Vrou se ope brief ná rooftog

Denis-en-Drikus-Combrinck

Denis en Drikus Combrinck. Foto: Facebook.

Denise Combrink het die ope brief geskryf nadat sy en haar man op 1 Julie vanjaar in hul huis in Pretoria oorval en beroof is:

In Johannes 10:10 staan geskryf: “Die dief kom om te steel in die nag…” Op die oggend van 1 Julie 2015 was ek en my man, Drikus Combrinck, vir twee uur aangehou in ons slaapkamer deur twee gewapende mans.

Vroeg in die oggendure, rondom 01:00, het die gewapende rowers ons erf betree. Die alarm het afgegaan, maar die sein was toe ongelukkig met ’n klein apparaat deur hulle “ge-jippo” – so daar was geen reaksie van sekuriteit nie. Die alarm het ’n tweede keer afgegaan die oomblik toe hulle toegang tot ons huis verkry. Die sekuriteitsmaatskappy het ons dadelik gebel, maar die rowers het in ons slaapkamer ingebars nog voordat ons kon antwoord. Met ’n geweer teen Drikus se kop en panga in die ander rower se hand moes hy toe voorgee dat dit ’n vals alarm was. Ja, hy kon die verkeerde wagwoord gee, maar een leuen voor die rowers en jou lewe is daarmee heen.

Baie aggressief bind hulle vir Drikus vas en storm na my toe wat geskok met toe oë in die bed lê. “Turn around! Turn around!” was al wat hulle heeltyd vir my geskree het. Baie verward en deurmekaar draai ek heeltyd om, met my gedagtes wat herhaaldelik vir my sê dat hulle ’n manier soek om my te verkrag. Hulle het mos nou die tyd! Ek wonder dadelik of my baba dit sal maak deur ’n verkragting. Op daardie stadium was ek agt weke swanger. Hulle bind my toe net vas.

“I’m going to shoot your dogs!” was hulle volgende woorde. Ag nee, my twee liefste Great Danes! Ek het hulle gesmeek om die honde te los. “Where are your kids? We will put them in the oven and in the freezer!” Ek het belowe dat ons geen kinders het nie, maar hulle het ons aanvanklik nie geglo nie. “If you lie, we will cut off your ears and your fingers with the panga!” was hulle dreigende woorde toe hulle aan ons eerlikheid getwyfel het.

Gebed en die Here was al waaraan ons kon vasklou. Ons bid vir engele, pleit vir die bloed van Jesus, bid vir bonatuurlike beskerming. Die rowers, ons en die honde, raak toe rustig. Hulle soek net waardevolle besittings, en is nogal ontevrede met wat hulle by ons kon kry. “At Woodhill Estate, we get very expensive things! That people have money! You people must not build your houses on hills, because we can see you from the street and then watch you a long time. You must also get a small dog that barks a lot, they keep us from coming in.”

Die een rower gesels met my terwyl Drikus en die ander rower deur die huis gaan. Hy praat van God. “I am a Christian, I go to church. But I can’t go now, because then I can’t do this. Then I have mercy.” Hy praat van Moses, die Rooi See, sy swaarkry en hartseer. Hy deel met my sy vrou se aborsie, sy vorige onbetaalde werk, hongersnood en yskoue winternagte. Toe die ander rower en Drikus die kamer weer binnekom, begin hy ons ook vertel van sy lewe, terwyl hy ons tasse volmaak met waardevolle besittings. Hulle wou weet watter werk Drikus doen. Op daardie stadium was hy besig om sy eie besigheid te begin en was dus werkloos. “Your business will do good. You are good people, and you must look after your wive”, was sy woorde aan Drikus.

Twee uur later kontak hulle die derde rower wat buite die landgoed staan en wag het totdat hulle gereed was om te gaan. Hulle bind ons toe aan die bed vas. “Are you comfortable?” vra hulle my. Ek was nie gemaklik nie. Hy vat toe ’n kussing en sit dit agter my rug. “Is that better?” vra hy my, waarop hy toe ook oplet dat daar ’n bababoek op my bedkassie lê. “I thought you don’t have children!” skree hy toe. “No, I am pregnant” antwoord ek dadelik. “Oh shame, so sorry”, was albei se terugvoer.

Net voor hulle uitstap was die een rower se woorde: “Lets pray for them?” Maar die ander een antwoord toe: “No! Then God will do a miracle!” Ek noem toe dat ons vir hulle sal bid. “Thank you very much”, antwoord hulle terug. Die laaste woorde toe hulle uitsap was: “Shalom!” Wat Hebreeus is en beteken “Gaan in vrede.” Daar was ’n bonatuurlike rustigheid in die kamer. Die Here se engele was teenwoordig en ons was beskerm! Vasgebind teen die bed het ons dadelik saam gebid en ons Vader bedank.

“Dit sal nooit met my gebeur nie…” was nog altyd in my agterkop. My pa het my gereeld vertel hoe geseënde kind ek is, en dat daar altyd engele is wat my beskerm. Ek het hom geglo. Maar tydens hierdie gebeurtenis dink ek toe hoe naïef ek was. Het ek regtig gedink dit sal nooit met my gebeur nie? Maar direk ná die rooftog herinner die Here my toe net weer dat dit waarvan my pa my verseker het, tog waar is. Ek is wel ’n geseënde kind van God, en sy engele was wel daar tydens die gebeurtenis om ons te beskerm.

Kort ná die rooftog het ons ginekoloog ons gewaarsku teen ’n moontlike Downsindroom-baba.

Die oomblik toe ek wonder “Dít ook nog! Hoekom ons Here?”, toe besef ek net weer – maar wie dan anders? Wie sal ek dit eerder toewens? Niemand nie. Niemand moet ooit deur ’n gewapende rooftog, of enige trauma gaan nie. Maar ongelukkig gebeur dit en die Here het dit toegelaat. Hy laat ons deur swaarkry ook gaan. Hy het ’n baie groter plan daarmee as wat ons verstand ooit sal kan begryp. In die moeilikste tyd van ons lewe was ons die naaste aan Hom. Hy was al wat saak gemaak het.

By Hom alleen het ons vreugde, beskerming, blydskap en absolute vervulling gevind, wat geen aardse besitting of persoon ooit sal kan vul nie. In die moeilikste tyd, was ons op ons gelukkigste. Werklik vergenoegd. Hy is ons primêre bron van vreugde. Alles en almal anders is sekondêr. Niks maak meer saak nie!

Johannes 10:10 eindig nie daar waar die dief kom om te steel nie. Verder se Jesus: “…maar Ek het gekom om lewe te gee, en lewe in oorvloed”.

Dis nou twee maande later en ons bly tevrede in ons huisie met die rustigheid wat ons in Psalm 91 vind. Ons het ook die goeie nuus ontvang dat ons ’n pragtige, gesonde babaseuntjie verwag. God is so goed vir ons!

As jy nog nooit deur swaarkry was nie, moet jy dalk hoop om daardeur te gaan. Dit het nie net ons lewens verander nie, maar ons ook die geleentheid gegee om ander se lewens aan te raak.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Colene ·

Sjoe dit is so ‘n mooi, tragiese, inspirerende, hartseer brief! Van uiterste tot uiterste, maar wat my die meeste uitstaan is die vreugde wat ons net by Jesus se voete kan kry, al is ons lewe vol storms! Baie dankie, hierdie maak my dag! Baie sterkte op jul toekoms! Jer 29:11

Landie ·

So hartseer en to ook so inspirerend. So dankbaar dat julle nie ernstig seergekry het in die hele drama nie!! Mag die Here julle en julle baba op die toekomspad beskerm sodat daar NOOIT weer so iets oor julle pad sal kom nie. Dit is MY wens vir julle!!

Elbie ·

Ek wil graag hierby aansluit. Op 30 Junie 2015 is ek siek by die huis, omdat dit skool vakansie is, is my kleinseun wat by my bly ook by die huis.

Ek kry ‘n gevoel dat ek die alarm moet aanskakel soos wanneer ons slaap in die nag. Op ‘n stadium roep ek vir Juan om hom te herinner dat die alarm aan is en hy dit eers moet kom afskakel voor hy dalk kombuis toe gaan. In daardie tyd is daar ;n dowwe slag en die alarm gaan af.

Ek spring uit die bed en voor my staan hierdie man in my kamer deur. Al wat ek gedink het was, “Here moet asseblief nie dat hulle ons seer maak nie” en ek het op die bed gaan sit en vir Juan gese hy moet sit waar hy voor die bed gestaan het.

Mens lees a\van al die gruwelike dinge met sulke inbrake, maar wonder bo wonder wys hierdie man vir ons om te bly waar ons is en draai om.

Later toe ons kyk na die kamera beelde van wat gebeur het, wys dit dat hulle per voertuig daar aangekom het en 7 minute geneem het om die motor hek oop te breek, die res was kinderspeletjies vir hulle om verby die veiligheids hek te kom na hulle die 1 kamera se drade uitgepluk het. Ek moet by se dat ons 4 honde het van ‘n pekinese, Jack Russel tot ‘n Boerboel en dit het hulle nie afgeskrik nie. Hulle gooi na die honde met water wat lig weerkaats en dan pad gee omdat hulle nie weet wat dit is nie.

Terwyl die 1 in die slaapkamer deur was, was daar nog een in die sitkamer en die een in die voertuig buite. Net die Here kon ons die beskerming gee dat hulle nie eens aan enige iets geraak het, of selfs met ons gepraat het nie.

Dit het my net meer sekerheid gegee dat God se Engele oor ons waak.

Die trauma na so iets is die ergste om te oorkom. Sterkte vir julle en al wat die trauma weg vat is bid en bid en praat daaroor.

Ek kyk elke dag soos ek ry na al die huise in Pypsteel erwe wat hekke doer agter het. Mense dit bied goeie beskerming aan die inbrekers. Skuif jou hek tot voor op die sypaadjie waar mense in die straat kan sien wat aangaan.

Amanda Wait ·

Dankie Abba Yahweh, dankie Jesus. U liefde is onbeskryflik. Onder U vleuels is ons veilig. U alleen is God vir ewig. ♥†♥

Pam ·

God is groot en verbaas ons mensdom elke dag. Jy is ‘n baie goedhartige mens en Abba Vader gaan nie dat dinge met mense gebeur sonder ‘n doel nie.

Alet ·

Dankie vir die mooi getuienis. Ons leer God werklik ken in tye wanneer ons desperaat is en ons net op Hom kan hoop en vertrou.

Melissa ·

Hongersnood, yskoue nagte, werkloosheid, sy vrou se aborsie, ens. is geen rede om kinders in ‘n oond of in die vrieskas te wil sit nie. Kinders is geen bedreiging vir die rowers nie. Veral nie die wat nog sal doek dra nie. Ek voel God het die gesin beskerm nadat hulle gebid het vir Sy beskerming, maar ek kan nie help om te wonder wat die rowers sou gedoen het as hulle wel kinders daar gekry het nie.

Petro ·

Amen so mooi hartseer brief! Ek se mos hul gaan so aan oor apartheid maar in apartheid het mense nie mekaar vermoor,beroof, gemartel om te oorleef nie ja ek praat nie goed wat hul gedoen het nie maar dis ook maar bad tot watse limits n mens moet gaan vir werk en oorlewing terwyl jacob zuma elke aand kokke het wat vir hom kos maak.

Louise Steyn ·

Dit is baie waar, soms moet ons deur swaar tye gaan juis om ons karakter en geloof op te bou.
Ek glo daar is n doel met alles, ons moet net altyd gefokus bly of God! Ons dien n wonderlike amazing Vader!

Yvonne ·

Baie dankie vir so ‘n mooi getuienis. Onse Vader bly getrou en Hy sal ons beskerm dag en nag. Al wat ons moet doen is bid en glo, en kyk net. Moenie ophou ‘n getuienis wees vir Hom nie. Mag die Here julle elke dag seen en beskerm. Julle is waarlik God se kinders

Donsie ·

Sjoe, dit is wonderlik om weer eens te weet HY BLY GETROU!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.