoekom wonder ek oor die toere wat ek nog wou doen? Die week wat ek alleen langs die see, sonder foon en internet en radio en musiek, wou gaan doen het? Wat het geword van my “net vir die pret” drome wat ek gehad het – ek wou nog altyd leer klavier speel. Wanneer is daar tyd daarvoor? Wanneer is daar geld daarvoor? My raad, is doen alles wat jy wil doen (alleen as dit moet) voor jy jouself vaspen aan die tick boksies van die wêreld. Bou jou eie “aftick”-lysie, doen dit eers, maar daarna, werk aan die “wêreld” se tick-boksies. Want, die lekker werk saam mense wat saam kan praat, die gemaklike huisie, die gawe ou en die droomkind oppad, dit beteken tog ook baie. Daar’s ‘n rede hoekom die mensdom hierdie tick boksies het. Jy wil ook nie agterbly, en op jou oudag alleen terugkyk en dink, al my tickboksies, en niemand om dit mee te deel nie – hetsy dit manlief of kind of kleinkind is nie!

Ludwig Visser ·

Ek is van die ouer geslag, so dalk sal my aantekeninge in verband met die lewe en lewensgeluk jou nie aanstaan nie. Ek kan nogtans net vertel hoe ek die lew e ervaar het en hoe ek ook deur die jare sekere ambisies bevredig het, maar dit was belangrik dat ek dit nie gedoen het om ander mense tevrede te maak of in hul oë status te bereik nie. En ek kan jou verseker dat ek tevrede anderkant uitgekom het, terwyl dit vir my lyk of jy verwag om ontevrede en en onvervuld anderkant te land.
Laat my begin by jou vakkeuses en jou loopbaankeuse. Soek leiding en advies, en besluit dan selfs, moenie iets doen omdat ander mense dink jy moet dit of dat doen nei. Kies die vakke om by jou gekose loobaan van die toekoms te pas, en jy sal sien as jy hierdie twee eers bymekaargebring het, sal jy uiteindelik in jou loopbaan ook gelukkig wees. Ek het veertig jaar in my beroep, die joernalistiek, gestaan nadat ek, die telg van brandarm na-oorlogse ouers, met bloedmin geld deur die universiteit moes beur. Daar wás eenvoudig nie geld vir jolyt en daardie ekstra plesiertjies waarvan jy praat nie. Ek wou bo uitkom, en ek hét bo uitgekom, want ek wou eendag gelukkig wees in my werk. Ek wou nie net werk om aan die lewe te bly nie. My loopbaan was veertig jaar van harde werk, op vakansiedae, op Sondae, dikwels snags, maar die hele veertig jaar was my beroep my stokperdjie. Dit was vir my heerlik en vervullend om dit te doen. Ek was gelukkig daar, want dis war ek wóú wees, terwyl van my familie vroeër gedink het ek behoort eintlik ‘n Spoorwergwerker te word, want dis darem ‘n goeie en gereelde inkomste wat nie maklik sal doodloop ie. Probeer dus anderkant jou vakkeuse jou beroep raaksien, die beroep waarin jy gelukkig sal wees, en mik dan soontoe, dan sál jy uiteindelik gelukkig wees.
Toe het die lewensmaat-soekery gekom – ek is so half uit die ouerhuis gedwing omdat my ma kanker gekry het en elders moes gaan woon om versorg te kan word. Maar kies versigtig en moenie mislei word nie, en veral, moenie verlei word nie. Wees jouself, hou by jou beginsels, moenie verander omdat iemand anders jou anders wil hê of om iemand anders tevrede te stel nie. Wee jouself en jou lewensmaat sal dit waardeer en jou ook so behandel. Mits jy natuurklik dieselfde beginsel ook teenoor hom toepas. Maar hierdie wedersydse saamgroeiery sal net moontlik wees as daar sterk beginsels in jul lewe is, ‘n sterk geloof in die Hemelse Vader en Sy leiding, en julle altyd saam na Sy leiding soek.
Wanneer hierdie band gesmee is en daar gedink word aan ‘n huis en ‘n gesin, sal dit weer ‘n kwessie wees van saamgroei en samsmelt, want ouers en kinders kan ook nie apart groei en ontwkkel en dan verwag om gelukkig te wees nie. Die ouers ontwikkel as ouers en die kinders ontwkikel as hul kroos, maar almal doen dit sáám en uiteindelik sal julle sáám gelukkig wees.
Moenie jou in jou jong dae steur aan boksies waar jy regmerkies moet maak omdat iemand anders dit van jou verwag nie. Die lewe bestaan nie uit regmerkies nie, die lewe bestaan uit geluk-merkies. En hulle moet almal jou eie wees. Aanvaar dat daar nie elke dag net geluk-merkies sal wee n ie, want dis nou maar soos die lewe is. Hy stel ook sy eise, partykeer onaangename eise.
Maar selfs daardie dae sal help om jou lewensgeluk wat baie groter en sterker en standhoudender sal wees as daardie eise. nog verder te veranker.
En later in jou lewe sal jy die stadium bereik wanneer jy en jou geluk juis die bron sal wees waaruit ander weer húl geluk sal put, want hulle sal teer op wat hulle by jou beleef het, by jou gesien het, en hulle sal óók gelukkig wees as hulle die leiding volg wat jy vir hulle deur jou geluk-gevulde lewe uitgestippel het.
Hoeveel geluk jy in jou lewe beleef en opgaar , hang alles van jouself af, nie van die boksies waarin jy regmerkies maak omdat ander mense dit van jou verwag dat jy dit doen nie. Ek wens jou alles van die beste toe vorentoe,. en mag jou keuses reg wees en jou visier ingestel wees op daardie geluk. En mag jy uiteindelik ‘n kol skiet!

Theresa Papenfus ·

‘n Uitstekende brief, helder, sterk, eerlik. Ek dink sy vra die vrae wat die nuwe geslag jong volwassenes vra. Hulle wil nie noodwendig meer dieselfde uitgetrapte paadjie van hul ouers volg nie. Die ou generasie se antwoorde bevredig hulle nie. Hulle is padvinders in ongekaarte terrein. Want die lewe lyk vandag gans anders as toe ons hulle ouderdom was. Ek is trots op hulle en hulle denke en wens soms ek het hulle “guts” gehad! Sterkte!

T Brits ·

Al is ek al 81 jaar oud, is my jongmens dae nog helder soos gister. Ek het van jongs af besluit om te lewe volgens die voorskrifte in ons Skepper se Handboek. Psalm 139, Jeremia 29:11 en Spreuke 3:5 en 6 was my belangrikste riglyne. Ek het met al my keuses en besluite na Jesus gegaan en Sy alwyse raad gevolg daarom is daar NIKS in my lewe wat ek sou wou verander nie.
Ek wou vinning en lekker tik soos my Ma, het Jesus se raad gevra, Hy het my gehelp om handelsvakke te kies en onderskeiding te behaal in tik, en ek was ‘n puik tikster, en baie gelukkig in my loopbaan wat gelei het na die Staatsdiens waar ek 10 gelukkig jare gewerk het voordat ek ‘n man gekry het wat Jesus op my pad gestuur het. Ons het 3 lieflike, kinders gehad en was 22 jaar getroud toe my man oorlede is.

Toe hy oorlede is het ek gevra “Here, wat nou, hoe nou vorentoe, my jongste seun was 14 jaar….ek maak die Woord oop en lees Jes 54:5 “Jou Maker is jou Man” en Hy het vir ons gesorg beter as wat enige man dit ooit kon doen.

Twaalf jaar na sy dood stuur die Here my en al drie my kinders hier na New Zealand toe, iets wat ek in my wildste drome nooit kon voorsien nie, en ons is nou 17 gelukkig geseende jare hier.

So ek beveel daardie Handboek aan met my hele hart want ek weet eerstehands dit WERK!!!

Jesaja 45:11…”Vra my aangaande die toekomstige dinge…”

T Brits

Corné ·

Hi A de Jonge

Voor ek self gaan probeer antwoord, raai ek jou aan om twee boeke te gaan lees:
1) The Alchemist van Paulo Coelho asook
2) Man’s search for meaning van Victor Frankl.

Daar is waarskynlik vele ander maar die twee hierbo het vir my nogals baie beteken. Gaan luister dan ook die liedjie van Baz Luhrman – Everybody’s Free (To wear sunscreen), dit is so bietjie tong in die kies gesê maar neem niks van die “waarhede” daarin weg nie.

Een
Die blote feit dat jy status quo bevraagteken kan vir jou alreeds vertroosting bring. Hoekom? Want jy bevraagteken die lewe – dit,my liewe mens, is die belangrikste ding om te doen! Dit is die eerste stap om werklik te leef! Dit is gevaarlik want jy gaan nie altyd van die antwoorde hou nie maar jy sal aan die einde van jou lewe kan terugkyk (ek, in elkegeval hoop so want anders is ons beide geskroef) en tevrede wees met jou lewe.

Twee
Moenie neerkyk op die boksie mense / lewe nie. Soos iemand reeds gesê het – hulle is daar vir ‘n rede:
1) Dit is deur duisende voor jou en my beproef en gevind om te werk (the route of least resistance) in die meeste van die gevalle. (Disclaimer – nie altyd en vir almal nie). Soms gooi God ‘n “spanner in the works” om vir ons iets nuuts te leer of om ons te gebruik om vir iemand anders iets te leer.
2) Dit is ook maar net ‘n gemiddeld, met ander woorde. Sannie het 10 kinders en haar 3 vriendinne het geen. Gemiddeld het hulle elkeen 2.5 kinders. Dus is nog Sannie nog haar 3 vriendinne se lewens “boring” al lyk dit so op papier. Pasop vir statistiek – jy kan enige iets belieg daarmee!

Drie
Wees oopkop (hoekom klink “open-minded” net soveel beter?) maar pasop – soos ek uitgevind het, dat jou brein uitval! Met ander woorde: Bevraagteken, beproef maar onthou om getrou te bly aan jouself en God. Moenie jou gesonde verstand verloor nie! Stupid voorbeeld: Jy hoef nie self te “binge drink” en bestuur om uit te vind dit is ‘n onfeilbare manier om jou lewe, sowel as ander sin, op te tef nie!

Vier
Nog ‘n disclaimer – jy gaan waarskynlik (ek hoop van harte nie!), omdat jy vrae vra, depressie ontwikkel. Dit gebeur met die beste van ons – onthou dan:

1) Karen Zoid se raad in “As musiek begin speel” en: “Reik jou hande uit en help ‘n ander met minder as jy, gaan maak iemand bly…” Mind you, daar is ‘n klomp warhede in die song…

2) Lewe in die oomblik, bêre die verlede waar dit hoort – in die verlede. Ek dink nou aan ‘n bekende Zen storie. Twee monnike was iewers heen op reis toe hulle by ‘n rivier in vloed kom wat hulle moes oorsteek. Daar was ook ‘n jong, beeldskone vrou. Sy vra toe die monnike om haar tog oor die rivier te dra. Die ouer monik tel haar toe op sy rug en dra haar oor die rivier. Aan die ander kant stap die twee monnike toe verder. Die ouer een merk toe op dat die jonger een diep in gedagte is en iets hom kwel. Hy vra hom toe wat is fout? Die jonger een sê toe: Jy weet goed dat as monikke mag ons nie in aanraking met vroue kom nie. Tog het jy die jong vrou opgetel en oor die rivier gedra. Die ouer een antwoord toe: Jy is reg, ek het haar egter al ure gelede neergesit. Jy dra haar egter steeds…

Vyf
Wat jou werk / loopbaan aanbetref:

1) As jy so bevoorreg is om te kan gaan studeer – gaan studeer ‘n “ticket”, met ander woorde iets wat jou instaat stel om in ‘n werk in te stap (Sien – realiteit). Te veel mense gaan studeer nuttelose grade en sit op die ou end sonder werk met ‘n klomp studente lening skuld wat die bank begin terug soek.

2) Wat skoolvakke aanbetref, en dit sluit aan by (1) vat Wisk en Wetenskap sodat jy enige iets kan gaan swot. Moenie dadelik aanneem jy het nie die aanleg vir iets nie. Soms is ‘n swak onderwyser die probleem.

3) Moenie skoolvakke verwar met die praktyk nie. Net omdat jy goed doen in ekonomie as vak is nie te sê jy moet ‘n ekonoom word nie. Teorie kennis gaan jou nêrens bring sonder passie nie!

4) Doen alles in jou vermoë om soveel as moontlik uit te vind oor beroepe!

5) Weer ‘n storie wat iemand eendag vir my vertel het: Haar dogter het van kleins af gesê – as iemand haar vra wat sy eendag gaan word – dat sy, as sy groot is, met feetjies en kaboutertjies wil werk. Nou op 5 is dit snaaks maar op Hoërskool is dit nie meer snaaks nie! Mens moet mos rigting kry… Die dogter gaan studeer toe uit radeloosheid verpleegkunde (Daardie tyd was verpleegkunde of onderwys die meeste meisies se twee opsies) terwyl sy goed weet dat dit nie is wat sy wil doen nie. So studeer sy toe klaar (want as mens moet dan moet jy) en sy eindig in die pediatriese saal op. Daar werk sy toe in die neonatale eenheid met die prematuur gebore babatjies. Na so paar maande besef sy toe eendag: Eintlik is sy versot op haar werk en sy noem dit toe ook so aan haar ma, en haar ma antwoord haar: Ek weet jy is mal oor jou werk, hoe dan anders, jy werk elke dag met feetjies en kabouterjies…

Slotsom
Liewe A, as jy elke dag jou lewe in God se hande plaas en op hom vertrou hoef jy nooit bekommerd te wees dat jou lewe boring gaan wees of dat jy verkeerde paaie sal neem nie. Selfs in die donkerste tye sal jy presies wees waar jy moet wees. Wie op God vertrou – vir hulle gee hy wat hulle nodig het in hulle slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.