Lesersbrief: Waarom is Afrikaners polities irrelevant?

bouwe-van-der-eems

Bouwe van der Eems. Foto: Verskaf.

Bouwe van der Eems van Milnerton skryf:

Sedert die einde van die Nasionale Party se bewind in 1994 het Afrikaners se politieke invloed gekwyn tot byna niks. Een van die redes hiervoor is dat partye wat die belange van Afrikaners probeer bevorder, oorwegend konserwatiewe politiek bedryf het. Vir legio redes is hierdie soort politiek egter ’n resep vir mislukking.

Konserwatiewe bewegings kan nooit wen nie

Konserwatiewe bewegings probeer om inisiatiewe van progressiewe bewegings te stop. Wanneer so ’n poging 100% suksesvol is, is slegs verhoed dat ’n inisiatief op daardie oomblik geïmplementeer word. Dis egter slegs ’n kwessie van tyd totdat die progressiewes die inisiatief op ’n slimmer manier weer probeer invoer. Konserwatiewe bewegings kan dus hoogstens die agenda van die progressiewe beweging vertraag, maar nooit werklik stop nie. Hulle bereik slegs ’n tydelike wapenstilstand, maar nie oorwinning nie.

Meer dikwels word die progressiewe inisiatief slegs gedeeltelik gestop, en in daardie geval het die progressiewe beweging gewen. Alhoewel hulle een stappie terug moes gaan, het hulle nog steeds twee stappies vorentoe gegaan. Die belange van die konserwatiewe beweging se ondersteuners het slegs stadiger versleg, maar nie verbeter nie.

Konserwatiewe bewegings kan nie inspireer nie

Progressiewe bewegings het ’n toekomsvisie van ’n beter samelewing waarna hulle streef, en die inisiatiewe wat hulle voorstel, is stappe om daardie toekomsvisie te verwesenlik. ’n Toekomsvisie inspireer, aangesien min mense werklik tevrede is met die status quo. Die konserwatiewe beweging het egter nie ’n toekomsvisie nie en kan daarom nie inspireer nie. Hulle kan slegs argumenteer dat die utopiese toekomsvisie van die progressiewe beweging in werklikheid ’n distopie gaan wees. Hul oninspirerende boodskap is dat dit beter is om te bly leef met die duiwel wat jy ken, as die duiwel wat jy nie ken nie.

Konserwatiewe bewegings neem selde inisiatief

Konserwatiewe bewegings probeer om die status quo te behou. Solank niemand probeer om die status quo te verander nie, doen hulle niks nie. Progressiewe bewegings daarenteen is ontevrede met die status quo, en is konstant besig met nuwe inisiatiewe om die status quo te verander. Om dié rede is progressiewe beweging beter voorbereid vir die stryd en het hulle die voordeel van verrassing.

Die stryd van die konserwatiewe beweging is duur, met min kans op sukses

Die progressiewe beweging se inisiatief word oor ’n lang termyn agter die skerms voorberei. Slegs wanneer die inisiatief voor die skerms sigbaar word, kan die konserwatiewe beweging begin reageer. Dan moet daar inderhaas geanaliseer word wat die probleme met die inisiatief is en steun gewerf word om dit te stop. Soms moet van dringende hofbevele gebruik gemaak word. Om oor ’n kort termyn iets te probeer stop is duurder en meer riskant as om oor ’n lang termyn voor te berei in te voer.

As gevolg van bogenoemde redes het konserwatiewe bewegings min sukses. Veral waar die gevestigde orde progressief is, en die opposisie konserwatief is. Aangesien die belange van Afrikaners hoofsaaklik bevorder is deur konserwatiewe organisasies, het die politieke invloed van Afrikaners gekwyn.

’n Organisasie wat die belange van ’n gemeenskap wil bevorder, moet ’n gemeenskap inspireer met ’n positiewe toekomsvisie en ’n plan om dit te bereik. So ’n plan moet moontlik wees. Dis om op klein skaal te begin en oor tyd uit te bou. Die implementering van die plan moet ook nie afhanklik wees van die goedkeuring van die gevestigde orde nie, anders moet jy onbepaald wag vir genoegsame politieke steun voor die eerste stappie geneem kan word. ’n Positiewe toekomsvisie kan mense inspireer. ’n Plan wat klein kan begin, sonder toestemming van die gevestigde orde, het ’n groot kans op sukses, en elke klein stappie wat gevorder word, verhoog die vertroue dat die toekomsvisie eindelik bereik kan word.

’n Mooi voorbeeld van so ’n toekomsvisie met ’n plan is die strategie van Elon Musk. Sy toekomsvisie is om alle energie deur middel van sonkrag op te wek, en hy het ’n kommersieel haalbare plan om hierdie visie oor tyd te bereik.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Hendrik ·

Nee wat jy kan nie toekomsvisie van energie vergelyk met omstandighede in S.A. Die rede hoekom Afrikaners geen politieke invloed het nie is a.g.v die tekortkominge van die grondwet waar die meerderheidstem alles oorheers. 3 miljoen kiesers het die vorige plaaslike verkiesing nie gaan stem nie omdat hulle ontevrede was met die huidige regeerders. Wat dink jy gaan gebeur as hulle dievolgende verkiesing weer gaan begin stem as Zuma weg is. Nie die EFF of DA gaan hulle keer nie en die kiesers sal soos Zimbabwe se ZANUPF weer die ANC in die mag hou. So moet asb nie nonsens praat nie.

Pietman ·

Sjoe die man kan darem nonsens skryf. Dis nogals ‘n kuns om so baie te skryf maar tog niks te sê nie. Haha. Die antwoord is eenvoudig. Afrikaners is polities irrelevant omdat ons ‘n klein minderheid is. Maklik.

A ·

Dankie Pietman. Ek het gelees en weer gelees, maar ek sien glad nie die punt hier nie. Baie Afrikaanse organisasies se visie is juis om verandering mee te bring sodat almal in Suid-Afrika ‘n beter lewe kan hê.

Pietman ·

‘n Fout wat gemaak word is om Afrikaner politiek gelyk te stel aan konserwatief. Ek meen regtig? 80% van die Afrikaners stem vir die DA wat basies die ANC in blou is. Die huidige inisiatiewe kom van Afriforum and Solidariteit. Ek beskou hul as konserwatief. So die gebrek aan inisiatief argument val sommer dadelik plat. Konserwatiewe mense het minder kinders. Hulle is besorg oor hul kinders se toekoms , gee om of hul die tyd en finansiële vermoë gaan hê om hul kinders te versorg. Dis juis oor daardie omgee mentaliteit dat hul minder kinders het en dus polities verloor.

JC ·

Ek stem Pietman. So nou moet ons maar net ons konserwatiewe waardes prysgee? Sommer net so…ag man dis te lekker. Waarom het ons nie vroeer hieraan gedink nie!!!!

Jaco ·

Wat n klomp nonsens! Sover ek weet staan meeste Afrikaanse organisasies vir gelykheid, integriteit en om almal se belange op n gelyke vlak te bevorder! Jou punt is irrelevant want sover ek weet is Afrikaners (jou kamma konservatiewes) in Suid Afrika maar 3 Miljoen vs 45 miljoen of iets…so go figure!

Reinhardt ·

Bouwe, ek verstaan wat jy probeer sê, maar ek dink nie jy verstaan wat konserwatief beteken en waarvoor dit staan nie. Dit staan ook vir n beter toekoms, maar al wat ons probeer doen is om dit stadiger te verwesenlik, om sodoende die kat uit die boom te kyk voordat dit implimenteer word. Ons wil nie net skielik alles in kommunisme omswaai omdat een ou perd geskryf het in sy tesis dat dit beter is nie. Ja, kommunisme is n drastiese voorbeeld, maar dit bewys my punt. Voordat almal nog geweet het van die gevare van kommunisme het menige lande dit omhels en kyk waar is hul vandag. En toe wat gebeur? Toe raak daardie einste lande weer kapitalisties en siedaar! Die ekonomie groei weer.

Reinhardt ·

Die rede hoekom ons nie n sê het nie is eintlik dood eenvoudig… ons is minder as 8% van die bevolking. In watter land het jy al ooit gehoor dat 8% n sê het?

B-man ·

Kyk na COSATU/NUMSA/BLF en nog vele ander liggame wat slegs ‘n paar honderd duisend lede het… hierdie klein organisasies dikteer soms wat met die hele samelewing moet gebeur en die regering neem wat hulle sê in ag, omdat hulle bang is vir verdere opstande en betogings. Ek dink glad nie dis moeilik vir ‘n handjievol mense om ‘n verskil te maak in hierdie land nie. Die konserwatiewes is net nie bereid om bestaande infrastruktuur af te breek en te verbrand nie, want hulle weet dit is teenproduktief. “Teenproduksie” is seker nou weer slegs ‘n westerse term en dus – koloniaal…

Hennie ·

Die regse/konserwe Amerikaners staan redelik alleen, (ons is dalk die enigstes in die wereld wat hulle ondersteun) en tog het Trump gewen, want hulle het die nommers gehad.

Loeis ·

In Belgie is daar ‘n Duitssprekende minderheid wie op plaaslike vlak basies selfstandig en selfregerend is. Dit kan gedoen word, die regering hier wil dit net nie doen nie. En as mens ken vir wie die mense stem lyk dit ook nie of hulle dit wil he nie. Ek praat nou van die Afrikaners wie virdie DA stem. Rus in vrede.

Willie ·

Genade! …. maar hierdie skrywer (en artikel) het omtrent sy mes in vir alles wat “konserwatief is”.

‘n Vraag: Het die skrywer al opgemerk dat die wêreldwye tendens (Amerika en Europa veral), se oë het begin oopgaan en agter gekom dat oral waar die liberale element in beheer is of kom, is daar na ‘n tyd ernstige agteruitgang en verval. Presies wat in SA gebeur, behalwe dat dit al verby liberalisme op pad is na kommunisme!

‘n Opmerking: Die skrywer skryf ‘n rits paragrawe oor Konserwatiewe bewegings wat :
a) nie kan wen nie.
b) nie inspireer nie.
c) nie inisiatief het nie.
d) duur, en min kans op sukses het.

‘n Versoek:
Kan iemand asb die skrywer bekend stel aan die Solidariteit beweging, Afriforum, Helpende hand, en al die ander vertakkinge waar dit daagliks besig is om te groei, te bou (wen!), inspireer, inisiatief neem, goeie suksesse het, en vir almal in SA ‘n toekoms prober skep …… veral vir Afrikaners!

Disselboom ·

Die 19de en 20ste eeuse Afrikanergeskiedenis het ‘n ruwe land tot ‘n Eerste Wêreldse land opgebou, met juis die behoudendheid uit sy protestants-christelike karakter as onderbou. Dis waar dat die status quo van die Boererepublieke bv nie herstel is nie, maar dit het in die groter unie ingegaan wat in net ‘n paar dekades tot by ‘n vrye republiek gebring is. Mnr Vd Eems se van klink Hollands, maar sy skryfwerk is Grieks. En as ‘n algemene opmerking: daar is tans ‘n groot bewondering vir Elon Musk, selfs onder Bybel-gelowiges wat van beter moet weet, van “as die HERE die huis nie bou nie”: hy is net ‘n mens, en hoewel van sy skemas tans goed vorder, is daar nog ‘n lang pad om te stap voordat hy as ‘n groot voorbeeld gebruik kan word.

Ken2 ·

Geagte skrywer, is die Afrikaners se inisiatiewe soos Afriforum nie progressief nie? Waar in die wereld sien jy sulke innovasie? Nee man, ander nasies vlug eenvoudig as hulle soos ons onderdruk word. Moet nie vir my vertel ons is nie innoverend nie.

Johan Neuteman ·

Het verlede week ‘n bewering gehoor” Solidariteit en Afriforum is maar net ‘n alternatiewe staatsdiens”.

Hendrik ·

Johan ten minste het Die Solidariteitsbeweging ‘n Plan B. Zimbabwe se mense het gestem en bly hoop dat alles net tydelik want alles sal regkom. Dit het ongelukkig nie reggekom nie. Met kennis oor Afrika se magsbehepte kultuur moet ons eenvoudig iets doen. Maar wag daar gaan nog baaaaaie gebeur tussen nou en 2019 se verkiesing.

Hennie ·

Johan ekt het nou lank gedink en dit maak glad nie sin nie. Eks seker maar dom.

Braam ·

Dat die Afrikaner nie meer polities relevant is nie, dit is waar. Die meerderheid ly nog aan skok, bom skok, wat nou ‘n kroniese staat bereik het, elke keer wat jy die nuus lees is daar ‘n nuwe skok. Ons moet ophou dat alles wat ons lees ons skok, soos bv. “teveel studies gee jou breinkanker”, of “die Afrikaners is konserwatief” ens ens. Ek wou eers met skok en woede op die berig reageer, maar toe lees ek eers my mede Afrikaners se kommentaar en besef, nee wat ou perd, jou sikspens gaan die boodskap net verder afwater. ons ou volkie kyk al ver verby die skokke wat ene Bouwe en Max aan ons wil toedeel.

Leiden ·

Die probleem is dat die verskil tussen oop wees en moele verval nie duidelik oorgedra word deur die massamedia nie. Om oop vir innovasie te wees beteken nie dat ons oop moet wees vir misdadigers, monopoliee, dwelms ens nie. Ons is oop vir innovasie maar nie vir morele verval nie, so moet ons nie brandmerk as geslote nie.

Jan Spreeu ·

As ek die artikel lees, dink ek onwillekeurig aan ‘n inisiatief soos Orania – op die oog af “konserwatief” (bevorder Afrikaner-belange) maar in aksie “progressief” (probeer dinge anders doen as in die verlede, vra nie owerheid-steun nie maar doen dit self, begin op klein skaal en brei uit).

Mense wat nog nooit daar was nie en dalk net die media se idee oor die plek in hulle koppe het, moet tog een naweek daar gaan kuier. Dis ‘n moderne dorp, rustig en gemaklik, maar gryp die verbeelding aan. Hulle bou ook nie lugkastele daar nie maar stadig maar seker aan ‘n langtermyn-visie.

Albaster ·

Bouwe, het jy al gekyk hoe ‘konservatief’ Israel is, maar terselfdetyd hoe progressief hulle is? 90 persent van tegnologie in jou selfoon, mediese en ruimtetegnologie is daar ontwikkel., om nie eers van innovasie in IT en finansies te praat nie.

JC ·

Die skrywer sit met respek die pot mis. Afrikaners was nog altyd(en sal altyd wees) Republikeins gesind, synde dat ons die vryheid vooropstel, en onderliggend aan die republikeinse gedagte is die konserwatiewe idee van vryheid voor gelyheid. Dus is Republikanisme en konserwatisme onafskeidbaar, synde republikanisme; minder staatsinmenging en minder ideologies gedryfde en gefundeerde manipulasie, in kort: die vryheid om sonder inmenging die beste wees wat jy kan wees. In teenstelling met liberaliste vir wie die ideaal van gelykheid en bree marxisme fundamenteel is. Daar is dus konstante wrywing tussen die konserwatiewes (Republikeine) en die vir wie “gelykheid” die belangrikste is, en is dit in die verband tekenend om daarop te let dat die onderhandelaars in die 90’s daarop aangedring het dat die regeringsvorm wat die toekomstige staat moet aanneem die van ‘n republiek moet wees synde dat ‘n republiek ‘n regeringsvorm is waar minderhede veronderstel is om beskerm te word teen die meerderheid. In teenstelling hiermee is “demokrasie” wat in wese die idee van gelyheid voorstaan en dit uitvoer in die idee van een man, een stem. Die ongebreidelde WAARHEID moet egter erken word dat dit ‘n onwerkbare sisteem is aangesien nie almal in staat is, en dus geregtig is daarop, om hul regering te verkies nie. Demokrasie is dus ‘n gefaalde projek wat so gou as moontlik mee weggedoen moet word(in ‘n ideale wereld, en waar die diktatuur van die liberalis nie hoogty vier nie) Afrikaners sal nooit (behalwe vir ‘n paar individue) hul Republikeinse strewe prysgee !

Steve Hofmeyr ·

Nee, wat. Hierdie is niks meer as die linkse leuse opgewarm om die huidige verval te regverdig nie. Ek dink dié spietsj hang teen die mure van Media24 om ‘Maxiste’ te inspireer na middagete. Konserwatisme is versigtigheid (nie stagnasie nie) en progressiwiteit is pioniersdenke (maar ongelukkig nie altyd reg nie).
Van der Eems se denke is eng en verkramp en … wat??

Basson ·

Sjoe, die skrywer se onderrok hang ver uit – jou (nousienende) paradigma is duidelik mnr vd Eems, of wat se ek? (Dit blyk of jy erens in die verlede vasgehak het met jou stereotipering)
Eintlik wil ek se, “O die ironie!!” :)

Lynne ·

Verseker! So, out of touch met reality, het ek lanklaas teëgekom!!

stokkies ·

Die fout wat die skrywer maak is sy dualistiese beskouing rakende konserwatief en progessief. Die begrippe staan nie teenoor mekaar nie. Konserwatisme was deur die geskiedenis van die mensdom nog altyd die kragtige bron tot progressie. N Goeie voorbeeld is die OT geskiedenis van Israel. Hoe meer Israel liberaal geword het en progressief oor boord gegaan het hoe groter sy verval.

Dirk Breytenbach ·

Bouwe my reaksie is snert, snert en snert. Ek wil nie eers begin om jou relaas te ontleed nie. Jy is so ver van reg af dit lyk nie of jy bewus van die realiteite in SA of die heelal nie. As ons reg onderhandel het in 1992/93 was ons nou in ‘n beter posisie. Ons verteenwoordigers was egter verstar en het nie rekening gehou met wie hulle te doen gehad het nie. Dit maak egter geen verskil in ons vermoens nie en ook nie wat ons nog steeds vermag nie. Jy kan ons maar afskryf maar ons sal uiteindelik weer opstaan.

Kannaland ·

Nee dankie, die ‘liberale’ pad het ons net in n hinderlaag gelei en is toe nie so liberaal nie, dit is net propaganda vir multinasionale maatskappye wat geen grense vir handel soek nie en die globale elite wat die hele wereld in hulle sak wil he.

Leendert ·

Jy kan nie die reël of model betreffende konserwatiewe bewegings vs progressiewe bewegings op Afrikaans toepas waar dit nie tersake is nie. Konserwatief en progressief het niks met die saak uit te waaie nie.

Bouwe van der Eems ·

Die probleem van konserwatisme is dat dit ‘n voorspelbare reaksie is op die progressiewe ideologie, en daar dus nie buite die boks gedink word nie.
‘n Verskeidenheid lesers meen bv. dat die grootste oorsaak van die Afrikaner se probleme is dat hy ‘n minderheid is. Minderheid is die gevolg van klein gesinne.
Alhoewel groter gesinne die voorhandliggende oplossing is, word dit selde bespreek, omdat dit buite die boks is.
Volgens ‘n opname van Solidariteit is die fertiliteit van die Afrikaner 1.6 kinders per vrou, terwyl 2.2 nodig is om samelewing in stand te hou.
Die Solidariteit beweging waarna baie verwys, illustreer my punt. Die organisasie se invloed is besig om te groei, juis omdat dit wegbeweeg van konserwatiewe politiek na visioenere politiek.

cjm ·

Baie hoogs aanvegbare stellings. Op ‘n stadium was die Kommunisme ook in sekere sirkels beskou as progressief. Behalwe die moord van 160 miljoen mense het hulle maar min vermag. Op die ou end is ekonomiese welvaart maar die enigste maatstaf vir ‘n populistiese utopie en daar is die *konserwatiewe* kapitalistiese stelsel die enigste een wat resultate toon. Al die drome bly net drome sonder geld. Om die Afrikaner uit te sonder as polities steriel kyk die feit mis dat dit ten opsigte van die wit bevolking as ‘n geheel geld. Die rede daarvoor? Bloot getalle en omgekeerde rassisme.

Jaap ·

Afrikaners is polities irrelevant omdat die meeste Afrikaners vir algemene politieke partye stem wat nie Afrikaners se belange ondersteun nie.

Dit is so eenvoudig soos dit. Dit is jammer dat Afrkaners dit nie kan sien nie.

Afrikaners stem teen hulle eie belange wanneer hulle vir algemene partye stem wat almal se belange onder the die hart dra -vomdat die algemene partye die oorgrote meerderheid se belange bevorder. Geen algemene party sal byvoordbeel spesefiek vir Afrikaans veg nie.

Die feit dat Afrikaners in ‘n minderheid is het niks met die prys van eiers te doen nie – dit gaan oor om ‘n meerderheids stem te kry nie, maar om spesifiek Afrikaner regte te beskerm en te bevorder – en om dit te doen moet die oorgrote meerderheid Afrikaners vir ‘n Afrikaner party stem.

Willie ·

Stem 100% met Jaap saam.
Ek wil graag net sy laaste sin beklemtoon. Daar is reeds ‘n party wat Afrikaner belange op die hart dra. Die meerderheid Afrikaners se ogies moet net daarvoor oopgaan. Die VF+ doen reeds wondere op alle regeringsvlakke te spyte van van “min” verteenwoordiging. Mens kan net indink wat DIE party kan vermag sou hulle meer verteenwoordiging kan kry. Daarvoor het hulle alle Afrikaners se stem nodig!

Theuns ·

As ek Mnr. Bouwe se kommentaar lees dan kan ek nie anders as tot die slotsom te kom dat hy die selfde mentaliteit het as die laerskool span wat ons belieg het nie en ingestuur is om ons onafhanklikheid weg te teken nie en as ‘n progresiewe toegif daarna in selfvoldaanheid te lag nie. Vra maar vir Ramaphosa. Mense soos die skrywer is verantwoordelik vir die Afrikaner se ondergang Ek kan maar net dink waar sou Suid Afrika tegnologies vandag gewees het as ons Mense soos Elon Musk in Suid Afrika hulle beroep kon beoefen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.