Lesersbrief: Hoe later hoe kwater met tydsbestuur

nicole-viljoen

Nicole Viljoen. Foto: Verskaf.

Nicole Viljoen van Bloemfontein skryf:

Ons het almal sulke dae. Jy word wakker met ʼn snaakse gevoel dat iets anders is. Jy kyk na jou wekker en besef dat jy so erg verslaap het, jy kan maar net sowel eers môre werk toe gaan. Die adrenalien pomp deur jou are en jou hart sit in jou keel. Jy pluk jouself uit die bed uit. Die honde gee so ʼn benoude tjank en laat spat, want hulle weet hulle sal vertrap word in die massahisterie in die kamer.

Jy het nie meer tyd om voor jou kas te staan en te wonder hoe jy gaan lyk vir die dag nie. Jy wou nog vinnig deur die stort spring, maar daardie idee is ook by die deur uit. Waslappie, vee vinnig die nodige plekke en gebruik ʼn halwe bottle roll-on, net om vars te vertoon. Jou hare is so verlê dat jy soos ʼn kapokhoender lyk. Jy sit vlugtig jou haartang aan en probeer die duifnes wat oornag gebou is reguit kry. Dit werk nie. Tweede beste opsie is ʼn bolla. Dit versteek darem die gedoente.

Skoene … jy gryp ʼn paar skoene van dieselfde kleur. Jy voel dat die twee skoene so half snaaks sit, maar jy het nie tyd om te wonder wat aangaan nie. Jou arme man lê en verkyk hom aan jou. Hy moet liewer nie lag nie, want dit maak nie die situasie beter nie. Dit maak jou net kwaad.

As jy enigsins soos ek is, het jy nog nie die kuns van al jou sleutels op een plek sit geleer nie. So, jou motorsleutels het besluit om wegkruipertjie te speel. Dit is nie nou tyd vir grappies nie. Jy kry jou sleutels agter die koffiepot. Hoekom sou jy jou sleutels op so ʼn plek los? Jy hardloop by die deur uit en besef dit is koud buite. Nee wat, jy het ʼn opgestopte bra aan. Jy sal maar die koue aandurf. Jy ruk jou voertuig se deur oop en gaan klim in, gereed vir die resies.

Soos Murphy dit vir die dag beplan het, is daar verkeer. Jy voel of jy ʼn ligte angsaanval beleef en dink solank aan iets om te sê vir jou baas. Jy slaan jou hande teen die stuurwiel. Hoe moeilik kan dit wees om betyds vir werk te wees? Hoekom het jy nie jou wekker gehoor nie?

Jy jaag by jou werkgewer se parkeerterrein in net om te wys dat jy wel ernstig is om by die werk te kom. Terwyl jy by die deur uitklim, besef jy jy het twee verskillende swart skoene aan met ʼn bruin romp en ʼn pienk bloes. Jou onderlaag het sulke strepe gemaak op jou gesig en jou blosser is heeltemal te veel.

wekker-horlosie-tyd

Foto:
Aphiwat chuangchoem/Pexels.com

Op daardie oomblik gee jy nie veel om nie. Jy moet net by jou kantoor uitkom.

Jy kom by die deur van die besigheid en vind dit nogal snaaks dat die ligte nie aan is nie. Nou hoe kan hierdie mense nog nie die besigheid oopgesluit het nie? Jy is dan ʼn uur laat.

Dit slaan jou soos ʼn baksteen. Jy kyk na die kennisgewingbordjie op die deur en al wat jy kan sien, is – “Gesluit op Saterdae”.

Jy kom by die huis en jou man staan buite met die honde en kyk jou met groot oë aan. Hy bars uit van die lag. Verligting stroom deur jou lyf en die eerste ding wat jy doen, is: Pyl na die badkamer om te gaan bad. Jou man giggel nog al die pad en die honde wonder nog steeds wat aangaan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

humor ·

Hoe goed voel ek nie nou nie. As dit met ons jong mense kan gebeur so waarom nie met ons ouesvandae nie.Daai sleutel op die vreemdste plek in die tyd van groot nood. Dit is ook ek daai. Net dit gaan met n paar swetse gerig aan die sleutels saam terwyl ek die skuldige is.

Petrus Lombard ·

Wat n lekker storie tussen al die moord, korrupsie en Politieke deurmekaarspul Kan my hiermee vereenselwig Was self al op n Saterdag by Sand du Plessis in Bfn “gekorrel en getie” Druipstert huis toe koes koes agter die bome dat niemand my sien nie met my skoolklere aan Nicole jy is heeltemal normaal en ek het jou storie so geniet Ek hou nie van n sweetpak nie en moes eendag een aantrek as onderwyser skooltoe So vra een van die onderwysers hoekom het jy 2 klare drafskoene aan Het maar net gese het dit so beplan Gelukkig was dit eksamen en ek het in my klas gaan werk sodat niemand dit kon sien nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.