Lesersbrief: Tuisonderrig vs. skool te midde van Covid-19? 

Benton Nortmanis ‘n departementshoof aan Laerskool Truida Kestell in Bethlehem. (Foto: Verskaf.)

Benton Nortman, departementshoof aan Laerskool Truida Kestell in Bethlehem, skryf:

Al hoe meer ouers word nou met die vraag gekonfronteer of hulle nie maar hul kind eers by die huis moet hou en tuisonderrig gee nie.

Die bogenoemde vraag is geldig en te verstane, maar tuisonderrig is nie so maklik nie. Buiten die ouer se verantwoordelikheid is daar ook ‘n wetlike implikasie hieraan verbonde.

Die feit dat ‘n kind by een van die talle aanlyn leerinstellings geregistreer is, kwalifiseer nie vir tuisonderrig nie. Wetgewing maak voorsiening dat elke kind onder die ouderdom van 15 jaar by ‘n skool ingeskryf moet wees. Skoolbywoning is dus ‘n verpligting wat die ouers teenoor die staat het.

Alhoewel aanlyn leerinstellings ‘n enorme bydrae in veral hierdie inperkingstyd maak, sal alle kinders, op die bepaalde datums, moet terugkeer na hul skole of ten minste by hul skole ingeskryf moet bly.

Talle ouers verwar egter nou aanlyn leer met tuisonderrig.

Ons president het aangekondig dat u as ouer die reg het om u kind by die huis te hou indien u vrees vir die Covid-19-virus. Daar is egter prosedure wat gevolg moet word. Alvorens u net besluit om u kind by die huis te hou, sal u met u kind se skool in verbinding moet tree om te bepaal hoe u kind by die huis ondersteun kan word terwyl u kind steeds by die skool ingeskryf bly. U het dan die opsie om u kind addisioneel by ‘n aanlyn leerinstelling in te skryf.

Sou u egter besluit om nie u kind terug te stuur skool toe nie en om u kind uit die skool te haal, moet u eers by u plaaslike departement van onderwys aansoek doen om vir tuisonderrig te registreer.

My advies as onderwyser is dat ouers nie hul kinders uit die skool haal nie, maar dat hulle saam met die skool ‘n plan ontwikkel wat vir albei partye werk.

Kom ons werk saam en red sodoende ook ons beheerliggaam-onderwysers se poste terwyl ons die aanvullende opsie van aanlyn leer benut.

Onthou: Skool is goed vir kinders!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Raadslid ·

Kinders moet so gou moontlik terug skool toe.
Hulle lewens moet terugkeer na normaal en nie die “nuwe normaal” wat die wêreld aan ons verkoop nie.

Nico ·

Tuisskool as jy kan. Die skool (met uitsondering van ‘n paar nie staat skole) het indoktrinasie sentrums in polities korrekte heidendom geword.
Ek glo die “virus” se virulensie is hoogs opgeblaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.