Lesersbrief: Vir (’n) verandering

Sonet Stofberg, ‘n onderwyser by die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, skryf:

Sonet Stofberg.

Kan Mej. Verandering asseblief na die hoof se kantoor toe gaan? Dis in verband met die strafklas wat jy elke dag moet bywoon…

Ek is die afgelope maand terug by die skool. ’n Skool waar liefde heers en gewys word. Met drukkies, propvol emosies op beeldskone, vol gesigte. ’n Gelag, ’n gesels, ’n gesig waarna ek nou verlang. Want, ek is terug, maar nie terug by my skool nie. Want hierdie omgewing is nie dieselfde nie. Onseker emosies op halwe gesiggies wat ’n gesels en ’n gelag op alle vlakke uitdaag. Oë wat in vlak trane dryf, en nou en dan skrefies trek soos ’n glimlag effens sy verskyning maak.

Die wag voor ons monde, het nou ’n gewag geword. ’n Gewag op ’n nuwe normaal terwyl ons smag na die ou een. Ons probeer mekaar en die leerders opgewonde maak oor ’n nuwe normaal – ’n term wat ons deesdae baie sien (meestal met ’n hutsmerk vooraan) en van hoor, maar wat weer vinnig lewensvatbaarheid verloor. Ons het vergeet. Nie alles wat nuut is, maak ons opgewonde nie. Ons kies dikwels eerder die ou, uitgerafelde kombers bo ’n nuwe een; die Golden Oldie bo ’n splinternuwe treffer of die fliek wat ons reeds gekyk het, want ons weet hoe dit eindig. Dit is so. Die ou is baie keer tydloos. Die ou ken ons, en ons ken hom.

Ek is nog nie opgewonde oor die woorde, “nuwe normaal” nie. My hoop en geloof dwing my om naïef, soos baie daarna verwys, die onseker toekoms te benader. Maar was dit nie maar altyd so nie? Was die toekoms nie nog altyd onseker nie? Dus maak ek soos voorheen: verwagting sonder teleurstelling.

Kyk, dis een ding om aan ’n verandering gewoond te raak en daarby aan te pas. Maar, ’n vooruitsig vol nóg veranderings? Dit voel soos die opdraande Polly Shortts-heuwel tydens die Comrades-marathon, of ’n seisoen van The Bold and the Beautiful – uitgerek, langdradig, sonder eind- of wenstreep. Verandering is nou ’n leermeester hier. Inderdaad, as verandering ’n mens was, was hy/sy irriterend optimisties.

Verandering kom verby en ons moet dit bloot net aanvaar. Adapt or die! Effens kras, Mej. Verandering! En arrogant, verwaand. Irriterend optimisties. Veranderend.

Die bekende gesegde, “ ’n verandering is so goed soos ’n vakansie”, is ook vir my vreemd, want die enigste gemene faktor is dat jy ook heel waarskynlik, soos met ’n vakansie, vir die verandering sal moet betaal. En ek verwys nie na ’n verandering in haarstyl of ryding nie. Dit seker ook.

Maar, die verandering is nóú hier. Wat staan ons te doen? Bly staan!

Viktor Frankl, oorlewende van vier konsentrasiekampe het gesê: “When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves”. Ja, soms kan ons niks doen aan ons omgewing nie, maar ons is wel bemagtig om iets te doen aan ons denke. Hoe? Die beste raad hiervoor staan in God se Woord. En dis vir my mooi, want die Woord se fokus lê nie by verandering nie, maar eerder, op vernuwe.

In Romeine 12:2 staan daar: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Hierdie vers, een van vele in ’n (oor)vloed van beloftes, wat my in ’n staande posisie hou terwyl ek daagliks moet kies tussen dryf of sink.

Vervolgens verheug ek my in die swaarkry soos Romeine 5:3-5 aanmoedig, en herhaal die woorde van 1 Korintiërs 2:9 aan myself totdat ek luister: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” Hoe kan ons anders as om hierdie nié te glo nie?

Opnuut is ek dankbaar dat my masker nie my oor of hart toemaak nie. Ook nie my oog nie. Ek kan nog sien dat, ten spyte van die volksvreemde werksomgewing waarna ek elke oggend reis, ek wel nog ’n werksomgewing het om na toe te reis. Ek kan uit ’n warm bed opstaan en warm klere aantrek. Ek kan ’n kospakkie pak en medekollegas en meisies, wat soos ek hunker na ’n drukkie, sien. Ons kan lag en gesels en mekaar se harte voel en hoor – al staan die persoon 1,8 m ver.

Dus sal ek aanhou om die samesweringsteorieë stil te maak deur die woorde van “Die Onse Vader” net nog harder te sing. Ek sal aanhou opgewonde raak oor sy beloftes terwyl wêreld en leuens armdruk vir aandag. Dit alles, terwyl ek ’n afspraak het met dankbaarheid waar ek ’n glasie wyn sal klink op dit wat was, en dit wat weer sal wees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.