Lesersbrief: Waarom nog veg vir Afrikaans, vra Lesufi

merlyn-van-der-rheede

Merlyn van der Rheede van die Afrikaanse Taalraad. Foto: Facebook.com

Merlyn van der Rheede, die Afrikaanse Taalraad se noordelike projekbestuurder, skryf:

Dit gaan my verstand te bowe dat so ’n uitlating deur Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys geuiter is. Is dit uit blote onkunde, of is dit strategies daarop gemik om Afrikaans slegs as onbelangrik af te maak?

Dit is ’n erge vorm van diskriminasie teenoor Afrikaanssprekendes, ’n skending van basiese menseregte en beslis ongrondwetlik. Verder reken hy as jy “op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders”.  Is hy bewus van die voordele van moedertaalonderrig en van die onnoembare skade vir kinders wat moedertaalonderrig ontsê word? Weet hy dat ’n kind wie se moedertaal goed vasgelê is, ’n tweede en derde taal vinnig bemeester?

Die ideaal is tog dat ons as Suid-Afrikaners meertalig moet wees.  Waarom dus een taal in almal se kele te wil afdwing? Dis geen geheim nie dat die skoolstelsel oor die afgelope jare in absolute chaos verval het. So, byvoorbeeld, staan die lees- en skryfvaardighede van Suid-Afrikaanse gr. 3- en gr. 6-leerders, volgens The Read shop – Support Literacy Today, op ’n skamele 39%. Beteken dit dan nie dat daar ernstige fout is met die taalbeleid van die nasionale onderwysdepartement nie? Moet daar dan nie uit die foute van die verlede geleer word nie?

Bring moedertaalonderrig terug en bevorder leerderprestasie daardeur.  Ons wil dan juis leerders aanmoedig om besigheidskenners en wetenskaplikes te raak.  Dit gaan mens se verstand te bowe dat die LUR kan dink dit sal sonder moedertaalonderrig moontlik wees.

Die mite dat Afrikaans aan ’n sekere ras behoort, wat die rede is dat daar teen Afrikaans gediskrimineer word, moet nek omgedraai word. Die Suid-Afrikaanse sensussyfers dui op ‘n toename in die aantal eerstetaalsprekers van Afrikaans in al nege provinsies.  Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge dui aan dat ‘n groeiende meerderheid bruin Afrikaanssprekendes is.

Die LUR sal moet herbesin oor sy uitlating. Hy sal moet besef dat die verlede agter ons is en sal moet ophou om Afrikaans as  rassisties te beskou. Indien daar in belang van die leerders opgetree word, sal moedertaalonderrig bevorder word en daar nie teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer word nie.

Sulke uitlatings verdeel gemeenskappe en laat ’n wrang smaak in die mond.  Politici is geneig om alles te verpolitiseer wat nie noodwendig die landsburgers se belange dien nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Pietman ·

Al was Afrikaans slegs n wit taal sou dit nogsteeds nie rassisties kon wees nie.

Pj van Eeden ·

Al wat ek wil weet, is hoekom kom die BLF weg met die met sy aanmerkings wat hy maak is daar niemand wat hom kan stop deur die hof nie dankie . Met die skool saak die ou weet nie wat om tedoen en ons is moeg elke keer as daar iemand nuwe persoon inkom dan is daar nuwe reel dit hang net af hoe hy voel daar behoort tog n riglyn en werk prosedures te wees maar hulle weet nie wat dit beteken nie !!!!!!

Tommie ·

Dit wys mens maar net hoe kortsigtig en onkundig Lesufi is. Hy hoort nie in die pos wat hy tans beklee nie.

FriedaS ·

Want in Afrikaanse skole is daar orde en disipliene. Nie net wittes gaan na Afrikaanse skole daar is ook ander kleuriges wat uitblink daar! Waar val jy ANC uit die bus julle weet nie waarvan julle praat en weet ook na wat julle doen!!!

Andreas ·

Maar as dit teen Afrikaanssprekendes diskrimineer en ongrondwetlik is, vat hom hof toe, anders loop verkondig hy dit net maar more weer, dit help nie julle wys dit uit en doen niks daaromtrent nie.

Kerneels ·

Moet hy nie eder tyd spandeer om uit te uit te vind hoekom Afrikaanse skole beter is en ander ook verbeter as om dit wat goed is af te breek

Heks ·

Aai hys so n jelous ou hy moet eeder sy pak reg kry vi more se party.

Susna ·

Baie goed gese Merlyn. Lesufi hoort nie in die pos waarin hy aangestel is nie, punt. Van sy eie mense het al vertel dat dit bloot om Jaloesie gaan.

jaco ·

dis altyd net wit afrikaanse mense wat kla oor alles verengels. verstaan hulle dan nie engels nie? ek was in die ou SA op skool, toe die Nasionale Party SA geregeer het. Hulle regerings was volgepak met Afrikaners en die Afrikaanse taal is orals bevorder. MAAR Engels was n verpligte vak op skool, tot op matriekvlak. So nou wonder ek maar net, waarom verstaan wit afrikaanssprekende mense dan nie meer Engels nie?
Ek sien nerens Afrikaanssprekende kleurlinge oor al die verengelsing kla nie. Swart mense is ook stil oor die diskriminasie teen hulle tale.
Hierdie klein groepie wit mense wat so kla, moet oppas: uiteindelik raak ons regering wat reeds nie van ons wit mense hou nie, SO kwaad dat hulle heeltemal teen ons draai en ons totaal onderdruk met VEEL meer lelike goed as bietjie diskriminasie teen Afrikaans.

Herklaas ·

Die regering het klaar teen wit afrikaanssprekendes gedraai en Merlyn van Rheede lyk nie vir my wit nie. Lesufi is jaloers! Die agteros in enige wedren sal enigiets doen om op te vang. Hy is so ‘n groot verloorder, hy is nie eens meer in dieselfde wedren nie.

Gert ·

@Jaco (Jerry?), jy is ‘n baie onverdraagsame mens. Net omdat Afrikaans nie vir jou belangrik is nie, gun jy dit ook nie vir diegene vir wie dit wel is nie. Waar Lesufi Afrikaans aktief probeer uitwis, wil jy dit net ‘n stadige dood laat sterf.
Natuurlik verstaan ons almal Engels, maar dis glad nie die punt nie. Die punt is dat dit is wat ons maak wie ons is, nl om Afrikaners te wees, en ten minste sommige van ons is trots daarop. DIt staan jou vry om jou kinders Engels groot te maak, maar gun asb diegene wat hulle kinders Afrikaans wil grootmaak, die geleentheid om dit te doen.

Lizma ·

Want die enigste manier om n nasie te breek is om weg te doen met sy kultuur wat taal insluit. Kultuur het gewoontes ens wat n nasie sterk maak want sodra die mens behoort en weet waarvandaan hy kom, weet hy waarheen hy oppad is. Dis hoekom die geskiedenis op skool so verander is.

Retha Roux ·

Dankie Gert, jy staan op vir ons taal en ek salueer jou

Klipindiebos ·

Om Mnr. Lesufi te verstaan sal die volgende moet weet:
1. Waar het hy groot geword ?
2. Wat was sy verhouding met sy ma, pa, broers en susters?
3. Waar het hy skool gegaan?
4. Wie was sy onderwysers?
5. In watter taal het hy onderrig ontvang?

Eddie ·

Is Lesufi dalk nie net te onnosel om Afrikaans te leer nie sodat afguns sy emosies oorheers ???

JAN ·

Lesufi is staatkundig tegnies korrek. Milton Friedman het ook gereken dat die staat slegs vir opleiding / lewensvaardighede verantwoordelik is.
Opvoeding is die ouers se baba. [GELUKKIG!!]] . Opvoeding is reeds laankal geprivatiseer. Weliswaar meestal as ‘ joint venture ‘ met die staatskool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.