Lesersbrief: ’n Brief van ’n mamma aan haar eersgebore seun

Eugenie Buys tydens haar nageboortedepressie. (Foto: Verskaf)

Eugenie Buys skryf:

My liefste Benjamin

Nageboortedepressie het vir my gejok. Dit het my kom oortuig omdat jy baie huil ons veel slegter daaraan toe is as ander ouers. Ons het die moeilike baba en wat het ons verkeerd gedoen om dit te verdien?

Nageboortedepressie het by my kom steel. Weke en weke se oomblikke saam met jou. Mylpale wat ek misgekyk het, omdat ek net die slegte goed kon raaksien. Tyd saam met jou wat ongelooflik vinnig verbygaan; tye wat ek nooit sal terugkry nie. Hoe spyt is ek nie nou dat ek dit omgewens het nie.

Nageboortedepressie het my kom bang maak. Dat ek die verkeerde besluite met jou gaan neem, nie ʼn goeie ma is nie, of dat dit vir altyd so moeilik gaan wees en dat jy net nooit gaan ophou huil nie.

Nageboortedepressie het my kwaad gemaak. Vir die ma’s met maklike babas, vir my man wat ek geglo het nie verstaan nie, en ja, soms vir jou wat nie wil ophou huil nie.

Nageboortedepressie het my selfvertroue kom vat. Ek kon nie eens self besluit wanneer ek jou doek moes omruil nie, want wat as ek verkeerd was? Maar al het ek nie vertroue in myself gehad nie, het ek ook nie enigiemand anders, selfs vier verskillende pediaters, vertrou nie.

Ek is so jammer. Jammer oor al die steel, leuens, vrees, angs en twyfel wat die eerste klomp weke van jou lewe in ons huis was. Jammer dat jou pappa die huis alleen moes dra. Jammer dat ek nie foto’s geneem het van die goeie tye nie.

Eugenie Buys en klein Benjamin vandag. (Foto: Verskaf)

Maar toe onthou ek, die Here gee nie vir ʼn mens meer as wat jy kan hanteer nie. En as dit so voel, gee hy ook vir jou ʼn man, oumas en vriendinne wat inloer en medikasie om jou te dra in die tye wat dit voel of jou eie bene jou nie regop kan hou nie. Ek is so oneindig dankbaar vir die mense wat Hy in ons lewens geplaas het. Hulle is ons village, my seuntjie.

Nageboortedepressie is iets waaroor mense nie genoeg praat nie. Hoekom moet ʼn mens eers uitvind iemand anders is daardeur wanneer jy vir hulle vertel waardeur jy gaan? Dit maak my hartseer dat mense nie praat nie.

Nageboortedepressie is nie wie ek is nie. Ek is jou mamma (en ʼn vrou en ʼn dogter en soveel meer) en ek het jou oneindig lief. Ons sal oukei wees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Ouerskap, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

capie ·

Sterkte aan die ma en seun. Ek kan net wens dat daar meer na dit gekyk word. Die ma wil nie so wees nie, maar kan dit nie help nie. Dan is ons mense so gou om te oordeel en die ma sleg te sê. Sy is nog steeds net so lief vir die kind as alle ander ma’s.

Rina ·

Ek onthou ook my eie depressie wat nooit geidentifiseer was nie toe my seun gebore is nie. Ek het baie erge depressie gehad en is as die slegste ma bestempel en dit het my huwelik verwoes. Ons as gesin was uitmekaar geruk en is nooit weer herstel nie. Ek het self nie besef wat aangegaan het nie so mense wees bedag op die tekens van depressie en kry hulp asb dit is so belangrik vir selfbehoud sowel as gesinsverband

Kattebol ·

Nageboortedepressie is nooit by my gediagnoseer nie maar ek het gedink ek wil net doodgaan. Na my tweede kind se geboorte het ek dit probeer en is toe gediagnoseer met major depressie. Geen antidepressante en sells skokbehandeling het vir Langer as n Paar maande gehelp nie. Vele jare later is dit toe uiteindelik gediagnoseer as bipolêre gemoedsversteuring. As jy sleg voel na n geboorte en dit verbeter nie binne 3 maande vanself nie, kry hulp.

Swerwer ·

Sterkte! Jy is ‘n goeie Mamma en hy weet dit. Die band tussen julle kan niemand wegneem nie.

Ny ·

Ek het nageboortelike depressie gehad en dit was aaklig! Ek het gevoel my kind is beter af by ‘n ander mamma wat weet wat sy doen en sy kan my kind beter liefde gee as ek. Ek het dadelik besef wat aangaan en iets daaromtrent gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.