Voormalige Monnas-hoof groet oudleerling-president

Salie van der Wal (84) van Mookgophong, Limpopo skryf:

Oudpresident FW de Klerk (middel) in gesellige luim saam met die destydse hoof van Hoërskool Monument, Salie van der Wal (links) en die bekende radiopersoonlikheid en onderwyser, wyle Jan Cronjé (regs), tydens die skool se 70ste bestaansjaarvieringe op 31 Oktober 1991 in die skool se Gedenksaal.

Met die onlangse afsterwe van oudpresident FW de Klerk het ek eenvoudig geroepe gevoel om as enigste oorlewende, voormalige skoolhoof, ʼn besonderse ontmoeting met u te deel.

Die dag was 31 Oktober 1991 en ons het ʼn luisterryke geleentheid gevier, soos opgeteken in die annale van Hoërskool Monument, Krugersdorp.

Ons skool het sy 70ste bestaansjaar in die Gedenksaal gevier en die hoof-eregas van die aand was President FW de Klerk, wat in 1953 aan die skool gematrikuleer het. Tydens die funksie is daar spesiaal aan hom erkenning gegee vir wat seer sekerlik die hoogste sport is wat enige leerling kan bereik, naamlik om die staatspresident van die land te word!

Voor die aand se verrigtinge afgeskop het, het ek die voorreg as destydse hoof gehad om ʼn gesellige kuiertjie met hierdie merkwaardige man in my kantoor te geniet. Hy het my uit die staanspoor met verrassende staaltjies oor die skool getrakteer, terwyl ons albei ʼn koue glas whiskey vertroetel het en aan ʼn Peter Stuyvesant-sigaret geteug het.

Oudpresident De Klerk was ʼn uitblinker op skool wat in sy standerd nege jaar (nou bekend as graad elf) al sy vakke met onderskeiding geslaag het. Aangesien ek vooraf ʼn bietjie opleeswerk oor die man gedoen het, het ek hom toe ook speels oor sy matriekjaar en die aansienlike daling in sy punte gepols. Ek onthou nog sy verleë laggie en die vonkel in sy lewendige oë toe hy so ewe gebieg het dat dit ongelukkig die jaar is waarin hy die skoner geslag meer interessant begin vind het …

Wat die aand verder besonders gemaak het, was dat wyle Jan Cronjé, bekende radio-omroeper en onderwyser tydens De Klerk se skoolloopbaan, ook in die feesvieringe gedeel het.

Hiermee dus hierdie nostalgiese ervaring in woorde en die foto van ons drie manne, geneem op die aand van 31 Oktober 1991 in die Gedenksaal van Hoërskool Monument, Krugersdorp.

Eerbiedwaardige en simpatieke groete

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacques

Daar word nie meer vandag sulke herinneringe gemaak nie. Ou mense 50 jaar van nou gaan net fotos hê van hulself in spieëls en van skoene wat hulle oorweeg het om te koop.

MT

Dankie vir hierdie brokkie nuus. Heel interessant.

Die swakker punte in matriek weens die ontdekking van die skoner geslag, was seker te verstane, gegewe dat hy op daardie stadium slegs ‘n skoolkind was wat eintlik maar net vir homself en sy eie geluk verantwoordelik was.

Frank

Hy het jou seker niks vertel van die nag van die Generaals nie.

Blommie

Mens staan half verslae deur sulke mooi stories, met historiese waarde en trots, as mens dink ons huidige toestand is juis deur ons eie op ons gelaat, en hier sit ons, dit sal nooit weer so wees nie, nooit sal so ‘n groot geleentheid weer in ons taal plaasvind nie. Dankie FW.