Vat hande en veg sáám vir ons taal

hande 2

Argieffoto.

Deur Henk Hefer

Seker die grootste onenigheid in Afrikanergeledere is oor die terme Afrikaner en Boer. Wat is ’n Afrikaner en wat is ’n Boer en is daar regtig so ’n groot verskil?

’n Ou maat van my het die volgende daaroor te sê gehad: Daardie tyd wat die Afrikaanssprekendes besluit het dat hulle genoeg van die Engelse gehad het en besluit het om die Kaap de Goede Hoop te verlaat en binneland toe te trek, was daar nog nie dié onenigheid nie. Met hoop, vasberadenheid en ’n goeie dosis geloof, het die spannetjie toe die trek na die noorde begin. Twee dae ná die eerste trekkers vort is, het hulle, daar by Paarl rond, ’n rigtingaanwyser teëgekom. Dié het net twee dorpsname met pyltjies aangedui. Die twee dorpe was Pretoria en Kaapstad. Dit was by daardie bordjie wat die Boerenasie gebore is. Diegene wat kon lees, het voortgetrek na Pretoria en hulself die naam “Boere” gegee. Die ongeletterdes wat nie kon lees nie, het teruggedraai Kaap toe. Net daar, sê hy, is die verskil tussen die vasbyters en die hensoppers bepaal. Volgens hom is dit vandag nog so.

Hoe dit ook al sy, êrens in die vroeë Afrikanergeskiedenis het daar ’n mate van onenigheid ontstaan, ’n onenigheid wat vandag nog bestaan. Asof Afrikaanssprekendes dit kan bekostig. Die een klomp se nasate spog met hul voorsate se durf en uithouvermoë en die ander noem hulle verkramptes wat Afrikanerskap vir hulself wil opeis. Die Boere sê weer dat die ander sonder ruggraat is, net soos hulle voorsate was. Wie van dié twee kampe nou eintlik reg is, sal niemand ooit kan bepaal nie. Hoekom daar twee groepe moet wees, weet nugter.

Wat min mense egter besef, is dat daar ’n derde groep Afrikaanssprekendes is, ’n groep wat, as gevolg van politieke inmenging, eenkant geskuif is. Mense wat net so ’n groot liefde vir Afrikaans het, maar nooit toegelaat is om in die kultuur van die eerste twee groepe te deel nie.

Soos julle dalk kon raai, praat ek hier van die sogenaamde bruin mense. Van die grootste kampvegters vir Afrikaans tel onder hierdie groep. Die rasbeheptheid van vorige regerings het hierdie groep, met dieselfde liefde vir Afrikaans, van ons vervreem. Dermate dat die skade feitlik onherstelbaar is. Met dié afsonderlike ontwikkeling het die bruin Afrikaners ’n eie kultuur gevestig. Al wat hulle met die eerste twee groepe gemeen het, is taal, ’n liefde vir rugby en tot ’n mate, godsdiens.

Kan ons as Afrikaanssprekendes nie hande vat en saam veg vir die behoud van ons taal nie? Of is dit té veel gevra om ’n anderskleurige as “Afrikaner” te verwelkom?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarie ·

Ek dink nie Afrikaners van watter groep ook al het ‘n probleem met bruin Afrikaners nie, maar ek dink nie daar is baie bruinmense wat hulle Afrikaners gaan noem nie. My persoonlike ervaring is dat veral die bruin middelklas en hoër Afrikaans nie om arm en nie eintlik omgee of dit verdwyn nie. Die arm bruin mens sukkel om kop bo water te hou en taal is nie hulle eerste prioriteit nie. Ek verkies die term Afrikaanssprekendes bo die verwarde Afrikaanses. Kleur moet verkieslik uit elke saak geskrap word, want taal is verhewe bo kleur. Laat die wat lief is vir die taal en sy moontlikhede soos moedertaalonderrig daarmee voortgaan al is dit die minderheid van die sprekers. Die wat uit natuur like wil daarby wil aansluit sal dit doen en dit weer laat blom.

John ·

Baie Indiers en Sjinese en Jode en Moslems praat Engels, maar dit maak almal die een volk nie. Brittanje wil self nie eers meer Engelse in die land terug verwelkom nie al sing hulle elke dag ‘There is no place like home!’ Dit het waar geword. Vir dekades voel die Kleurlinge hulle is nie welkom in die swart of die wit gemeenskappe nie. Hulle wou glo selfs op ‘n stadium die Amerikaanse volkslied as hulle eie aanvaar. Die probleem gaan nie deur jou opgelos word nie. Moenie Afrikaans as wapen gebruik om die New Age-idee van ‘n homogene wereldbevolking (‘n soort GM-supermensdom) aan die Boere te verkoop nie. Miskien koop die FW de Klerk-stigting jou idee. Of gaan kyk in Europa hoe rustig dinge daar gaan deesdae. Duitsland se grense was skaars oop of die varkworsies moes van die spyskaarte af.

Veritas ·

Dagsê John. Jy kan Engels en Afrikaans nie onder dieselfde kam skeer nie. Engels is ‘n internasionale taal waarsonder geen land of volk kan voortbestaan nie. Afrikaans daarenteen word slegs, as moedertaal, deur ‘n klein groepie mense gebruik. In die lig van die huidige aanvalle teen Afrikaans, voel ek net dit is dom om enigeen wat trots op Afrikaans is, uit te sluit bloot as gevolg van velkleur. Ons taal is tog die enkele groot faktor wat ons van ander onderskei. Jou argument, oor die Duitse situasie, hou nie water nie. Diegene wat tans in massas daarheen vlug is nie Duitssprekend nie. Ek praat van Afrikaanssprekendes nie Chinese nie. En nee ek stel geensins belang in die New Age beweging nie. Vir my wys dit na ‘n soort Babel. Een van die redes hoekom Afrikaners geïsoleer word, is die feit dat baie van ons, onsself beskryf as ‘n blanke volk.

Koos ·

Kleurlinge is welkom om Afrikaans te bevorder. Alhoewel ek dink meeste nie omgee nie. Maar kleurlinge is nie Afrikaners nie, en bitter min indien enige gaan hulself as Afrikaners beskryf. Hul deel nie dieselfde geskiedenis , of probleme (SEB, plaasmoorde) van hedendaagse Afrikaners nie. Afrikaners hoef nie hulself as “kleurlinge” te klassifiseer om afrikaans te bevorder nie , net so hoef kleurlinge hulself nie as “Afrikaners” te klassifiseer nie.

John ·

Ons doen reeds genoeg om ander rassegroepe/die kleurlinge te betrek by taalaktiwiteite en -feeste. Wat is nog nodig. Wag, ek is verkeerd. Jammer. Miskien kan meer Afrikaanse predikante hulle poste afstaan aan ander Afrikaanssprekendes en ook meer poste by Afrikaanse skole. Baie Maleiers is Afrikaanssprekend, miskien kan ons meer Afrikaanse Moslemgemeentes staan maak in plekke in die Vrystaat wat baie Afrikaansgerig is. Hoekom nie by Afrikaanse skole meer oor die Moslemgeloof in Afrikaans vertel nie. Meer huwelike tussen die verskillende bevolkingsgroepe, is ook nie te versmaai nie. Ons kan gerus meer oor mekaar se kulture leer so tussen die Afrikaanse gesprekke deur. Julle is reg. Ons moet Afrikaans eerste stel, Bo alles. Die Bybel se mos by Babel het almal skielik een taal begin praat. En op ‘n ander plek, aanbid Afrikaans. Sterf vir jou taal. Dis die begin en die einde van alle geluk. Skies nogmaals. Lank lewe die New Age wat aan die kom is!

De Villiers Hauptfleisch ·

Almal wat Afrikaans as moedertaal het, wit, bruin en swart en wat graag Afrikaans wil praat moet verwelkom word onder die naam Afrikaanssprekendes. Ek beskou myself as `n Afrikaner (maar jy kan my ook `n Boer noem en ek sal trots wees daarop), maar nie almal wat Afrikaans praat, veral die bruin mense sal (weens ons Apartheidsverlede) hulself Afrikaners noem nie.
Ek het in die Noordkaap groot geword en die swart mense (die Tswanas) daar het suiwer Afrikaans gepraat sonder `n aksent. Ek het onlangs `n jong swart man uit daardie geweste raakgeloop en tot my verbasing het hy ook goeie Afrikaans sonder aksent gepraat.
Ek dink swart jong mense soos hy sou graag aan die Universiteit Stellenbosch in Afrikaans wou studeer, maar nou is dit natuurlik nie meer moontlik nie, nie eers die Afrikanerseun kan nie meer in sy taal aan die US of enige ander Universiteit (behawe Akademia) studeer nie. Afrikaansprekende studente word mos nou deur selfs Afrikaanssprekende dosente slegs in Engels onderrig. `n Dosent, Willie Pienaar, aan die US het verlede week in Die Burger geskryf hy weier om Afrikaans in sy klasse te praat.
Ons Afrikanerssprekendes moet Akademia met alle mag tot ons beskikking ondersteun sodat hulle tot `n volwaardige Universiteit kan ontwikkel wat alle grade in die toekoms kan aanbied.

Ivan Kortje ·

Ek is n Kleurling Afrikaans is my Moedertaal en ek praat nie net Afrikaans wanneer dit my pas dis my lewe dis in my are. Ek is nie n Afrikaner maar n Afrikaan gebore in Afrika en n Suid Afrikaner en ek het n paspoort wat dit sal kan bevestig. Voorvaders het het n kultuur van hebsug, strydlustigheid, afguns en selfsug ingeskerp.
Dit is uitdaging wat ons het om saam n toekoms te skep in Suid Afrika. Nee Ons Taal. Baie mense Boere Kleurlinge Swartes het al gesterf met die taal wat hulle gebore is.

John ·

Waar is die Kleurling- en Swartstemme teen taalveranderinge op kampusse? Geen skrywes in koerante of besoeke aan die rektore om op te kom vir Afrikaans nie. Wat nog plakate rondswaai. Dan is almal tjoepstil. Die blankes kan nie net die doeners en die draers en die klaers alleen wees nie en die ander wag vir die meevallers nie. Wat eerder gevra moet word is: Waar is ons bydraes en stemme vir Afrikaans? ‘n Mens hoef nie ‘n siener te wees om Akademia se pad te voor’sien’ nie. Ons gaan verbaas staan oor die baie studente wat skielik ‘n vreeslike voorliefde vir Afrikaans het… as die slegte wit Boere vir ons studies sal betaal.

John ·

Kan ons nie maar werk maak van ‘n taalstaat nie. Dit kan dit Afrikaanan heet. Miskien langs die Oranjerivier. As die Ghuptas Afrikaans praat mag hulle maar ons bure wees. Dit sal soveel meer dinamika he as ‘n volkstaat. Almal wat Afrikaans praat of wil leer praat moet welkom wees ongeag kleur of godsdiens. Dit sal die droom van soveel Afrikaanssprekendes bewaarheid en die bevolkingsgetalle sal gou tot duisende aangroei. Sosialisme sal alle probleme met meerwaardigheid in die kiem smoor. Gratis onderrig moet van die grondlegging af geskied. Vir die eerste 48 jaar moet die regering ook aan Afrikaanssprekende minderhede van die verlede oorhandig word. Net so kan sake reggestel word. Ons moet ook vir eens en vir altyd ontslae raak van kwetsende rassistiese klassifikasies. Hier kan die De Klerk-Stigting help deur die onderskeid tussen rasse, soos tussen Blankes en Kleurlinge, deur middel van wetgewing, uit te laat faseer want ek glo die Stigting beskik oor die nodige fondse en kennis van politieke veranderinge.

André ·

Ek het nuus vir die arme studente wat hul grade in Afrikaans doen.
Sodra jy uit Varsity is tref die realiteit van die korporatiewe wêreld jou. Gou genoeg gaan jy moet leer om in “ingils” te korrespondeer.
Afrikaans bly in jou bloed……maar die realiteit is in bank rekekening.

Garfield ·

En? Dis hoe dit 30 jaar terug al was, en dit het gewerk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.