Waardig op my eie wysie

geestesgesondheid

Foto: About.itriagehealth.com

Hoewel ek self skaars kan noot hou in die kerk, kyk ek graag na Idols.  Dit verbaas my telkens hoe uniek die stem en styl van elke deelnemer is en hoe hulle groei en verbeter met die regte hulp en opleiding. Die aanvanklike bedeesde kuiken wat verskrik gestaan en piep het, ontluik oor ‘n aantal weke in ‘n nagtegaal. Nogal met mooi vere ook.

So is elkeen van ons gebek met ‘n unieke wysie. In hierdie lewe lyk dit soms asof daar net ‘n sekere aantal aanvaarbare koortjies is. Sing jy nie saam in een van hulle nie, is jy blykbaar letterlik en figuurlik van jou wysie af. Dit help veel jy probeer verduidelik dat, hoewel jy nie by die verwagte toonlere kan uitkom nie, jy darem wél ‘n wysie hét. As iemand net wil luister… Nee, vriend en vriendin. Hulle klap jou snawel toe en smoor jou stem met etikette; bipolêr, skisofrenies, neuroties, psigoties, aandag afleibaar, depressie, hiperaktief, outisties, nageboorte depressie, fetale alkoholsindroom, obsessief-kompulsief, Down se sindroom, noem maar op. As hulle nie ‘n naam vir die toestand het nie, skryf hulle sommer ‘bietjie snaakserig’ of ‘van lotjie getik’ op jou etiket. Jy word uitgeskuif en niemand wil jou sien of na jou deuntjie luister nie.

Hierdie uitgeskuifde mense sit naderhand bang en alleen in huise, hospitaalsale en inrigtings. Hul deuntjies waai weg in die wind, hulle raak stil. Hul harte is seer oor hulle nie goed genoeg is nie. Geestesóngesond.

Ons praat nie daaroor nie.

Dit maak blykbaar nie saak dat die sogenaamde normales, mooi voorbeeldig in hul boksies, mekaar meestal doodskree en in elk geval maar net agter ‘n ander een aanskree nie. Dis dieselfde deuntjie oor en oor. As jy afwyk, skop hulle jou uit. Dit klink ook nie juis danig melodieus nie. Wie is dit dan nou eintlik wat die wysie-probleem het?

Dis tyd dat dié van ons wat kastig van ons wysies af is, ons kele skoonmaak en begin sing. Op 10 Oktober is dit Wêrelddag vir Geestesgesondheid. Dit sluit mense met intellektuele en liggaamlike gestremdhede, sowel as gemoedstoornisse, in. Vanjaar se tema is “Waardigheid in Geestesgesondheid” (Dignity in Mental Health). Dit beteken dat, al verskil jou wysie so bietjie van die spul skreeuendes s’n, jy die volle reg het om te sing waar, wanneer en so hard as wat jy wil. Want jy is ‘n méns, ‘n waardevolle mens in eie reg. Maak nie saak wát op jou etiket staan nie, dis in orde, jy mag maar so wees. Jy is rêrig oukei.

Kom ons raak tegnies. Want ons kán. Volgens die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid (SA Federation for Mental Health) erken en beskerm die Grondwet van Suid-Afrika elke mens se reg tot waardigheid as ‘n basiese mensereg. Wetgewing soos die Nasionale Geestesgesondheid se Beleidsraamwerk verskaf bykomende ondersteuning en beskerming aan mense met gemoedstoornisse, intellektuele gestremdhede en probleme met geestesgesondheid. Hierdie mense het die reg tot waardige behandeling, basiese opvoeding, werksgeleenthede en om insae te hê in sake wat hul eie gesondheid en behandeling betref.

Op Wêrelddag vir Geestesgesondheid probeer die SA Federasie vir Geestesgesondheid om almal bewus te maak van die stryd teen die stigma en diskriminasie wat mense met geestesgesondheidsprobleme ervaar. Die publiek moet besef dat mense met geestesgesondheidsprobleme met respek behandel moet word en beskou moet word as volwaardige individue wat ‘n sinvolle bydrae tot die samelewing kan lewer. Hulle is, net soos die Idols-deelnemers, ook geregtig op hulp om hul volle potensiaal te bereik.

Sing dus jou wysie na willekeur, want jy is weergaloos en waardig.

Annelize Jansen van Rensburg

  • Bel die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid op 011 781 1852, of besoek hul webwerf by www.safmh.org.za.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Gesondheid, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.