Waarom is Afrikaners polities irrelevant?

bouwe-van-der-eems

Bouwe van der Eems. Foto: Verskaf.

Bouwe van der Eems van Milnerton skryf:

Sedert die einde van die Nasionale Party se bewind in 1994 het Afrikaners se politieke invloed gekwyn tot byna niks. Een van die redes hiervoor is dat partye wat die belange van Afrikaners probeer bevorder, oorwegend konserwatiewe politiek bedryf het. Vir legio redes is hierdie soort politiek egter ’n resep vir mislukking.

Konserwatiewe bewegings kan nooit wen nie

Konserwatiewe bewegings probeer om inisiatiewe van progressiewe bewegings te stop. Wanneer so ’n poging 100% suksesvol is, is slegs verhoed dat ’n inisiatief op daardie oomblik geïmplementeer word. Dis egter slegs ’n kwessie van tyd totdat die progressiewes die inisiatief op ’n slimmer manier weer probeer invoer. Konserwatiewe bewegings kan dus hoogstens die agenda van die progressiewe beweging vertraag, maar nooit werklik stop nie. Hulle bereik slegs ’n tydelike wapenstilstand, maar nie oorwinning nie.

Meer dikwels word die progressiewe inisiatief slegs gedeeltelik gestop, en in daardie geval het die progressiewe beweging gewen. Alhoewel hulle een stappie terug moes gaan, het hulle nog steeds twee stappies vorentoe gegaan. Die belange van die konserwatiewe beweging se ondersteuners het slegs stadiger versleg, maar nie verbeter nie.

Konserwatiewe bewegings kan nie inspireer nie

Progressiewe bewegings het ’n toekomsvisie van ’n beter samelewing waarna hulle streef, en die inisiatiewe wat hulle voorstel, is stappe om daardie toekomsvisie te verwesenlik. ’n Toekomsvisie inspireer, aangesien min mense werklik tevrede is met die status quo. Die konserwatiewe beweging het egter nie ’n toekomsvisie nie en kan daarom nie inspireer nie. Hulle kan slegs argumenteer dat die utopiese toekomsvisie van die progressiewe beweging in werklikheid ’n distopie gaan wees. Hul oninspirerende boodskap is dat dit beter is om te bly leef met die duiwel wat jy ken, as die duiwel wat jy nie ken nie.

Konserwatiewe bewegings neem selde inisiatief

Konserwatiewe bewegings probeer om die status quo te behou. Solank niemand probeer om die status quo te verander nie, doen hulle niks nie. Progressiewe bewegings daarenteen is ontevrede met die status quo, en is konstant besig met nuwe inisiatiewe om die status quo te verander. Om dié rede is progressiewe beweging beter voorbereid vir die stryd en het hulle die voordeel van verrassing.

Die stryd van die konserwatiewe beweging is duur, met min kans op sukses

Die progressiewe beweging se inisiatief word oor ’n lang termyn agter die skerms voorberei. Slegs wanneer die inisiatief voor die skerms sigbaar word, kan die konserwatiewe beweging begin reageer. Dan moet daar inderhaas geanaliseer word wat die probleme met die inisiatief is en steun gewerf word om dit te stop. Soms moet van dringende hofbevele gebruik gemaak word. Om oor ’n kort termyn iets te probeer stop is duurder en meer riskant as om oor ’n lang termyn voor te berei in te voer.

As gevolg van bogenoemde redes het konserwatiewe bewegings min sukses. Veral waar die gevestigde orde progressief is, en die opposisie konserwatief is. Aangesien die belange van Afrikaners hoofsaaklik bevorder is deur konserwatiewe organisasies, het die politieke invloed van Afrikaners gekwyn.

’n Organisasie wat die belange van ’n gemeenskap wil bevorder, moet ’n gemeenskap inspireer met ’n positiewe toekomsvisie en ’n plan om dit te bereik. So ’n plan moet moontlik wees. Dis om op klein skaal te begin en oor tyd uit te bou. Die implementering van die plan moet ook nie afhanklik wees van die goedkeuring van die gevestigde orde nie, anders moet jy onbepaald wag vir genoegsame politieke steun voor die eerste stappie geneem kan word. ’n Positiewe toekomsvisie kan mense inspireer. ’n Plan wat klein kan begin, sonder toestemming van die gevestigde orde, het ’n groot kans op sukses, en elke klein stappie wat gevorder word, verhoog die vertroue dat die toekomsvisie eindelik bereik kan word.

’n Mooi voorbeeld van so ’n toekomsvisie met ’n plan is die strategie van Elon Musk. Sy toekomsvisie is om alle energie deur middel van sonkrag op te wek, en hy het ’n kommersieel haalbare plan om hierdie visie oor tyd te bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Nee wat jy kan nie toekomsvisie van energie vergelyk met omstandighede in S.A. Die rede hoekom Afrikaners geen politieke invloed het nie is a.g.v die tekortkominge van die grondwet waar die meerderheidstem alles oorheers. 3 miljoen kiesers het die vorige plaaslike verkiesing nie gaan stem nie omdat hulle ontevrede was met die huidige regeerders. Wat dink jy gaan gebeur as hulle dievolgende verkiesing weer gaan begin stem as Zuma weg is. Nie die EFF of DA gaan hulle keer nie en die kiesers sal soos Zimbabwe se ZANUPF weer die ANC in die mag hou. So moet asb nie nonsens… Lees meer »

Pietman

Sjoe die man kan darem nonsens skryf. Dis nogals ‘n kuns om so baie te skryf maar tog niks te sê nie. Haha. Die antwoord is eenvoudig. Afrikaners is polities irrelevant omdat ons ‘n klein minderheid is. Maklik.

Jaco

Wat n klomp nonsens! Sover ek weet staan meeste Afrikaanse organisasies vir gelykheid, integriteit en om almal se belange op n gelyke vlak te bevorder! Jou punt is irrelevant want sover ek weet is Afrikaners (jou kamma konservatiewes) in Suid Afrika maar 3 Miljoen vs 45 miljoen of iets…so go figure!

Reinhardt

Bouwe, ek verstaan wat jy probeer sê, maar ek dink nie jy verstaan wat konserwatief beteken en waarvoor dit staan nie. Dit staan ook vir n beter toekoms, maar al wat ons probeer doen is om dit stadiger te verwesenlik, om sodoende die kat uit die boom te kyk voordat dit implimenteer word. Ons wil nie net skielik alles in kommunisme omswaai omdat een ou perd geskryf het in sy tesis dat dit beter is nie. Ja, kommunisme is n drastiese voorbeeld, maar dit bewys my punt. Voordat almal nog geweet het van die gevare van kommunisme het menige lande… Lees meer »

Reinhardt

Die rede hoekom ons nie n sê het nie is eintlik dood eenvoudig… ons is minder as 8% van die bevolking. In watter land het jy al ooit gehoor dat 8% n sê het?