Lesersbrief: Vrae oor veeltaligheid en betaalmuurstelsel – Netwerk24 antwoord

afrikaans-01

Argieffoto.

Anoniem van Centurion skryf:

As ʼn voorstander vir veeltaligheid en moedertaalonderrig ondersteun ek graag enige inisiatief wat poog om ʼn taal, of tale, te preserveer, op te bou en te promulgeer.

Groot was my verbasing (en blydskap) toe ek onlangs verneem het van News24 se Zoeloe-aanbod – ʼn edele inisiatief en ʼn voorreg wat ook die ander tale behoort gegun te moet word.

Die vroegste artikel wat ek kon naspeur pronk met die opskrif “Akwaziwa lutho ngo-Nelson Mandela” en dateer terug na Januarie 2011. Dit beteken dat miljoene Zoeloe-sprekers daagliks, vir die laaste ses jaar al, nuus kon lees in die taal wat hul koester en lief het.

Die heeltyd sit die ding egter ongemaklik met my. Is Nuus24, die Afrikaanse weergawe van News24, dan nie in 2013 ontbind nie?

Met die hulp van Google kon ek vinnig vasstel dat die presiese datum waarop News24 sy Afrikaanse lesers die rug toegekeer het 1 Julie 2013 was. Die operasie kon glo “nie op dieselfde vlak as News24 bedryf word nie”, en die res is natuurlik geskiedenis. Sedertdien is BeeldVolksblad en Die Burger se inhoud na een sentrale platform (Netwerk24) gemigreer en ʼn betaalmuurstelsel daarop geïmplementeer.

Dit laat etlike vrae ontstaan. Eerstens, waarom wegdoen met ʼn gratis Afrikaanse aanbod, maar volstaan met ʼn Zoeloe-weergawe? Wat vir een geld moet tog sekerlik die ander ook geld. En tweedens, waarom dan die meerderheid Engelse inhoud van News24 vertaal na Afrikaans en dan ʼn premie daarvoor hef as daar weinig waarde toegevoeg word?

Ek het Adriaan Basson, redakteur van News24 en voormalige redakteur van Netwerk24, verlede week hieroor gepols – sy reaksie hierop – stééds ʼn dawerende stilte; maar in plaas daarvan om ʼn deuntjie van verontregting te sing wil ek jou aandag graag vestig op NP Van Wyk Louw se woorde: “Afrikaans kan vitaal bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink.”

In hierdie konteks verwys die woord abstrak na die intellektuele, die metafisiese en die konseptuele, en die woord konkreet na die tasbare. Met ander woorde: Die toekoms van Afrikaans berus by dink én doen.

Ja, aanlyn-nuusblaaie soos Maroela Media bied ʼn hoë gehalte alternatief vir die Netwerk24’s en die News24’s van die wêreld, maar dit kan nie en dit mag nie al wees waarmee ons vorendag kom nie! Elkeen van ons, ek en jy, het ʼn verpligting om te dink en te doen. Blog, sing, skree, skryf, twiet, debatteer, gaan skool in en praat daarom Afrikaans. Dink altyd en doen altyd. Die twee is nie wedersyds eksklusief nie, maar onderling afhanklik van mekaar. Om die waarheid te sê, Afrikaans sal slegs floreer as ons albei doen.

  • Johanna van Eeden, hoofredakteur van Netwerk24, Die Burger, Beeld en Volksblad, antwoord:
johanna-van-eeden-twitter

Johanna van Eeden, hoofredakteur van Netwerk24, Die Burger, Beeld en Volksblad. Foto: Twitter.com.

Netwerk24 is die tuiste van Media24 se nuus in Afrikaans. Die webwerf word sewe dae ‘n week opdateer met nuus en menings en dit is – bykomend tot hierdie aanbod – ook die tuiste van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport. Dit is ook die plek waar jy nuus van ‘n netwerk van 14 plaaslike koeranttitels kry.

News24 huisves ook plaaslike koerante op sy platform – vandaar die Zoeloe-inhoud wat raakgelees is.

News24 en Netwerk24 het twee verskillende sakemodelle. News24 se sakemodel is primêr op advertensies gegrond, terwyl Netwerk24 se sakemodel primêr op intekenare fokus. Om goeie, geloofwaardige inhoud te skep en menings te kry is duur en elke titel – of jy nou Netwerk24 of Maroela Media is – moet besin oor ‘n toepaslike sakemodel om sy joernalistiek te finansier.

Netwerk24 is onbeskaamd Afrikaans en ons publiseer nie net ín Afrikaans nie, maar ook gereeld berigte en artikels óór Afrikaans. Ons erken en ondersteun die belangrikheid wat die Afrikaanse media speel in taalgesprekke – soos die briefskrywer uitwys – nie net in en oor Afrikaans nie, maar ter wille van die bevordering van ‘n veelheid van tale en stemme.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannah ·

Hmmm… dankie Izak – sien jy het jou in jou troupak uitgedos vir die geleentheid! :)

Ampie ·

Johanna, jammer maar die antwoord maak net nie sin nie. Afrikaanse artikels moet betaal, maar Engelse en Zoeloe artikels nie? Ek bly eerder by Maroela Media.

CJ ·

Hy lyk netjies en hy skryf netjies. Knap gedaan, Izak! PS. Ek het vandag ‘n paar nuwe Afrikaanse woorde geleer. Dankie!

Heinrich ·

Johanna, jy sê niks wat ons nie reeds weet nie, want julle kies doelbewus om Afrikaanse mense vir hulle nuus te laat betaal terwyl alle ander tale hulle nuus gratis van julle af kry. Ek is nie bereid om te betaal vir nuus nie, dus kan ek nie sê nie; maar sal graag wil weet: is Netwerk24 dan sonder enige advertensies?

Piet Snot ·

Johanna, baie dankie vir jou antwoord. Dit sê egter niks wat ons nie reeds weet nie.
Die Engelse weergawe werk op ‘n (vir die leser) gratis sakemodel; die Afrikaanse leser moet betaal. Izak sê dit reeds in sy brief.
Wat hy egter vra, en wat ons elkeen wil weet: waarom die onderskeid? Die antwoord daarop verswyg jy. Jy het nou die gulde geleentheid om die kwessie te verdedig, so sê vir ons reguit (sonder om te goël met sakemodelle ens.):
Waarom moet ons betaal en ons Engelse broers hoef nie??

Herman G ·

Ja, ‘n tipiese politikus antwoord. Om artikels to skep en menings te kry is duur – maar is dit nie duur in Zoeloe of Engels nie? As Netwerk24 dink hulle kan nie genoeg advertensie inkomste kry nie omdat adverteerders nie in Afrikaans wil adverteer nie dan moet hulle so se.

Dankie Izak dat jy dit uitwys!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.