Vrou vermoor: Huldeblyk aan ’n uitgelewerde

Laurika Potgieter. Foto: Facebook

Laurika Potgieter. Foto: Facebook

Laurika Potgieter se liggaam is op 10 Augustus in haar huis op ʼn kleinhoewe by Silkaatsnek, naby Hartbeespoortdam in Noordwes, gevind. Sy het veelvuldige steekwonde opgedoen. Twee verdagtes is die volgende dag in die Rietfontein-gebied vasgetrek. Hulle is onderskeidelik 24 en 25 jaar oud. Die saak duur voort.

Sureta von Holtzhausen het die volgende aan Maroela Media gestuur met die woorde: “Laurika verdien dat haar storie gehoor word, al is dit ná haar dood.”

Opeens is sy Laurika Potgieter (45), ’n bekende en geliefde inwoner van Hartbeespoort, lees jy Donderdagoggend op Kormorant se Facebook-blad. Van Wag-’n-Bietjie teen Silkaatsnek. Doodgesteek.

Haar ma het haar wragtag ’n mooi naam gegee. Laurika. Nie die Fudge-vrou nie.

Sy staar half verby die kamera. Op daardie manier wat jy onthou sy al vir jare doen; asof haar oë lank terug nie meer wou kyk nie.

Jy onthou. En nou wil jy sê: wag-’n-bietjie, Laurika. Ek wil jou vertel van jou. Wag, voordat die wolkie daar bokant die kranse jou siel wegneem na ’n plek waar jou oë weer sal wil kyk.

Jy en sy was albei jonk in die laat jare tagtig. Jy met jou bedorwe drome oor loopbane en grade en ’n blink toekoms; sy op die damwal met haar pakkies fudge. In die bloedige somers het sy op en af gestap met die boks verlepte fudge; digby die toe vensters van lugversorgde karre met ’n leergelooide vel. Sy het altyd verby gekyk. Jy sou ook. Verby die vernedering na ’n plek van oorleef.

Wintertye was haar vingers rooi om die simpel boks fudge en het jou ma altyd vir jou gesê: Dis eerlike werk. Hulle bly aan die lewe so. En soms het sy deur ’n gleuf in die ruit vir haar ’n R10 gewaai. As sy die pakkie fudge uithou, het jy “Nee, dankie” gesê. “Ons dieet.” En goed gevoel omdat sy daardie pakkie dan vir dubbel kon verkwansel.

Jy voel vandag wat sy daardie dag sou voel. Die blokkies fudge was die verskil tussen bedel en eerbaar. Jy het haar daardie dag maak bedel. Haar leer verbykyk. Jy is steeds nie maer nie. Pleks jy die fudge gevat het en Laurika se eer in haar oë gaan terugbêre het.

Snags, in daardie pot fudge het hoop geprut; hoop op ’n verkope, maar sekerlik ook hoop op uitkoms; haar drome het een-een versmoor tussen die fudge en die “Glad Wrap”.

Toe sien jy haar eendag in Jasmyn. Sy het werk. En sonder dat jy weet hoekom raak jy bly oor haar en dankbaar vir Jasmyn. Dalk dankbaar dat sy nie meer uitgelewer is aan jou nie; aan die Samaritane van ons dorp, hetsy barmhartig of onbarmhartig. Die aarde is ’n ongenaakbare plek vir uitgelewerdes. Sy het koffie voor jou neergesit en beleef gepraat, maar nooit gekyk nie. Net-net verby. Die spyskaarte weggeraap. Jy het nie die vrymoedigheid gehad om vir haar te sê jy is bly nie; bly dat sy weg is van die damwal se wolke en son en koue.

Die jare het vir jou en vir haar kinders gebring en ons stories is saam-saam geskryf hier onder die kranse op die wye oewer van ons dam.

Waarmee was jy gisteroggend besig, Laurika? Toe hy jou huis binnekom? Terwyl jy hier sit en skryf, staan jou voordeur oop. Net ’n klein entjie weg van Wag-’n-Bietjie af. Jy het ook ’n selfoon en ’n skootrekenaar en ’n lewe wat iemand met ’n skerp voorwerp kan neem. Jy het ook drie kinders wat wees gelaat kan word met twee wrede steke in jou nek en bors; kinders wat by ’n skoolhek sal staan en in daardie oomblik nog nie weet hul ma bly nie meer saam met hulle nie. Gisteroggend hierdie tyd het sy nog gelewe. Was sy ’n ma en ’n mens wat op eerbaarheid oorleef het tot hier.

Miskien, dink jy, kon haar moordenaar eerder by haar kombuistafel gaan sit het en by haar gaan leer het van armoede en eer en vorentoe lewe. Miskien sou hy sien ’n ruggraat van staal bring jou oor damwalle na plekke waar ’n gemeenskap jou geliefd begin noem.

Tussen Afrika en God is daar besluit dat jy, oop voordeur en al, vandag sal lewe om jou kinders te gaan haal.

Jou hart pyn: vir al die genade wat sy nooit ontvang het nie. Nie eens die genade om haar kinders heelpad groot te maak nie. Jy dink aan haar vierjarige. Wie gaan haar leer van fudge-kook? Dat daar ook eer is in verbykyk.

Miskien lê die genade juis hierin: dat sy eindelik kan gaan heel wees iewers, dat haar kinders by iemand anders gaan leer dat die wêreld ook ’n plek kan wees waar mens norrevok verby hoef te kyk nie.

Jy weet sy het jou op ’n manier kom leer om die fudge te vat, dat die kelnerin se werk soms meer is as die prokureur en joernalis, dat ’n ma met ’n ruggraat van staal soms genade ontvang eers ná haar dood.

Jy ry en speel “Photograph” van Ed Sheeran op jou selfoon: “Time’s forever frozen, still.”

Jy huil met jou drie babbelende kinders op die kombi se agtersitplek. Jy huil vir ’n vierjarige wat nooit gaan leer hoeveel ’n hele gemeenskap kan leer uit ’n simpel boks fudge nie. Jy huil vir haar wat heen en weer oor ’n damwal moes stap, totdat sy eendag toegelaat is om bo-oor en verby te stap na ’n plek waar oorleef gelê het. Jy huil vir jouself en ’n hart wat hunker na ’n plek langs die see waar jy vlietend gelukkig was. Jy huil. Want die lewe is ’n simpel boks fudge wat leeg verkoop. Jy huil. Want jy weet dit is nie net Laurika Potgieter wat leer verbykyk het nie. Jy kyk na haar foto. Die Kormorant is reg: bekend en geliefd.

Jy kyk op. Die wolkie bokant die kranse by Silkaatsnek is weg: soos ’n klag wat teruggetrek is.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

JC ·

Dit is so, so mooi…dankie hiervoor…Ek sit met trane in my oe.
Rus in vrede Laurika.

Elize C ·

Sureta, miljoene dankies vir jou huldeblyk, ek sit nou snot en trane hier by my werk. Jy HET eer terug gesit in haar lewe. Dankie dat jy die insig nou ook by my laat insink het: VAT die fudge! Ek het ook al meermale by verskeie geleenthede die fout (besef ek nou) gemaak om die gevraagde geldjie vir ietsie wat dalk met moeite gemaak/gekook/gebak is te gee, maar nee dankie te sê vir die produk, ook onder die wan-indruk dat sy nou mos 2 x keer gaan geld kry daarvoor. Maar jou woorde is so waar: nou laat jy haar voel sy het geld gekry vir niks, met ander woorde soos ‘n bedelaar. Nooit ooit weer sal ek dit doen nie, net uit my hart dankie sê vir hul moeite met wat dit ookal is wat hulle gemaak het, en die eer vir opregte werk gedoen en geld daarvoor verdien, terugsit in hul oë. My hart huil oor haar kindertjies, mag Liewe Jesus hul in Sy arms toevou, en mag daar reeds in Sy plan, liefdevolle “pleeg-ouers” wees wie hulle met eer sal grootmaak.

Suzette Elias ·

Aan die persoon wat hierdie artikel oor Laurika Potgieter geskryf het, WELL DONE! Dit is ‘n pragtige boodskap aan ieder en elk van ons, dit voel amper asof jy haar “fudgeboks” iets Heilig gemaak het, baie dankie, ek het dit regtig waardeer en geniet.

tamboti ·

Jammer Laurika ons paaie het nooit gekruis nie, die fudge sou ek sekerlik koop as dit ooit sou.
Die trane wel ook in my oe, ons mense wat wel omgee sal ons bes doen om vir jou kinders sorg.
Rus van jou harde werk, jou leed en hartseer!

ansu ·

Dit was die mooiste hulde wat aan Haar die fudge-vrou kon opgedra word , dat ek skaamteloos kon trane stort. Mens hoop dat iemand hierdie pragtige stukkie skrewe eendag weer kan instuur dat daardie wesies hul moeder kan beleef. Pragtige skrywee!!!

MC ·

Mensig my hart wil breek. Dis die treffendste brief wat ek nog gelees het. Hoe goed ken ek nie daardie damwal nie en skielik wens ek, ek kon Laurika ook geken het en ek besef met ‘n skok, jy ken haar eintlik, want sy is ook in jou wat al die jare alles sou doen om vir jou kinders te kon gee wat nodig is om by ‘n skoolhek te kon staan. Baie baie dankie aan die persoon wat hierdie brief geskryf het want nie net is dit die pragtigste huldeblyk aan Laurika nie, maar aan elke mamma wat al wou moed verloor. Mag die Liewe Vader hierdie kindertjies toevou en mag hulle vir ewig trots bly op hulle mamma. Mag haar ster die helderste skyn in die donkerste nag oor Hartbeespoort se damwal.

Magda Nel ·

Terwyl ek die pragtige stuk lees, besef ek die deernis leef voort om aan haar erkenning te gee, selfs na haar dood. Adriaan Boshof Jr, bekende skilder het inisiatief geneem en ‘n blad ‘Potgieter Kids Art Auction’ gestig op facebook, waar van die beskendste kunstenaars ‘n kunswerk skenk om opgeveil te word, sodat daar finansieel bygedra kan word vir haar kinders. Die veiling sluit Woensdag, so lewer gerus ‘n bydrae deur vir jouself ‘n pragstuk te kry teen baie billike pryse.

Roenell ·

Dankie dat ek Laurika kon leer ken deur jou skrywe! Dit was n ma wat alles in haar vermoeë gedoen het om haar en haar kinders se lewens eerbaar te hou! Ek het die grootste respek vir haar gekry en ek is so jammer dat sy een van ons land se statistieke moes word! Ek weet haar kinders het die regte grondslag gekry ek ek hoop en bid dat daar iemand is wat hulle net n kans in die lewe sal gee! Ek is oortuig daarvan dat hulle n sukses sal kan maak van enige iets wat hulle aanpak! Ek sal van nou af altyd anders kyk na n blokkie fudge en die person wat dit verkoop!

Carolina ·

Ek laat sak my kop in skaamte met oë wat swem van die trane. Ek self het al nee dankie gesê vir ‘n pakkie fudge kastig ek eet dit nie. Dankie vir hierdie mooi skrywe, mag haar kinders net die beste pleegouers kry. So jammer jy moes so wreed sterf aan die hand van iemand wat niks vir niemand voel nie.

leon ·

N mens kan niks verder byvoeg nie die skrywer het alles gese wat oor so n persoon so Laurika gese kan word .jammer dat Sy so moes sterf aan die hand van n misdadiger

Amanda ·

Dit is pragtig – en dink dit het betrekking op almal – en dit laat mens 2 keer dink – Dankie vir dit!!!

najsaab ·

Die damwal is en was altyd ons grootste avontuur ek koop graag by die mense daar…..en wonder hoeveel kilometers n dag word daar op en af geloop langs die rye motors…….dankie vir die huldeblyk/brief dit staaf hoe ek nog altyd voeloor die smouse……wat nnharde eerbare werk doen hulle nie

Anoniem ·

Baie mooi…Die huldeblyk aan Laurika het baie trane in my oe gebring..En vandag wil ek net vir Zuma se…Kyk wat gaan in Suid Afrika…Kyk hoeveel pragtige mensies sterf op so n manier…Nie nice nie….Zuma begin opstaan vir elkeen van ons…Ek glo nie jy gaan nie!!!!!!!!

Cathy ·

Laurika jy sal voorleef in jou 3 meisiekinders, jjy het hulle geleer dat rykdom nie beteken hoeveel geld hulle het nie, maar hoeveel liefde en omgee jy het.

Mariette Hammann ·

Wat ‘n ongelooflike mooi huldeblyk aan hasr. Mag dit vertroosting bring vir haar familie.

Ina ·

Sureta, dankie vir ‘n huldeblyk aan iemand wat ek nie eens ken nie, maar iemand wat ek elke dag sien staan by die robot. Partydae kyk ek anderpad, want ek weet nie wat ek sal maak indien ek in so ‘n situasie moet beland nie. Daardie smeek oë vir iets….dit breek my hart want hulle selfrespek is al lankal afgebreek tot die vlak van die laaste persoon wat hulle gevloek het omdat hulle kwansuis te sleg is om te werk! Nooit sal ek verby daardie vrou by die robot ry sonder om die Here te dank ek is nie in daardie situasie nie, want niemand van ons sal weet hoe dit voel nie. Ons met ons mooi motors en pragtige huise, hoe sal ons weet wat hulle deurmaak? Ek het eintlik nie woorde om my emosies te beskryf nadat ek hierdie artikel gelees het nie.

koekies ·

Dankie vir die mooi boodskap oor Laurika op haar manier het sy haar hande werk verkoop aan andere. Sy het haar binneste uitgedra aan haar medemens . Wat is nou lekkerder as n stukkie fudge tuisgemaak. Mag ons Hemelse Vader sy hand hou oor die kinders wat agtergelaat is sonder enige moeder om net vir haar vir oulaas te se ons het jou lief,jy’t uit jou pad gegaan om vir ons te sorg. Mag sy in vrede rus met die wete sy is by Onse Vader daar bo waar niemand haar einige leed kan aandoen nie.

Hesta ·

Ek salueer die skrywer van hierdie stuk vir uitmuntende gevoel op papier sit en ek salueer LAURIKA, wat ‘n spreuke vrou … almal in die stadspoorte ken haar, sy dink aan die dag van more … totdat iemand die reg neem om haar kinders te ontneem van ‘n mamma. Mag die Here hierdie kinders toevou in sagte lappe en die regte mense oor hul pad bring … mag die herinneringe om ‘n “warrior” vir ‘n ma te kon gehad het, hul vertroos en rustigheid in hulle harte gee vorentoe.

peanut ·

WAT N HULDEBLYK!

Kan ek vra dat enigiemand wat hierdie brief lees, en wat vir Laurika geken het, dit uit-druk en laat raam, en vir haar kindertjies gee. Eendag gaan hulle groot wees en dit kan lees en verstaan, en WEET hulle mama was n MA DUISEND.

Ruby ·

Sag rus Laurika. Jy is ‘n voorbeeld vir baie ma’s daar buite.

Met dit wat jy tot jou beskikking gehad het, het jy ‘n eerbare werk gedoen. Jy het meer intergriteit as die land se staatspresident en geleerde mense wat steel, want JOU genoeg was vir jou genoeg.

Mag die Here Sy hande sagkuns om jou kinders hou.

Siestog ·

Wat ‘n pragtige verhaal. Inderdaad moet hierdie huldeblyk bewaar word vir haar kinders. Rus sag Laurika. Ja ek wonder hoeveel afjakke was daar nie. Was ek ook al skuldig aan hierdie tipe wandaad. Ek skaam my vandag vir myself al sê ek nie iets nie, sê net nors: “nee dankie”.

Jeanne ·

Pragtig geskryf, en beslis ‘n les om daaruit te leer, ons kyk so maklik weg omdat dit met ons beter gaan as met haar, sy het alles gedoen om die beste vir haar en haar kinders te kon gee en ‘n moordenaar kom vat dit alles weg, terwyl sy net die nodige gehad het. So hartseer en tragies, net nog ‘n statistiek in SA. Dankie dat julle haar storie geskryf het en mense daardeur gedwing het om ook in ander se lewens en harte in te kyk. So jammer vir haar kinders.

Sê maar net ·

Jou huldeblyk aan Laurika en die kommentaar van julle almal is so mooi. Ek het haar nie persoonlik geken nie, maar wens nou ek het. Ek sit met di knop in my keel, maar wil net vra haar familie of haar vriende, kyk asb mooi na haar kinders en gee hulle asb al die liefde wat hulle verdien en nog daardie bietjie meer. Laat my dink aan “My Oomie” by die robot in die oggende.

Ansie ·

Sureta jy het hierdie artikel fantasties mooi geskryf. Dankie vir die kykie in hierdie arme mens se lewe. Dit vat guts vir iemand om hul trots in hul sakke te steek en van motor tot motor te loop met boks vol fudge om dit te verkoop. En jy beskryf die verhaal met soveel deernis. Dankie.

Mietsie Kruger ·

Lief Sureta- ek het haar nooit geken nie…maar deur die innige meegevoel in jou stem en die sagtheid van jou woorde, het ek vir 3 klein mensies gebid… Het ek besluit om nog ñ keer te probeer fudge maak (dis werklik ñ kuns) en wanneer ek die uitdeel of self op eet…te dink aan die een wat verby kon kyk… verby die afknou en eina’s van geniepsige opmerkings … verby verwerping of bejammering..ek glo dat sy dikwels Die Vader gesien staan het aan die annerkant van ons klei-mense…en Hom gesien glimlag het. Dankie vir genade – woorde wat soveel heelmaking gebring het… Hou aan skryf. Dis jou genade-gawe !!!

Ida ·

Sy was my Niggie en ek is nog altyd lief vir haar. Ek is net baie spyt dat sy so moes gegaan het. Ek kan glo sy was n goeie mens. Rus rustig my nig. Gaan jou baie mis.

Michelle ·

Mooiste brief ooit maar nie eers daai brief het genoeg mooi woorde om haar te beskryf. Sy was amazing!!! bly ons kon haar ken!!!!!!!! Gaan jou mis Laurika ????

Yolanda ·

Baie mooi huldeblyk aan haar. Ek het in die area groot geword en ek ken nie vir Laurika nie maar die brief het my maak dink , hoe behandel ek ander mense???
Baie dankie uit NZ

SNEL ·

Sjoe, eers lees ek die berig waar sy gesterf het en ek raak ongelukkig omdat dit weer een van my mense is, en dit n ma, n enkelma wat nou klein kindertjies agterlos. My hart is stukkend vir iemand wat so wreed weggeruk is van haar kinders en mense, maar nou lees ek die huldeblyk en ek leer die mens agter die tragedie ken, en ek huil, want ek besef sy het bitter bitter swaar gehad en ek wens ek was daar om te help en van haar laste te dra en ek lees die kommentare en van hulle het sulke woorde wat diep tref en ek tjank net nog verder. Hierdie vrou het nie baie van ons geken nie, maar ons het vreeslik baie by haar geleer. Hesta het dit so mooi gesê, n “warrior” van n ma, hierdie kinders het n yster van n ma gehad, ja, die sport vrou wat daaroor geskryf word in Spreuke. Mag die Here hierdie kindertjies toevou, beskerm en seën op hul lewenspad en mag hulle ook as oorwinnaars lewe en nie deur die tragedie gebreek word nie, maar opstaan en uitstyg bo hul omstandighede en die feit dat hul mamma so wreed van hulle af weggevat is. Baie sterkte vir almal hierdeur geraak.

Traan traan traan ·

Traan traan oor jy wat nie meer hier is vir jou geliefdes, dankbaarheid dat jou lewe soveel lesse vir ons almal kan bring, mag dit voortleef in jou kinders. As ek 1 klein wens kon he,sou ek graag vir jou n paar minute wou terugbring om die vrug van jou volgehoue getrouheid en eerlikheid te wys, jy sou groot oog en oopmond gestaan het, mag jy in vrede rus!

Elize ·

Wow wat ‘n huldeblyk. Dit laat my nou my kop in skaamte sak. Op die kruising van Moloto pad met Zambesiweg is daar ‘n jongman wat gemmerkoekies, beskuit en fudge verkoop. Ek het in die verlede by hom gekoop, en ook eers nadat ek allerlei verskonings vir myself opgediep het. Toe het ek eendag gaan sit en dink oor die jongman, en wat hy ook later bevestig het. Hy staan watter tyd van die dag op en begin bak en brou, vir ‘n inkomste. Hy doen earlike harde werk en het altyd ‘n glimlag op sy gesig, of jy nou by hom koop op nie, en hy groet almal wat by hom verby beweeg.

Ja ons Afrikaanssprekendes is nie bang vir harde werk nie, maar ons is te bang om ander mede Afrikaanssprekendes te ondersteun met hulle besigheid/produkte bloot uit selfsugtigheid.

Mag hierdie vrou in vrede rus, en mag haar dood nie verniet gewees het nie, en mag dit vandag baie lewens aanraak, en mag hierdie huldeblyk baie van ons se denkwyse verander.

Thellies ·

Ek stem saam dat hierdie huldeblyk aan Laurika moet bewaar word vir haar kinders. Dit wat soveel moet en tog vernedering om op staat te moet staan en iets verkoop om jou familie aan die lewe te hou. Laurika is ‘n ma duisend. Dink net aan die ure wat sy voor die stoof gestaan het om die Fudge te maak tot diep in die nag en dan heeldag op die brug moes deurbring om dit te verkoop. ‘n Ma om regtig trots op te wees.

Hester ·

Hier sit ek en huil , vir ‘n Mamma wat net swaar in haar lewe geken het, wat te vroeg vooruit gegaan het, baie dankie vir die huldeblyk wat jy vir haar gegee het, ek glo dit sal baie mense se harte raak !
En mag Jesus haar kinders toevou onder Sy kosbare bloed, alles so onnodig gewees.

My hart stukkend vir al die onnodige moorde !

mosselbos ·

Ek weet n mens se geduld is maar skraal as iemand altyd iets aan jou wil verkoop. Maar dan dink ek altyd aan die wyse woorde : no man is an island. Dit is iemand se seun/ dogter/ouer. Behandel hul met respek

Abel ·

Dit is so mooi boodskap en huldeblyk aan haar, shoe dit laat mens dink hoe ondankbaar ons oor dinge in die lewe kan wees. Rus in Vrede by Jesus se Voete….

Abel ·

Dit is so mooi boodskap en huldeblyk aan haar, shoe dit laat mens dink hoe ondankbaar ons oor dinge in die lewe kan wees. Rus in Vrede by Jesus se Voete…. Sterkte aan haar geliefdes wat nou agterbly.

RITA ·

Rus in vrede Laurika…….my hart is baie, baie seer vandag. Ek bid Here dat haar drie kindertjies n liefdevolle tuiste kry. Here ek bid dat hulle nie van mekaar geskei sal word nie, maar saam verder groot sal word. Mag hulle elke sekonde onder U hand van bewaring en beskerming wees. Amen.

Susan ·

Wow Dit is ‘n baie mooi huldeblyk vir Laurika, baie dankie. Sy is ‘n legend in Harties, en sal altyd onthou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.