Waardevolle lesse uit die waterkrisis

bouwe-van-der-eems

Bouwe van der Eems. Foto: Verskaf.

Bouwe van der Eems van Milnerton skryf:

Verteenwoordigers van Stad Kaapstad het publieke vergaderings gehou om inwoners in te lig oor die waterkrisis. Tydens een so ‘n vergadering op 6 Maart in Milnerton het ‘n verteenwoordiger ‘n verfrissende eerlike insig in die situasie gegee.

Baie inwoners was ontsteld oor die wyse waarop die krisis hanteer is, en voel dat politici aangekla moet word omdat hulle nie hulle grondwetlike verpligtinge nagekom het nie. Uit die bespreking het dit egter duidelik geword dat al sou dag zero aanbreek en inwoners moet tou staan vir water by een van 200 verspreidingspunte, nóg die stad nóg die nasionale regering verantwoordelik gehou sal kan word. Regsaksie kan eers begin wanneer mense sterf omdat hulle nie toegang tot water het binne ‘n sekere radius nie.

Die verteenwoordiger het erken dat die krisis vermy kon word indien die voorsiening van water soos ‘n besigheid hanteer is. Herhaaldelik het sy daarop gewys dat menige swak besluite die gevolg daarvan was dat die voorsiening van water ‘n politieke spel is. Daar is dus weinig twyfel daaroor dat ‘n krisis afgeweer sou kon word indien watervoorsiening geprivatiseer was en op saaklike wyse hanteer is.

Ongelukkig het politici geen aptyt om te privatiseer nie. Inteendeel, wetgewing is ingevoer wat owerhede die mag gee om innoverende entrepreneurs te vervolg indien hulle oplossings sou aanbied om inwoners te help as dag zero sou aanbreek.

Die les van die waterkrisis is dat dit die ware motiewe van politieke leierskap onthul. Dit is duidelik dat sowel plaaslike asook nasionale owerhede bereid is om dag zero te laat aanbreek, eerder as om die privaat sektor die geleentheid te gee om die probleem op te los. Die hoogste prioriteit van owerhede is dus die behoud van mag, en nie die voorsiening van water nie.

Ongelukkig gaan dit ook nie baat om ons magsbehepte politieke leierskap te vervang deur vir ‘n ander party te stem nie, aangesien daar geen groot politieke party is wat privatisering van watervoorsiening voorstaan nie. Solank politici in beheer van water is, gaan watertekorte die “new normal” wees en politici gaan dit gebruik as ‘n rede om belastings te verhoog en meer mag uit te oefen.

Soos politici die “new normal” gaan bestuur van die een ramp na die volgende, gaan inwoners geen ander keuse hê as om toenemend gebruik te maak van innoverende entrepreneurs wat onder die radar werk nie. Dit gaan al hoe meer die geval wees dat die enigste funksionerende watermark ʼn swart mark gaan wees. Wanneer dit gebeur gaan die fokus van die stadsraad al hoe meer verskuif van die voorsiening van water na die vervolging van entrepreneurs. Dan gaan dit vir almal duidelik wees dat die stadsraad se prioriteit nie is om vir sy inwoners te werk nie, maar om teen sy inwoners te werk.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Hier is ‘n sprekende voorbeeld van die punt van die bogenoemde artikel, van hoe die politici gewaarborg is om ‘n waterramp te veroorsaak:

Kroonstad, (‘n dorp wat vele maal onsuksesvol probeer het om ‘n Afriforum tak te stig vanweë die teenkanting van gevestigde politieke belange) het ‘n dag-zero water krisis enkele jare gelede beleef. Daar is twee damme, die Serfonteindam sonder kapasiteit maar met watervloei en die Bloemhoekdam met kapasiteit maar nie watervloei nie. Die stelsel was ontwerp dat water van die een na die ander gepomp moet word, iets wat die Moqhaka munisipaliteit dekades gelede gestaak het. Die mensegemaakte krisis het tot die ramp in die droogte van 2016 gelei waar daar geen water in die Bloemhoekdam oor was nie. In Maart 2018 is daar goeie reën en die Valsrivier loop sterk. Maar die Moqhaka munisipaliteit het weereens opgehou om water van die een na die ander dam te pomp, omdat dit volgens hulle nie nodig is nie. Hulle hou steeds vol dat droogte die oorsaak van 2016 se ramp was en dat die pomp van water niks daarmee te doen gehad het nie.

Terloops die damme kan deur gravitasie gevul word omdat die Bloemhoekdam laer as die Serfonteindam is, maar dit is ook ‘n infrastruktuurprojek wat deur die Moqhaka munisipaliteit gekanselleer is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.